2022/08/25

Vry om koninklik te leef

Lees: Luk. 14:1-14

Gedagte vir kinders: Jesus Christus maak van sondaars verloste koningskinders

Oorsig: Op sy pad na Jerusalem waar die Here Jesus vir ons sondes sou sterf, het Hy op uitnodiging in die huis van een van die leiers van die Fariseërs ingegaan om brood te eet op die Sabbat. Die Fariseërs het God se wet baie belangrik geag, maar ongelukkig het hulle so baie op die uiterlike kant daarvan gefokus dat hulle die dieper punt maklik gemis het. ’n Mens wonder ook wat die motiewe was om die Here Jesus te ontvang, want ons lees dat hulle Hom in die oog gehou het (v.1). Ons lees ook van ’n man wat water gehad het (opgeswel in dele van sy liggaam was), wat daarop gedui het dat sy organe nie reg werk nie (v.2). Ons sou selfs ook kon wonder of hierdie man aspris daarheen gebring is om te sien wat die Here met hom sou doen. Die Here Jesus het toe aan die wetgeleerdes en Fariseërs gevra of dit reg was om op die Sabbat te genees, maar hulle het net stilgebly. Hy het toe die man geneem en hom gesond gemaak en laat gaan (v.3-4). En toe het Hy vir die mense verduidelik deur die voorbeeld van ’n esel of os (sommige vertalings meld kind) wat in ’n put val op die Sabbatdag. Die meeste mense sal mos dadelik die dier uit die put optrek. Niemand kon Hom antwoord op hierdie voorbeeld nie (v.5-6).

Die Here Jesus het ook, toe hulle die belangrikste plekke kies, ’n gelykenis vertel, wat dus ook iets oor God se koninkryk leer. Hy het gesê dat hulle, wanneer hulle na ’n bruilof genooi is, nie die voorste plek moes inneem nie. Die rede: Daar is dalk iemand wat waardiger is as jy. En dan sal die gasheer moet kom en sê dat jy moet plek moet maak vir ’n belangriker man en dat jy dan met skaamte die agterste plek sal inneem (v.7-9). Dit sou wyser wees om die agterste plek in te neem sodat die gasheer wat jou genooi het, eerder vir jou ’n beter posisie laat neem. Dit sou eer bring voor die wat saam aan tafel is. Die Here maak dan die bekende uitspraak dat elkeen wat homself verhoog, verneder sal word, en wat homself verneder, verhoog sal word (v.10-11).

2022/08/17

Stry hard om in te gaan

Lees: Luk. 13:22-30

Gedagte vir kinders: Jesus roep ons om hard te stry om in te gaan in sy koninkryk.  

Oorsig: Op sy pad na Jerusalem waar die Here Jesus aan ’n kruis vir ons sonde die offer sou bring, het die Hy verskillende dorpe en stede deurgegaan en die mense geleer oor die koninkryk van God (v.22). By een so ’n geleentheid het iemand vir Hom gevra of die wat gered word, min is. Die Here Jesus het hierdie vraag nie direk geantwoord nie. ’n Eenvoudige ja of nee kon maklik as ’n antwoord beskou word wat ver van jouself af is. Dit het nog steeds nie die belangrikste vraag beantwoord nie en dit is of ons elkeen self deel is van die wat gered word. Die Here Jesus se antwoord het eerder hierop gefokus en daarom het Hy geantwoord dat elkeen hard  moes stry om deur die nou poort (opening) in te gaan in die koninkryk (v.23-24a).

2022/08/11

Vuur op aarde

Lees: Luk. 12:49-53

Gedagte vir kinders: Jesus Christus het gekom sodat God se vuur ons lewens kan reinig.

Oorsig: In die bediening van die Here Jesus het hy twee soorte kenmerkende uitsprake gemaak wat verwys na sy Persoon en sy werk. Die een groep is sy “Ek-is” uitsprake (vgl. Johannes 6:35; 8:12; 10:9; 10:11,14; 11:25; 14:6; 15:1,5). Die ander is sy “Ek-het-gekom-om” uitsprake (Vgl. Mt. 5:17; Mk. 10:45; Joh. 10:10; 12:46; 18:37). In hierdie gedeelte sê die Here spesifiek dat Hy gekom het om vuur op die aarde te werp (v.49). Wat beteken hierdie woorde? Die beeld van vuur word in die Bybel gebruik om te wys op God se teenwoordigheid en liefde (Dt. 4:24; Hd. 2:3), sy oordeel oor sondaars (Lev. 10:2; Mt. 22:7) en Goddelike reiniging (Jer. 5:14; 23:29; 1 Pet. 1:7). Johannes die Doper het die beeld spesifiek gebruik om te wys op die reinigende werk wat Jesus as die Messias sou verrig en waarin die krag van die Heilige Gees sou duidelik word (Luk. 3:9,16). En hier lees ons van  begeerte van die Here Jesus op pad na Jerusalem wat ons tot stilstand bring wanneer ons hoor dat Hy baie diep wens dat God se vuur al aangesteek was. Daar was dus nog iets nodig voordat dit ’n volle werklikheid sou word.

2022/08/05

Oor bekommernis en fokus

Lees: Luk. 12:22-34

Gedagte vir kinders: Ons Vader is die Koning van alles en daarom is ons nie bekommerd nie.

Oorsig: Op sy pad na Jerusalem waar die Here Jesus die offer vir ons sondes sou bring, het Hy oor die koninkryk van God met die mense gepraat. Nadat Hy aan hulle deur die gelykenis van die ryk dwaas verduidelik het hoe belangrik dit is om ryk in God te wees, het Hy “daarom” bygevoeg. Want as ons ryk in God wil wees, moet ons ook in lyn daarmee optree. Die eerste toepassing wat die Here Jesus toe gemaak het, is om nie bekommerd te wees oor ons lewe en ons liggaam en spesifiek oor wat ons sal eet en wat ons sal aantrek nie. Die rede is dat die lewe meer is as kos en dat die liggaam oor meer gaan as klere (v.22-23).  

Hy het hulle as voorbeeld gewys op die kraaie (roofvoëls) wat in die Ou Testament nog onrein diere was (Lev. 11:15; Deut. 14:14). Hulle plant of oes nie en het geen voorraadkamer en skuur nie, en tog sorg God selfs vir hulle. Mense was tog soveel meer werd (v.24). Die Here het hulle toe ook daarop gewys dat afgesien van die voorbeeld van kraaie in die skepping, ook bekommernis self nie in die minste werklik help nie. Dit kan nie een el by jou lengte voeg of een uur by jou lewe nie (v.25-26; vgl. NAV). Daarna het Hy weer na de skepping gewys en hierdie keer op die lelies en die gras as voorbeelde van hoe God sy skepping aantrek. En weer was die konsekwensie vir mense getrek: Hoeveel te meer vir julle kleingelowiges! (v.27-28).     

By die kwessie van bekommernis het Hy toe iets verder gevoeg. Dit is dat hulle ook nie in die eerste plek gefokus moes wees (“soek”) op wat hulle sou eet en drink en hulself daaroor ongerus maak nie. Dit is wat die ongelowiges nasies van die wêreld doen. Die kinders van God kon egter gerus wees dat hulle Vader weet wat hulle nodig het (v.29-30). Hulle fokus (soek) moes eerder die koninkryk van God wees. Dit beteken hulle God en sy saak en sy geregtigheid en sy wil moes soek en hulle hele lewe daarvolgens moes inrig. So kon hulle as God se gesante sy beeld in hierdie wêreld wat nie glo nie, uitstraal. Hulle sou op hierdie weg ook beleef hoe al die ander dinge vir hulle bygevoeg word (v.31). Daarna het die Here die klein groepie gelowiges ’n klein kudde genoem wat nie moes vrees nie, want hulle Vader sou aan hulle sy koninkryk gee (v.32). Omdat hulle in Hom so ryk was, kon hulle hulle gerus hul besittings verkoop en aalmoese gee wanneer nodig. So sou hulle wys dat hulle eintlike beursies en skat in die hemel is. Hierdie skat kan nie uitgeput word nie en diewe of motte kan dit nie wegneem of verteer nie. En so wys ons harte ook waar ons eintlike skat is (v.34).   

Besprekingsvraag: Wat leer ons wanneer Christus vrees en vertroue voor besittings hanteer?

Insig: Die Here Jesus spreek ’n diep kwessie van die menslike psige hier aan. Ons as mense het ’n groot behoefte aan identiteit en ’n omgewing wat daardie identiteit moet beveilig. Die probleem is dat ons dit in ons sonde verkeerd kan aanpak.