Net so 'n voorloop ietsie om die aptyt aan
te wakker. Dr. Peter Leithart bied hierdie termyn 'n vak genoem "Gift and
Gratitude" aan by die instelling waar ek klasloop. Dit maak deel uit van
'n boek wat DV volgende jaar gaan verskyn. Dink Seneca, dink Mauss en
postmoderne filosowe soos Derrida se gissings wat uiteindelik aan die lewende
Woord gemeet word. Leithart stel dat die basiese probleem met Descartes se cogito
ergo sum (ek dink, daarom is ek) aanval was die hele basis waarvandaan dit
lanseer is - twyfel in plaas van dankbaarheid. 'n Filosofie wat lanseer vanuit
gawe en dankbaarheid, sê Leithart, sal heeltemal anders lyk. Dit het
uiteindelik gevolge in elke uithoek, selfs in ekonomie en politieke filosofie.
'n Mens wonder byvoorbeeld of Heidegger iets, let wel, nie alles nie, beethad
toe hy gestel het: denken ist danken. Sekere dramas van Shakespeare (bv. King
Lear) toon trekke dat hy Seneca gelees het en wys hoe spanning ontketen wanneer
gawe en opgawe nie in gepaste interaksie dans nie. Gehoek? Ja, hoe kan dit anders as ons
die eggo's van genade in hierdie mymeringe hoor. Genade-denke behoort mos te
resoneer met dankbaarheid en nie met dankbarheid nie. Ek hoop om van tyd
tot tyd 'n paar klasnotas hier te deel.
2012/08/16
2012/08/07
Hoor en hoera mag saamloop
Luther het geworstel om die geregtigheid van God te verstaan, bevrydend te verstaan. Ons worstel steeds. As God se Gees ons nie in die spervuur van ontdekking plaas nie, sal ons met teologiese woordeboeke en al met koue harte kwyn. Maar ons is mense met wie God baie simpatie het. Dit is eenvoudig hoe Hy is. Hy is vinnig om ons jammer te kry. Hy hou dit met ons uit. Hy is baie goed vir ons. En Hy gee aan ons 'n atmosfeer waar ons kan asemhaal in sy teenwoordigheid. In die taal van die Bybel, Hy is genadig en barmhartig, lankmoedig en groot van goedertierenheid (Ps. 145:8). Hy is so genadig dat Hy selfs teologiese woordeboeke gebruik om ons te verras. Ook teoloë word gebruik - wonder bo wonder.
Voor ons by hierdie fenomeen uitkom, is dat dalk goed om net gou weer 'n draai by die bekende 1 Jn 1:9 te maak om ons in stemming te bring. Net twee vinnige gedagtes: "As 'n man 'n ring aan die linkerhand se ringvinger dra, is hy getroud." Die "as" in die vorige sin is nie voorwaardelik bedoel nie, maar dui 'n bepaalde stand van sake aan. Dit is beter om 1 Jn. 1:9 se "as" ook so te verstaan. Wanneer 'n Christen sy of haar sonde bely, gebeur daar sekere skreiende dinge. Verder: Waarom staan daar dan dat God regverdig is om ons te vergewe? Die kategismusantwoord is sekerlik tog dat Hy nie sonde aan ons sal straf wat Hy reeds aan sy Seun gestraf het nie.
Hoor ons dit: "regverdig om ons te vergewe"? Ek dink dit is wat Luther gehoor het. Hy het gehoor en gehoera. Ja, ek weet, ek moes eintlik 'n uitroepteken aan die einde van die vorige sin geplaas het. Maar dit sal meer van pas wees wanneer ons saam hoera skreeu. Dit bring ons terug by die wonder dat God selfs teoloë kan gebruik om ons saam hierby uit te bring, selfs toeloë met wie ons nie in alle opsigte saamstem nie. Luther het ontdek en ons het saamgeleer om die geregtigheid van God te waardeer. Dit is 'n oordeel wat nie net oordeel nie, maar vrymaak, 'n eis wat nie net vra nie, maar gee. God eis en gee die geregtigheid waaroor Hy nie 'n kompromie sal aangaan nie. En as jy se dat jy hoor, maar steeds 'n skuinsskoot nodig het, hoor 'n ander Lutheraan, Robert Jenson:
"Wanneer ons sê dat God regverdig is en vra wat dit beteken, dan wys ons na Jesus se vriendskap met sondaars."
Omdat God regverdig is, is die Here Jesus vriendelik met sondaars soos ek en jy. Wat 'n geseënde paradoks! God is regverdig en daarom is ons vry. Net die evanglie maak dit waar. Buite die evangelie, buite Christus, is daar geen vriendelikheid nie. Net oordeel. En dit is waarom ons die oproep moet hoor om in te kom. Dit is baie koud en eensaam buite.
Teken in op:
Plasings (Atom)