2022/07/28

Om ryk in God te wees

Lees: Luk. 12:13-21

Gedagte vir kinders: God roep ons om skatte in die hemel bymekaar te maak.

Oorsig: Die Here Jesus was op pad na Jerusalem om die offer vir ons sondes te bring. Sommige noem hierdie pad sy bewustelike dodemars. Op hierdie pad het Hy die mense deur verskillende situasies en uitsprake geleer, onder meer oor wat dit beteken om sy dissipel te wees. Op ’n stadium het een man Hom gevra om uitspraak te lewer teen sy broer, omdat sy broer nie die erfporsie met hom wou deel nie (v.13). In Israel het die oudste seun ’n groter verantwoordelikheid gedra en ook die dubbele erfporsie gekry(vgl. Deut. 21:17), in hierdie geval blykbaar die hele erfporsie, as deel van sy verantwoordelikheid. En hy wou niks deel met sy jonger broer nie.

Die Here Jesus het die man geantwoord dat dit Hy nie aangestel was as regter of deler oor hulle nie (v.14). Heel waarskynlik wou Hy nie die mense aanhelp om Hom as ’n blote aardse Messias te sien nie. Bowendien het hierdie man Christus in sy openbare werk gesteur en die Here Jesus het wel ook geweet wat dikwels in sulke stryde ’n rol speel. Hy het die geleentheid gebruik om almal te waarsku om op te pas vir hebsug (gierigheid). Die basiese rede is dat iemand se lewe nie bestaan uit die oorvloed van besittings nie (v.15). Toe het Hy aan hulle ’n gelykenis vertel (v.16-20). Daar was ’n ryk man wie se grond ’n goeie oes gehad het. Die man het toe in sy kop so daaroor geredeneer: Hy het vir homself gesê hy moet ’n plan maak, want hy het geen plek om sy oes in te samel nie. Hy het toe sy plan so gemaak: Om sy skure af te breek en groter te bou en so sou hy sy hele oes kon insamel en wegbêre. Sy woorde was egter duidelik baie selfgerig: “Dit sal ek doen...ek sal...ek sal...my opbrengs en my goed.” In sy gedagtes het hy homself ook op gelukgewens met ’n beloning wat net op hierdie lewe fokus. In sy beloning vir homself sou hy dan vir “siel” sê dat hy goed gedoen het vir baie jare en dat hy dan kon rus, eet en drink en vrolik wees.     

Die Here Jesus het toe gewys op wat God hieroor sou sê. Dit is dat die man ’n dwaas was (vgl. Ps. 14:1).

2022/07/19

Oorstelpende beloftes oor gebed

Lees: Luk. 11:1-13

Gedagte vir kinders: Ons hemelse Vader verhoor ons gebede op die beste manier.

Oorsig: Die Here Jesus was op pad na Jerusalem om die offer vir ons sonde te bring. Hy het hulle toe geleer wat dit beteken om sy dissipels te wees. Op ’n stadium was Hy besig om te bid en een van sy dissipels het, nadat Hy opgehou het, Hom gevra om om hulle te leer om te bid soos wat Johannes die Doper ook sy dissipels geleer het (v.1). Die Here Jesus het hulle toe die Onse Vader geleer en hier lees ons van Lukas se weergawe. Die feit dat dit hier en daar verskil met die weergawe van Mattheus, wys vir ons dat dit nie gaan om telkens die presiese woorde te herhaal nie. Ons kan onsself eerder voorstel dat die Here Jesus by verskillende geleenthede hieroor geleer het en dat Hy sy lering sou aanpas by elke omstandigheid. Tog kom die wese van wat Hy geleer het baie ooreen met wat ons in Mat. 6 daaroor leer.

Ons leer ook hier van die geweldige voorreg dat ons God as ons Vader mag aanspreek, en dat ons moet onthou dat Hy in die hemel is. En dit gaan eerstens om sy Naam, sy koninkryk en sy wil (v.2). Eers daarna kom ons behoeftes ter sprake, maar ons mag ook die Vader daarom vra. Ons vra vir ons daaglikse fisiese behoeftes (ons brood) en ons geestelike behoeftes (vergifnis en beskerming teen die Bose). Ons moet egter onthou dat ons moet bereid moet wees om te vergewe as ons God se vergifnis verlang en dit voor Hom erken dat dit ons gesindheid is (v.3-4).

Daarna het die Here Jesus vir hulle ’n gelykenis vertel om te verduidelik dat ons vir God mag vra sonder om skaam daaroor te wees. 

2022/07/14

Een ding is nodig

Lees: Luk. 10:38-42

Gedagte vir kinders: Ons rus eers by die Here Jesus voor ons vir Hom gaan werk.

Oorsig: Die Here Jesus was op pad na Jerusalem om die offer vir ons sondes te bring. Hy het mense onder meer geleer wat dit beteken om ’n dissipel van Hom te wees, en so het hulle op hul reis by ’n sekere dorp gekom (waarskynlik Betanië) waar Hy tuis gegaan het in die huis van Martha. Sy was moontlik ’n weduwee wat die huis by haar man geërf het. Martha het ’n suster gehad met die naam van Maria en in Joh. 11 lees ons van hulle, waar ons ook hoor van Lasarus, hulle broer, wat uit die dood opgewek is. Die Here Jesus het moontlik daar oorgebly as Hy opgegaan het na Jerusalem vir die jaarlikse feeste. Ons weet ook uit die Bybel dat die Here Jesus hierdie drie mense liefgehad het (Joh. 11:5). Hy kon selfs van Lasarus teenoor sy dissipels praat as “Lasarus, ons vriend...” (Joh. 11:11). Hier lees ons van Maria dat sy in die huis van Martha aan die voete van die Here Jesus gesit en na sy woord geluister het (v.38-39).

Martha, aan die ander kant, was baie besig. Sy was mos die eienaar van die huis en alles moes in orde wees vir die gaste. Maar iets het Martha baie gepla: Sy het toe gaan staan waar die Here besig was en aan die Here Jesus gevra: “Here, gee U nie om dat my suster my alleen laat bedien nie? Sê dan vir haar dat sy my moet help.” (v.40). Die Here Jesus het haar op ’n besondere wyse geantwoord. Hy het twee keer haar naam genoem: “Martha, Martha.” Dit wys vir ons dat Hy baie persoonlik en liefdevol met haar gepraat het en tog ook ferm. Hy het haar daarop gewys dat sy besorg en verontrus (onrustig) kon raak oor baie dinge (v.41). Maar daar was eintlik net een ding nodig, het die Here Jesus gesê. 

2022/07/07

’n Ontblotende omkeervraag

Lees: Luk. 10:25-37

Gedagte vir kinders: Christus roep ons om in sy krag graag ander mense te help.

Oorsig: Die Here Jesus was op pad na Jerusalem om die offer vir ons sonde te bring en in hierdie tyd hoor ons baie van dissipelskap. Hier leer ons hoe dissipels van die Here Jesus se liefde vir die naaste lyk. Op die Here se pad het ’n sekere man wat in die wet van God geleerd was, gekom en die Here Jesus getoets deur vir Hom te vra wat Hy moes doen om die ewige lewe te beërwe (v.25-26). Die Here het hom met ’n teenvraag geantwoord en gevra wat hy in die wet daaroor lees. Die man het toe geantwoord dat jy God met alles (let op die drie dimensies: hart, siel, krag. Die verstand, gewoonlik ingesluit by die hart, word hier bygevoeg) in jou moet liefhê en jou naaste soos jouself. Die Here het geantwoord dat hy reg was en dat hy dit moes doen en lewe. Die Skrifgeleerde wou homself egter regverdig (let wel), en het toe gevra wie sy naaste is (v.27-29). Die Ou Testament het hieroor alreeds duidelike riglyne gegee (Lev. 19:18,34) en die Here Jesus het toe hierdie riglyne se bedoeling verder  gevoer. Hy het hom geantwoord deur ’n gelykenis te vertel.

Daar was ’n sekere man wat afgegaan het van Jerusalem na Jerigo.  Dit het was ongeveer 25km en het steil na onder geloop en ongeveer 1000m gesak tot by die see. Op die pad het rowers het hom aangeval, uitgetrek en geslaan en toe weggegaan en hom half dood daar laat lê. Daar het toe ’n priester met daardie pad afgekom (dus vanaf Jerusalem en die tempel af na Jerigo, en hom gesien, maar anderkant verbygegaan. Ook ’n Leviet wat nie ’n priester was nie, maar gehelp het met werk by die tempel, het daar gekom en die man gesien, maar ook anderkant verbygegaan (v.30-32). En toe het daar iemand anders gekom wat heeltemal anders opgetree het. Hy was ’n Samaritaan (Samaritane was nie op goeie voet met die Jode nie). Toe hy op sy reis op die gewonde man afgekom en die man sien, het hy (1) hom baie jammer gekry, (2) na hom te gegaan, en (3) sy wonde verbind en (4) olie en wyn daarop gegooi. Hy het hom verder (5) op sy eie pakdier gehelp en (6) die man na ’n herberg geneem en (7) vir hom daar gesorg.

Asof dit nie al genoeg was nie, het hy (8) toe hy die volgende more weggaan, twee pennings uitgehaal (Die waarde van twee dae se werk vir ’n dagloner en wat iemand ’n hele paar dae kon versorg) en dit aan die eienaar van die herberg gegee om die versorging te behartig. Meer nog, (9) hy het gesê dat indien daar enige onkoste meer is, hy dit sal betaal wanneer hy terugkom (v.33-35). Die Here Jesus het toe die wetgeleerde se vraag omgedraai. Hy het nie gevra wie die Samaritaan se naaste was nie, maar wie die naaste was van hom wat nood gehad het. Die Skrifgeleerde het toe nie bloot geantwoord dat dit die Samaritaan was nie, maar dit beskrywe as “hy wat barmhartigheid aan hom bewys het”. Toe het die Here Jesus hom geantwoord dat hy moes gaan en net so moes doen (v.36-37).

Besprekingsvraag: Wat leer ons oor naasteliefde wanneer Christus die man se vraag omkeer?  

Insig: Ons kry in die onmiddellike verband te make met allerhande dimensies van dissipelskap. (Die koste: 9:57-62; die missie:10:1-24; Christus: 10:38-42; God en gebed: 11:1-13). Hier hoor ons van dissipels se liefde - tot God en (uitgebrei) tot die naaste. Dit is opvallend dat die Here Jesus se lering hier drie groot kenmerke het. Hy maak dit (1) baie konkreet deur ’n gelykenis, Hy gebruik (2) ’n onverwags-ontblotende voorbeeld, en (3) Hy draai die rigting van die vraag oor wie my naaste is heeltemal om. Ons het nodig om meermale so hanteer te word.