2023/03/28

15 Kolpunte vir die prediking

Ek het onlangs via ’n student weer te doen gekry met ’n handige skema wat sy mentors in ’n ander konteks (blykbaar afkomstig van prof Jorrie Jordaan) vir hom gegee het. Dit bied ’n handige werkswyse aan die hand waarvan hy sy prediking vanuit die Skrif kon struktuur. Treffend is alreeds die begin: Die hele proses behoort biddend benader te word.

Daardie basiese skema word opsommend hieronder geplaas en met geen oogmerk om verbatim aan te haal nie. Daarna gaan ek poog om, vir wat dit ook al werd mag wees, uit te bou met ’n paar gedagtes wat waarskynlik in die oorspronklike werk ook aandag kry. Die bedoeling hier is om in joernaal-formaat dit hier te stoor vir snuffelaars vir die toekoms, en met ’n tweeledige doel. Sommige lesers mag dalk meer byklank by my eerste afdeling vind en ander moontlik by die pulse van my tweede afdeling. En as ’n omnivoor miskien ook soms gelukkiger lyk, wel, dan vind vermenigvuldigende vreugde mos plaas, veral wanneer hoorders uiteindelik hierdeur geseën word.

Hier volg dan Prof. Jorrie se struktuur volgens hoorsê vanaf mentors uit die Dopperwêreld:

Al het jy ook gesterwe

Lees: Joh. 11:1-53

Gedagte vir kinders: Jesus Christus is sterker as die dood.

Oorsig: Ons lees hier van drie naby-vriende van die Here Jesus buitekant sy dissipelkring (vgl. ook Luk. 10:38-42): Lasarus en sy twee susters, Martha en Maria. Van Maria lees ons later dat sy die Here se voete gesalf en met haar hare afgedroog het (Joh. 12:1-11; maar anders as Luk. 7:36-50). Hier hoor ons nou dat Lasarus baie siek geword het. En die susters het toe ’n boodskap na die Here Jesus (buitekant Judea) gestuur dat hy, Lasarus, vir wie die Here Jesus liefgehad het, siek was (v.1-3). Die Here het egter nie dadelik gegaan nie, maar twee dae gewag totdat die tyd reg was, sodat God en sy Seun daardeur verheerlik sou word. Die dissipels wou egter keer, omdat mense onlangs die Here Jesus daar wou doodmaak. Jesus het hulle egter daarop gewys dat hulle in die lig moes wandel en nie bang wees vir die duisternis nie. Hy het hulle ook vertel dat Lasarus dood is, en dat dit tot geloof sou lei (v.4-16).

Daar aangekom, hoor hulle toe dat Lasarus al vier dae in die graf was. Martha het na Jesus toe uitgegaan en vir Hom gesê dat Lasarus nie sou gesterf het as Hy daar was nie. Tog het sy steeds geglo dat Jesus iets kon doen. Sy het ook geglo aan die opstanding eendag, maar toe wys die Here Jesus haar in sy Ek-is uitspraak, dat Hyself die opstanding en die lewe is. Wie in Hom glo, sal lewe, ook na die dood, en sal leef tot in ewigheid. Toe Hy haar vra of sy dit glo, het sy ja gesê en dat sy glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God, wat in die wêreld sou kom (v.17-27). Daarna het sy stilletjies na haar suster, Maria, gegaan en gesê dat Jesus haar roep. Maria het ook met dieselfde woorde as Maria begin en toe begin huil en so ook die mense wat saam met haar was. Dit het die Here Jesus geweldig hartseer gemaak. Hy het te gevra waar hulle Lasarus neergelê het. Hulle het Hom gewys en Jesus het geween (v.28-37).

By die graf (spelonk) het die Here weer baie hartseer geword,  en gevra dat hulle die steen wegrol. Toe het Hy gebid en die Vader gedank dat Hy Hom verhoor het en dat Hy bid sodat die mense kan glo. Daarna het Hy met ’n groot stem uitgeroep: “Lasarus, kom uit!” Lasarus het toe uitgekom, sy gesig met ’n doek toegedraai en aan die hande en voete met grafdoeke gebind. Die Here Jesus het toe beveel dat hulle moes losmaak en laat gaan. Baie het toe geglo, maar ander, veral onder die leiers, het net meer rede gesoek om Jesus dood te maak. Die hoëpriester het selfs gereken dit is beter dat een man sterwe as dat die hele nasie omkom. Dit was egter profetiese woorde oor wat Jesus Christus vir die wêreld sou doen (v.38-53).

Besprekingsvraag: Watter verskillende elemente is daar in Christus se antwoord aan Martha?

Insig: Ons kry hier so ’n eenvoudige en kragtige model vir gebed oor siekte: “Here, hy/sy vir wie u liefhet, is siek.” Die Here openbaar hier dat sy antwoorde nie altyd kom soos ons dit verwag nie en dat Hy soms wag, juis omdat Hy liefhet. Hier stel Christus die antwoord uit met twee dae (Lasarus dus in elk geval reeds dood) omdat Hy hiervan ’n teken vir alle tye wil maak, die sesde teken in Johannes, nog groter as die vyfde teken van die blinde man (Joh. 9), en in afwagting op die sewende en grootste teken van alle tye – Christus se sterwe en opstanding. Sodat hulle reeds voor sy dood kan glo dat Hy mag oor die dood het. Christus stel dus uit sodat Lasarus al meer as vier dae dood is en die ontbinding al begin het. Sodat mense kan sien wat gebeur as die grootste realiteit vir ons elkeen, die dood, met Hom gekonfronteer word.

2023/03/18

Lig en Verligting

Lees: Joh. 9

Gedagte vir kinders: Jesus  is deur die Vader gestuur om ons van sonde te genees.

Oorsig: In Johannes lees ons van die Ek is-uitsprake van die Here Jesus (vgl. Joh. 6:35; 10:9,11,14; 11:25; 14:6; 15:1,5.) Hierdie een gebeur by die fees van die ligte wat saamgaan met die Jode se viering van die huttefees. Daar het die Here Jesus gesê (Joh. 8:12): “Ek is die lig van die wêreld; wie My volg, sal sekerlik nie in die duisternis wandel nie, maar sal die lig van die lewe hê.” In hoofstuk 9 lees ons nou hoe dit in die praktyk gedemonstreer is.

Ons lees van ’n man wat blind was vanaf sy geboorte, maar die Here Jesus het hom raakgesien. Hy help sy dissipels reg as hulle vra of hy blind was deur eie of sy ouers se sonde: Die werke van God sou in Hom geopenbaar word. Christus smeer toe klei aan sy oë, en sê vir Hom om hom te gaan was in die badwater van Siloam (Uitgestuur). Die man het dit gedoen en hy kon toe sien! (v.1-7). Hierna lees ons van die mense wat hom vroeër geken het se eenvoudige vrae oor wat gebeur het en die man se eerlike antwoorde oor die eenvoud waarin Jesus Christus met hom gewerk het totdat hy kon sien. Hy het egter nie meer verder kontak met Jesus gehad nie (v.8-12). Ons lees hierna van die Fariseërs se agterdogtige vrae wat selfs verdeeldheid onder hulleself bring, omdat die genesing op die Sabbat gebeur het, asook die man se eenvoudige antwoorde (v.13-17). Daarna hoor ons dat die man se ouers ondervra word. Hulle erken wel dat hy blind was, maar hulle ontwyk die antwoorde verder en gooi die bal terug na die seun self, omdat hulle bang was om uit die sinagoge geban te word (v.18-23).

Die Fariseërs wend hulle daarna vir die tweede keer direk tot die man wat siende geword het en vra nou meer uitdagende vrae. Die man is egter nie bereid om hulle hul sin te gee en bly by sy eenvoudige antwoord oor wat hy beleef het dat Christus vir hom gedoen het. Hy weet een ding wat niemand kan ontken nie – hy was blind en nou sien hy. Hy ontmasker hulle ook deur sy vrae en hulle skors (verban ) hom (v.24-34). Daarna lees ons dat die Here dit hoor en die man weer opsoek. Hy openbaar Homself nou verder aan die man as die Seun van God. Hierop gee die man ’n antwoord van geloof en aanbidding (v.35-38). Dit lei tot die Here Jesus se woorde: Hy is die lig wat  mense laat sien, maar in die proses ook tot ’n oordeel vir hulle wat hardnekkig wil maak asof hulle self kan sien en eintlik geestelik blind is. Sulke mense bly in hulle sonde omdat hulle maak asof hulle Christus nie nodig het nie.

Besprekingsvraag: Watter konflik bring die lig van Christus daarmee saam?  

Insig: Die betekenis en gevolge van Jesus Christus as Lig van die wêreld, word hier dramaties uitgebeeld. Die aangrypende gebeure het hier ook ’n simboliese dimensie:

2023/03/17

Bron van die Kerk se lewe

Lees: Ex. 17:1-7

Gedagte vir kinders: Die Here kan in moeilike omstandighede wonderlike uitkoms bring.

Oorsig: Nadat Moses die volk Israel deur die Rooi See gelei het, het die Here hulle begin beproef. Hulle was wel gered uit Egipte, maar in die skool van die woestyn moes hulle geloof nog baie gesuiwer word. Ons lees net na die wonderlike verlossing by die Rooi See en die bevestiging dat God self stry vir sy volk en dat Moses waarlik sy kneg is, dat die volk gou ongelowig raak by die eerste krisis. By Mara is die water bitter (Ex. 15:22-27). Later raak hulle honger (Ex. 16:1-36), en toe hulle by Rafidim op bevel van die Here kom, die gedeelte wat ons vandag lees (Ex. 17:1-7), was daar geen water om te drink nie (v.1).       

In plaas daarvan dat die volk in die geloof hierop reageer, twis die volk toe met Moses. Hulle eis toe dat Moses en die ander leiers vir hulle water moet gee om te drink. Moses het hulle toe gevra waarom hulle met hom twis. Dit was mos die HERE wat hulle tot daar gelei het, en waarom wou hulle dan die HERE versoek, met ander woorde op hulle voorwaardes toets asof Hy Homself nie genoeg bewys het nie (v.2). Maar die volk het sterk gesug (gesmag) na water en daarmee saam teen Moses gemurmureer (“gemoan”). Hulle het gevra waarom Moses hulle dan uit Egipte uitgelei het om hulle, hul kinders en hul vee, van dors te laat omkom (v.3).

Moses het toe die HERE aangeroep. Hy het gevra wat hy met die volk moet doen, want hulle was op die punt om hom te stenig (v.4). Die HERE het toe vir Moses geantwoord dat hy voor die volk moes uittrek en van die oudstes in Israel moes saamneem. Hy moes ook sy staf neem waarmee hy die Nyl geslaan het (v.5). Die Here het gesê dat Hy daar by die rots op Horeb sou wees en daar moes Moses met sy staf op die rots slaan. Dan sou daar water uitkom sodat die volk kon drink. Moses het toe so gedoen voor die oë van die oudstes van Israel (v.6). Ons lees in die Psalms dat daar behoorlik water uitgestroom het: “Hy het 'n rots oopgemaak, en waters het gevloei; dit het geloop deur die dor plekke - 'n rivier!” (Ps.105:41) “Hy het rotse gekloof in die woestyn en hulle oorvloedig laat drink soos uit watervloede ... soos riviere.” (Ps. 78:15-16). Moses het daardie plek toe Massa (versoeking) en Meriba (twis) genoem omdat die kinders van Israel daar getwis het en omdat hulle die HERE versoek het (v.7). Hoe het hulle die HERE versoek? Deur te vra of die Hy werklik in hulle midde is. Ja, hierdie plekke moes Israel herinner dat hulle die Here versoek het terwyl Hy soveel wonders aan hulle in Egipte en by die Rooi See en ook daarna gedoen het. En tog was die HERE hulle genadig.          

2023/03/06

Die weg van seën vir die nasies

Lees: Gen. 12:1-9

Gedagte vir kinders: Die God wat jou roep om Hom te volg, gee wonderlike beloftes.

Oorsig: In Genesis 11 lees ons van mense wat vir hulleself ’n naam wou maak met hulle groot projek met die toring van Babel. Die Here het hulle geoordeel deur hulle tale te verwar en toe het die geslagte oor die hele aarde versprei. Ons hoor dan hierna van die stamboom van Sem. Uit hierdie stamboom is Abraham gebore en deur Hom sou die HERE sy plan vir die wêreld in werking stel en wys hoe Hy ’n naam aan iemand gee. Ja, ’n groot naam sou nie gebeur omdat mense dit vir hulleself wou maak nie, maar op die weg wat God daarvoor bepaal het. Deur die martelaar, Stefanus, weet ons dat hierdie besondere pad wat God met die wêreld sou stap deur die volk Israel tot by die Messias, begin het toe God aan Abram verskyn het toe hy in Mesopotamië, in die land van die Chaldeërs, gebly het (Hand. 7:2, 4).