Gedagte vir kinders: As jy werklik groot wil wees, moet jy bereid wees om almal te dien.
Oorsig: Na die verheerliking van die
Here Jesus op die berg en die genesing van ’n doofstomme seun daarna, het hulle
verbygetrek deur die noorde van die land wat Galilea genoem word. Die Here
Jesus wou nie hê dat iemand moes weet nie (v.1) . Die rede was dat Hy vir die
tweede maal (vgl. Mk. 8:31 en Mk. 10:32-34) prontuit vir sy dissipels geleer
het hoe alles sou afspeel: Die seun van die mens word oorgelewer in die hande
van mense en hulle sal Hom doodmaak. Nadat Hy gedood is Hy op die derde dag
opstaan (v.31; vgl. Dan. 7:18,21,25; 12:2). Die dissipels het hierdie woorde
wat vir hulle geklink het soos ’n gelykenis of beeldspraak, nie verstaan nie.
En hulle was bang om Hom uit te vra (v. 32). Miskien wou hulle nie dom klink
nie, of miskien was hulle bang om dit nog meer reguit te hoor.
So het hulle in Kapernaum in ’n huis gekom, waarskynlik die huis van
Petrus en Andreas wat Hy in daardie gebied gebruik het (vgl. 1:29; 2:1). Daar
het Hy hulle gevra wat hulle met mekaar op die pad geredeneer het (v. 33).
Hulle het egter stilgebly omdat hulle op die pad met mekaar gepraat het oor wie
die grootste is (v.34). En toe Hy in die huis gaan sit het, wat in daardie tyd
die lerende posisie van die Meester was, het Hy vir hulle gesê: As iemand die
eerste wil wees, moet hy die laaste van almal en almal se dienaar wees (v.35).
Hy het toe (1) ’n kindjie geneem en (2) hom hul midde laat staan en (3)
sy arm om hom geslaan (v.36) En toe het Hy vir hulle gesê: Elkeen wat een van
sulke kindertjies (1) in my Naam ontvang, (2) ontvang My. En elkeen wat My
ontvang, ontvang nie My nie, maar (3) Hom wat My gestuur het (v.37). So het die
Here Jesus selfs kinders as die onbelangrikes graag ontvang en so was Hy bereid
om die laaste van almal en almal se dienaar te word toe Hy ons sonde op Hom
geneem het aan die kruis. Maar daarom het God hom ook opgewek uit die dood en
die Naam gegee wat bo elke naam is. Hy wat so met die dissipels (en ons paat0
het dit eerste gedoen, in ons plek. Daarom kan dit nou vir ons moontlik wees
deur die krag van die Heilige Gees om ook so te lewe.
Besprekingsvraag: Hoe maak ons seker dat ons die kruis saam met die dissipels beter begryp?
Insig: Die Goddelike logika van laastes wat eerste is, is nie iets wat vanself deel van ons lewe is nie. Ons sien dit van ver af maklik raak in dieselfde soort reaksies van die dissipels wanneer die drie uitdruklike aankondigings van die Here Jesus oor sy sterwe en opstanding voor sy kruisiging gemaak word. Wanneer Hy die eerste aankondiging doen, wil Petrus Hom eerder vermaan (vgl. 8:31-33). Wanneer Hy sy derde aankondiging doen, wil sommige sekerheid hê oor hul posisie op trone langsaan Hom (vgl. 10:32-37). En hier na sy tweede aankondiging, verneem ons dat hulle eerder op die pad praat oor wie die grootste is (vgl. v. 31-34). Hulle verwag ’n troon, ’n kroon, sonder die kruis. Ons moet nie maar dink dat dit bloot die dissipels voor die kruis is nie, maar eerder ons elkeen se geneigdheid. So maklik gaan dit steeds om kroon sonder die kruis, en om eerste te wees en die grootste te wees. En so verval ons maklik in jaloerse kompetisie en hoogmoed en magstryde. Dit is waarom nasies teen nasies uiteindelik oorlog voer, en dit is ook maklik die rede vir interne politiek in enige besigheid of maatskappy. Ja, selfs wanneer ons hoor van Jesus Christus en sy kruis, kan ons steeds soos die dissipels beheer word deur vleeslike kategorieë. Dit skreeu veral wanneer ons soos Diotrefes eerste probeer wees in die Kerk (3 Joh. 1:9). Daarom moet ons luister as die Here Jesus hier reeds Koninklik vanuit sittende posisie ook ons met gesag leer.