2011/06/29

God se werk en ons werk (1)

In die vorige pos is gewys op die wet/evangelie dinamiek in terme van indikatief en imperatief. Net weer 'n verfrisser vir die wat dalk die eerste keer met die i-woorde met tief-eindes te doene kry: Indikatief (vgl. die Engelse woord indicate) dui die stand van gebeure aan - in die evangelie spesifiek op dit wat God sonder ons gedoen het. Imperatief (vgl. die Engelse woord imperative) dui op 'n bevel. Dit gaan oor die verband tussen die aanduiding van gebeure wat buite ons en los van ons ons plaasgevind het enersyds, en die oproepe wat anderyds tot ons kom waarin onsself iets moet doen. Kortom: God se werk en ons werk. Soos op enige ander gebied is daar woorde wat mettertyd ingeburger raak as die jargon woorde en kortpad woorde om sake te beskrywe. Skuus as indikatief en imperatief  die indruk gee van snobisties neerbuigende woorde. Enige voorstelle vir ander woorde wat meer ligvoets en verstaanbaar vir Jan Alleman mag wees is altyd welkom, maar dan moet dit meer wees as jou eie euforiese stimulante. Dit moet ingeburger kan raak by almal. Verdra asseblief die woorde ter wille van die groter saak waarom dit hier gaan. Dit gaan hier om die wet/evangelie dinamiek wat seker op sy duidelikste na vore tree in Fil. 2:12-13:

... werk julle eie heil uit met vrees en bewing; want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae.

Deur die geskiedenis het die verband tussen God se werk en ons werk Christene nog altyd geboei. Dit is een van die mees basiese sake waarmee ons telkens gekonfronteer word. Die twee afgronde van  wettisisme en wetteloosheid (nomisme en antinominanisme) wink voordurend op hierdie weg as ons die stuurwiel hieroor nie goed vashou nie.

Twee gewaardeerde jonger ortodokse teoloë en vriende, Tullian Tchividjian en Kevin DeYoung, het hierdie debat onlangs met nuwe gloed op die tafel geplaas Kyk gerus hier en hier en hier om die klanke van begaafde jonger teologiese turke op te vang. Hulle debat is 'n bewys daarvan dat elke geslag hierdie sake opnuut vir hulself moet toe-eien. Wat mooi is, om te sien hoe hulle aanleun op hul klassieke tradisie. Ek kan my nie indink dat enige predikant wat besorg is oor sy gemeente en (sy eie) padhouvermoë nie hiervan 'n studie wil maak nie. Wat ek hier gaan doen is om die bespreking hiervan in 'n paar posstukke op te deel. Ter wille van hulle wat godsdiens swaar in Engels verteer sal ek in 'n eerste posstuk die basiese argument van die twee deur middel van treffende kernaanhalings uitlig ten einde 'n jeuk te veroorsaak by die wat nog nie behoefte voel om te krap nie. Daarna sal die treffende beelde en aanhalings aan die woord kom wat die twee here gebruik en wat ons gerus maar in ons herkou-lêers kan plaas. Daarna sal 'n waarderende evaluering gedoen word met 'n paar eie stuiwers terwyl daar so heerlik by hul evangeliese debatsfees aangesit word. Jy word saamgenooi. Hier is werklik evangelie-voeding. En bring jou smaakkliere saam, want dit word nie met 'n drup toegedien nie.

2011/06/24

Wettisisme kan maklik dominee(r)

Johan Cilliers het in Suid-Afrika dit alreeds meer as ’n dekade gelede aanhangig gemaak – Die uitwissing van God op die kansel. Hy het die uitdrukking by die onvergeetlike Luther gekry wat op kenmerkende dissonante diskoers geprotesteer het teen die uitwissing van God - die annihilatio Dei in ons optrede. Cilliers het dit van toepassing gemaak op kanseloptrede in die land en die dipstokkie ingesteek by die plek wat veronderstel is om die minste tekens hiervan te dra – radiopreke. Dit wil sê daar waar die kispreke gelewer word. Net jou beste vir die radio, jou persoonlike “onderskeidingspreek,” sou ’n mens vermoed. Cilliers en sy span se bevinding: Wettisisme dominee(r) in Suid-Afrikaanse prediking, tot sover as 90% in die preke wat geanaliseer is.

’n Mens sou seker kon debatteer oor die norme wat aangelê is, maar Johan Cilliers se pleitrede was redelik eenvoudig: Moenie deur jou prediking probeer om God uit te wis nie, maar eerder om Hom uit te wys (Die titel van die opvolg in sy bekende trilogie). Jy wis uit wanneer jou oproepe suggereer dat mense die potensiaal het om die knoop deur te haak. Daarmee ken jy van meet af aan hoogstens ’n assistent-rol aan God toe. Dit is nie ’n onskuldige oefening nie. Die evangelie word so uitgewis, het Cilliers geprotesteer. En as jy konsekwent deurdink moet jy erken dat jy God probeer uitwis.

Hierdie skoktaktiek bly maar nodig vir ons wat alte maklik aan God die assistent-rol wil uitdeel. Dit is nie die boodskap van die Bybel nie. Die goeie nuus is juis dat God se hande nie afgekap is deur ons onvermoë of , onwilligheid nie. Hy is die Hoofrol-Held. Hy het die Gordiaanse knoop deurgehaak, die onmoontlike Sisifus klip tot bo gerol, die koninkryk van God deur Christus nie ’n moontlikheid nie, maar ’n werklikheid gemaak.

En daarom sê dr. Cilliers: Moenie naakte oproepe en bevele aan mense gee nie. Sorg dat jou oproepe en vermanings altyd rus in die groot dade van God. In terme van verhewe taal: Sorg dat jou imperatiewe nooit naak is nie. Laat hulle geklee wees, ja rus in die indikatiewe van die Skrif. En toe lees ek vanmore dieselfde gedagte deur John Stott hier raak. Hierdie saak vra inderdaad internasionaal ons aandag:

"Too many sermons are written 'in the imperative mode', whereas the religion of the Bible  'is written largely in the revealing language of the indicative mode' . . . The power of the religion of the Bible is to be found in its affirmations"

Dr. Cilliers was in sy hoofprotes geregverdig. Ons Afrikaanse bloed het inderdaad nie hierdie probleem vrygespring nie. Ons weerspieël dit selfs in ons taal: “Moenie vir my preek nie” bedoel gewoonlik “moenie naakte vermanings uitdeel nie.” Maar egte preke doen dit juis nie. Egte preke wys jou op die groot en ware verhaal, die eukatastrofe wat jou verhaal kan omdop. Daarom kan egte preke magtige dinge verrig. God gebruik dit om mense vry te preek.

Met erkenning aan dr. Johan: Daar is tog ’n wêreldse verskil tussen

·         “Heilig julle sodat die Here groot dade kan doen” en
·         “Heilig julle, want die Here gaan groot dinge doen;

tussen

·         “Ek wil jou reinig as jy aan die volgende voorwaardes voldoen” en
·         “Ek wil, word gereinig.”

Tien raaie watter frases kom uit die Bybel (vgl. Jos. 3:5; Mat. 8;3).

Daarom die belangrike vraag aan ons elkeen: Lees jy die Bybel op ’n indikatiewe of ’n imperatiewe manier? Toegegee, beide moet funksioneer. Maar die vraag is watter een doen die drawerk. Lees weer die aanhaling uit Stott. Eersgenoemde sien God in die hoofrol en is bly. Laasgenoemde sien hulself in die hoofrol en kan net bly wees as hulle daarvan hou om in ’n waan te lewe.

2011/06/23

Vreemdeling en sinspeling

Die woord vreemdeling bied baie sinspeling. Om mee te begin: Vreemdeling kan beteken dat jy 'n vreemdeling en bywoner op aarde is omdat jou eintlike burgerskap elders is (Ps. 119:19; Hebr. 11:13; 1 Pet. 2:11). Dit kan ook beteken dat jy 'n vreemdeling vir God is (Ef. 2:12,19). En natuurlik, dit kan ook beteken dat jy nou by 'n plek is waar vreemdelinge vriende word.

2011/06/22

Potpadda-realisme

Dan Roodt maak hier die insiggewende stelling met 'n paar bewyse dat geweld van linkse politiek en nie van regses afkomstig is nie. Hy stel selfs dat Hitler eintlik links was. Stof tot nadenke soos hulle sê. Daar heers 'n persepsie by baie dat regtervleuel fundamentaliste die uitbroeiers van geweld is. Ek dink nie dit is totaal verkeerd nie. Die onderliggende aanvuurder van geweld is revolusie en dit kan linkse en regse manifestasies aanneem. Die waarde van Dr. Dan se skoot lê daarin dat hy geykte linkse ylings oor waar geweld nou eintlik broei daag. En terselfdertyd dien hy 'n nodige inspuiting van realisme toe oor die revolusionêr-sluimerende virus wat lank reeds in simbiose met sy ANC-gasheer leef. Ons het meer van hierdie potpadda-realisme nodig.

2011/06/21

Verdedig die swakkes en klim af van die egalitariese wa

Jennifer Roback Morse is 'n ekonoom wat hier praat oor die afgod van egalitarisme. Of moet 'n mens eerder sê die egalitariese gees? Nietemin, die wese van haar tese is dat dit Bybels gesproke beter is om die swakkes te verdedig as om meegevoer te word deur die gelykskakeling-sindroom. "Equality" is een van daardie sake in ons samelewing wat lankal afgodstatus besit. Dit is baie naby aan die troonposisie onder die afgode. Lees gerus Morse se uiteensetting van 'n paar jaar gelede. Sy is nugter. Kan seker nie anders nie. Sy is dan 'n vrou en 'n ekonoom. En ja, ek is nugter wanneer ek dit sê. Hoop iemand geniet die hamer, ek bedoel humor.

2011/06/08

Wanneer ons ore oopgaan ...

Hierdie skets is baie bekend, die verhaal dalk minder. Dit is die bekende skildery wat later gebruik is as logo vir die bekende maatskappy, His Master’s Voice. Dit is gemaak deur Francis Barraud wat sy hondjie Nipper geteken het wat na ’n opwenbare grammofoon luister. In die oorspronklike skets het die hondjie geluister na ’n fonograaf silinder. Hy het op ’n kis gesit wat gesuggereer het dat sy baas binne- in was. Barraud het Nipper aangeneem toe sy broer te sterwe gekom het. Hy is aangegryp toe hy eendag gesien het hoe aandagtig Nipper na die fonograaf geluister het toe hy die stem van sy oorlede baas herken het. Barraud het die skets gemaak het en later die kopiereg aan Gramophone Company verkoop. Dit het uitgegroei tot een van die suksesvolste logo’s ooit en die handelsmerk word vandag deur verskillende maatskappye wêreldwyd gedeel.

His Master’s Voice se prentjie praat met jou hart en die beeld is lank voor die skildery reeds deur teoloë gebruik om ons verhouding met die Here te beskrywe. Calvyn het reeds gesê: ’n Hond blaf as sy baas aangeval word. Ek sal ’n lafaard wees as ek sien dat God se waarheid aangeval word en dan stilbly (Inst. 4.16.21). Kohlbrugge het die beeld van ’n baas en sy hond ook op ’n ander treffende manier gebruik. In sy verduideliking van die Heidelbergse Kategismus gee hy onder meer die volgende vrae en antwoorde:

Vraag: Wat is die dankbaarste skepsel wat God gemaak het?
Antwoord: Die hond.
Vraag: Waarin sal dan u dankbaarheid bestaan?
Antwoord: Daarin, dat ek by die genade bly, soos wat die hond by sy meester bly en my altyd weer opnuut tot hierdie genade begeef...die hond kruip juis dan die meeste na sy meester toe, wanneer hy slae van hom kry.

Karl Barth het in hierdie verband by geleentheid gesê dat die hond by Calvyn nie slegs deemoedig na sy baas toe kruip nie, maar dat hy ook wanneer sy baas hom roep en kommandeer, kan en moet opspring, blaf en byt.

Die skildery van Barraud herinner ons dat ware interpretasie begin, wanneer jóú Meester werklik gehoor word. Juis daarom kan Protestante die Reformasie vier as die tyd toe die Woord van God weer helder en duidelik gehóór is. Die lewende stem van die evangelie (viva vox evangelii) weerklink steeds, ook in ons land. Wie se ore geopen is om die Skrif waarlik te hoor, word vry, ook om hul eie leefwêreld en ander mense werklik te hoor. Effektiewe mense in God se koninkryk, hoor God nie net in sy Woord nie, maar leer ook om hierdie wêreld reg te hóór en te interpreteer sodat die regte salf vir die wonde gebring kan word. Ook om effektief te blaf en te byt as dit nodig is.
Om waarlik te hoor is baie meer ingewikkeld as wat dit dalk met die eerste oogopslag mag lyk. Die gaan oor wat die sogenaamde slim mense ons hermeneutiese probleem noem. Dit beteken in eenvoudige taal, ons probleem om te verstaan en te interpreteer. Oor die hele spektrum van menswees heen, word ons hiermee gekonfronteer. Hierdie probleem is dié gonswoord in sovele kringe. Ons het probleme om God se Woord reg te interpreteer. As wetenskaplikes het ons probleme om ons gegewens en statisitiek reg te interpreteer (omdat ons selektief is met die kritieria wat ons gebruik). Man en vrou sukkel om mekaar in die huwelik reg te interpreteer. Ouers en kinders sukkel om mekaar te verstaan. Die gemeente sukkel dikwels om die dominee te verstaan, en so kan ons aangaan.

Daar is ’n sug by ons almal dat ander ons sal verstáán vir wat ons werklik wil sê. Toegegee, Daar is dikwels verskillende interpretasies moontlik – vra maar die rugbyskeidsregters van die noordelike en suidelike halfrond! Die punt is net dat daar, soos by rubyskeidsregters, net soveel interpretasies is wat wel verdedigbaar is. Dit is juis waarom ons telkens met mekaar in gesprek moet tree. Ons het mekaar nodig om nie in ons eie wêreldjies te versmoor nie. Ons het mekaar nodig om die volheid van ’n saak te interpreteer. Die woorde, “jy hoor nie wat ek sê nie”, daag ons uit om nie op die bootjie na die kammaland van my eie wereldjie en sy interpretasies te klim nie. Daar is God en my naaste wat gehoor wil word, en so gehoor wil word dat ek reg laat geskied aan wat hulle sê.

En tog, juis dit is ons getuienis en heerlike belewenis in God se wêreld - dat ons mekaar tóg, al is dit met gestoei en genadiglik ook humor, wel kan hóór en daarom sinvoller werk en leef. Laat ons dan moeite maak met deugde soos eerlikheid, opregtheid, deursigtigheid, en werklik strewe om God en ons naaste beter te hóór. Nipper van His Master’s Voice-faam herinner ons dat dit begin by die luister na die Meester se stem. En, as ons so na sy effens skewe kop kyk, dat ernstig luister reflekteer in jou liggaamstaal.  

Hierdie pos is 'n verwerking van 'n artikel wat in Die Boodskapper van Oktober 2009 verskyn het.

2011/06/07

Sakrament van monisme

Peter Jones is een van die voorste reformatoriese denkers wanneer dit kom by die uitkenning van die nuwe heidendom. Hy reageer hier op die nuwe boek van Jenell Williams Paris, The End of Sexual Identity: Why Sex Is Too Important to Define Who We Are (Downers Grove, IL: InterVarsity, 2011). Paris se sentiment is verteenwoordigend van 'n stem vir homoseksueles wat al sterker in baie kerke word. Die waarde van Jones se respons lê daarin dat hy die wêreldbeskoulike verbande van hierdie sentiment aantoon. Hy wys daarop dat woorde soos sosiale konstrukte, gelykheid, coincidentia oppositorum en toekomstige sjamans in dieselfde dampkringe gevind word waar homoseksualiteit onvoorwaardelik omhels word. Nie almal wat simpatiek is met Paris se sentiment asem noodwendig al die dampe in nie. En tog. Hulle asem wel die lug in wat hierdie wêreldbeskouing bevorder. Jones doen belangrike werk om die lug te suiwer. Jones is nie 'n "gaybasher" nie. Daarvan getuig die volgende woorde:

Jenell Paris obviously wishes to respect and maintain communion with the believer grappling with homosexuality, and this is a good and proper Christian motivation.   

Maar dit weerhou hom nie om te waarsku teen die beliggaamde dwaling en sakrament van monisme wat hy waarneem nie. Douglas Wilson reageer hier op die artikel en voeg die volgende waardevolle opmerking by:

The sooner we understand that every worldview has a sexual expression, and that every sexual act is a disrobed and embodied worldview, the closer we are to a return to sexual sanity.

Jones en Wilson kan so praat omdat hulle die belydenis van die Skrif alleen (sola scriptura) uitleef. Uiteindelik blyk dit dat die hele debat teruggevoer kan word hiernatoe. In die woorde van Os Guiness, handhaaf ons kerke sola scriptura, of sola cultura?