2025/09/12

Rus vir vermoeides

Lees: Mat. 11:25-30

Boodskap vir kinders: Die Here Jesus roep elkeen wat swaar kry om by Hom ware rus te vind.

Oorsig: Hoe onbegryplik moes dit nie gewees het om die Here Jesus in sy aardse bediening te beleef nie. En tog, baie stede waarin baie van sy prediking en wonders en tekens plaasgevind het, het dit nie ter harte geneem en hulle bekeer nie. Dit is ook ’n waarskuwing vir ons oor wat ons sal maak met die lewende Christus in ons midde. Onthou, deur sy Gees is Hy ook in ons midde waar twee of drie in sy Naam vergader is. En hoe meer lig ons ontvang, soos Betsaida en Kapernaum destyds wat Hy verantwoordbaar daarvoor gehou het, hoe groter is ons verantwoordelikheid.

Ons lees dat die Here Jesus na sy waarskuwing aan stede soos Betsaida en Kapernaum, ter afsluiting ’n gebed bid. Dit is een van net ’n paar gebede van die Here Jesus wat ons op skrif het. Ons lees dat die Here Jesus begin het deur die Vader (let wel), te loof dat Hy sy werk verberg het vir wyse en verstandige mense en dit aan kindertjies geopenbaar het (v.25). Dit was die Vader se behae om dit so te doen en die Here Jesus loof die Vader daarvoor wanneer Hy verwys na sekere stede se verwerping (v.26). En dan lees ons dat die Here Jesus weer met die mense praat. Hy wys daarop dat alles (let wel) aan Hom oorgegee is deur die Vader en dat niemand (let wel) die Seun ken nie, behalwe die Vader. Verder ken ook niemand (let wel) die Vader nie, behalwe die Seun, en elkeen (let wel) aan wie die Seun dit wil openbaar (v.27).     

En dan roep die Here Jesus, op grond van sy geweldige uitspraak, dat die mense wat nood het, na Hom toe moet kom: “Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is.” Hy gee ’n wonderlike belofte aan sulke mense: “en ek sal julle rus gee.” (v.28). Hy roep sulke mense verder op om sy juk op hulle te neem en van Hom te leer. ’n Juk is gebruik om beeste in te span vir werk en die verkeerde juk of jukgenoot kon jou baie uitput. Maar die Here Jesus wys daarop dat Hy sagmoedig en nederig van hart is (vgl. Num. 12:3) en dat hulle (en ons) rus vir hulle siele (psiges) sal vind by Hom (v.29). Die rede: Sy juk is sag en sy las is lig (v.30). Dit beteken dat dit nie onuithoudbaar hard is om die juk van Jesus Christus te dra nie. By Hom vind ons dat dit soms moeilik gaan, maar die rus bly en die juk is tog sag en die las lig te midde van moeiliker dae. En bowe-al is daar rus, wat twee maal in die gedeelte genoem word (v. 28,29). In die ou verbond is van rus  gepraat as die ou paaie van God se verbond en die beloofde land as God se uiteindelike rus (Ex. 33:14; Jer. 6:16). Die Here Jesus is nou die vervulling daarvan.               ERE sy regsaak sal verdedifg en voeg dan b       

Besprekingsvraag: Wat is die verskil in kenmerke hier tussen die getroues en die ontroues?

Insig: Twee maal hoor ons in hierdie gedeelte oor ware rus (v. 28,29). Dit is waarna ons smag te midde van soveel redes tot onrus in hierdie wêreld – siektes, konflik, geldprobleme, onvervulde verlangens, oorloë, aanvalle, dreigings, skuldgevoelens, angs en vrees. En tog, wanneer die groot antwoord op al hierdie sake, Jesus Christus, in Israel begin optree reageer nie almal positief nie. Hy genees siekes, dryf demone uit, en openbaar sy mag oor die natuur as tekens van God se koninkryk en dat alles aan Hom oorgegee is deur die Vader, maar daar is diegene soos Betsaida en Kapernaum wat meer sien, meer lig ontvang, en tog hulle nie bekeer nie. Waarom nie? Twee redes vanuit verskillende hoeke word hier gegee.