2024/03/23

’n Nederige Koning met dubbele vergoeding

Lees: Sag. 9:9-12

Gedagte vir kinders: Die Here se kinders is baie bly oor hulle nederig-getroue Koning Jesus.

Oorsig: Die profeet Sagaria het na die terugkeer uit die ballingskap opgetree saam met die profeet Haggai. Hy het sy brief met ’n kort praktiese preek begin (1:1-5) en toe begin vertel van die gesigte wat hy van die Here ontvang het (1:6-6:15). Hy het daarna die Jode oor hulle vrae oor vas geantwoord (hoofstuk 7-8). En toe het hy twee langer preke (telkens genoem “Godspraak”/”uitspraak”/“profesie”/“burden”) gegee (hfst. 9-11 en 12-14). Ons kyk hier na die tweede deel van die eerste Godspraak. Nadat die Here oordeel maar ook genade oor die volke aangekondig het, hoor ons van ’n oproep tot groot vreugde.

Die gelowiges van Jerusalem en die tempel (Sion was die berg waarop die tempel gebou is) word met die innige name aangespreek as dogter van Sion en Jerusalem. En hulle word opgeroep om hulle grootliks te verheug en te juig. Die rede is dat hulle Koning na die ballingskap na hulle sal kom. Hierdie Koning is enersyds regverdig en ’n oorwinnaar. Andersyds is Hy ook nederig en ry op ’n jong esel, die vul van ’n eselin (v. 9; vgl. Gen. 49:11; Rigt. 5:10; 2 Sam. 16:2). Hierdie koms is nie volgens die oorwinning met strydwaens nie en perde en strydboog nie. Inteendeel, dit word vernietig. Tog bring hierdie Koning se koms vrede en heerskappy wat uitkring tot by die einde van die aarde (v. 10; vgl. Ps. 72:8).   

Die Here sê verder deur Sagaria dat Hy die gevangenes uit ballingskap sal vrylaat/vrygelaat het, omdat daar krag is in die bloed van die verbond (vgl. Ex. 24:8; Luk. 22:20).  Die gevangenes was soos Josef en Jeremia in die dieptes (vgl. Ge. 37:23-24,28; Jer. 38:6), ’n put sonder water (donker/helse omstandighede), maar daaruit is hulle bevry en sal hulle bevry word (v.11). en dan word hulle wat in gevangenskap was “hoopvolle gevangenes” genoem omdat hierdie ballinge hoop mag hê. En hulle word opgeroep om terug te keer na die vesting. In hulle tyd was dit Jerusalem en die tempel wat weer opgebou sou word op grond van God se beloftes, en vandag is dit die vesting van die Kerk as liggaam van Jesus Christus. Die Here kondig ook deur sy profeet aan dat Hy hulle dubbel sal vergoed vir hul smart (v.12). Hulle sal nie net van hulle smart bevry wees nie, maar hulle sal ook die seën van die Here beleef in hulle nuwe toestand. So het Josef ook destyds dubbel ontvang vir sy smart en so het die Here die manier om dit steeds vir sy kinders te doen, ver bo wat ons dink (vgl. Joel 2:25; Ef. 3:20).

Besprekingsvraag: Hoe is dit moontlik dat die Here sy kinders dubbel kan vergoed?

Insig: God se verlossing staan hier in verband met ’n nederige Koning. Dit kom eintlik hier onverwags, want pas vantevore verneem ons van die oordeel oor verskillende volke, moontlik deur die oorwinnings van Alexander die Grote. Maar dan hoor ons skielik van die eintlike Grote, die Koning uit die geslag van Dawid (v.10; vgl. Ps. 72:8) wat regverdig is en oorwin, maar wat ook nederig ry op ’n esel. 

2024/03/15

Om God te ken in die nuwe verbond

Lees: Jer. 31:31-34

Gedagte vir kinders: Die Here skryf deur die Gees sy wet in sy kinders se harte.

Oorsig: Die Here het die profeet Jeremia van jongs af geroep om ’n profeet vir die nasies en koninkryke te wees, om (1.1) uit te ruk en (1.2) om te gooi en (1.3) te vernietig en (1.4) te verwoes, om (2.1) te bou en (2.2) te plant (vgl. Jer. 1:10). Ons lees baie van die eerste vier negatiewe in Jeremia 1-29, maar in hoofstuk 30 en 31 (vgl. 31:28) hoor ons ook van die opbou en die wonderlike beloftes van die Here. Dit gaan oor ’n terugkeer uit die ballingskap en is verder ook tipies van die heerlike dinge wat in vervulling sou gaan vir die Kerk wanneer die Messias sou kom. Ons verneem in hoofstuk 31 van herstelde vrede en eer en vreugde en oorvloed (v.1-14). Hulle hartseer oor hulle kinders wat hulle verloor het, sal tot ’n einde kom, en hulle sal hul van hul sonde bekeer en God sal hulle in genade aansien (v.15-20). Hulle en hul kinders en hul vee sal besonder vermenigvuldig en seën beleef (v.21-30). 

En dan hoor ons dat God ’n nuwe verbond met Israel asook die huis van Juda sal sluit (v.31). Dit sal nie soos die verbond wees wat die HERE met hulle vaders gesluit het by Sinai toe Hy hulle kragtig uit Egipte gelei het nie. Daardie verbond het hulle verbreek, alhoewel die Here hulle gebieder/eggenoot was, het die HERE gesê (v.32). En dan beskryf die HERE hierdie nuwe verbond. Hy gee sy wet in hul binneste en skrywe dit op hulle hart. Die HERE bevestig dit ook verder deur die uitdrukking wat dikwels gebruik is om te benadruk dat Hy met sy volk in ’n verbond lewe: “En Ek sal vir hulle ’n God wees, en hulle sal vir my ’n volk wees.” (vers 33).

Die HERE verduidelik ook verder wat dit beteken. Hulle sal nie meer elkeen vir sy naaste en elkeen vir sy broer leer om die HERE te ken nie. Die rede is dat almal Hom sal ken, klein en groot, het die Here gespreek (belowe). Dit beteken nie dat niemand meer enige lering sal benodig nie, maar wel dat die basiese kennis van God, wat ook intieme kennis insluit, alle gelowiges se voorreg sal wees deur sy Heilige Gees. Daar word ook verder duidelik gemaak wat dit beteken. Daar sal ’n nuwe kennis van sondevergifnis wees. Waarom? Want iets wonderliks sou gebeur. Die Here sou iets doen dat al hul ongeregtigheid vergewe kon word op so ’n manier dat Hy nooit meer aan hulle sonde sou dink nie (v.34). Later sou dit duidelik word hoe dit kon gebeur. Want die Here Jesus sou die finale offer aan die kruis bring wat so groot en so effektief sou wees, dat alle skuld van God se kinders vergewe kon word.    

Besprekingsvraag: Waarom was ’n nuwe verbond nodig in die Ou Testament?

Insig: ’n Nuwe verbond in Israel het absoluut noodsaaklik geword. Jerusalem en die tempel was verwoes weens die volk se aanhoudende ontrouheid. Eintlik was God genadig om die oordeel en verwoesting so lank uit te stel. Maar hul afkerigheid was ongeneeslik (vgl. Jer. 7:21-29; 11:1-14). Dit word ook duidelik in elkeen se lewe van vleeslikheid en sonde. Israel kon nie maar net terugkeer nie. Hul verbond met God was aan flarde. By Sinai en die goue kalf kon Moses darem nog vir hulle intree. Jeremia word egter deur die volk verwerp en die Here beveel hom ook om nie vir hulle in te tree nie (vgl. Jer. 7:16, 11:14). Was daar nog enige hoop? Deut. 30:6 bied reeds die groot antwoord: Daar is alleen hoop as God self iets hieraan doen. Hier weerklink dit, die belofte van ’n nuwe verbond, die enigste keer uitdruklik so genoem in die Ou Testament. Ons lees in lyn hiermee verder ook van ’n nuwe toe-eiening van Israel en van ’n ewige verbond (vgl. Hos. 2:14-23; Es 16:60; 37:26; Jes. 55:3).

2024/03/12

Kyk na die Gekruisigde

Lees: Joh. 3:14-21

Gedagte vir kinders: God het die wêreld so lief gehad dat Hy Jesus Christus vir ons gegee het.

Oorsig: Ons lees hier van Nikodemus, ’n man uit die Fariseërs, wat soekend was en in die nag na Jesus gekom het. Die Here het hom toe geleer van ’n nuwe geboorte wat nodig is as iemand die koninkryk van God wil sien. Nadat Hy telkens vir Nikodemus daarop gewys het dat dit iets is wat net God kan doen en Nikodemus radeloos was oor hoe so iets kan gebeur, het die Here hom terug verwys na ’n besondere gebeurtenis in die Ou Testament toe die Israeliete met ’n houding 9murmureer) teenoor God gekla het. Die Here het toe slange onder die volk gestuur om hulle oor hul ondankbaarheid te straf (vgl. Num 21:4-9). Toe die volk besef het dat hulle besig was om te sterwe, het hulle tot die Here geroep en God het Moses toe bevel om ’n koperslang op ’n paal op te rig en dat almal wat na hierdie koperslang “kyk”, sal lewe.

En toe leer die Here vir Nikodemus en ons dat net soos die koperslang daar op ’n paal die weg tot genesing en nuwe lewe was, so sal Hy ook verhoog moet word om lewe te gee (v.14). Dit beteken dat Hy aan ’n kruis verhoog moes word bo die aarde en uiteindelik in die hemel.  Sodat elkeen wat in Hom glo nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe sal hê. En toe het Hy dit nog verder verduidelik in die heerlik bekende woorde: “Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê” (v.15-16).

Die Here het toe verder verduidelik dat God sy Seun juis nie in die wêreld gestuur het om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word (v.17). Elkeen wat in Hom glo, word eenvoudig nie veroordeel nie. Aan die ander kant,  die Een wat nie in hierdie wonderlike antwoord van God glo nie, is alreeds veroordeel omdat hy nie geglo het in die Naam van die eniggebore Seun van God nie (v.18). En die oordeel is dit: dat die lig in die wêreld vol duisternis ingekom het, maar dat mense die duisternis liewer gehad het as die lig, omdat hulle werke boos was (v.19). Dit werk eenvoudig so dat elkeen wat kwaad doen, die lig haat en sy bose werke nie bestraf wil hê deur die lig nie (v.20). Aan die ander kant is dit so dat hy wat die waarheid doen, na die lig kom, sodat sy werk openbaar kan word, dat hulle in God gedoen is (v.21). Dit laat ons besef hoe nodig ons Jesus Christus het wat ons kan reinig sodat ons kans sien om in die lig te kan staan (vgl. 1 Joh. 1:7,9).    

Besprekingsvraag: Wat leer ons oor die eenvoud van die evangelie in die woord “kyk”?

Insig: In Joh. 3 hoor ons van twee kante af wat nodig is om vry te kom van die sonde wat ons so diep en terminaal aangetas het. In die eerste gedeelte (v.1-12) verneem ons van die aardse dinge wat vir mense nodig is om nuut te word. Nikodemus was veronderstel om te weet dat iets drasties nodig is. Hy moes ten minste geweet het van Israel se doodstoestand in die ballingskap en Esegiël se wonderlike beloftes oor ’n nuwe gees en water wat uitgegiet word wat heerlik reinig (vgl. Es. 11;19; Es. 36:25-27). Hy moes tog ook geweet het dat dit in lyn was met die profete wat reeds voor en na na Esegiël hierop gewys het en dat dit in verband gestaan het met die nuwe daad van God (vgl. Jes. 44:3; Jer. 31-34; Joel 2:28-29). Die hele Ou Testament loop daarop uit dat alles vasgeloop het en dat iets nuut nodig is. Dit is ook tekenend van ons eie vleeslike lewe. Daarvan getuig reeds die groot beloftes van die profete. In die tweede gedeelte (v.13-21) verneem ons watter hemelse dinge hiervoor nodig is. 

2024/03/01

Ons nuwe tempel

Lees: Joh. 2:13-25

Gedagte vir kinders: Die Here Jesus is ons tempel deur wie ons God aanbid.

Oorsig: Ons lees in Johannes, anders as in die sinoptiese evangeliebeskrywinge, drie keer van ’n Pasga in Jerusalem (vgl. Hfst. 2,6,18-19). Dit is hoe ook hoe ons aflei dat die Here Jesus se bediening ongeveer drie jaar lank was. Hier verneem ons van die eerste keer toe die Here Jesus opgegaan het na Jerusalem vir die Pasga. Die mense wat ver gekom het, kon hulle diere verkoop, met die geld reis na Jerusalem, en daar dan met die geld diere koop wat hulle as offers kon bring (vgl. Dt. 14:24-26. Let op die oorvloedige lewe hieroor). Ongelukkig het sommige besigheidsmense, die geldwisselaars, die situasie ook uitgebuit om geld te maak (toerisme-strik). Boonop lyk dit of hulle die markplek vir die diere saam met die geldwisselaars sommer verskuif het na die tempel self, daar in die buitehof waar die heidene toegelaat is om te kom bid (v.13-14; vgl. Mark. 11:15-17; Jes. 56:7; 2 Kr. 6:32-35).

Die Here Jesus het toe ’n sweep van toutjies gemaak en almal uit die tempel uit gedrywe, ook die skape en die beeste. Die kleingeld van die wisselaars het Hy uitgegooi en hulle tafels omgekeer. Hy het toe spesifiek vir die duiweverkopers gesê om hulle dinge daar weg te neem:  “Moenie die huis van my Vader (let op) ’n handelshuis maak nie.” (v.15-16). Sy dissipels het toe onthou dat daar geskrywe is in Ps. 69:10: “Want die ywer vir u huis het my verteer ...” Die Jode het toe vir Hom gevra-antwoord watter teken Hy kan toon wat Hom die reg gee om hierdie dinge te doen? Die Here Jesus het toe geantwoord: “Breek hierdie tempel af, en in drie dae sal Ek (let op) dit oprig.” Die Jode het toe gesê dat daar al 46 jaar aan die tempel gebou word (sedert 20 v.C. tot 64 n.C.). Hoe sou Hy dit in drie dae regkry om dit op te rig? (v.17-20).

Die Here het egter oor die tempel van sy liggaam gespreek. Toe Hy later opgestaan het uit die dode, het sy dissipels onthou dat Hy dit vir hulle gesê het. Voor sy opstanding was dit egter net vir hulle  uitdrukking/gesegde wat hulle nie verstaan het nie. Daarna het hulle dit beter verstaan en die Skrif geglo (vgl. Ps. 16:10-11) asook die woord wat Jesus gespreek het (v.21-22). En daar, tydens die Pasga in Jerusalem, het baie ook alreeds in sy Naam geglo omdat hulle die tekens gesien het wat Hy daar gedoen het. Maar die Here Jesus het Hom nie aan hulle toevertrou nie, maar Hy het almal geken, selfs sy eie dissipels. En Hy het nie nodig gehad dat iemand vir Hom sou getuig van wat in mense se diepste harte aangaan nie (v.23-25).          

Besprekingsvraag: Watter tempel is afgebreek en watter tempel is uiteindelik opgerig?

Insig: Die belangrikste stad in Israel was Jerusalem, die stad van Koning Dawid, en die belangrikste plek in Jerusalem was die tempel. Politiek en godsdiens is plofbare sake. Wie by oor tempelsake moeilikheid maak, kry vinnig met geweld te doen (vgl. Hand. 19). Hierdie tweede groot tempel deur Herodes begin bou, na die eerste tempel van Salomo was boonop besonder groots, een van die wonders van die antieke wêreld. Daar is reeds 46 jaar daaraan gebou en daar sou nog 37 jare gebou word tot die pragstuk klaar was. En tog was dit net vir ses jaar voltooi gewees voor dit tot die grond verwoes is in 70 n.C. Waarom? Omdat Jerusalem die boodskap van die beloofde Messias verwerp het (Luk.19:43-44). Wat is sy boodskap?

2024/02/23

Deurkruisde oorwinning

Lees: Mark 8:27-38

Gedagte vir kinders: Die Here Jesus is ons Verlosser omdat Hy bereid was om vir ons te sterf.

Oorsig: In sy bediening op aarde het daar ʼn belangrike oomblik in die Here Jesus se bediening aangebreek. Hulle het uitgegaan daar na die dorpe in die Noorde van Israel wat Cesarea-Filippi genoem word. Dit was die gebied waar Filippus, die seun van Herodes, die Keiser wou eer en ook sy naam daarby noem. Dit was ’n heidense gebied waar die Keiser as godheid behandel is en ook waar die Griekse god, Pan, vereer is. En juis daar, te midde van die ander godsdienste vra Hy toe vir sy dissipels wie die mense se dat Hy is (v.1). Hulle het geantwoord dat sommige sê Johannes die Doper en ander Elia, en ander een van die profete. En toe vra Hy hulle persoonlik: Maar julle, wie se julle is Ek? Petrus het toe geantwoord: U is die Christus (Gesalfde; v.28-29).     

Die Here Jesus het hulle toe streng beveel om niemand van Hom te vertel nie. Die rede is dat mense, selfs die dissipels, nog nie begryp het wat dit beteken het dat Hy die Gesalfde is nie. Hy het hulle toe begin leer dat die Seun van die Mens (vgl. Esegiël se “mensekind”; Dan. 7:13) baie moet ly en verwerp word deur die godsdienstige leiers, die ouderlinge en owerpriesters en skrifgeleerdes, en gedood word en na drie dae opstaan (v.30-31). Dit het hulle egter nie verstaan nie, maar Hy het dit reguit vir hulle gesê. Petrus het toe die Here eenkant geneem en oor sy woorde oor lyding begin bestraf. Maar die Here Jesus het Hom omgedraai na sy dissipels en hulle aangekyk en Petrus bestraf en gesê: Gaan weg agter my, satan (teenstander), want jy bedink nie die dinge van God nie, maar van die mense (v.32-33). 

Hy het toe die skare saam met sy dissipels na Hom geroep en vir hulle uitgespel wat dit beteken om Hom te volg. So iemand moet bereid wees om homself te verloën en bereid wees om die kruis op te neem, wat booswigte en slawe gedoen het wanneer hulle op pad was na hul kruisdood, die mees skandelike dood van hul tyd, en Hom so te volg. Die Here het verduidelik dat elkeen wat sy lewe wil red, dit sal verloor, maar dat elkeen wat sy lewe om die evangelie ontwil verloor, dit sal red. Hy het hulle ook gevra wat dit sal help om die hele wêreld te win, maar aan jou siel skade te ly. Want wat sal ’n mens kan gee as losprys vir sy siel? Hy het dit toe ook verder duidelik gemaak dat elkeen wat hulle vir Hom en sy woorde skaam in ’n ontroue (owerspelige) geslag, moet weet: die Seun van die mens sal Hom ook skaam wanneer Hy kom in die heerlikheid van sy Vader met die heilige engele (v.34-38).      

Besprekingsvraag: Op watter maniere kan ons steeds vandag soos Petrus hier wees?

Insig: Christus se vraag hier word uiteindelik vir ons elkeen persoonlik: Maar julle, en jy, wat sê jy van die Jesus wat onder ons kom woon het? Die plek waar Jesus dit vra, tussen die skynbaar magtigegodsdienste, toon aan dat die vraag juis gevra kan/moet word te midde van magtige heersende opinies. Ook vandag hoor ons steeds heelwat antwoorde van die tydsgees, waarvan sommige baie vroom voorkom: Hy is besonders, soos een van die profete, selfs soos Elia wat hemel in die opgeneem is (vgl. Mal. 3:1; 4:5). As ons egter in ag neem wat Christus van Homself geopenbaar en gesê het, bevredig “groot profeet” nie. Hy was of ’n duiwelse verleier en/of sielsiek met ’n god-kompleks, of Hy was wel groter as enige profeet. 

Petrus bely dat Hy die Christus is. Daarmee erken hy het dat Jesus die Gesalfde uit die geslag van Dawid is (vgl. Ps. 2:20; 89:38). In Markus is hierdie belydenis ’n draaipunt waarnatoe daar opgebou is. Maar van hier af word dit ook duidelik uitgespel wat dit beteken - dat dit op lyding en die kruis uitloop. Steeds word ons idees van sukses en oorwinning en prestasie saam met Petrus uitgedaag. 

2024/02/16

Toetsing en voorsiening

Lees: Gen. 22:1-18

Gedagte vir kinders: Die Vader het die kruisoffer van die Here Jesus in ons plek voorsien.

Oorsig: Nadat Isak gebore is deur God se belofte toe Abraham reeds 100 jaar oud en Sara 90 jaar oud was, toe Isak al groot was en ten minste hout kon dra, het daar ’n besondere ding gebeur. God het Abraham op die proef gestel en Abraham by die naam geroep: Abraham! Abraham het gehoorsaam geantwoord en toe het God vir hom gesê om Isak, sy enigste (eniggebore/geliefde) te neem wat hy liefhet en om te gaan na die land Moria. Daar moes hy Isak offer as brandoffer op een van die berge wat God sou aanwys (v.1-2).

Abraham het toe gehoorsaam en sommer die more vroeg klaargemaak (vgl. Gen. 21:14) en sy esel opgesaal  en twee dienaars saam met hom en Isak geneem, saam met hout vir die brandoffer (v.3). Op die derde dag het Abraham die plek van ver af gesien en vir die dienaars gesê om by die esel te bly. Hy en Isak sou verder sal gaan om te aanbid en dan terugkom (v.4-5). Hy het toe die hout op Isak gesit en hyself het die vuur en die mes geneem. Isak het vir Abraham gevra waarom daar vuur en hout is, maar nie ’n lam vir die brandoffer nie. Abraham het toe geantwoord (telkens: “my seun”) dat God vir Homself die lam vir ’n brandoffer sal voorsien. So het hulle saamgeloop (v.6-8). Toe hulle by die plek kom wat God aangewys het, het Abraham (1) die altaar gebou en toe (2) die hout reg gelê. Daarna het hy (3) sy seun Isak gebind en hom op die altaar bo-op die hout gesit. En toe neem Abraham die mes (v.9-10).

Toe roep die Engel van die van die hemel af: “Abraham, Abraham!” En Abraham se antwoord: Hier is ek! Hy het toe gesê dat hy nie sy hand na die seun moes uitsteek nie en bygevoeg: “... want nou weet Ek dat jy God vrees, en jou seun, jou enigste, van My nie teruggehou het nie.” (v.11-12). Toe sien Abraham skielik ’n ram wat agter in die bos met sy horings vasgeraak het. Abraham het toe die ram geneem en as brandoffer in die plek van Isak geoffer en die plek genoem: Die HERE sal voorsien! So word daar vandag nog gesê: Op die berg van die Here sal dit voorsien word (v.13-14). Die Engel van die HERE het toe weer na Abraham geroep: “Ek sweer by myself, spreek die HERE, omdat jy dit gedoen het en jou seun, jou enigste, nie teruggehou het nie, dat ek jou (1) ryklik sal seën en (2) jou nageslag grootliks sal vermeerder.” Hy het gesê dat hulle soveel sal wees soos die sterre en soos die sand. Sy nageslag sou verder (3) die poort van die vyande in besit neem, en (4) dat in Abraham se nageslag al die nasies van die aarde geseën sou word. Dit alles omdat Abraham na sy stem geluister het (v.15-18).

Besprekingsvraag: Hoe wys Abraham en Isak heen na die Nuwe Testament?

Insig: Die wandel met God deur die geloof is vol opwinding, maar sluit ook hoë eise in. Ons beleef so ’n lewe soms as skynbaar teenstrydig (paradoksaal). Na soveel jare word die belofte oor Isak se geboorte uiteindelik waar, en nou moet Abraham sy enigste seun wat uit God se belofte gebore is, gaan offer? Ons hoor egter van die begin af dat Abraham beproef word. So kom ook ons by definitiewe toetsings/beproewings in ons lewe. In ’n wêreld waar alles verdra word (tolerance) en definitiewe offers dan gebring word, maak dit nie sin nie, maar by God wel. Dink ook aan Job. Waarom toets/beproef God ons? 

2024/02/01

Kragtige Bediening

Lees: Mark. 1:29-39

Gedagte vir kinders: Die Kerk verkondig die Naam van die Here Jesus is en die Bose moet vlug.

Oorsig: In die vorige deel het ons gehoor van die eerste kragtige teken wat die Here Jesus gedoen het om te wys dat die koninkryk van God deur Hom naby die mense gekom het. Dit het juis op die Sabbat gebeur en in die sinagoge. Dadelik toe hulle uit die sinagoge in Kapernaum gegaan het, het hulle saam met Johannes en sy broer Jakobus, in die huis van Simon en sy broer, Andreas gekom. (v.29). Die skoonma van Petrus (hy was dus getroud; vgl. 1 Kor. 9:5) het siek gelê aan koors (Lukas, die dokter noem dit ’n hewige koors; vgl. Luk. 4:38) en dadelik het hulle die Here Jesus daarvan gesê (v.30).

Die Here het toe na haar gegaan, haar hand geneem en haar opgerig (letterlik: opgewek) en ons lees dat die koors haar dadelik verlaat het. Wat het sy toe gedoen? Sy het die mense bedien (diakoneo). Toe dit aand geword het en die son onder was (m.a.w. net na die Sabbat), het hulle na die Here Jesus almal gebring wat (1) ongesteld was en (2) van duiwels besete was (v.32). Daar was so ’n toeloop dat die hele stad eintlik by die deur saamgekom het (v.33). Baie wat aan allerhande soorte siektes gely het, het Hy gesond gemaak en baie duiwels is uitgedryf. Hy het die duiwels egter nie toegelaat om te praat nie, omdat hulle Hom geken het (v.34).

Die volgende oggend, vroeg in die more, toe dit nog diep in die nag was, het Hy opgestaan en uitgegaan en na ’n eensame plek vertrek en daar gebid (v.35). Simon (Petrus) en die wat by Hom was het Hom gevolg (gesoek), en toe hulle Hom vind vir Hom gesê: “Almal soek U.” Die Here Jesus het egter vir hulle gesê: “Laat ons na die naburige dorpe gaan, sodat Ek ook daar kan preek.” Die Here Jesus het dus nie daarin belang gestel om mense se verskillende behoeftes en nuuskierigheid te bevredig nie. Hy het sy rede ook daarna gegee oor waarom hulle na die ander naby dorpe moes gaan: “... want daarvoor het Ek uitgegaan.” (v.36-38). En so het die Here deur die hele Galilea, daar in die Noorde van Israel, rondgegaan en spesifiek in die sinagoges  twee dinge gedoen as teken van die koninkryk wat gekom het: Hy het (1) gepreek en (2) duiwels uitgedryf (v.39). Die Here Jesus het dus nie bloot sy eie ding probeer doen nie, maar aangesluit by die aanbidding van sy tyd waar die God van Israel vereer en sy Woord gehoor en geleer is. En prediking het voor duiweluitdrywing en genesing gekom.   

Besprekingsvraag: Hoe sit die Kerk van Christus vandag nog steeds sy bediening voort?

Insig: Die bediening van die Here Jesus het dit sigbaar kom toon dat die wêreld baie gebroke is, maar ook dat sy redding en genesing groter is.  Hy is die groot Geneesheer wat gekom het om liggaam en siel te verlos van die magte van die duisternis en van die Bose. Ons kan dit net begin waardeer as ons besef dat iets drasties fout is in hierdie wêreld. Die Bybel maak dit duidelik dat die wêreld besmet is deur die sondeval. Duiwels wat beheer oor mense kry, allerhande siektes en kwale en gebrokenheid is bewyse van die gevalle werklikheid waarin ons leef. Maar deur sy aardse bediening toon Jesus Christus dat Hy omvattend red en heelmaak en dat dit eendag volmaak sal wees. Die Sabbat was teken van die rus en vrede en herstel wat eenmaal volkome sal wees. Daarom was dit so gepas dat bevryding op hierdie dag gestalte sou kry. Die Kerk getuig steeds daarvan, insonderheid op die oorwinningsdag.  

Ons sien ook duidelik waartoe die Kerk van Jesus bevry word. Daarvan is die skoonmoeder van Petrus so ’n wonderlik eenvoudige teken. Die oomblik toe sy genees word, begin sy om diensbaar te wees. Let op: Ons word gered en heelgemaak om diensbaar aan ander te wees. Dit het in die kern gestaan van Christus se koms na die aarde (vgl. Mk. 9:33-37; 10:42-45). Die Kerk het deur die eeue ook bekend gestaan as die instelling wat dien en wat lyding versag.