2024/05/29

Die Here van rus en verademing

Lees: Mk. 2:23-3:6

Gedagte vir kinders: Die Here Jesus het vir ons ware rus en lewe gebring.

Oorsig: Markus 2-3 vertel van vyf geleenthede aan die begin van die Here Jesus se bediening waar Hy homself openbaar (Vergifnis-gewer, Geneesheer en Bruidegom). Hier openbaar Hy hom as Here van die Sabbat en verduidelik wat die diepste bedoeling van die Sabbat is. Sy bediening was baie besig en dikwels het hulle nie eens tyd gehad om te eet nie (vgl. 3:20; 6:31; 8:1). So het hulle dan op ’n sekere Sabbat deur gesaaides geloop en die honger dissipels het begin om are te begin pluk (v.1). Die wet van die Here het toegelaat dat arm mense van die lande af kon eet, sonder om ekstra saam te neem (Deut. 23:25-26). Die wet het wel bepaal dat daar nie beroepswerk soos oes op die Sabbat mag plaasvind nie (Ex. 34:21).

Daar was egter Fariseërs wat gemeen het dat dit nie reg was nie. Die Here het hulle toe gewys op Dawid wat by geleentheid in nood was saam met sy manskappe en honger gehad het (let wel) en hoe hy in die huis van God (vgl. 1 Sam. 21:2-7) in die tyd van Abjatar wat later hoëpriester geword het, toonbrode geëet het wat elke Sabbat vervang is, en normaalweg net vir die priesters bedoel was (vgl. v. 24-26; Ex. 25:30; Lev. 24:5-9). Hieruit moes hulle reeds aflei dat Sabbat gemaak is vir die mens en nie die mens vir die Sabbat nie. En hulle moes hierdeur ook verstaan die Seun van die mens Here is van die Sabbat (v.27-28).  

Hierdie saak is verder gevoer toe die Here Jesus in ’n sinagoge gegaan het op die Sabbat en daar ’n man met ’n verdorde hand was. Weer het hulle hom dopgehou sodat hulle Hom kon aankla as Hy werk doen op die Sabbat (3:1-2). Die Here Jesus het egter nie weggedeins vir hulle mensgemaaktye reëls nie en vir die man met die verdorde hand gesê om op te staan in hulle midde. Toe het Hy die mense gevra of ’n mens op die Sabbat goed of kwaad moet doen, ’n lewe red of doodmaak. Hulle het stilgebly, omdat hulle nie werklik wou hoor nie (v.3-4). Die Here Jesus het hulle toe met toorn aangekyk omdat hulle nie wou uitkom vir lewe nie terwyl Hy gelyktydig bedroef was oor hulle harde harte. Hy het toe vir die man gesê: Steek jou hand uit! Die man het dit toe uitgesteek en sy hand is herstel, nie net bietjie nie, maar herstel soos die ander een (v.5). Dit het veroorsaak dat die Fariseërs gaan raad hou het met ondersteuners van koning Herodes (Herodiane). Hulle was normaalweg nie vriende met mekaar nie, maar in Jesus het hulle ’n gemeenskaplike vyand gesien wat hulle nader aan mekaar gebring het en om planne te maak hoe om Hom om te bring (v. 6; vgl. Ps. 2).    

Besprekingsvraag: Hoe wys Dawid hier heen na die bediening van Jesus Christus?

Insig: Die doel van die Sabbat, wat rus beteken, was om aan mense verademing te gee, verligting van die las van slawerny en lyding (vgl. Deut. 5:15; Ps. 84; 103:1-5). Die verbod op beroepswerk (vgl. Lev.23:24-28) was daarop gerig dat mense egte gemeenskap met God en mekaar, en daarom vernuwing en feestelikheid kon beleef. Dit was so gepas dat die Here Jesus juis op hierdie dag genees, omdat Hy die groot Geneesheer en Hersteller van lewe is. 

2024/05/22

Die Koninkryk en wedergeboorte

Lees: Joh. 3:1-17

Gedagte vir kinders: Elkeen wat in die Here Jesus Christus glo, sal nie verlore gaan nie.

Oorsig: In Johannes 3 hoor ons die eerste keer in hierdie evangelie hoe die Here Jesus sy lering uitspel. Hy doen dit teenoor ’n man uit die Fariseërs met die naam van Nikodemus wat ’n leier (owerste) was van die Jode (v.1). Die Fariseërs was godsdienstige mense wat meer op hulle tradisies gesteld was as op die Woord van God. Hierdie Nikodemus het in die nag na Jesus gekom en gesê: “Meester (Rabbi), ons weet dat u ’n leraar is wat van God gekom het, want niemand kan hierdie tekens doen wat U doen as God nie met hom is nie.” (v.2). ’n Mens sou verwag dat die Here Jesus hom hieroor sou prys, maar Hy het geweet dat sommige mense se geloof maar baie oppervlakkig is en wat die mens  se diepste probleem was (vgl. 2:23-25).

Die Here antwoord Nikodemus toe dadelik oor die koninkryk: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.” (v.3) Nikodemus het nie verstaan nie en gevra hoe iemand wat oud dan weer deur die skoot van sy moeder gebore kan word (v.4). Jesus het toe geantwoord dat dit beteken dat iemand uit water en Gees gebore moet word om die koninkryk van God in te gaan (v.5; vgl. Es. 36:25-27) Hy het verder verduidelik dat net die sondige vlees uit sondige vlees gebore kan word, en dat net die Heilige Gees die geboorte deur die Gees kan bewerk (v.6). Hy het bygevoeg dat Nikodemus hom nie oor die uitspraak moet verwonder nie, en verduidelik dat dit gebeur soos die wind wat waai waar hy wil, maar dat ons nie weet vanwaar die wind kom of waarheen dit gaan nie. En tog sien ons die werking van die wind. Nikodemus het toe gevra hoe hierdie wonderlike saak in mense se lewe kan gebeur (v.7-9).         

Die Here het toe vir Nikodemus gevra waarom hy, leraar van Israel, nie hierdie dinge weet nie (v.10). As hulle sy (“ons”) getuienis oor die aardse wedergeboorte nie glo nie, hoe sou hulle die hemelse kant glo? (v.11-12). Dit behels dat niemand kan opvaar in die hemel nie, behalwe Hy, die Seun van die mens, wat uit die hemel neergedaal het (v.13). En soos Moses die slang in die woestyn verhoog het, so moet Hy verhoog word sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê (v. 14-15; vgl. Num. 21:4-9). Die rede is dat God die wêreld so lief gehad het dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê. Want die Seun is nie in die wêreld gestuur om te veroordeel nie, maar eerder om te red. (v.16-17). 

Besprekingsvraag: Hoe is die Persone van die Drie-eenheid elk betrokke by ons redding?

Insig: Ons kyk na hierdie bekende grootse gedeelte tydens Triniteit-Sondag en fokus daarom hier saam met die gang van die Teks eers op die werk van die Gees (v. 4-9), dan die Seun (v.10-15) en dan die Vader (v.16-17). Eerstens dan: Die koninkryk van God kan net vir ons ’n werklikheid word deur die werk van die Gees. Johannes koppel dit ook aan water (v.5; vgl. Joh. 1:33; 4:10, 13-14; 7:37-39). Beide Lutherane en Rooms Katolieke verbind hierdie werk van die Gees daarom ook direk aan die doop (vgl. Hand. 22:16; Tit. 3:5). Gereformeerdes erken ook die band, maar sien dit nie so direk nie (vgl. Gal. 3:26,27; Kol. 2:12, Ef. 5:26; NGB 34; HK 26-27). Uiteindelik getuig die Doop wel kragtig van die reiniging en nuwe lewe in Christus deur sy Gees wat gepaard gaan met nuwe harte (Es. 36:25-27). Die Doop getuig van en roep na die wonderbare werking van die Gees wat intiem daarmee verbind nis. Dit kan voor, tydens of na iemand se Doop gebeur, maar die water en die Gees getuig uiteindelik saam van die heerlikheid van die nuwe verbond waarin iets gebeur wat net God se Gees in ons kan doen. Dit is misterieus en ontembaar soos die wind en ons kan dit nie verklaar nie, maar ons sien die werkinge in mense se lewens. En dit bevestig dat daar radikaal iets fout is met die gevalle mens. Nie afkoms of voortreflikheid kan ons daaruit help nie. Iets van Bo is nodig wat net die Gees kan doen.

2024/05/16

Gesalfdes van die verheerlikte Christus

Lees: Hand. 1:1-11

Gedagte vir kinders: Die Here Jesus wat opgeneem is in die hemel kom weer.

Oorsig: Die Here het deur Lukas, die geneesheer, vir ons twee kosbare Godgeïnspireerde getuienisse in sy Woord gegee. Die eerste boek gaan oor alles wat die Here Jesus begin doen en leer het (v.1). Die tweede boek, Handelinge, gaan oor alles wat die Here Jesus voortgegaan het om te doen deur sy liggaam, die Kerk, in die krag van die Heilige Gees. Lukas skryf, soos in sy eerste boek, aan Theofilus, wat een of ander belangrike persoon was, maar wat hy nou op sy Naam noem. Theofilus beteken geliefde van God of Godliefhebber en beide betekenisse is hier van toepassing, ook op elke gelowige en die bedoeling is dat sommige wat lees ook so kan word. Lees Lukas en Handelinge daarom met jou hart.

In sy eerste boek het Lukas vertel van Jesus Christus tot by die punt van sy hemelvaart nadat Hy aan die apostel wat Hy uitverkies het, deur die Heilige Gees bevele gegee het (v. 2). Hy het homself aan hulle as lewend na sy dood vertoon deur baie kentekens en gedurende 40 dae aan hulle verskyn en oor die dinge van die koninkryk gespreek (v.3). Hy het hulle toe ook bevel gegee om nie van Jerusalem weg te gaan nie, maar om te wag op die belofte van die Vader wat hulle van hom gehoor het (v.4). Hy het hulle toe gewys op die bediening van Johannes die Doper wat met water gedoop het (vgl. Mat.3:11), maar dat hulle nou binnekort met die Heilige Gees gedoop sou word (v.5). Die wat bymekaargekom het vra die here toe of Hy in daardie tyd die koninkryk vir Israel weer gaan oprig (v.6). Die Here Jesus het hulle geantwoord dat die tyd en geleentheid daarvoor hulle nie toekom om te weet nie, omdat die Vader dit deur sy eie mag bepaal het (v.7). Hulle moes eerder moes fokus op wat hulle taak was en hoe die koninkryk van God ’n werklikheid sou word op aarde. Wat hulle kon weet is dat hulle krag sou ontvang wanneer die  Heilige gees oor hulle kom. So sou hulle getuies wees in Jerusalem, die stad van god in die Ou testament. Maar dit sou ook gelyktydig (sowel as) uitkring na die hele Judea en Samaria en verder tot aan die uiterste van die aarde (v.8).

Daarna is die Here Jesus opgeneem in die hemel terwyl hulle dit sien. ’n Wolk het Hom voor hulle oë weggeneem (v.9). toe die dissipels nog so stip na die hemel kyk terwyl Hy weggaan het daar twee manne in wit klere by hulle gestaan en gesê: manne van Galilea, waarom staan julle en kyk na die hemele. Hierdie Jesus wat van julle opgeneem is in die hemel, sal net so kom soos julle Hom na die hemel sien wegvaar het (v.11).    

Besprekingsvraag: Hoe wys Dawid as koning hier heen na Christus as opgestane Koning?

Insig: Die Here Jesus se voortgaande werk na sy opstanding was enersyds nuut , maar kan andersyds net deur die lense van die Ou Testament na waarde begryp word. Ons verneem hier van die Een uit die nageslag van Dawid wie se ryk geen einde sal hê nie (Luk. 1:32-33). Hy vertoon Homself vir 40 dae lank na sy opstanding aan sy dissipels en eet en drink saam met hulle (Hand. 10:41). Om saam te eet dui op innige gemeenskap en verbondenheid, maar hier ook dat die Koninkryk in beginsel reeds gekom het (vgl. Luk. 22:16,18). Die 40 dae herinner ook aan die motief van toetsing en gereedmaking (vgl. Moses, Israeliete, Elia, Christus). Die dissipels se vraag oor die heroprigting van die koninkryk vir Israel was daarom uit fokus, maar nie ongegrond nie (v. 6). Hier is sprake van die Koning wat sy troon gaan bestyg met die hemelvaart en daarmee die troonbestyging waarvan die Psalms praat vervul (vgl. Ps. 2; 110; Dan. 7:13,14). En die proklamasie hiervan kring ook uit vanaf die stad van Dawid, Jerusalem, waar die Messias verwag is. Dit kring in konsentriese sirkels uit soos met Dawid destyds, vanuit Jerusalem, na sy stam en dan sy volk en bondgenote. Maar hier word dit nou vervul tot aan die eindes van die aarde. Rome wou graag met hulle paaie die Romeinse vrede na die verste gebiede bring. Hier hoor ons hoe dit eerder sou gebeur.