Die literêre denker, Joseph Pearce, skryf gewoonlik
meevoerend. Nie te lank gelede nie, het hy in 'n nuusbrief voedsel vir
verorbering oor die begrip Weste gegee. Watter Weste? Dit is die tema wat
Pearce aan die orde stel. Kategorieë maak saak en Pearce onderskei tussen die
ou Weste en dit wat neerkom op die sogenaamde nuwe Weste. Laasgenoemde kom
neer op post-Verligting. Die ou Weste kom neer op Athene wat vir Jerusalem
ontmoet het. Die word ook Christendom genoem. Pearce wys daarop dat hierdie
twee visies op die Weste steeds in 'n titaniese stryd gewikkel is. Dit is nie
asof nuut bloot vir oud vervang het nie. Hoewel hy dit nie so uitbeeld nie, is
dit eerder twyfelagtige water wat vir algemeen ontwyfelbare wyn probeer
vervang. Die stryd duur voort en diegene wat oortuig geraak het van die
uitgediende aard van die wyn-weergawe, moet weer besin. Dit was nog altyd
tipies van dwaalligte om voor te gee dat die permanente dinge nou uitgedien is.
En keer op keer het realiteit teruggeskop en voortgalop.
Ek het by geleentheid 'n toespraak oor die model van
gemeenskapsuniversiteite gehad wat later vir Maroela Media verwerk is by hierdie skakel. Die volgorde van die artikels is eintlik, as jy met 'n loopfoon werk, van onder af boontoe. Die goeie gonswoord van ons tyd is gemeenskap. Die herwaardering van gemeenskapsbeveiliging, gemeenskapsbesighede en selfs gemeenskapskerke is aan die orde van die dag. Dit verteenwoordig die lokalistiese antwoord op die globalisme met sy klem op standaardisering en gelykstelling op die maat van moderne vooroordele. Daarom is dit eintlik voorspelbaar dat ons ook sal herbesin oor die die model van gemeenskapsuniversiteite binne federale omgewings.
In een van my
studiegidse het ek die volgende raakgeloop:
"Ons moet
nie die fout maak om die Kerk as bykomstig te sien in die lewe van Christene
nie. Mense leef óf selfverwysend óf Godverwysend en die Kerk bied aan
ons die konkreet-wonderlike wyse waarop ons Godverwysend en meer nog, in
gemeenskap met die Drie-enige God mag leef. Hierdie bediening in die Kerk
geskied verder langs die weg van ampte waardeur Christus sy gesag en genade aan
mense bedien en ons moet dit alles waardeer as gegee om ons te begelei in ons
wandel met God en in die deelhê aan die gemeenskap van die Drie-eenheid."
Waar dit nie
gebeur nie en die kerke leeg word, word die tronke vol, het onse voorouers
gesegdegewys gesê. Ons kan dit deftig in ander woorde plooi, maar die insig bly
relevant. Dit is dat die samelewing sekulariseer, en allerhande geite verwag
kan word om na vore te tree waar God en sy gebod vir mense op die agtergrond
staan. Dit bly egter simptome van 'n dieper probleem: Die gebrek aan gemeenskap
en wandel met God in en deur Christus en sy liggaam.
Die bekende evangeliserende Biskop op sosiale media, Robert Barron, was onlangs in gesprek met die Iranees-Amerikaanse joernalis en opkomende
konserwatiewe intellektueel, Sohrab Ahmari. Dit het gehandel oor Ahmari se nuwe
publikasie, The Unbroken Thread:
Discovering the Wisdom of Tradition in an Age of Chaos. Jared Zimmerer, die
Senior Direkteur van die Word on
Fire Instituut, het die gesprek gelei.
Daar is by bepaalde temas van Ahmari se boek stilgestaan, maar die tema
waaroor dit hier gaan, kan gevind word vanaf die 20ste minuut tot en met
ongeveer die 38ste minuut. Dit is die tema wat Zimmerer beskrywe as 'n
kulturele verlies, 'n geestelike verlies, ja selfs 'n metafisiese verlies.
Indien iemand nog wonder, dit gaan oor die Sabbat, of die Dag van die Here, of
soos hoofstuk drie van Ahmari se publikasie dit stel, "waarom sou God wou
hê dat jy 'n dag af moet neem?
Zimmerer se verband wat hy trek met 'n metafisiese verlies is insiggewend.
Dit spruit voort uit Biskop Barron se opmerking net vantevore dat al ons
standpunte voortvloei uit ons metafisika, of ons daarvan bewus is of nie. In
pronter Afrikaans gestel: Alles vloei voort uit ons visie op die werklikheid,
wat ook die werklikheid anderkant ons sintuie insluit. Al ons standpunte spruit
met ander woorde voort uit ons wêreldbeskouing, of om dit nog meer deftig uit
te druk, uit ons metafisiese aannames. Dit sluit jou beskouing van, benadering tot en deelname aan Sondag in.
Ahmari verwys na rabbi Abraham Joshua Heschel wat 'n bekende intellektueel uit
Pole in die middel van die vorige eeu was. In Pole was die Sabbat volgens Ahmari
toe nog gesien as die sentrale hegstuk van die lewe. Heschel het daarop gewys
dat dit wat lyk na beperking, inderwaarheid bevryding was. Ja, die Sabbat was
die bron van innerlike vryheid. Dit was die wyse waarop die geopolitieke en kommersiële
ryk van ruimte verruil is vir die ryksgebied van tyd. Dit was die tydsruimte
waar intenser bewuswording van God plaasvind - die God wat nie van enige
gebeurlikhede afhanklik is nie, wat ewig is, en waar intieme tyd met Hom
spandeer kon word. Dit het daarom ook verder gegaan oor 'n sabbatsvisie waar mense gewaardeer is
vir wie hulle is en nie bloot vir wat hulle doen nie.
Dit is hierdie sabbatsvisie, sê Ahmari, wat verloor is in die naam van
vryheid. Hy staan selfs op die standpunt dat die sogenaamde “blue laws” van
Sondagswetgewing herstel moet word. Is dit nie outoritêr nie? Volgens Ahmari
is die antwoord nee en hy wys daarop dat die VSA met sy protestantse DNA maar
eers in die laaste drie tot vier geslagte begin het om aan hierdie ou tradisie
weg te kalwe en die resultaat daarvan formuleer hy op treffende wyse: Die
vryheid van die Sabbat is verruil vir die vryheid van die markte. Ons het dit
verloor, se Ahmari en skielik is alles nou oop op Sondag.