In Hand. 5:31 kry
ons een van daardie verse wat te min aangehaal word. Oor die Logos van die
heelal, Jesus Christus wat mens geword het, word die volgende gesê: "Hom het God
as Leidsman en Verlosser deur sy regterhand verhoog om aan Israel bekering en
vergifnis van sondes te skenk."
In die eerste plek
is dit gepas om iets oor die vertaling te sê. Hoewel nie volmaak nie, is ek van
kop tot tone ’n ondersteuner van die 53-vertaling. Dit het te make met
grootword, met melodieuse taal, met Langenhoven en met die beeld van hoë definisie
televisie. Ander dag dalk meer daaroor. Vir nou is dit genoeg om net kennis te
neem dat daar redes is waarom jou ondersteuningsvlakke maar hoog kan wees vir
hierdie topverkoper. In tye van hooggety wonder ek selfs of die vervlakking in
ons land nie deels te make het met lae definisie Bybelvertaling wat die
ontginning van Bybelskatte kortwiek nie. Maar nou-ja, kom ons fokus dan nou op
die hoë definisie wat ons hier vind.
Die verhoogde
Heiland skenk bekering en vergifnis van sondes aan Israel, en per implikasie
ook aan ons. Wat ’n bemoediging! Enigeen wat al erns gemaak het met bekering
weet dat dit ’n weerbarstige saak is. Daar is die kwessie van motiewe wat maar
moeilik is om te peil; daar is die halfhartigheid, en dan is daar natuurlik ook
die onvermoë. Enigeen wat die populêre keuse-retoriek volg en maak asof dit
bloot oor keuses gaan, het duidelik nog nie die rol van omgewing en
kondisionering en swakheid van wilskrag verreken nie. Laat ons dit daarom maar
weer weergalm: Augustinus het in die kerkgeskiedenis nie om dowe neute swaarde
met Pelagius gekruis nie. Ons het baie meer as nuwe keuses nodig.
Ons teks sê dat ons
Jesus Christus nodig het, selfs vir ons bekering. Vir die van ons wat suspisie
het oor ons eie vermoë tot bekering is dit goeie nuus.