Dit is blykbaar genoeglik om iemand te brandmerk met daardie gewraakte woord: "Fundamentalis!" Ek het nog altyd gewonder of die woord nie een van daardie onontsnapbare werklikhede verteenwoordig nie. Met ander woorde, dit is nie óf nie, maar waaroor jy fundamenteel is. Vra die kinderlike waarom-vraag maar net ver genoeg terug aan die slimste breinsellige bleeksiel in jou geweste, en jy sal gou-gou hoor: Fundamentele daarom-klanke begin iewers by die derde regressie oor die walle stroom, sterker as 'n stoere Evangelikaal wat sweer by sy King James versie.
Ek dink die grootste sonde van fundamentaliste is van 'n ander aard as dit waaroor hulle geroskam word. Mark Driscoll het dit goed verwoord toe hy in Engels daarmee gesinspeel het. Hy het gesê dat fundamentaliste al die "fun" uit fundamentalistiese oortuigings haal.
Maar dit nou eers daar gelaat. Die magistraal geleerde David Bentley Hart vir wie ons baie waardering op belangrike fronte kan hê, het ongelukkig onlangs ook oor hierdie saak op die ou paaie gegly. Hart reken dat fundamentaliste bloot 'n konserwatiewe voorbeeld is van die krag van rasionalistiese mondernisme. Dit is vir my aangenaam om bekend te maak dat een van die Renaissance-manne oor wie Hart ook onlangs gloeiend kon raak vanweë sy teologiese waardering van die film, Tree of Life, protes aangeteen het. Peter Leithart bevraagteken Hart se siening frontaal.