2014/05/28

GeKant teen die waarheid

Hier volg enkele dele uit Reardon se reeds genoemde artikel in Afrikaans. Sy verduideliking is kort, maar baie kragtig. Daar lê wêrelde en geskiedenisse opgesluit in sy woorde. En die bepaalde soort Kantiaanse skaduwee wat hy aantoon moet nie misgekyk word nie. Dit is, dink ek, nie moontlik om die benarde posisie van teologie in Suid-Afrika te begryp sonder hierdie insig van Reardon nie. Die betekenis en invloed van Nominalisme en Voluntarisme moet baie duideliker in ons woordeboeke onderstreep wees. Dit help baie om die storie van teologie in Amerika, maar ook Suid-Afrika, te ontrafel:

"Populêre moraliteit in die huidige Amerikaanse kultuur is diep in die skuld by beide die Nominalisme van die Laat Middeleeue en die Voluntarisme van die Verligting. Aangesien ek hierdie skuld as betreurenswaardig beskou, sal dit dalk goed wees om te begin met 'n kort verduideliking van hierdie terme.

Volgens die Nominalisme van die Laat Middeleeue, word ons konsepte geskep deur ons denke. Na aanleiding van hierdie teorie, neem ons inligting, verkry deur ons sintuie, en ons gebruik hierdie data om samehangende vorm te gee aan daardie abstraksies wat as "idees” bekend staan. Dit beteken dan dat "waarheid" 'n skepping is van ons denkprosesse. Ons deel die gemeenskaplike "name" (nomina) van die dinge, maar nie die eintlike waarheid waarna hierdie name verwys nie.

Hierdie teorie van kennis vorm die basis van die Verligting se Voluntarisme. Volgens hierdie morele skool, skep die menslike wil (voluntas) die morele norme, baie soos wat die menslike verstand abstrakte konsepte skep. Morele redenasie is diensbaar aan 'n verbintenis van die wil, en morele norme word bevestig deur die morele keuses. Die morele wet is gebaseer op 'n morele besluit.

Buite hierdie keuse is daar geen morele wet nie, net soos wat daar geen "waarheid" buitekant menslike opvattings daarvan is nie. Die enigste "morele beginsel" is 'n akte van die keuse. Alle etiek is gekose etiek. Daar is geen blywende morele norme wat werklik - in re - "daar buite" is nie. Daar is niks wat "bestaan​​" wat bevele aan die gewete kan dikteer nie."

Reardon eindig sy betoog met die volgende woorde: "Hier is my eenvoudige tese: Die mens se kapasiteit vir morele persepsie is inheems aan sy geskape wese. Of sy persepsie verlig is deur die Evangelie en verhef deur Goddelike genade, of nie, is irrelevant tot die oorsprong daarvan; daar is wette waardeur alle mense gebind is as gevolg van die geskape orde."

2014/05/27

Deutrek van Kantiaanse liberalisme

Soms is dit goed om vanuit ander oorde te hoor wat aangaan. Hier is ’n artikel afkomstig uit die Ortodokse Kerk, van ene Patrick Henry Reardon.  Hy verwys aan die einde na iemand wat deesdae nogal gereeld op die radar verskyn, maar waarvan die meeste onder ons nog net gehoor het: Maximus die Belydende! 

Kom ons stel die vraag na die belang van Maximus vir ’n oomblik ter syde. Hierdie artikel plaas na my mening kort en kragtig die vinger op die pols van twee basiese sake wat onderliggend voortdurend 'n rol speel in ons (modernisties/postmodernistiese) gesprekke: Nominalisme en Voluntarisme. Die briljantheid van die artikel lê myns insiens in Reardon se vermoë om die eenvoud van die twee geite aan die orde te stel. 

En dit gooi natuurlik olie op my vuur in die vermoede dat ons teologie deurtrek is, nie van Oxi-Vite soos in die kostelike advertensie nie, maar van Kantiaanse liberalisme. In 'n volgende aflewering sal ons die masjiengeweer op Afrikaans stel en dele uit die artikel vertaal. 

2014/05/22

Oor ballingskap en Barth

Matthew Rose is 'n direkteur by die Berkeley Institute. Hy ken vir Karl Barth - nie van hoorsê nie, maar van grondig lees. Hy kan waarderend lees en weet ook presies waar hy punte wil gee: Barth se bydrae op die gebied van die Christologie en die Drie-eenheid. Hy het ook respek vir sy nougesette weergawe van die Protestantse skolastiek en vir die kwaliteit en nugterheid van Barth-geleerdes. Laat ons altyd toejuig wat toejuiging waardig is. Ek ken inderdaad meer as een persoon wat kan getuig dat Barth se woorde hul tot aanbidding voor die lewende God gebring het. 

Maar Rose is steeds van mening dat Barth ons nie uit die ballingskap van die modernisme uitgelei het nie. Die hoofoorsaak hiervoor vind Rose in die feit dat Barth nie die Christelike metafisika en in besonder die klassieke teïsme en gesofistikeerde uiteensettings van natuur teologie geëer het nie. Die gevolg was 'n metafisiese sloping wat beide die rede en die moraliteit van menswees in gedrang gebring het. 

Rose se skalpel sny diep. Hy is van mening dat Barth ons net so min kan help as wat die teologiese liberalisme ons sal kan help. As ons in ons land kyk na die gevolge van die verskuiwing vanaf Kuyper na Barth - iets wat die NG teoloë gretig en graag erken en selfs bely, lyk dit definitief dat Rose meer as 'n Katolieke kwaker is. Trou aan sy Rooms Katolieke tradisie, reken hy dat Pous Johannes Paulus baie beter rigting bied in sy uitspraak in Fides et Ratio. Daarin stel die voormalige Pous dat ons "krisis van betekenis" voortspruit uit die versuim om te erken dat  die rede die vermoë het om "die uiteindelike en oorkoepelende betekenis van die lewe" te ken en te verdedig. Wat ons ook al anders oor die Pous wil sê, hierin het die voormalige vegter teen kommunisme beslis iets beet. Ons sou dit miskien anders nuanseer en die sondeval sterker wou inbring, maar die Pous was beslis nie postmodern nie.