Lees: Luk. 7:18-35
Gedagte vir kinders: Deur Jesus se kruis kan ons huil oor ons sonde en
lag oor ons verlossing.
Oorsig: Hierdie
gedeelte toon drie duidelike dele. In v.18-23 lees ons van Johannes die Doper
se vraag aan Jesus asook sy antwoord daarop. Daarna gee Hy aan hulle ’n beoordeling
van Johannes die Doper en ons hoor die mense se reaksies (v.24-30). En dan hoor
ons die Here Jesus se reaksie op die mense se reaksies op sy bediening en die
van Johannes as sy voorloper (v.31-35).
Johannes
was ’n profeet, maar profete word nie lank verdra as hulle mense se sonde
aantoon nie. Johannes die Doper was in die tronk omdat hy selfs koning Herodes
vermaan het omdat hy sy broer se vrou afgeneem het. En daar sit hy toe in die
tronk en hoor van die dade van die Messias, maar alles gebeur nie presies soos
wat Johannes verwag het nie. Heel moontlik het Johannes, soos ons, verwag het dat
dinge vinniger en kragtiger moes gebeur sodat God se koninkryk duidelik sou deurbreek
in hul eie omstandighede. Die Here Jesus wys egter op sy kragtige dade van
genesing. Daarmee het Hy bevestig dat hy die werk doen waaroor profete soos Jesaja
reeds lankal geprofeteer het (Jes. 35:5-6; 26:19; 29:18-19; 61:1). Daarmee het
hy aan Johannes en ander bevestig dat Hy wel besig was om die Skrifte te vervul
en dat Hy wel die Messias is en dat elkeen salig is wat nie aanstoot neem aan
Hom nie (v.23).
Die Here Jesus het toe vir die skare aangedui dat Johannes die Doper ’n baie besondere profeet. Hy was die vervuller van Maleagi se profesie en daarom die voorloper van die Messias (vgl. Mal. 3:1; v.27). Niemand in die Ou Testament was groter as hy nie, juis omdat hy op die Messias gewys het. En tog het die Here Jesus iets merkwaardig hierby gevoeg. Hy het gesê dat die kleinste in die koninkryk groter is as Johannes die Doper.