In een van my
studiegidse het ek die volgende raakgeloop:
"Ons moet
nie die fout maak om die Kerk as bykomstig te sien in die lewe van Christene
nie. Mense leef óf selfverwysend óf Godverwysend en die Kerk bied aan
ons die konkreet-wonderlike wyse waarop ons Godverwysend en meer nog, in
gemeenskap met die Drie-enige God mag leef. Hierdie bediening in die Kerk
geskied verder langs die weg van ampte waardeur Christus sy gesag en genade aan
mense bedien en ons moet dit alles waardeer as gegee om ons te begelei in ons
wandel met God en in die deelhê aan die gemeenskap van die Drie-eenheid."
Waar dit nie
gebeur nie en die kerke leeg word, word die tronke vol, het onse voorouers
gesegdegewys gesê. Ons kan dit deftig in ander woorde plooi, maar die insig bly
relevant. Dit is dat die samelewing sekulariseer, en allerhande geite verwag
kan word om na vore te tree waar God en sy gebod vir mense op die agtergrond
staan. Dit bly egter simptome van 'n dieper probleem: Die gebrek aan gemeenskap
en wandel met God in en deur Christus en sy liggaam.
Die bekende evangeliserende Biskop op sosiale media, Robert Barron, was onlangs in gesprek met die Iranees-Amerikaanse joernalis en opkomende
konserwatiewe intellektueel, Sohrab Ahmari. Dit het gehandel oor Ahmari se nuwe
publikasie, The Unbroken Thread:
Discovering the Wisdom of Tradition in an Age of Chaos. Jared Zimmerer, die
Senior Direkteur van die Word on
Fire Instituut, het die gesprek gelei.
Daar is by bepaalde temas van Ahmari se boek stilgestaan, maar die tema
waaroor dit hier gaan, kan gevind word vanaf die 20ste minuut tot en met
ongeveer die 38ste minuut. Dit is die tema wat Zimmerer beskrywe as 'n
kulturele verlies, 'n geestelike verlies, ja selfs 'n metafisiese verlies.
Indien iemand nog wonder, dit gaan oor die Sabbat, of die Dag van die Here, of
soos hoofstuk drie van Ahmari se publikasie dit stel, "waarom sou God wou
hê dat jy 'n dag af moet neem?
Zimmerer se verband wat hy trek met 'n metafisiese verlies is insiggewend.
Dit spruit voort uit Biskop Barron se opmerking net vantevore dat al ons
standpunte voortvloei uit ons metafisika, of ons daarvan bewus is of nie. In
pronter Afrikaans gestel: Alles vloei voort uit ons visie op die werklikheid,
wat ook die werklikheid anderkant ons sintuie insluit. Al ons standpunte spruit
met ander woorde voort uit ons wêreldbeskouing, of om dit nog meer deftig uit
te druk, uit ons metafisiese aannames. Dit sluit jou beskouing van, benadering tot en deelname aan Sondag in.
Ahmari verwys na rabbi Abraham Joshua Heschel wat 'n bekende intellektueel uit
Pole in die middel van die vorige eeu was. In Pole was die Sabbat volgens Ahmari
toe nog gesien as die sentrale hegstuk van die lewe. Heschel het daarop gewys
dat dit wat lyk na beperking, inderwaarheid bevryding was. Ja, die Sabbat was
die bron van innerlike vryheid. Dit was die wyse waarop die geopolitieke en kommersiële
ryk van ruimte verruil is vir die ryksgebied van tyd. Dit was die tydsruimte
waar intenser bewuswording van God plaasvind - die God wat nie van enige
gebeurlikhede afhanklik is nie, wat ewig is, en waar intieme tyd met Hom
spandeer kon word. Dit het daarom ook verder gegaan oor 'n sabbatsvisie waar mense gewaardeer is
vir wie hulle is en nie bloot vir wat hulle doen nie.
Dit is hierdie sabbatsvisie, sê Ahmari, wat verloor is in die naam van
vryheid. Hy staan selfs op die standpunt dat die sogenaamde “blue laws” van
Sondagswetgewing herstel moet word. Is dit nie outoritêr nie? Volgens Ahmari
is die antwoord nee en hy wys daarop dat die VSA met sy protestantse DNA maar
eers in die laaste drie tot vier geslagte begin het om aan hierdie ou tradisie
weg te kalwe en die resultaat daarvan formuleer hy op treffende wyse: Die
vryheid van die Sabbat is verruil vir die vryheid van die markte. Ons het dit
verloor, se Ahmari en skielik is alles nou oop op Sondag.
In die eerste aflewering is die klassieke publikasie van ’n politieke filosoof
van die twintigste eeu, Eric Voegelin, bekend gestel. Volgens Voegelin is die Gnostisisme
die essensie van modernisme en nuwe dinge is nie so nuut is soos wat ons dink
nie. Hy is van mening dat daar duidelike motiewe, simbole en denkpatrone van
die gnostiese bewegings tot in ons tyd geëien kan word. In hierdie aflewering
kyk ons na sy tweede en laaste essay in sy publikasie met die titel Science,
Politics and Gnosticism.
Surrogaat-godsdiens: Gnostieke massabewegings
In sy tweede referaat, Ersatz Religion: The Gnostic Mass Movements of
our Time, hanteer Voegelin die gnostiese
massabewegings en die intellektuele bewegings van sy tyd (en ons tyd) as
minderwaardige plaasvervangende godsdienste. Insiggewend genoeg toon hy hiermee
aan dat daar nie so ’n groot verskil is tussen massabewegings en intellektuele
bewegings as wat sommige dink nie. Voegelin voer aan dat beide hul oorsprong
het in bepaalde intellektuele en kleingroepe. Dit laat ’n mens dink aan die
kleingroepe waaruit die Kerk ook gegroei het en versterk die vermoede van die
nabootsing van godsdiens. Hierdie vermoede word ook verder bevestig wanneer
Voegelin opmerk dat ons die woord altruïsme aan Auguste Comte te danke het, en
dat dit die sekulêre plaasvervanger vir liefde is wat gebruik om word om die
broederskap van mense sonder die Vaderskap van God te erken. Hieronder tel hy die
progressiwisme, positivisme, Marxisme, vorme van psigoanalise, kommunisme,
fascisme, en nasionale sosialisme.
Voegelin identifiseer ’n gnostiese lyn vanaf die antieke Mediterreense gebied
deur bewegings van die Hoë Middeleeue heen, tot by die Westerse Renaissance en
Reformasie. Hy identifiseer ses kenmerke van die gnostiese houding. (1) Ontevredenheid
met die eie situasie (nie so vreemd nie); (2) die geloof dat die situasie te
wyte is aan swak organisasie van die wêreld (meer vreemd – dit is hiervolgens
strukturele probleme eerder as sonde-probleme); (3) redding uit hierdie bose toestande/strukture
is moontlik; (4) Die wese van die wêreld moet verander word in ’n
geskiedkundige proses; (5) Die verandering moet geskied deur menslike aksie en die
mens se eie pogings; (6) die ingeleides met kennis sal vir ons die metode wys hoe
dit moet gebeur. Dus: ’n formule vir selfverlossing en wêreldverlossing.
Tipiese simbole
Hierdie houding vind uitrukking, nie net in bepaalde denkpatrone nie, maar
ook tipiese simbole. Die motiewe en simbole sal hier net kortliks genoem word, en
dan sal daar veral na twee uitdrukkings daarvan gekyk word wat ligte tot in ons
dag laat opgaan.
Ons is almal nou Gnostieke. Dit is die vangfrase wat onlangs in 'n podsending
gebruik is toe die metafisiese uitkyk van ons tyd ter sprake was. Een van die
verwysings wat die stelling moes staaf, was hierdie kern-werk van Eric Voegelin
wat nagenoeg 100 bladsye beslaan en wat dateer uit 1959-60.
By die herlees van hierdie werk kom die uitlokkend polities korrekte spot
by 'n mens op. Dit is dat 'n blonde man drie keer vir 'n grap lag - wanneer hy
dit hoor, wanneer hy dit oorvertel, en wanneer hy dit verstaan. Voegelin se
werk maak van die meeste van ons, in elk geval van hierdie bekendsteller,
blonde mans. Vergun my daarom om oor te vertel, sodat ook ek kan snap. Volgens
Voegelin is Gnostisisme die essensie van modernisme. Die stelling behoort
aandag te trek, aangesien hierdie bondige werk van Voegelin beskou word as ’n
klassieke werk in moderne politieke teorie volgens Ellis Sandoz wat die
voorwoord geskryf het. Sandoz wys daarop dat hierdie werk van Voegelin ongeveer
agt jaar na sy publikasie, TheNew Science of Politics (1952), verskyn
het en dat hierdie later werk die tweede gedeelte van die genoemde publikasie
verdiep.
Moet ook nie die fout maak om te reken dat selfs hierdie stelling in vandag
se post-wêreld agterhaald is nie. Ons is mos, so reken baie, darem nou lankal
uit die modernisme uit en in die post-postmodernisme in. By die lees van
Voegelin word dit egter duidelik dat Voegelin ook vaders van die post-gedagtes - soos Nietzsche, soos Joachim van Fiore -
insluit. Om die waarheid te sê, Voegelin sou vandag waarskynlik sê dat die
skadu van Gnostiekeland bloot duideliker en donkerder geword het. En deel van
die dilemma is, sê Voegelin oorgeklank, dat ons steeds met gnostiese konsepte
probeer om uit te klim uit die gnostiese gat wat ons vir onsself gegrawe het.
Wat moet dan gebeur?
Dorothy Sayers is bekend vir haar woorde oor
dogma en drama:
"We are constantly assured that the
churches are empty because preachers insist too much upon doctrine—dull dogma
as people call it. The fact is the precise opposite. It is the neglect of dogma
that makes for dullness. The Christian faith is the most exciting drama that
ever staggered the imagination of man—and the dogma is the drama."
Sayers gaan dan voort om daarop te wys dat dit
sentraal staan in die vraag na wie Jesus as die Christus in die belydenis van
die Kerk is. Sy wys dan ook op die dramatiese Persoon van Jesus Christus wat in
die dogma van die Kerk bely word.
Op my radar het ek 'n aantal jare gelede aan die
hand van die teoloë, Kevin Vanhoozer en Michael Horton, met hierdie
dramatiese beklemtoning van Sayers bekend geraak. Die drama-aspek het dan ook
'n goeie, en ek wil byvoeg boeiende effek, in beide Vanhoozer en Horton se
teologie tot gevolg. Dit is natuurlik ook kenmerkend van ons tyd om die
sosiale aspekte van die werklikheid uit te lig en waar dit reg gedoen word, kan
dit definitief help met vrugbare ontsluiting. Dit kan ook help om konstante en
dinamiese benaderings met mekaar in spel te hou. Solank die dinamiese net nie
die konstante en permanente aard wil versluier of verslind nie, want dit is wat
ongelukkig te tiperend van ons tyd geword het. Maar dit kan vir seker help om
die vonkel uit te ken, ja ook die vonkel van ouderdom en goeie wyn. So gebruik
Horton 'n treffende struktuur van vier dawerende D's om die verskillende loci
van die sistematiese teologie te benader: Drama, dogma, dissipelskap,
doksologie.
Vergun my ook 'n verdere D: diepte. Die dogma
gee diepte aan die boodskap van die Skrif. Daarsonder is die prediking
opsigtelik plat.
Waarom lyk dit deesdae of alles skielik intuimel? Waarom is daar sulke
definitiewe optrede om alles wat voorheen aanvaarbaar was nou te bevraagteken
en te vervang? Waarom kan ’n universiteit byvoorbeeld nou selfs begin reëlings
tref dat studente nie eers meer as dames en here aangespreek behoort te word
nie? Peter Burfeind, ’n leraar in die Lutherse tradisie, het ’n baie
definitiewe antwoord. Soms kry ’n mens die gevoel dat hy ’n hamer gevind het en
dat alle kwessies nou spykers is wat hy daarmee kan slaan. En tog, daar is net
te veel spykers wat wel raakgeslaan word wanneer Burfeind die hamer optel.
Burfeind het jarelank (sedert die middel van die 1990’s) ondersoek ingestel
na die ou dwaalleer van die Gnostisisme wat telkens nuwe gedaantes in die
geskiedenis gekry het. Om die waarheid te sê, Burfeind wys daarop dat hierdie donker
dwaalleer reeds in die Bybelse tye na vore getree het (vgl. 1 Johannes) en dat
dit die Kerk soos ’n skaduwee deur die eeue heen volg. Burfeind reflekteer onlangs
oor sy publikasie wat uiteindelik in 2014 verskyn het, Gnostic America,
en noem die dwaling die duiwel se teologie. Hy stel dan dat hy geleidelik met
sy navorsing begin besef het dat die probleem groter is as wat hy gedink het.
Daarom wys hy uiteindelik in hierdie werk die invloed van die Gnostisisme in
Amerika op godsdiens, kultuur en politiek. Sy toepassings toon egter duidelik
aan dat dit nie net ’n probleem in Amerika is nie, maar ook in baie ander
eertydse Westerse lande.
Waaroor gaan dit in die Gnostisisme en hoe is hierdie ou dwaling vandag
steeds springlewendig?
Dit is weer tyd vir Christene se herdenking van die Hemelvaart.
Dit is ook die Christelike vakansiedag wat in Suid-Afrika reeds gesneuwel het. In
baie Europese lande word die dag verbasend genoeg nog steeds as vakansiedag
herdenk, maar dikwels is die werklike betekenis daarvan reeds lankal verlore.
Dit is daarom heel gepas om by die herdenking van die Hemelvaart weer te hoor
hoe belangrik hierdie aspek van ons geloof is en waarom dit verdien om weer ingestel
te word.
Patrick Schreiner, Professor in Nuwe Testament in Kansas City, Missouri in
die VSA, het in 2020 ’n belangrike bydrae hieroor gelewer in die bondige Snapshot-reeks
in teologie. Schreiner skryf in ’n behoorlik Bybelbelaaide publikasie
oortuigend oor die belang van die Hemelvaart-gebeure vir ons lewe en ons
teologie. Hy begin heel gepas met ’n aanhaling van die behoudende Douglas
Farrow van Kanada, die teoloog wat in die onlangse tyd geweldig baie gedoen het
om die belang van Hemelvaart weer op die agenda te plaas: “Dit is opmerklik hoe
min die Hemelvaart deesdae genoem word. Eens was dit gesien as die
hoogtepunt van die verborgenheid van Christus ... Vandag is dit 'n
verleentheid.”