Oor die klasnotas rakende gunste en gawes: Ek het intussen so 'n bietjie naïwiteit verloor oor die tema. Margaret Visser toon aan in haar gesaghebbende werk, The Gift of Thanks, dat die hele hoe-ha oordenkings oor gawes voortspruit uit 'n reaksie teen die modernisme. Die wereld van die gawe-ekonomie ("gift economy") is verlaat waar individualisme en kapitalisme glo geheers het. Die hele kwessie het begin met 'n boek van Marcel Mauss - The Gift. Mauss was familie van Emile Durkheim en ook sy sterstudent. Mauss het bewustelike gepoog om die individualisme van die dag, utilitarisme, uit te daag. Hierdie beginpunt beteken ongelukkig ook dat 'n mens nie verbaas moet wees as pomo-simpatiekes en lib-sensitiewes vinnig op hierdie appelkar spring nie. Die gedagte van gawe is 'n tipe gonswoord in die postmoderne tydvak om die sosiale sy van ons menswees te beklemtoon. Dit is nie noodwendig sleg nie, maar ons moet fyntrap. Alles hang daarvan af die lewende Woord die regte plek in ons nadenke inneem.
Ek is reeds skuldig aan iets anders. Hierdie naamgewery van my neem reeds deel aan 'n ons-hulle diskoers wat ek behoort te vermy. Ek sal probeer om ordentliker te wees in die toekoms. Maar hoor my asseblief as ek probeer aantoon dat ek dink ek die voetangels raaksien terwyl ek tog wil probeer om die duwwelpaadjie te bewandel. Waarom? Omdat skuld deur assosiasie nie altyd goed is nie. En omdat ons horende doof word vir die Woord as ons nie waardeer dat die Woord juis nuut is wanneer ons dit telkens teen 'n nuwe dekor lees. Was dit C.S. Lewis wat gesê het dat ons nooit dieselfde boek lees ons ons dit weer deurlees nie? Ons kan tog almal getuig hoe die Bybel en selfs ander boeke vir ons nuwe perspektiewe gebring het toe ons dieselfde stuk later weer gelees het. Die rede is eenvoudig: Die Woord is te ryk vir ons om op een slag uit te put. Dit geld ook van enige leesstof wat nooit iets anders as goeie of slegte skadus van die Woord kan wees nie.