2022/11/28

In die lig van die Here

Lees: Jes. 2:1-5

Gedagte vir kinders: Die Here roep ons om in sy Lig te lewe.

Oorsig: Die profeet Jesaja het opgetree in ’n tyd (rondom 700 v.C.) toe die noordelike stamme van Israel gevang, gedood en in ballingskap gegaan het. Ook in die Suide het baie mense in Juda en Jerusalem die Here verlaat. Jesaja het hulle gewaarsku dat God hulle sou straf, maar dat Hy ook weer goeie dinge sou doen aan die wat oorgebly het. Daarom het Jesaja by tye ook gewys waarop dit alles sou uitloop en wat die groter prentjie van alles is. Hier gee Jesaja vir ons so ’n prentjie. Jesaja praat oor wat aan die einde van die dae sal gebeur. Dit wys op die dae van die einde van die Ou Testament en die dae waarin die Messias sou kom.

Jesaja praat dan met hulle deur beelde wat vir hulle bekend was om iets te sê van wat in die toekoms sou gebeur. Berge word dikwels gesien as plekke waar mense die naaste aan die hemel is en God kan ontmoet. Maar Jesaja wys daarop dat Huis van die Here en die berg Sion waarop dit gebou was, al was dit nie die hoogste nie, sou uitstaan bo almal. Meer nog, die nasies wat vroeër gewoond was aan hulle eie plekke van afgod-aanbidding, sal letterlik stroom - toestroom (skynbaar opwaarts) - na die huis van die Here (v.1-2). Ook Miga (4:1-3) sou later hierdie woorde gebruik en Maleagi (1:11) sou ook reeds praat daarvan dat God se Naam groot sou wees onder die heidene. Hierdie beelde is vervul in die bediening van die Here Jesus en wys heen na die Kerk wat die stad op ’n berg geword het, oral waar gemeentes op aarde ontstaan het (vgl. Mat. 5:14-16; Handelinge). Want ná die Here Jesus se kruisoffer het die evangelie dan ook na die heidene begin uitgaan (vgl. Mat. 28:18-20). 

Jesaja profeteer dat nie net enkelinge nie, maar volke, baie volke, sal heengaan en mekaar aanmoedig om na daardie berg te gaan waar die huis van die God van Jakob is. Hulle doel was sodat hulle (1) die Here se paaie kan leer ken en dat hulle dit nie net sal ken nie, maar (2) daarin sal wandel. Want vandaar sou die Wet en die Woord van die Here uitgaan na al die volke toe (v.3). Die Here sal ook deur sy Woord oordeel tussen die nasies en regspreek. Die gevolg daarvan sal wees dat hulle nie meer teen mekaar oorlog sal voer nie. Daarom sal hulle van hulle swaarde eerder pikke maak om die grond te bewerk en van hulle spiese snoeimesse. Die nasies sal nie meer wapens soos swaarde teen mekaar lig en nie meer leer om oorlog te voer nie (v.4). En dan roep die profeet die volk op, die huis van Jakob, om te wandel in die lig van die Here (v.5). Sy lig gee verlossing en leiding (Num. 6:25; Ps. 27:1; Ps. 43:3; Ps. 119:105).

Besprekingsvraag: Wat is die verband tussen Gen. 12:1-5 en Jesaja 2:1-5?

Insig: Jesaja leef in ’n tyd waarin baie mense afvallig was. In die eerste deel hoor ons van dit wat God gaan doen, maar in die tweede deel hoor ons waarmee die mense besig was en wat ’n spieël voor hulle en ook ons ophang: 

2022/11/21

Hier kan niemand toeskouer bly nie

Lees: Luk. 23:27-46

Gedagte vir kinders: Ons word geroep om Jesus Christus te antwoord oor sy kruis.

Oorsig: Die Here Jesus is weggelei na waar Hy gekruisig sou word en baie mense het Hom gevolg en die vroue het erg gehuil en getreur (v.27). Die Here Jesus het toe omgedraai en vir hulle gesê dat hulle eerder oor hulle kinders moes huil. Die rede was dat daar dae van oordeel sou kom waar mense met kinders baie swaar sou kry (v.28-29). Soos in die tyd van die ballingskap (Hos. 10:8) toe die wrede soldate die mense afgemaai het, sou ook hulle uitroep dat die berge hulle sal bedek as God se oordeel kom. Want as hulle gedoen het wat hulle doen aan die groen hout (Hy die onskuldige in rustiger tye), moes hulle weet wat sou gebeur as die oordeel kom oor die droë hout (sondige mense en hul kinders in oorlog. Vgl. v.30-31). Saam met Jesus is daar ook twee kwaaddoeners weggelei om gekruisig (“tereggestel”) te word.

By die plek wat Hoofskedel genoem word (Lukas gebruik nie die Aramese woord Golgotha nie, om dit vir die heidene te beskrywe), het hulle die Here Jesus en die kwaaddoeners gekruisig, een aan sy regterkant en een aan sy linkerkant. Jesus het toe daar aan die kruis gesê: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.” Hulle het toe sy klere verdeel en die lot daaroor gewerp oor wie wat moet kry (v.33-34). En die volk het alles net bekyk en die leiers het met Hom gespot: “Hy kon ander verlos, maar laat Hy nou Homself verlos as Hy die Messias, die uitverkorene van God is.” Ook die soldate het gespot en vir hom asyn gebring en gesê dat as Hy die Koning van die Jode was, soos wat in die bekende tale - Grieks, Romeins en Hebreeus - bo sy kop geskrywe is, Hy Homself moes verlos (v.35-38).

Een van die kwaaddoeners het ook gespot en gesê dat as Hy die Messias was, Hy Homself en hulle moes verlos. Maar die ander een het (1) hom bestraf en gevra of ook hy God nie vrees terwyl hyself in die oordeel was. Hy het (2) daarop gewys dat hulle hul verdiende loon gekry het, maar dat Jesus niks verkeerd gedoen het nie. Toe het hy (3) vir Jesus gevra om aan Hom te dink wanneer Hy in sy koninkryk kom. En die Here Jesus het geantwoord dat die man sommer daardie dag saam met Hom in die Paradys, (plek by God. Vgl. Op.2:7) sal wees (v.39-43). En toe, in die middel van die dag, om 12 uur (die sesde uur), het daar duisternis oor die hele aarde gekom vir drie uur lank. En die son is verduister en die voorhangsel van die tempel het middeldeur geskeur. Toe het die Here Jesus met ’n groot stem uitgeroep en gesê: “Vader, in u hande gee ek my gees oor!” En toe het Hy sy laaste asem uitgeblaas (v.44-46; vgl. Ps.31:5).   

Besprekingsvraag: Is die geredde kwaaddoener die uitsondering of ’n model vir elke sondaar?

Insig: In die sentrum van die evangelie staan die boodskap van die kruis. Aan die einde van ’n jaar is dit goed om weer die kern van alles voor oë te hou. Daar was geen ander weg nie, want ons kan net vrede met God verkry deur die bloed van die kruis (vgl. Kol. 1:20). 

2022/11/11

Die tempel, die einde en die verheerlikte Christus

Lees: Luk. 21:5-28

Gedagte vir kinders: Mense wat aanhou om teen Jesus te staan sal swaar gestraf word.

Oorsig: Die Here Jesus was reeds in Jerusalem waar Hy gekruisig sou word. Terwyl Hy in die tempel was, het mense gepraat oor die indrukwekkende tempel met sy groot en mooi klippe en versierings (v.5). Die tempel was in daardie tyd bekend as een van die wonders van die tyd. En tog het die Here Jesus vir hulle gesê dat daar dae sou kom wat elke groot klip daarvan afgebreek sou word (v.6). En toe die mense hom vra wanneer dit sou gebeur en wat die teken sou wees, het Hy hulle as die groot Profeet geantwoord. Hy het vir hulle daarop gewys dat alles nie dadelik sal plaasvind nie. Daar sal mense wees wat maak asof hulle in sy Naam kom en daar sou oorloë en opstande wees, maar dit sou nie dadelik die einde wees nie (v.7-9).

Daar sou wel oorlog en groot aardbewings en hongersnode en pessiektes en groot tekens van die hemel wees. Maar hulle sou eers vervolg word en oorgelewer word in sinagoges en tronke en voor konings en goewerneurs gebring word ter wille van sy Naam – en tog ’n geleentheid om te getuig (v.10-13). Hulle moes ook nie bekommerd wees wat om te sê nie, want Christus sou woorde en wysheid gee wat niemand sou kon teenstaan nie (v.14-15). Selfs hulle naaste mense sou hulle oorgee en hulle sou gehaat wees ter wille van sy Naam (v.16-17). En tog sou hulle geen werklike skade ly nie en moes hulle deur volharding hul lewe in besit kry (v.18-19).

Hulle moes wel weet dat wanneer Jerusalem omsingel is, dat die verwoesting naby was. Dan moes hulle wegvlug uit die stad en na die berge. Dit sou dan die dae van wraak wees oor Israel wat sy Messias verwerp het en die Skrif sou vervul word (v.20-22). 

2022/11/03

Verbond en opstanding

Lees: Luk. 20:27-40

Gedagte vir kinders: Die Here Jesus leer ons dat daar lewe na die dood by Hom is.

Oorsig: Voordat die Here Jesus gevange geneem is en gekruisig sou word, het sekere mense alreeds probeer om Hom uit te vang oor iets sodat óf die regering óf die mense teen Hom sou draai. Die owerstes en Skrifgeleerdes het alreeds probeer om Hom uit vang oor belasting-geld en net hierna het die Sadduseërs ook probeer oor ’n ander saak. Die Sadduseërs was ’n belangrike priesters onder die volk met sterk sienings oor sekere sake. Hulle het net die eerste vyf boek van die Ou Testament (Pentateug) as gesagvol aanvaar. En hulle was van mening dat daar nie engele of ’n opstanding uit die dode is nie (vgl. v.27). Hulle was ook van mening dat ’n eenvoudige voorbeeld dit bewys en het die Here Jesus hiermee probeer vasvra.

Hulle het die Here gewys op Deuteronomium 25:5  waar Moses dit vir hulle volk voorgeskrywe het dat as iemand se getroude broer sterf sonder kinders, sy (ongetroude) broer die vrou neem en vir sy broer kinders verwek (v.28). Die Sadduseërs gee dan ’n voorbeeld, en dit is nie duidelik of dit ’n werklike geval was nie, van sewe broers. Elkeen van hulle het ’n sekere vrou as vrou geneem nadat die vorige broer kinderloos gesterf het, tot by die laaste een (v.29-31). Laaste het ook die vrou gesterwe en nou was die vraag van die Sadduseërs wie se vrou sy sal wees in die opstanding uit die dode, aangesien al sewe haar as vrou gehad het (v.32-33).

Die Here Jesus het hulle eerstens geantwoord dat dit net in hierdie lewe is waarin mense met mekaar trou. Maar die wat waardig geag word om daardie wêreld en die opstanding uit die dode te verkry, trou nie meer nie (v.34-35). Sulke mense kan ook nie meer sterwe nie, want hulle is in hierdie sin onsterflik soos die engele (let wel: soos, en nie self ook engele nie), en kinders van God en kinders van die opstanding (v.36). Hy het hulle ook gewys uit die gedeelte van die Bybel wat hulle wel aanvaar het (die Pentateug), dat God daar alreeds vir Moses (vgl. Ex. 3:6) gesê het dat Hy die God van Abraham en Isak en Jakob is (v. 37). Hy het hierdie woorde vir hulle verklaar en gesê dat God tog nie ’n God van dooies is nie, maar van lewendes, aangesien almal vir Hom leef (v.38). Sommige skrifgeleerdes, waarskynlik hulle wat Fariseërs was en wel aan die opstanding geglo het, het toe geantwoord dat Jesus goed gespreek het. Daarna het niemand Hom meer iets durf vra nie (v.39-40).     

Besprekingsvraag: Wat antwoord ons hulle wat sê dat godsdiens die opium van die volk is?

Insig: Die vrae waarmee die leiers probeer het om die Here Jesus in Jerusalem uit te vang, verteenwoordig belangrike sake wat vandag nog beantwoord moet word. Die vraag oor belasting handel oor die gelowige se verhouding tot die staat en die vraag van die Sadduseërs gaan oor ’n sentrale saak in die evangelie – dat ons glo aan die opstanding van die dooies. Marxiste sê maklik dat die geloof aan die lewe hierna opium vir die volk is om nie dinge hier op aarde grondig te verander nie, maar die eerste antwoord is dat dit juis ’n ligter gesindheid in die hart gee om met groter vryheid in Christus te hervorm in die hede. ’n Tweede antwoord is dat die opium-bordjies teenoor Marxmannetjies ook verhang kan word.