2013/07/06

Linkse heksejag

Ek is nie bekend met die hele smeerveldtog teen Paula Deen in die VSA nie, maar ek dink ek kan, saam met my leser, 'n gelykenis herken as ek dit sien. In hierdie bydrae van Rod Dreher, senior redakteur van die American Conservative, haal hy woorde van Walker Percy aan wat jou laat wonder of daar werklik 'n oseaan of twee is wat ons van mekaar skei: "Ek glo ernstig dat die ergste lot wat die stryd teen segregasie kan tref, die oorname daarvan deur die ortodoksie van die linkses sou wees." 
Linkses se heksejag kan dalk wêreldwyd die teendeel by mense begin bewerk. Dit sou nie heeltemal verbaas as die pendulum hieroor iewers in die toekoms heeltemal gaan terugswaai nie. Supermoralisme se reuk het nog nooit groot simpatie gevind nie.

2013/07/05

Mistasting oor gelykheid

Kom ons voltooi die mistasting trilogie met 'n derde aflewering wat ook wyer strek as ekonomie. Dit gaan oor die gebruiksfrekwensie van die woord gelyheid, meer bekend as "equality." Dit gebeur dikwels dat mense die woord in ons land gebruik om apartheid mee te demoniseer. Nou, ek dink nie dit is wys om enige tydperk uit die verlede te verheerlik as sonder sondesmet nie. Maar ek dink ook nie dit is goed om sonder nuansering en definisie die verlede te demoniseer nie. Die woord gelykheid word darem alte breedkwastig gebruik. Ilana Mercer herinner ons in haar onlangse besinning oor die Amerikaners se Independance Day aan iets wat baie meer gedebatteer behoort te word: Gelykheid voor die wet en gelykheid van regte was die oorspronklike bedoeling van die Amerikaners se onafhanklikheidsverklaring. Hulle wou dieselfde regte as die Engelse hê. Maar dit het nie terselfdertyd ook sosiale en ekonomiese gelykheid beteken nie. Dit vind geen ondersteuning in die politieke tradisie wat uit die Declaration of Independance voortgevloei het nie. Daar is wel 'n beweging wat hierdie saak verder wou laat strek, sê Mercer. Dit word die Franse Revolusie genoem. Hierdie onderskeid lyk vir my baie belangrik indien ons sinvoller wil gesels oor die verlede en hede van ons eie land.

2013/07/03

Mistasting oor zero-som denke

Indien jy die verduideliking wat volg aanvaar, kan jy nie meer op die ongekwalifiseerde beskrywing inkoop dat die rykes ryker en die armes armer word nie. Meer nog, dit is een van die beste maniere om vir mense soos ek en jy te help om van jaloesie op enige vlak vry te kom. Dat iemand anders met baie geseënd is, beteken nie dat ander nou net tevrede moet wees met wat oorbly nie. Nee, God se seën brei altyd uit en kan ook vir jou en my vul tot ons bekers oorloop. Dit sluit natuurlik baie, baie meer as ekonomiese voorspoed in. Ons behoort wel tevrede te wees met wat ons het (Heb. 13:5) en behoort ook moed te skep dat die Here diegene verhoog wat hulself onder sy kragtige hand verneder (1 Pt. 5:6). In my kerk sing ons 'n gesang met die volgende grootse woorde:

God neem die persoon die aan nie
Onderskeid, volk of tyd
God sien dit nie aan nie
Hy is ryk oor alle mense
wat Hom roep, wat hom soek
Sonder perk of grense

Ky nou met hierdie gesindheid na die denkfout wat in die insetsel aangetoon word:

Misgissing oor die gebreekte venster



2013/07/02

Wetenskap en verbeelding

'n Nuwe lansie ten gunste van die geesteswetenskappe is nodig. Hier is iets wat aantoon waarom BA-briljantjies die wis- en die onwiskundiges se verbeeldings kan rig.

2013/07/01

Top tien fiksieboeke vir dominees

Hier is die lysie van iemand wat nogal met Kuyperiane uithang. Ouens wat geneig is om die kognitiewe sy van ons menswees te oorspan, kan dalk baat vind by hierdie lys. Miskien, net miskien, is hierdie possie van meer waarde as baie ander inskrywings.

Sekularisasie en bypassende offers

Gil Bailie is nog nie klaar met ons nie. Die ou is gewoon 'n prik-prins en terg jou met idees sover hy praat. Dit moet jou laat nadink as jy hoor dat ook hy reken dat René Girard jou kop oopskop met sy mimetiese teorie. Maar wag, blootstel is hier die beste medisyne. 

Bailie reken dat die evangelie 'n desakraliserende krag in ons midde is. Toe die voorhangsel in twee geskeur en die offers afgeskaf is in Christus, kon godsdienstigheid nooit weer dieselfde wees nie. Vir Bailie het dit op voetspoor van Girard daarmee te doen dat Christus as sondebok die skuldverplasingsmeganisme eens en vir altyd aan die kaak gestel het as niksseggend buite Hom. Ek het nie volle vrede met hul verengde siening van die betekenis van Christus se kruisdood nie, maar dit is nou nie ter sprake nie. Die vars invalshoek wat Bailie bring is dat dit die unieke roeping van Christus is om die desakralisering van godsdiens te bemiddel op so 'n wyse dat dit gepaard gaan met 'n verhoging van godsdienstige sensitiwiteit. Dit klink soos 'n kontradiksie, maar dit is juis wat dit so uniek maak! Net Christus kan dit doen dat jou offerdrang afgeskaf word terwyl jou godsdienstige sensitiwiteit verhoog. En hier kom nou Bailie se witblits opmerking: As Christenskap nie nie sy regmatige plek inneem nie, vind daar eenvoudig 'n desakralisering in die wereld plaas wat inplof in sekularisering. Desakralisering word dus verwring tot sekularisering. En as jy nog nie regop sit nie, maak gereed vir die tydbom-uitspraak: Sekularisasie sal een of ander tyd herkonstitueer in een of ander offersisteem. Gewaarborg. 

Sekularisasie lyk aanvanklik na 'n algehele breuk met godsdiens, maar dit begin altyd van voor af om dieselfde patroon te herhaal. Waarom? Indien jy bekend is met mense en verder erken dat René Girard iets beethad oor jaloesie en spanning wat oplaai tot by die punt van sondebokontlading, behoort jy nie verbaas te wees nie. Bailie roep ons op om uit te kyk vir die sogenaamd algehele breuke in die geskiedenis. Uiteindelik doen die "nuwe begin" presies dieselfde as wat godsdiens nog altyd gedoen het: Die bloed vloei vir een of ander saak soos wat die nuwe weergawe van offers gebring word. Vra maar vir die Franse revolusie. En verligte sekulêre mense is te blind om te besef dat hulle nie werklik vry is van die offermotief nie.