2013/07/01

Sekularisasie en bypassende offers

Gil Bailie is nog nie klaar met ons nie. Die ou is gewoon 'n prik-prins en terg jou met idees sover hy praat. Dit moet jou laat nadink as jy hoor dat ook hy reken dat René Girard jou kop oopskop met sy mimetiese teorie. Maar wag, blootstel is hier die beste medisyne. 

Bailie reken dat die evangelie 'n desakraliserende krag in ons midde is. Toe die voorhangsel in twee geskeur en die offers afgeskaf is in Christus, kon godsdienstigheid nooit weer dieselfde wees nie. Vir Bailie het dit op voetspoor van Girard daarmee te doen dat Christus as sondebok die skuldverplasingsmeganisme eens en vir altyd aan die kaak gestel het as niksseggend buite Hom. Ek het nie volle vrede met hul verengde siening van die betekenis van Christus se kruisdood nie, maar dit is nou nie ter sprake nie. Die vars invalshoek wat Bailie bring is dat dit die unieke roeping van Christus is om die desakralisering van godsdiens te bemiddel op so 'n wyse dat dit gepaard gaan met 'n verhoging van godsdienstige sensitiwiteit. Dit klink soos 'n kontradiksie, maar dit is juis wat dit so uniek maak! Net Christus kan dit doen dat jou offerdrang afgeskaf word terwyl jou godsdienstige sensitiwiteit verhoog. En hier kom nou Bailie se witblits opmerking: As Christenskap nie nie sy regmatige plek inneem nie, vind daar eenvoudig 'n desakralisering in die wereld plaas wat inplof in sekularisering. Desakralisering word dus verwring tot sekularisering. En as jy nog nie regop sit nie, maak gereed vir die tydbom-uitspraak: Sekularisasie sal een of ander tyd herkonstitueer in een of ander offersisteem. Gewaarborg. 

Sekularisasie lyk aanvanklik na 'n algehele breuk met godsdiens, maar dit begin altyd van voor af om dieselfde patroon te herhaal. Waarom? Indien jy bekend is met mense en verder erken dat René Girard iets beethad oor jaloesie en spanning wat oplaai tot by die punt van sondebokontlading, behoort jy nie verbaas te wees nie. Bailie roep ons op om uit te kyk vir die sogenaamd algehele breuke in die geskiedenis. Uiteindelik doen die "nuwe begin" presies dieselfde as wat godsdiens nog altyd gedoen het: Die bloed vloei vir een of ander saak soos wat die nuwe weergawe van offers gebring word. Vra maar vir die Franse revolusie. En verligte sekulêre mense is te blind om te besef dat hulle nie werklik vry is van die offermotief nie.

2013/06/28

Lukas en tradisie nuut gelees

Indien jy Lukas nuut wil lees en hulp nodig het, kan Gil Bailie jou dalk help. Vergun my om jou te prik met n paar gedagtes en dan oor een saak dieper te delf.

Die geboorteverhaal van Christus bevat instruksies oor hoe om Lukas te lees. Dit is eintlik alreeds 'n mini-evangelie. Die evangelie word verder so vertel dat jy dit nie net een keer kan lees nie. As jy klaar is, wil jy teruggaan omdat jy nou sekere beskrywings in 'n nuwe lig lees. En elke keer wanneer jy klaar is, gebeur die dieselfde proses van voor af! Om die evangeliebeskrywing reg te lees beteken verder nie in die eerste plek 'n literêre of filosofiese of teologiese analise nie. Lukas impliseer dat ons soos Maria te werk moet gaan: Bewaar dit in jou hart. Moenie in die slaggat van die Verligtingsrasionalisme trap nie.

Een van die verrassende dinge wat ons vinnig in Lukas begroet is hoe hierdie skrywer wat op die heidene, randfigure en vroue fokus, met die Ou Testament omgaan. Dit wemel van Ou Testamentiese verwysings in die lofsange van die mense in die geboorteverhaal. Selfs heidene en randfigure moet weet dat die wortels van die Ou Testament die konteks bied om sin te maak van wat hier gebeur. Bailie maak dan 'n insiggewende stelling: Egte vernuwing kom altyd uit die tradisie en nie vanuit 'n ander plek nie. Die implikasie is dat die verhouding Ou en Nuwe Testament vir ons die arche-tipe hiervan is.  

Kom ons fokus dieper op Bailie se woorde: Ware vernuwing kom altyd  deurdat jy op 'n dieper vlak peins oor die tradisie waaruit jy gekom het. 'n Mens sou kon argumenteer dat die arche-tipe vernuwing inderdaad aan ons leidrade verskaf van hoe ware vernuwing werk, maar dan is dit eers nodig om die gunsteling gonswoord van afvallige Bybelverklaarders te dekonstrueer.

2013/06/25

Jy is wat jy liefhet

As die vorige possie se filosofiese verwysing jou frustrasievlakke beproef het, hier is iets meer verteerbaar. Jamie Smith verduidelik in 'n onderhoud met 'n duidelik wyse vrou wat die konsekwensies is van die Augustiniaanse plof-stelling: Jy is wat jy liefhet. Menige Calvinis onder ons, die uwe ingesluit, is geneig om eensydig te redeneer dat jy is wat jy dink. In hierdie opsig is postmodernes reg. Ons is nie net denkende wesens nie; ons is ook liefhebbende wesens met liggame. Dit beteken dat geen roetine of ritueel neutraal is nie. Solank ons nie ons greep verloor op die belang van die rede nie, kan ons gerus ag slaan op Smith se klem op hierdie dikwels verwaarloosde realiteit. Geniet die HD-insetsel en laat die gesprek met jou praat.

2013/06/14

Iets oor die ratwerk van rede en begeerte.

Class(ic)ifying Jamie Smith
Enige een wat die spesie homo sapiens hoegenaamd wil begin verstaan, behoort rekening te hou met die diepste dryfvere van mense. Daar is geweldige kragte wat loskom wanneer I.K. en E.I.K. ontmoet. Indien jy hierin geïntereseerd is en kan opgewonde raak wanneer Augustinus, Calvyn en Pomo 'n vergadering belê, lees gerus hierdie besinning. Dit is 'n Calvinistiese, simpatiek-kritiese waardering van die werk van die stimulerende J.K.A. Smith. Jamie Smith het ten minste die vermoë om pomo-denkers te temper terwyl hy waarheidsmomente probeer inkorporeer. Hy maak ons baie bewus dat die ratwerk van begeerte en selfs die verbeelding verwaarloos is in menige Calvinistiese wêreldbeskouings. En tog bly die vraag haper of hy die ratwerk van die rede genoeg deurskou. Indien jy iemand is wat hou van besprekings van stellings soos die een wat nou kom, kan die skakel jou dalk boei: 

Dit help nie dat ons bloot oortuig is van iets nie; ons het nodig om in beweging gebring te word. Andersins ... sal ons oortuig, maar nie verander wees nie. Die artikel is in filosofiaans geskrywe. Moenie snags rondrol as jy dit nie verstaan nie. Dit is bloot 'n  taal wat jy nog nie aangeleer het nie. 

2013/06/13

Patriotnotas (3)

Brett McCracken kan altyd hoortyd gegee word. Hy skryf hier, op sy eie Independance Day, woorde wat waardig is om die patriotnotas te haal. Dit handel oor die verband tussen plek, patriotskap en Sehnsucht. Die betekenis van Sehnsucht kan gerus by die skakel dieper bestudeer word. Vir die haastiges is dit genoeg om nou te sê dat dit gaan oor daardie soms intense hunkering en verlange na dit wat jy nie regtig in woorde kan omsit nie. Lewis het baie hiervan gemaak en gereken dat dit iets is wat die Here in ons geplaas het om intuïtief te weet dat daar meer in die lewe is as die hier en nou. McCracken sien patriotskap as iets wat meer eksistensieel as ideologies is. Dit gaan vir hom om die dankbaarheid wat jy voel vir spesifieke nuanses van kultuur, geskiedenis, landskap en mense wat deel van jou menswees geword het. Hy tref 'n onderskeid tussen patriotskap en nasionalisme. Sommige mag miskien verskil hiermee, maar die volgende is die moeite werd om te vertaal: 

Patriotskap is 'n goeie ding. Dit is die natuurlike emosionele konneksie wat ons met plek het. Ons is bedraad om te hunker na die idee van tuiswees. Dit was waarna die Israeliete gehunker het in die Sinaï-gebergte. Dit was waarna die Hobbits gehunker het (die Shire) gedurende hul Middel-Aarde avonture. Dit was wat deel uitgemaak het van C.S. Lewis se Sehnsucht:

2012/12/07

Patriotnotas (2)

Nou-ja, kyk na die vorige possie. Reageer op die stellings en luister dan fyn na Chesterton se gedagtes:

HT vir die skets: Anthony Flood

"Dit is duidelik dat daar 'n groot mate van verskil is tussen internasionaal te wees en kosmopolitaans te wees. Alle goeie mense is internasionaal. Byna alle slegte mense is kosmopolitaans. As ons internasionaal wil wees, moet ons nasionaal wees. En dit is grootliks omdat hulle wat hulself vriende van vrede noem hierdie onderskeid nie genoeg gehandhaaf het nie, dat hulle nie die meerderheid van enige van die nasies waaraan hulle behoort het beïndruk het nie. Internasionale vrede beteken vrede tussen nasies, nie 'n vrede na die vernietigning van nasies nie. Laasgenoemde is die Budhistiese vrede na die vernietiging van persoonlikheid. Die goue era van die Europeër is soos die hemel van die Christen: Dit is die plek waar mense mekaar sal liefhê; nie soos die hemel van die Hindu, 'n plek waar hulle mekaar sal wees nie. En in die geval van nasionale karakter kan dit in 'n besondere sin gesien word. Dit kan algemeen gevind word, dink ek, dat hoe meer 'n mens werklik die siel van 'n ander volk waardeer en admireer, hoe minder sal hy poog om dit na te boots; hy sal bewus wees dat daar iets daarin te diep en onbeheerbaar is om na te boots. Die Engelsman wat 'n fasinering het met met Frankryk, sal probeer om Frans te wees; die Engelsman wat Frankryk admireer, sal hardkoppig Engels bly."

2012/12/01

Patriotnotas (1)

Hier is 'n toets om jou verstaan van die woord Patriot aan die van Chesterton te meet. Kom ons maak dit bietjie eerliker en verdiep die spanningslyn deur vir nou slegs waar of vals op die volgende stellings te antwoord:

1. 'n Patriot glo dat alle goeie mense internasionaal is.

2. 'n Patriot glo dat nasies mekaar moet liefhê.

3. 'n Patriot kan die siel van van 'n ander volk admireer en waardeer.

In 'n volgende aflewering sal Chesterton in Afrikaans met ons praat.