2025/08/23

Maak my lewend

Lees: Psalm 119:153-160

Gedagte vir kinders: Roep die Here aan as dit swaar gaan en jy Hom nogtans dien.

Oorsig: Ps. 119 gaan oor iemand wat liries is oor God se wet en daaroor in gesprek is met die Gewer daarvan. Dit is gerangskik aan die hand van die 22 letters van die Hebreeuse alfabet en elke letter van die alfabet het dan agt verse wat met daardie letter in die Hebreeus begin om te praat-  met God oor sy wet. Dit gaan dus in ons taal oor die A tot Z van God se wet, in gebed. God se wet gaan hier oor God se omvattende onderrigting aan Israel. Daar is in werklikheid  agt verskillende woorde wat God se wet telkens beskryf en in vyf groeperings van Ps. 119 word al agt beskrywings gebruik, maar elke afdeling onder elke Hebreeuse alfabet-letter gebruik ten minste ses van hierdie woorde.   

Ons lees in vers 153 onder die Hebreeuse letter, Resj, dat die Psalmis hier vra dat die HERE tog sy ellende sal raaksien en hom sal red, omdat hy die HERE se wet (thora -onderrigting/instruksie) nie vergeet nie (v.153). Hy gaan verder en vra dan spesifiek dat die HERE hom lewend sal maak volgens sy belofte (imra - vgl. v.154). Hy bely dan dat die heil (verlossing) ver van die goddelose is omdat hulle nie die HERE se insettinge (choqim - dekrete) soek nie (v.155). Hierna is die Psalmis verder in gebed. Hy erken dat die barmhartighede van die HERE menigvuldig is en vra dan weer dat hy lewend gemaak sal word. Hierdie keer vra hy dat dit sal gebeur deur die HERE se verordeninge (regverdige bepalinge/oordele - mishpatim).

Die Psalmis wys dan daarop dat hy vervolgers en teenstanders het en dat hulle baie (talryk) is. Tog se hy in sy gebed dat hy nie van die Here se getuienisse (statute - edot) afgewyk het nie. Hy gaan verder in sy gebed en wys daarop dat hy die mense gesien het wat troueloos handel. Hy maak dan in sy gebed ’n sterk stelling en sê dat dit hom gewalg het dat die trouelose mense nie die HERE se woord (dabar) onderhou nie (v.158). Hy vra dan dat die Here sal aanskou dat hy sy bevele (mitsvot) liefhet en dan vra hy weereens om lewend gemaak te word, hierdie keer volgens die HERE se goedertierenheid (chesed – troue verbondsliefde v.159). Hy sluit hierdie gedeelte af en bely voor die HERE dat die hele inhoud van sy woord (dabar) waarheid is en dat al sy regverdige verordeninge (ordinansies/oordele - mishpatim) tot in ewigheid is (v.160).            ERE sy regsaak sal verdedifg en voeg dan b       

Besprekingsvraag: Wat is die verskil in kenmerke hier tussen die getroues en die ontroues?

Insig: Hoe nader ons aan die einde van hierdie gelade Psalm beweeg, hoe intenser en dringender word die woorde. Ons begryp dit, want ons beleef ook sekere node op sekere tye intenser in ons lewe. Saam met die Psalmis beleef ons die behoefte, op ons hart gedruk deur die Heilige Gees, aan uitredding deur niemand anders as God self nie. Die Psalmis praat van sy ellende. Dit kan wees as gevolg van omstandighede of eie sonde (vgl. Ex. 3:7-8; Klg. 1:9). Hier is wel duidelik sprake van daadwerklike vyande (v.157).

2025/08/04

In die skuilplek van die Allerhoogste

Lees: Psalm 91:1-16

Gedagte vir kinders: Die Here roep ons om by Hom te kom skuil teen enigiets.

Oorsig: Psalm 91 word dikwels gebruik in tye van gevaar en krisis en groot uitdagings waar die dood so duidelik dreig. Dit bevat grootse woorde oor die vertroue in God wat ons asems wegslaan. Die satan het dan ook ’n besondere poging aangewend om hierdie Psalm se bedoeling skeef te trek in sy versoeking van die Here Jesus op aarde. Dit behoort ons aandagtig te laat luister na wat hierdie Psalm dan nou eintlik leer en wat die Here hier aan ons openbaar. Die Psalm begin met uitsprake oor wat met hulle gebeur wat skuiling vind by die Allerhoogste (v.1-2). Hulle sal in vernag in die skaduwee (beskerming) van die Almagtige (v.1). Dan maak die Psalmis dit persoonlik van toepassing in die eerste persoon op wat elke gelowige as “ek” vir die HERE, die Verbondsgod,  persoonlik mag sê: “My begvesting en my God op wie ek vertrou” (v.2).

Dan word beloftes gegee oor waaruit Hy gelowiges alles red (v.3-13) – soos uit die net van die voëlvanger en redding van pes.  Hy doen dit deur sy vlerke wat dek. Hierin is sy getrouheid soos ’n skild en pantser (v.3-4). Daarna word die gelowige wat dit beleef toegespreek in die tweede persoon. Jy hoef nie te vrees vir skrik in die nag of pyle wat in die dag rondvlieg nie (v.5). Dit gaan oor pes in die donker of siekte wat op die middag verwoes en wat baie bekend was in die versengende hitte in die woestyngebiede (v.6). Daar word selfs die belofte gemaak dat al val duisende langs jou, dit nie na jou sal aankom nie (v.7). Jy sal dit net met jou oë aanskou en die vergelding van die goddelose sien (v.8). Vers 9 begin en verwoord ’n persoonlike woord teenoor die Here: “”want U is my toevlug” en dan word die gelowige weer in die tweede persoon aangespreek: Jy het die Allerhoogste jou beskutting gemaak (v.9).       

Die beloftes gaan dan voort dat geen onheil of plaag jou sal tref nie. Die rede is die HERE sy engele bevel sal gee om jou te bewaar op al jou weë. Hulle sal jou op die hande dra sodat jy jou voet teen geen klip stamp nie (v.11-12; vgl. Luk. 4:9-12). Jy sal op die leeu en die adder trap en  hulle vertrap (v.13).  En dan word daar in die slot (v.14-16) oorgegaan na wat God oor die gelowige sê: Omdat hy (1.1) my liefhet en (1.2) my Naam ken, sal Hy hom (2.1) red en (2.2) beskerm (v.14). Die gelowige sal (1.3) Hom aanroep en God sal (2.3) verhoor en (2.4) in die nood sal Hy (“Ek”) by die gelowige wees en (2.5) uitred en (2.6) eer aan hom gee (v.15). Hy (“Ek”) sal hom (2.7) met lengte van dae versadig en (2.8) hom die HERE se heil laat sien (v.16).       

Besprekingsvraag: Hoe maak ons sin van Psalm 91 se beloftes as gelowiges ly en sterf?  

Insig: Hierdie wonderlike Psalm met sy grootse uitsprake kan net op een manier sy volle waarde vir ons hê: wanneer ons verstaan dat in die eerste plek gemaak word aan die een van wie hierdie Psalm in sy volheid waar is: die Messias, Jesus Christus.