2022/02/18

Ware versoening

Lees: Gen. 45:1-15  

Gedagte vir kinders: Deur Jesus Christus se kruisdood vir ons kan vyande vriende word.  

Oorsig: Josef, die onderkoning van Egipte, openbaar homself hier aan sy broers. Josef moes egter eers sy broers toets. Hy moes uitvind of God hulle harte al verander het. In hoofstuk 42-44 lees ons daarvan en die laaste toets was om te kyk wat hulle sou doen as hy sy bloedbroer as slaaf by hom wou neem. Dit is toe dat Juda hartroerend gepleit het en aangebied het om vir Benjamin in te staan. Dit het bevestig dat hulle wel verander het.

Josef se gesindheid was ook nie om hulle uit die hoogte te verneder toe hy hom aan hulle geopenbaar het nie. Hy het eers beveel dat al die Egiptenare van hom weggaan (v.1). Josef het in trane uitgebars sodat al die Egiptenare dit kon hoor (v.2) en dit bevestig dat sy hart baie ontroerd was teenoor sy broers en dat hy hulle vergewe het. Josef se broers was uit die aard van die saak verskrik (v.3). Josef het toe vir hulle bevestig dat hy hulle broer is wat hulle na Egipte verkoop het (v.4), maar hy het dadelik iets bygevoeg om hulle gerus te stel. Hy het gesê dat hulle nie bedroef of ontstel moes wees dat hulle dit gedoen het nie, want dit was God wat ook daar besig was. God het dit so bestem sodat lewens behou kon word (v.5). Hy het dit verder bevestig deur vir hulle te sê dat die saak groot is en daar nog net twee uit die sewe droë jare verby is (v.6). So het hy dit vir hulle duideliker probeer maak dat God hom vooruit gestuur het om ’n oorblyfsel te verseker wat tot ’n groot verlossing sou lei (v.7).

Vir ’n derde maal het hy herhaal dat hy God agter dit alles sien en nie teen hulle dade vaskyk nie.

2022/02/10

Met uitskietwortels by God se stroom

Lees: Jer. 17:5-14           

Gedagte vir kinders: By die HERE alleen vind ons lewende water.  

Oorsig: Jeremia is in hoofstuk 17 besig om oor verskillende sake met die volk te praat. Ons hoor hier veral van wat die verskille is tussen ’n geseënde lewe en ’n lewe wat tot oordeel lei. In vers 5-8 fokus hy veral op die vertroue van elke mens se hart. Jeremia praat reguit oor twee tipes harte. Die een soort hart is die van iemand wat op self en ander mense vertrou, menslike mag en krag hoog ag, en in die proses van God afwyk. (v.5). Hy gebruik dan ’n beeld om sulke mense te beskrywe. Hulle is soos ’n kaal bos in die wildernis, sien nie die goeie raak nie, en bewoon dor plekke in die woestyn. Hulle word daarna beskryf as brakkerige en onbewoonde land (v.6) Hulle lewe dra dus nie vrug nie, is droog, lei tot niks en is sonder ware gemeenskap met ander mense. Net daarna (v.7-8) beskryf Jeremia die mens wie se hart op die HERE vertrou. Hy beskryf so ’n mens interessant genoeg ook omgekeerd as die een wie se vertroue die HERE is. Hy gebruik dan ook ’n beeld om sulke mense te beskryf. So ’n mens is soos ’n boom wat by water geplant is en sy wortels uitskiet by die stroom. So ’n boom het drie kenmerke van wat nie gedoen word nie: Dit kry ook hitte, maar (1) vrees nie en die blad bly groen en (2) is ook nie besorg in ’n jaar van droogte nie en (3) hou nie op om vrugte dra nie.   

Hierna gaan die profeet in. v.9-14 oor om te praat oor wat God doen om ons te ondersoek en wat ons dan behoort te doen as ons sy seën wil hê. 

2022/02/03

Mysterium tremendum et fascinans

Lees: Jes. 6         

Gedagte vir kinders: Wanneer ons besef wie die HERE is, weet ons dat net Hy ons kan red.  

Oorsig:  Die profeet Jesaja vertel hier van sy roeping as profeet. Dit het gebeur in die sterfjaar van koning Ussia, ’n koning wat vir 52 jaar in Jerusalem regeer het en toe dit oor die algemeen nog redelik goed gegaan het met die volk (2 Kon. 15:1-7; 2 Kr. 26). Koning Ussia het egter homself aangematig en wou sommer self die werk van die priesters doen in die tempel (2 Kr.26:16-19). God het hom toe gestraf en die koning het melaats geword. Boonop het die gerugte oor die magtige en wrede ryk van Assirië wat almal verower, ook al hoe meer geword.

In die jaar waarin koning Ussia gesterf het, sê Jesaja dat Hy die Here sien sit het op ’n hoë  en verhewe troon. Hy was so groot dat net sy some alreeds die hele tempel gevul het (v.1). Besondere engele wat serafs genoem word, was by Hom. Selfs hierdie sondelose wesens moes hulleself bedek in die teenwoordigheid van die heerlikheid en heiligheid van die lewende God (v.2). Hulle het ses vlerke gehad, maar met twee het hulle die aangesig bedek en met twee die voete. Met die orige tee het hulle gevlieg en mekaar toegeroep: Heilig, heilig, heilig is die HERE van die leërskare. Die hele aarde is van sy heerlikheid vol!” (v.3). Daardeur het hulle bevestig dat al die eienskappe van God saamgevat kan word met die woord, heilig en dat dit heerlikheid beteken vir die hele aarde. Hiermee saam het die drumpelposte gebewe van die geluid van die roepers en die huis van die Here het vol rook geword (v.4).

Jesaja kon onder hierdie groot besef van wie die Here is, maar net uitroep dat hy vervloek en verlore is. Die rede was dat hy besef het dat hyself onrein van lippe is en ook woon onder ’n volk wat onrein van lippe is (vgl. Mt.15:11; Mk. 7:21-22.). Hy het die Here in sy heerlikheid gesien en besef hoe vol sonde hy en sy volk is (v.5). En tog het een van die serafs toe ’n gloeiende kool van die altaar af geneem met ’n tang en Jesaja se mond daarmee aangeraak. Hy het daarna aan Jesaja bevestig dat sy sonde weg was deur die aanraking en sy sonde versoen (v.6-7). Toe het Jesaja gehoor dat die Here vra wie hulle sal stuur. Hierop het hy geantwoord dat hy gereed is om gestuur te word (v.8). Die opdrag wat Jesaja gekry het was egter nie maklik nie. Hy moes die boodskap bring, maar die mens sou nie luister nie en tog moes hy voortgaan (v.9-10). Hy moes daarmee voortgaan totdat die land verwoes is en die volk in ballingskap gegaan het (v.11-12). Maar uit die oorblyfsel van die klein oorblyfsel sou daar nuwe lewe kom, soos vanuit ’n afgekapte boomstomp (v.13).

Besprekingsvraag: Wat is die verskil tussen praat oor God en praat vóór God?  

Insig: ’n Mens kan praat oor God en dan kan jy ook jouself bevind vóór die aangesig van God.  Vóór Hom besef ons werklik wie ons is. 

Om te sloop, te bou en te plant

Lees: Jer. 1:4-10, 17-19            

Gedagte vir kinders:  Wanneer die HERE roep, belowe Hy om by ons te wees in moeilike tye.

Oorsig: Die profeet Jeremia het veertig jaar lank die Woord gebring aan Juda en ander koninkryke en nasies, totdat Juda in gevangenisskap (ballingskap) weggevoer is na Babel. Daarna het hy in die land agtergebly en moes steeds beleef hoe die volk wat oorgebly het, ongehoorsaam was. In Jeremia 1 lees ons waar Jeremia se roeping as profeet begin het.

Ons lees dat die Here hom reeds geken het voordat hy in die moederskoot gevorm is en voordat hy gebore is. Reeds toe al was hy bestem as profeet vir die nasies (v.5). Jeremia was nog baie jonk toe die HERE hom geroep het, waarskynlik nog voor sy twintigs, en hy het gereken dat hy te jonk is (v.6). Die HERE het egter geantwoord dat hy dit nie moes sê nie. Hy moes eerder gehoorsaam wees (v.7). Hy moes nie vrees nie, omdat die HERE beloof het dat Hy Jeremia sou uitred (v.8).

Die HERE het hierdie roeping bevestig deur Jeremia se mond aan te raak. Daardeur het Hy bevestig dat Hy sy woorde in Jeremia se mond lê (v.9). Hy het ook deur ses besondere woorde duidelikheid gegee oor wat Jeremia deur sy woorde oor nasies en koninkryke sou doen. Vier daarvan was negatief en twee positief. Hy moes enersyds uitruk, omgooi, vernietig en verwoes. Maar hy moes ook bou en plant (v.10). Hierna het die HERE twee beelde aan Jeremia gegee wat Hy verklaar het en waarop ons nie nou ingaan nie.

Ons hervat die woorde aan Jeremia by vers 17. Die Here het Jeremia beveel om sy heupe te omgord. Dit het beteken dat hy gereed moes maak vir sy taak en daarmee ook gereed om die goeie stryd te stry. Hy moes alles aan die volk oordra wat God beveel en hy moes nie verskrik wees nie. Indien hy sou toelaat dat vrees hom oorweldig, sou die HERE sy vrees bevestig en hom daaraan oorgee om te skrik vir sy vyande. Hy het egter ook aan Jeremia getoon waarom Hy nie verskrik moes wees nie: Want die HERE sou hom maak soos die volgende beelde van krag: ’n versterkte stad, ’n ysterpilaar en kopermure.