2022/05/31

Wanneer God ons planne ondersoek

Lees: Gen. 11:1-9

Gedagte vir kinders: Al die nasies kan deur Jesus Christus saam gehoorsaam aan God wees. 

Oorsig: Genesis 11 vertel die laaste gebeure van die sogenaamde oergeskiedenis. Dit gebeur ná die sondvloed van Noag. Die afstammelinge van Noag se seuns word oorvertel en dan word hierdie geskiedenis van Babel spesifiek geplaas tussen die weergee van twee geslagslyne van die nageslag van Sem. Voor Babel hoor ons van die geslag van Sem oor Joktan (10:25-26) en ná Babel hoor ons van die geslag van Sem oor Peleg (11:17-19).  

Ons hoor dat die hele aarde nog dieselfde taal en woorde gehad het (v.1). Soos Adam en Eva en later Kain, trek hulle ook weg na die ooste en vind ’n besondere gebied in die land Sinear (v.2), daar waar Nimrod sy ryk van Babel gehad het (Gen. 10:9-10) en wat later bekend gestaan het as Mesopotamië. Hulle het daar goeie middele vir bakstene en ’n tipe sement (lymgrond vir klei) gevind (v.3). Hulle het verder met mekaar gepraat en mekaar aangemoedig om ’n stad met ’n toring te bou wat tot ver in die hemel sou opgaan. Hulle het gedink om so vir hulleself ’n naam te maak. Die doel hiervan was om in teenstelling met God se bevel (vgl. Gen. 1:28), nie oor die hele aarde verstrooid te raak nie (v.4).  

Hulle het wel gedink dat hul toring tot aan die hemel sou reik, maar ons lees dat die HERE steeds moes neerdaal om die stad en die toring te beskou waaraan die mensekinders gebou het (v.5). Die HERE het gesê dat hulle nou een volk en een taal is, en dat dit net die begin van hulle hulle slegte planne was. As hulle so sou aangaan, sou niks van hulle slegte planne meer onmoontlik wees nie (v.6). Hy het toe in teenstelling met hulle, ook gesê: “Kom, laat ons...”. Daardeur verstaan ons dat Hy met die ander Persone van die heilige Drie-eenheid en moontlik met sy engele gepraat het om hulle planne te laat misluk. God het toe hulle taal daar verwar sodat hulle mekaar nie kon verstaan nie (v.7). Die gevolg was dat hulle uit mekaar begin gaan het en dat die mense oor die hele aarde versprei geraak het. Dit het ook beteken dat hulle opgehou het om die stad te bou (v.8). Die mense het die plek toe Babel genoem, wat “verwar” in Hebreeus beteken, omdat die HERE daar die taal van die hele aarde verwar het. Later het sommige gesê dit beteken volgens Akkadies eerder “Poort van God”. Dit is wat die mense daarvan gedink het. Ons moet eerder na die Bybel luister en die verwarring in die naam Babel hoor. Want waar God nie is nie, ontstaan verwarring altyd een of ander tyd.    

Besprekingsvraag: Is eenheid altyd ’n goeie ding?

Insig: Babel is tot in Openbaring ’n simbool van afvalligheid en magsoeke en naamsoeke los van God. Sommige sien ooreenkoms hier tussen die toring en die geweldige bergtempels van die ou tyd asook die Babiloniese Ziggoerat wat ’n tempeltoring was. Dit is ’n embleem van ’n Empaaier van hoogmoed, selftevredenheid en selfgenoegsaamheid. Hoe ook al, dit is steeds ’n simbool van elke groot menslike projek sowel as ons eie persoonlike ambisieuse projekte wat nie met God rekening hou nie.

2022/05/30

’n Wortelsaak in ons tradisie

Meneer die Seremoniemeester,

Een van die wonderlike dinge van ’n aand soos vanaand is dat ons werklik rede het om fees te vier oor wat deur die genade rééds bereik is. Natuurlik het ons alles behalwe gearriveer, maar hoe wonderlik dat ons kan terugkyk en sien hoe grondgebied en instellings, denkapparaat en praktyke, al ’n bepaalde momentum en diepte begin kry het.

Daar is ’n opgewondenheid onder ’n volgende geslag, een van die beste tekens dat jou visie geslaagd is. Ons kan, danksy ons leiers, in die hoogste kringe saampraat met ons eie woorde en konsepte: ’n alternatiewe moderniteit, gemeenskapsfederalisme, ’n ander idee-raamwerk, ’n ander logika, veelvuldige identiteite, ensovoorts. Genoeg is alreeds reeds gedoen om tong in die kies, en buite die kies, te sê dat ons duidelik weet wat ons bedoel as ons stel dat ons met iets op weg is wat ook die teenoorgestelde van die ATKV kan wees. Ons sou ook wou praat van die VKTA - die verbeeldingryke klassieke tradisie onder Afrikaners, of miskien sagter op die oor: die visie van die klassieke tradisie onder Afrikaners.

Ons bou hieraan op ons eie manier, maar tegelykertyd saam met soveel vriende in ander lande wat hierby aansluit. Bart Jan Spruyt van die Edmund Burke Stichting in Nederland noem dit ’n tradisie van vreugde. Die bekende denker en historikus, Russell Kirk, het dit meevoerend beskryf as ’n tradisie wat ten diepste ’n tradisie van die liefde is.

Hierdie tipe bydraes laat ons besef dat ons allerhande deugde en gawes van die Gees afsonderlik kon neem, en telkens vanuit ’n besondere invalshoek of lens ’n spesifieke kant van ons tradisie kon belig. Wanneer ons byvoorbeeld na die bekende embleem van Orania kyk, sien ons dadelik die selfwerksaamheid, die fluksheid, van hierdie tradisie raak. Ek is seker u het hierdie kant al baie belig en hoe nodig is nie! As ’n mens die bekende deugde met hul gepaardgaande ondeugde in oënskou neem, besef jy vinnig dat ons hier, vanuit die tradisie beskou, met ’n simbool teen laksheid of luiheid te make het. Gaan ons beeldryk te werk, sou ons dalk, na aanleiding van Mind-of-a-fox faam, die beeld van die jakkals wou omvorm, waarskynlik drasties wou omvorm, om die kardinale deug van verstandigheid en omsigtigheid (prudentia) te hanteer. Die feit is dat ons ook hier met veelvuldigheid te make het en telkens, na gelang van omstandighede, sou ons ’n ander deug as lens op ons tradisie kon gebruik om dinge na die oppervlak te bring wat dalk ongesiens verbygaan. In hierdie verband het iemand soos die genoemde Russell Kirk al groot werk gedoen in sy onderwaardeerde opvolg op sy klassieke werk, The Conservative Mind. In sy werk, Propects for Conservatives, maak Kirk van die sewe klassieke deugde en die sewe dodelike sondes gebruik om lig te werp op aspekte soos die intellek, gemeenskap, geregtigheid, orde, lojaliteit, tradisie, en mag.

Daar lê na my mening heerlike werk vir ons voor om in die voetspoor van hierdie benadering, die verskillende deugde-lense op ons eie konteks te plaas. Dit kan help om die veelkantigheid van die alternatiewe moderniteit deeglik uiteen te sit en ons terselfdertyd te bewus maak van hoe edel hierdie tradisie kan wees. Vanaand wil ek u aandag vra vir ’n kernsaak in hierdie tradisie wat eintlik te gevaarlik is om te bespreek. Die rede is dat dit die spreker en die hoorder so maklik dubbeld skuldig maak. Van hierdie deug sê iemand soos die Engelse juris, John Selden, dat dit ’n deug is waaroor almal preek, wat niemand beoefen nie, en waaroor almal heel gemaklik nog ’n toespraak sal aanhoor. Ek praat natuurlik van daardie eienskap in ons tradisie wat die stam is waaruit al die deugde groei: nederigheid. Dit staan so sentraal en tog is dit so teer dat wanneer jy te sterk daarop fokus, veral by jouself, dit baie vinnig verdwyn. En tog wil ek saam met u die waagstuk aangaan om daaroor te besin onder die volgende hoofde:

·       Die belangrikheid van nederigheid in ons tradisie.

·       Die groot stimulant vir nederigheid in ons tradisie.

·       Deelname aan nederigheid in ons tradisie.

2022/05/25

Kom, Here Jesus!

Lees: Openb. 22:1-6; 12-21

Gedagte vir kinders: Wanneer die Here Jesus weer kom, sal alle hartseer vir altyd weg wees. 

Oorsig: Johannes is aan die einde van Openbaring besig om die nuwe Jerusalem te beskrywe. Hier meld hy, soos Esegiël (Es. 47:7,12), die suiwer, helder rivier van die water van die lewe wat uitstroom uit die troon van God en van die Lam (v.1). Tussen die straat en die rivier was die boom van die lewe aan weerskante van die rivier sigbaar wat elke maand vrugte gee. Die blare daarvan is tot genesing van die nasies (v.2). Die toestand hier is vry van die vloek van die sondeval en die rede is dat die troon van God en die Lam daarin is en dat sy diensknegte Hom sal dien (v.3). Die wonderlike vooruitsig is dat hulle sy aangesig sal sien (vgl. Mt.5:8) en dat God se Naam soos destyds op die hoëpriester, nou op die voorhoofde van al sy kinders sal wees (v. 4; vgl. Ex.39:30). Daar is nie nag nie en hulle benodig geen lamp of sonlig nie, omdat die Here God hulle verlig. En God se kinders regeer as konings tot in alle ewigheid (v.5). Dit word dan bevestig dat die woorde waaragtig en betroubaar is en dat die Here, die God van die Heilige profete, sy engel gestuur het om sy diensknegte te toon wat gou moet gebeur.

'n Preek vir Hemelvaartdag

Hierdie boodskap is op Hemelvaartdag 2021 op Pretoria FM in die aand uitgesaai. 

Lees: Hd. 2:33-36; Ps. 110; Psalm 2:7-12, Dn. 7:13-14

Inleiding

Hemelvaart is tradisioneel een van die vyf groot bakens op die kalenders van Christene: Kersfees, Goeie Vrydag, Paassondag, Hemelvaart en Pinkster. En nou weet ons, in Suid-Afrika is die viering van Hemelvaart reeds vir ’n geruime tyd geskrap van ons amptelike vakansiedae, en ons behoort dringender as voorheen te vra: Waarom, en wat is die gevolge en implikasies hiervan? Die feit is dat ook die verwaarlosing van die betekenis van die Hemelvaart daartoe lei dat ons nie meer leef uit die volheid van die evangelie nie. Ons vergeet byvoorbeeld te maklik dat daar slegs een rede is waarom al die dinge wat Christus vir ons in die verlede tyd gedoen het, nou, in die hede, ’n werklikheid mag wees – die Hemelvaart van Jesus Christus.   

Broeder en suster, die viering van, en leef uit die betekenis van Hemelvaart is baie belangrik. Dit is selfs in die geseënde tradisie van die Kerk beskou as die hoogtepunt van die verlossing wat Christus gebring het. Daarsonder kan ons nie werklik begryp en waardeer waarom die heilswerk van Christus in die verlede ook in ons dag waar e het in de hede en kan oopblom ook in ons tyd nie. En tog, in Suid-Afrika is dit die Christelike vakansiedag wat weggeval het, terwyl baie Europese lande nog hierdie dag herdenk, al is dit dikwels net in naam. Nou is dit wel so dat Christene se eintlike feesdag elke Sondag op die eerste dag van die week is, maar daar is ook iets soos die kerstening van ’n kultuur. Enige kultuur het die manier om sy kerstening, al dan nie, te reflekteer op die openbare kalender. Dit gee ’n goeie idee van wie die eintlike God of gode van die samelewing is. Ons sou selfs sover kon gaan as om daarop te wys dat die ware god van ’n samelewing aan die lig kom as jy let op dit wat in die openbaar as polities korrek beskou word. Ons sou hierby kon voeg dat jy ook moet let op die publieke vakansiedae (“holy days” wat "holidays" geword het) wat gevier word. Dit verbaas daarom glad nie om te sien dat Hemelvaart van die rol geskrap is nie, want sien, Hemelvaart getuig op ’n baie besondere wyse van wie die eintlike Koning op die troon is.

Ja, Hemelvaart gaan oor die grootste troonsbestyging ooit. Niks kan daarmee vergelyk word nie. Elke aanspraak op ’n nuwe orde met die bedoeling van ’n nuwe troon moet beoordeel word in die lig van die nuwe orde in Christus wat deur sy Hemelvaart ingelei is. In die viering van die Hemelvaart getuig ons wie eintlik op die troon sit – ’n waarheid wat drie jaar oue verbondskinders meer korrek bely as sekere openbare leiers in ons land. En daarom kan ons dit gerus maar weer by die herdenking van Hemelvaart prontuit bely en mekaar daaraan herinner: Die belydenis dat Jesus die Here is, is die grootste politieke uitspraak van alle tye. Hemelvaart getuig kragtig hiervan. En daarom kan die openbare en politieke ontkenning van die Hemelvaart van Christus in ’n samelewing nie sonder konsekwensies bly nie. Ons gaan aan die hand van die Woord na hierdie konsekwensie kyk onder die volgende punte:

  1. ·       Hemelvaart en die staat
  2. ·       Hemelvaart en die Kerk
  3. ·       Hemelvaart en die appél op ons

2022/05/19

Ingetrek in die Allerheiligste

Lees: Openb. 21:9-14,21-27

Gedagte vir kinders: Dit is wonderlik om in die Here se lig te lewe.

Oorsig: In Openb. 21 is Johannes besig om ’n glorieryke beeld van die Nuwe Jerusalem te beskrywe. Ons hoor in v. 9 dat een van die sewe engele met die sewe skale en sewe plae na Johannes gekom het, soos voorheen (vgl. Op. 17:1), en hom weer geroep het om om iets aan hom te toon. Die vorige keer was dit die oordeel van die ou Jerusalem wat uitgebeeld word as die groot prostituut. Hier is dit nou sodat Johannes die bruid, die vrou van die Lam kon sien. Johannes is toe in die gees weggevoer na ’n groot en hoë berg en vandaar het hy die bruid en daarom die Kerk, as nuwe Jerusalem gesien wat uit die hemel neerdaal (v.10).

Hierdie stad het die heerlikheid van God (shekina-glorie), gehad en sy lig was soos ’n kristalhelder jaspissteen. Dit het ’n groot en hoë muur gehad met 12 poorte (vgl. Es. 48:31-34) en 12 engele en die name van die 12 stamme van Israel was daarop geskrywe. Die 12 poorte was gelykop verdeel na al die windrigtings, dus 3 poorte in elke rigting (v. 11-13; vgl. Luk. 13:29). Die muur van die stad het ook twaalf fondamente gehad en daarop was die 12 name van die apostels van die Lam (v.14; vgl. Mt. 16:18; Ef. 2:20). Ons hervat by vers 21, maar dit is tog belangrik om ook te verneem van die edelgesteentes (v.19-20) en dat Jerusalem in v. 15-16  beskryf word as ’n kubus, soos wat die allerheiligste deel van die tempel ’n kubus in die Ou Testament was (vgl. 1 Kon. 6:20). Die Kerk is dus nou deel van die Allerheiligste.

2022/05/12

Geloof, begrip, genot

Dalk sê dit meer van myself as van my stelling, maar ek sal dit nogtans waag. Douglas Farrow is 'n gerekende yster-teoloog van ons tyd. Dit beteken nie dat hy my van sy kritiek op Protestante altyd oortuig nie, maar oor die lakmoestoets van etiese kwessies van die dag, is sy teologiese kleur gunstig. Kortom, hy straal die soort teologiese integriteit uit wat met my praat. Daar is natuurlik agt-silinders soos David Bentley Hart wat nou nie juis hiermee sal saamstem nie, maar nou-ja, iewers moet jy bereid wees om eerder ongewild te wees as ontrou aan hulle wat jou teologiese ingewande in beroering bring. Ek het nog nie volledig by Farrow se 2017-publikasie, Theological Negotiations, uitgekom nie, maar hier is 'n eerste motivering of twee waarom hy my ore laat spits. In sy inleiding stel Farrow die volgende (vertaal in Afrikaans): 

"Aquinas is natuurlik altyd onontbeerlik, en dikwels bevredigend. Waar hy egter nie bevredigend is nie, vind ek myself teruggedryf na Bybelse motiewe wat beter ontwikkel is in vroeëre denkers soos Irenaeus, Augustinus en Anselmus. Laasgenoemde het 'n groter rol kom speel as wat ek verwag het dat hy sou. Anselmus was die eerste een wat die omvang van die probleem van nominalisme teëgekom en begryp het, daardie filosofiese en teologiese en politieke beweging wat die Westerse beskawing so dramaties verander het en voortgaan, soos hoofstuk 7 opmerk, om dit vandag steeds te doen." 

2022/05/11

Die nuwe Jerusalem in vandag en môre

Lees: Openb. 21:1-7

Gedagte vir kinders: Die beste lê nog voor vir hulle wat aan Jesus Christus behoort.

Oorsig: In hoofstuk 20 het Johannes die wederkoms van Jesus Christus beskryf. Hier begin hy die nuwe Jerusalem beskryf. Johannes beskryf dit op so ’n manier dat ons moet besef dat Johannes aansluit by beskrywings van die ou verbond in Israel en van Jesaja wat Israel en Jerusalem se vernuwing reeds beskrywe het in terme van die huwelik. Dit het in vervulling begin gaan met die koms van die Messias (vgl. Jes. 62-63; 65:17). Die ou Jerusalem en die tempel en die offers se bedoeling is daarom reeds vervul in Christus. In Hom en in sy liggaam, die Kerk, is die nuwe Jerusalem reeds besig om te kom. Eendag sal die daar ’n nuwe hemel en nuwe aarde wees waarin die nuwe Jerusalem finaal ’n werklikheid vol van glorie sal wees, soos ’n bruid wat vir haar bruidegom versier is (v.1-2). Maar intussen moet ons onthou dat die nuwe Jerusalem nou reeds ’n werklikheid is wat eendag in volle glorie waar sal wees op die nuwe hemel en die nuwe aarde.

Nadat Johannes die gesig gesien het van die nuwe hemel, nuwe aarde en die nuwe Jerusalem, het hy ’n groot stem uit die hemel gehoor. Die stem het deur middel van bekende beelde uit die Ou Testament gepraat en gesê dat die tabernakel, die woonplek van God, nou by die mense is en dat Hy by hulle sal woon (vgl. Op. 21:22). Hy het ook die bekende taal oor die verbond van die Ou Testament gebruik en gesê dat die mense sy volk sal wees en dat God self by hulle sal wees as hulle God (v.3; die 83-vertaling vertaal dit insiggewend genoeg in die meervoud as "volke".). Hy het verder gesê dat God al die trane van gelowiges se oë sal afvee en dat daar geen dood, droefheid, geween of moeite sal wees nie. Die rede is dat die eerste dinge verby gegaan het (v.4). Ons hoor dan verder dat Hy wat op die troon sit, gesê het: “Kyk Ek maak alles nuut.” Hy het ook aan Johannes beveel om dit op te skryf, omdat hierdie woorde waaragtig en betroubaar is (v.5).     

Toe het Hy vir Johannes gesê: Dit is verby! Hy het ook bevestig dat Hy die Alfa en die Omega is, die begin en die einde en dat Hy aan die een wat dors het, uit die fontein van die water van die lewe verniet sal gee (v.6. Vgl. Jes. 55:1). Hy het verder ook bevestig, soos aan die begin van die boek Openbaring, dat elkeen wat oorwin, alles sal beërwe. En toe het Hy weer die verbondstaal van die Ou Testament gebruik: “Ek sal vir hom ’n God wees en hy sal vir my ’n seun wees.” (vgl. Lev. 26:12; Jer. 24:7; 31:33).

Sewevoudige lof

Lees: Openb. 7:9-17

Gedagte vir kinders: Die Here sal eendag alle trane van sy kinders afdroog.

Oorsig: Ons verneem in hoofstuk 5 dat alleen die Lam die Verbondsboek van God en die seëls kon oopmaak. In Hoofstuk 6 verneem ons dan wat alles gebeur wanneer ses van die seëls oopgemaak word. En dan vertel Johannes in hoofstuk 7, voordat die sewende seël oopgemaak word, eers twee keer wat “ná hierdie dinge” van die ses seëls gebeur het (v.1,9). Johannes beskryf eers die uitverkore verlostes op aarde in Israel voordat die ou verbond tot ’n einde gekom het in 70n.C. met die val van Jerusalem en die tempel (die volheidsgetal van 144 000 wat neerkom op 12x10x10x10 vermenigvuldig met 12x10x10x10 - v.1-8). En daarna sien hy ’n groot menigte verlostes in die hemel wat niemand kon tel nie uit al die nasies, stamme, volke en tale en wat verwys na al die verlostes oor die wêreld wat saam met Israel reeds deel is van die verlostes.

Hierdie verlostes het gestaan voor die troon en voor die Lam (vgl. Op. 5:6) en hulle was bekleed met wit klere en met palmtakke in hulle hande (v.9). Die menigte verlostes het met ’n groot stem geroep dat die verlossing (heil) aan hulle (“onse”) God behoort en aan die Lam (v.10). Hierop het al die engele wat rondom die troon en die ouderlinge (wat al die gelowiges verteenwoordig) en die vier lewende wesens (gerubs) gestaan het, voor die troon op hulle aangesig neergeval en God aanbid. Hulle het gesê: Amen! En toe het hulle die sewevoudige lof aan God gebring: Die lof en die heerlikheid en die wysheid en die danksegging en die eer en die krag en die sterkte tot in alle ewigheid. Hulle het dit toe weer met Amen bevestig (v.11-12).

Een van die ouderlinge het toe vir Johannes gevra wie diegene met die wit klere is en waarvandaan hulle kom. Johannes het vol respek geantwoord dat die ouderling dit weet en toe het die ouderling geantwoord dat dit hulle is wat uit die groot verdrukking kom en wat hulle klere wit gemaak het in die bloed van die Lam (v.14). Daarom kan hulle nou voor die troon van God wees en Hom dag en nag in sy tempel dien. Daar word ook die belofte bygevoeg dat Hy wat op die troon sit, sy tent oor hulle sal oopspan (v.15). Die belofte word ook verder uitgebrei dat hulle nie meer honger en nie meer dors sal hê nie en dat die son of enige hitte nooit op hulle sal val nie (v.16). Die rede is dat die Lam wat in die middel van die troon is, hulle sal laat wei en na lewende waterfonteine sal lei. En God sal alle trane wat daar ook oor die verlede mag wees, van hulle oë afvee (v.17; vgl. Jes. 25:8).