2024/07/27

Om te leef deur die Gees

Lees: Gal. 5:16-26

Gedagte vir kinders: Die Here roep ons om die Heilige Gees in ons te laat werk.

Oorsig: Die apostel Paulus is besig om die Galasiërs te praat oor ware vryheid deur Jesus Christus. Hulle moet hierdie vryheid nie so uitlewe dat dit daarop uitloop dat hulle die sondige lewe van die vlees uitlewe en mekaar dan byt en opeet (verslind) nie (v.13-15). Dan spel hy uit wat dit beteken vir Christene: Wandel deur die Heilige Gees se krag; dan sal julle nooit die begeertes van die sondige mens (vlees: sarks) deurvoer (volbring) nie (v.16). Die apostel verduidelik dan dat hulle as nuwe mense in Christus nou in ’n stryd gewikkel is waar die sondige mens (vlees) begeertes het wat teenoor die werk van die Heilige Gees in hulle staan, en die Heilige Gees werk weer goeie begeertes wat teenoor die sondige mens se werke staan. Hierdie begeertes staan teenoor mekaar sodat hulle nie maar kan doen wat ook al by hulle opkom nie (v.17).

Die apostel gaan dan voort om die werke (meervoud) van die vlees uit te spel en op te stel teenoor die vrug (enkelvoud) van die Gees. Die lys van vleeslike werke is nie volledig nie, maar voorbeelde van “dergelike dinge” (v.21). Ons kan dit hier indeel in seksuele sondes (sewende gebod: owerspel hoerery, onreinheid, ongebondenheid), heidense afgodery en bygeloof  (eerste gebod: afgodery en towery), relasionele sondes (onderlinge verhoudinge, d.w.s. tweede tafel van die wet: vyandskap, twis, jaloersheid toornigheid, naywer, tweedrag, partyskap, afguns, moord), en ongebonde oorgawe aan die liggaam (dronkenskap, brassery). Die wat sulke dinge doen sal die koninkryk van God nie beërwe nie (v.19-21).

Hierteenoor stel die apostel die negevoudige vrug van die Gees. Ons kan dit breedweg indeel in drie ankerdeugde wat in God gegrond is (liefde, blydskap, vrede), drie deugde wat  veral met ons naaste te doen het (lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid), en drie deugde wat veral met ons persoonlike verantwoordelikheid te make het (getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing (v.22). Vgl. laasgenoemde met die laaste werke van die vlees. Hierdie vrug is nie teen die wet nie (v. 23) en daarom kan ons daaraan lug en oorgawe gee in ons lewe. Die apostel versterk hulle dan deur daarop te wys dat dit moontlik is omdat hulle aan Christus behoort en daarom deur Hom die vlees en sy hartstogte gekruisig het (v.24). Deur Jesus Christus se kruisiging het hulle deel gekry aan hierdie gekruisigde lewe. Daarom kan hulle dit nou deur die geloof ken dat sy Gees in hulle werk (vgl. Gal. 3:1,5). So moet hulle dit nou ook in die geloof steeds laat geld en daarom deur die Gees wandel (v.25). Daarom kan hulle nie soekers wees van ydele eer wat uit die eie-ek opkom en vanuit daardie punt mekaar uittart en mekaar beny (v.26) nie.

Besprekingsvraag: Kan ons die sondes van die ou mens in ons ooit te bowe kom?

Insig: Die Christen is in hierdie lewe onvermydelik in ’n stryd betrokke. Dit geld op elke lewensterrein en elke ouderdom – ouer, tiener, laerskoolkind, getroud, enkellopend, bestuursposisie, teeskinker of posbode. Die Christen beleef daagliks twee soorte verskillende begeertes wat op hom of haar appel maak: Die werkinge van die Heilige Gees teenoor die begeertes van die sondige natuur. Die vlees (sarks) moenie hier verwar word met die blote liggaamlike en materiële nie, maar beteken eerder die sondige ou mens na die sondeval. Die vuil prent hiervan in sy werkinge word hier teenoor die heerlike kenmerke van die nuwe lewe opgestel. Vergelyk en sien die verskil van die lelike teenoor die lieflike. Laat die groter prent diep op jou inwerk. Daarna kan ons op onderdele dieper ingaan.

2024/07/26

God se Raadsbesluite en ons vrae

Lees: Job 38:1-11

Gedagte vir kinders: Die Here leer ons deur sy wonderlike skepping om Hom te vertrou.

Oorsig: Die boek Job bestaan uit ’n inleiding en slot waar daar oor die lewe van Job vertel word. En dan vind ons drie siklusse van gesprek/dialoog oor Job se lyding. Dit bestaan uit argumente tussen Job en sy drie vriende wat soms eerder soos sy vyande klink (Elifas, Bildad en Sofar). Dan vind ons ’n laaste groot betoog deur Job en ná hom ’n jonger vriend genaamd Elifas. En dit bring ons dan by God se antwoord uit in ’n storm waarin Hy dan vir Job ondervra en leer en by Job wat daarop antwoord. In Job 38 vind ons die gedeelte waar God uiteindelik vir Job begin antwoord. Vanaf hfst. 38:1 tot 40:2 vind ons besondere sketse van sowat 20 geskape dinge wat iets van die reikwydte en kompleksiteit, misterie en skoonheid van God se skepping aantoon. In vers 1 tot 11 word vanaf vers 4 spesifiek gefokus op die aarde (v.4-7) en die see (v.8-11).

Ons lees dat God Job uit ’n storm geantwoord het (v.1). Hy het daarop gewys dat Job God se raadsbesluite tot duister maak deur sy woorde sonder kennis (v.2). En toe het die HERE Job opgeroep om sy heupe te gord soos ’n man wat gereed is vir konfrontasie, maar ook volwasse gsprek. Die HERE sou vir Job begin ondervra en Job moes die HERE dan onderrig (v.3). Die HERE het begin met die aarde en Job gevra waar hy was toe God die aarde gegrond het. Hy moes laat weet of hy daaroor insig het. Wie het byvoorbeeld die afmetings daarvan bepaal of die meetsnoer/maatband gespan. Job weet dit mos (v.5). En dan word die beeld van fondament-klippe gebruik waarop geboue ingesink en gebou word. Waar is die aarde s’n? En as ons die beeld van die hoeksteen moet gebruik waarop geboue opgerig is, wie het die hoeksteen van die aarde gelê? (v.6). Ja, dit het gebeur toe die môresterre saam gejubel het, wat heenwys na die seuns van God, die engele, wat gejuig het oor die aarde as wonderbare skeppingswerk (v.7).

Hierna word daar oorgegaan van die aarde na die see. Wie het die see met deure afgesluit toe dit uitgebreek het, toe die see soos ’n kind uit die moederskoot voortgekom het? (v.8). Ja, toe het die Here die wolk tot ’n bo-kleed/doek van die see gemaak en met donkerheid toegedraai soos ’n baba (v.9; vgl. 2020). Hy beskryf ook digterlik hoe Hy die grens vir die see uitgebreek het en grendel en deure gemaak het waardeur die see nie kan kom nie (v.10). Hy het so eintlik vir die see gesê: Tot op hierdie grens mag jy kom  en nie verder gaan nie; en hier word ’n grens gestel vir jou trotse golwe (v.11).       

Besprekingsvraag: Op watter vlak moet iemand wees om God se besluite te bevraagteken?  

Insig: Job het God se Raadsbesluit tot duisternis gemaak omdat hy nie die groot Raadsman se leiding in sy donker gehad het nie. Tot vandag toe is die sogenaamde teodisee-vraagstuk - God se geregtigheid in hierdie wêreld van lyding – ’n vraagstuk wat baie maklik meer duisternis as lig tog gevolg het as God nie ons Raadsman is nie.