Hier is ’n opsomming van die Vertel, vertel reeks se
model en benadering om aan kinders kategese te gee. Wat in hierdie model uitstaan
is (1) die beklemtoning van die een groot ware verhaal van die hele Bybel, (2) kinders wat geleentheid kry om die verhaal terug te vertel, sowel as (3) beeldmateriaal wat aan die agterspeen suig. Ja, jy het reg gehoor. Ek het nie altyd vrede met hoe die verhaal dan in sy detail oorvertel word nie. Sekere invoegings - soms - kom vir my net te flagrant voor. Tog is die model stimulerend. Ek gee die hoofgedagtes van die model weer soos wat dit in die inleiding verduidelik word:
· Die groot verhaal word in verskillende kleiner
verhale vertel.
· Noukeurig en beeldryk.
· Vertrou die Bybelverhaal self om in die kinders
te werk.
· Die Oral Learning model wen baie veld. Dit is steeds die manier hoe meer as ⅔ van die
wêreld se mense leer.
· Die moderne wêreld het ’n versadigingspunt
bereik met visuele beelde. Die vertel en oorvertel van die verhaal word weer
een van die belangrikste wyses van leer.
· Binne die groot verhaal van God speel ons eie
lewensverhale af
· Geloofsvorming by ons kinders vind plaas wanneer
hul eie verhaal beleef word as deel van die groot verhaal van God se liefde vir
ons.
· Deur net die groot verhaal van God oor te vertel, toon ons dat ons alle vertroue in die verhaal het om sy kragtige werk aan
kinders te doen.
· Die kleiner verhale behoort kronologies op
mekaar te volg en ook voortdurend ingebed te word in die groter verhaal. Die
bedoeling is om lewenslesse nie los te maak van die groter verhaal nie.
· Geen prente of aktiwiteite wat die aandag van
die verhaal self aftrek nie.
· Geen verwysings na die konteks vandag of
toepassings vir vandag in die verhaal self nie. Die verhaal self word vertrou
om die toepassings vir elkeen te bring.