2025/10/06

Terwyl Hy nog te vinde is

Lees: Jes. 55:6-13 

Gedagte vir kinders: Die tyd om terug te draai na die Here se pad van oorvloed is vandag.

Oorsig: Ons verstaan die uitnodiging en oproep van Jesaja 55 beter as ons onthou wat vooraf gebeur het. In Jes. 53:11 hoor ons dat die Kneg van die Here, baie regverdig maak en hulle skuld dra. Daarom deel God Hom uit vir baie mense en die Kneg verdeel die buit met baie mense (v.12, letterlik vertaal). Waarom kon dit gebeur? Omdat die Kneg van die Here (1) sy siel tot in die dood uitgegiet het, (2) as oortreder gereken is, (3) die sondes van baie gedra, en (4) vir sy oortreders gebid het. So het Hy, die Kneg en Messias, hoog en verhewe, ja baie hoog geword (vgl. Jes. 52:13). Daarom sal nasies opspring en gedoop word, en daarom betoon konings respek (Jes.49:7; 52:15; vgl. KJV; vgl. Mat. 28:18-20). Ja, so trek die Messias nou almal na Hom toe (vgl. Joh. 12:32). In Jesaja 54 hoor ons dan dat die volk Israel opgeroep word om te jubel, want nou kan Israel, die bruid wat onvrugbaar was, ’n groot nageslag hê. En dan kom die oproep in Jesaja 55 na almal om te kom na die oorvloed en dit te kom neem wat die Messias bewerkstellig het.

In vers 5 hoor ons dat hoe die nasies geroep sal word en hulle na die HERE getrek word en dat hulle selfs na Hom sal hardloop. Waarom? Ter wille van die HERE, omdat Hy Israel deur hierdie Messias verheerlik het (vgl. Jes. 52:13-Jes. 53:12). Maar dan kom weer die dringende oproep: Die HERE moet gesoek word terwyl Hy nog te vinde is en naby is (v. 6). Dit sal nie vir altyd so wees nie. Dit beteken konkreet dat (1) die goddelose sy weg sal verlaat en (2) die kwaadoener sy gedagtes. Dit beteken verder dat daar nie net van hierdie verkeerde dade en gedagte weggedraai word nie, maar ook dat (3) daar positief na die HERE omgedraai word. Dan sal barmhartigheid en menigvuldige vergifnis by Hom beleef word (v.7)  

Daar word vervolgens daarop gewys dat die HERE se gedagtes nie ons gedagtes is en sy weë nie ons s’n nie. Dit is soos die hemel wat hoër as die aarde is (v.8-9). Verder sal sy woord soos reën en sneeu wees uit die hemel wat die aarde deurvogtig en saad (produksie) en brood (voeding en versorging) gee. So sal God se Woord ook nie leeg terugkeer nie maar doen wat Hom behaag en voorspoedig wees in alles waartoe dit gestuur word (v.10-11).  Dan word die belofte gegee van ’n nuwe eksodus, ’n uittog van vreugde en vrede. Die natuur sal saam jubel. Berge en heuwels sal jubel en die bome van die veld hande klap. In die plek van ’n doringboom (simbool van die sondeval) sal ’n sipres (simbool van heerlikheid) opgaan. En net so vir die distel (simbool van die sondeval) sal ’n mirteboom (simbool van seën) opgaan. Dit sal die HERE se Naam verheerlik en ewige teken wees wat nie uitgeroei sal word nie (v. 12-13).  

Besprekingsvraag: Waarom word die mirteboom en die sipres as simbole gekies?

Insig: Jesaja 55 is gaan oor die uitnodiging na die groot oorvloed van God se banket. En tog, die verstommende is dat daar diegene wat dit nie hoog ag om na die Koning se feesmaal genooi te word nie (vgl. Luk. 14:18-20). Daarom moet ons naas die heerlike vrye uitnodiging in vers 1 ook die dringende oproep van vers 6 hoor: Soek die Here terwyl Hy nog te vinde is. Daar breek iewers ’n tyd aan wat die deure toegemaak word. Laat dit insink.