Wonderkure het gewoonlik 'n voorspelbare reaksie tot gevolg: Aanhangers wil die hele wêreld daarmee regdokter. Die gevolg is dat dooddokter nie 'n denkbeeldige gevaar is nie. Een so 'n kuur vir suur verhoudinge is nie 'n middel nie, maar 'n teorie. Hierdie een is afkomstig van Rene Girard en jy kan maar die naam dophou. Die emergent church beweging het sy teorie met hoek, sinker en al ingesluk. Ongelukkig gaan die verkeerde kant van sy teorie so dalk die meeste blootstelling kry en dit sal jammer wees. Die man het beslis iets beet. Dit is nie 'n wonderkuur wat alles verklaar nie, maar dit bied antwoorde op 'n hele paar verkynsels van ons menslike natuur. Laat my toe om so vinnig die een en ander oor sy teorie te deel. Of nee, laat ons eers 'n paar scenario's hardloop om nuuskierigheid oor Girard se teorie te wek.
- Waarom ontstaan daar soms die eienaardigste vetes in gesinne en kerke?
- Waarom is massa-histerie aansteeklik, selfs al probeer jy daarteen veg?
- Waarom gebeur dit soms dat 'n hele kolfspan in krieket in duie stort?
- Waarom fikseer mense in liefdesake so maklik op die skynbaar onbereikbare ster?
- Waarom is "keeping up with the Joneses" 'n fenomeen onder elke klas?
- Waarom sal kinders in 'n kamer vol speelgoed oor een speelding baklei?
Die eenvoudige antwoord is natuurlik sonde of gebrokenheid, maar soms moet ons meer spesifiek wees. Girard meen dit gaan fundamenteel oor nabootsing van begeertes. Ek dink dat Girard se teorie so raak in baie gevalle is omdat sy teorie die eerste en laaste gebod verreken. Die beteken dat die kwessie oor afgode en begeerte in sy teorie verreken word, tesame met die feit dat die Skrif ons leer dat ons beelddraers is. Ons reflekteer altyd. Ons is nie, soos wat ons graag sou wou dink, 'n onafhanklike sonnige self nie. Nee, ons is eerder maanmense wat lig reflekteer. En as ons nie beeld van die Son van geregtigheid reflekteer nie, reflekteer ons 'n ander beeld en begeerte. Girard stel dat ons nie individue is nie, maar eerder interdividuals. Ons is minder oorspronklik en meer aangewese op mekaar as wat ons dink. Dit in kort, dink ek, is waaroor Girard se teorie gaan as ons die positiewe sy daarvan wil gebruik.
Wat die Girard omie (hy leef nog en is tans op pad negentig toe) sê, klink eintlik so eenvoudig. Dit begin alles met die feit dat ons nabootsers is van die eerste water - gewillig en onwillig. Soos kindertjies wat almal baklei vir dieselfde speelding, so bly ons in ons begeertes besig met mekaar as rolmodelle vir ons ons begeertes. Jy dink jy wil graag daardie hierdie en daardie ding hê, maar as jy eerlik is, sê Girard, is jou optrede en begeerte dikwels aangevuur deur iemand anders.