2023/04/29

Die Herder en Gasheer

Lees: Psalm 23

Gedagte vir kinders: Die Here Jesus is ons goeie herder.

Oorsig: Psalm 23 gebruik twee besondere beelde om ons Here en Verlosser te beskryf: Herder en Gasheer. Hierdie Psalm van Dawid spel die konsekwensies daarvan uit. Die Psalm begin reeds verstommend. Die HERE, skepper van hemel en aarde, Verbondsgod van Israel en later die Kerk, is my Herder. Dawid was self ’n herder van skape en later ’n koning-herder van ’n volk (vgl. Es. 34:1-5; 37:24). Dawid het geweet van herderskap en kan daarom die Herder-beeld besonders toepas. Die herder-beeld vir die HERE was ook deurgaans in Israel belangrik (Gen. 48:15; Dt. 2:7; Es. 34:12).

Omdat die HERE my herder is, sal niks in my lewe kortkom (ontbreek) nie (v.1). Gelowiges het wel baie begeertes en nie alle wense is goed of word noodwendig hier vervul nie, maar daar kom niks kort wat ek werklik nodig het nie. (vgl. Fil. 4:6-7). Hierdie Herder laat my verder neerlê in groen weivelde - totaal ontspan in vertroue by Hom en die groen belewenis van sy sorg in weivelde. Hy lei ook na waters van rus wanneer ek opstaan vanuit sy rus (v.2). Hy verkwik/herstel verder my siel - Hy bring lewe terug in my diepste wese wanneer dit uitgeput is. Sy leiding is verder spesifiek in die spore van geregtigheid – dit is die pad van lewe en onsterflikheid (vgl. Spr. 12:28). Hy doen dit alles om sy Naam ontwil (v.3). Dit beteken nie dat Hy dit nie doen vanuit ’n slegte ego nie, maar om sy wonderlike Naam en wese aan ons en die wêreld bekend te maak. Hierdie sorg beteken dat ek geen onheil hoef te vrees nie, selfs nie daar waar die skaduwee van die dood dreig nie, soos daar waar skape in baie gevaarlike plekke verkeer. Waarom nie? Want hierdie Herder is met my. Hy het ’n stok en ’n staf - die stok om te slaan en te beskerm en die staf om te begelei, aan te help en te dissiplineer op die regte pad. Dit gee troos en stel gerus (v.4).  

Die beeld van herder gaan hierna oor na die beeld van die gasheer. Die HERE is self, verstommend genoeg,  ons Gasheer. Hy berei ’n tafel vir my, wat teken is van ’n intieme verhouding en oorvloed. Die verstommende is dat dit gebeur te midde van en teenoor die vyande wat dit moet aanskou. Die hoof word gesalf (vet gemaak) met olie, soos 'n eregas, en die oorvloed is so groot dat die beker oorloop (v.5). En dit bring die Psalmis by sy gevolgtrekking. Wat hom sal volg, soos wat hy die Herder volg, is net God se goedheid en guns (chesed: verbondstrou), al die dae van sy lewe. Meer nog, Hy sal in die huis van die Here bly vir altyd (in lengte van dae – v.6). Dit mag elke gelowige agterna sê.

Besprekingsvraag: Hoe voorkom ons dat ons hierdie Psalm soetsappig lees?

Insig: Ons moet daarteen waak om hierdie Psalm bloot sentimenteel te lees.

Opstanding, Woord en brood

Lees: Lukas 24:13-35

Gedagte vir kinders: Die hele Ou testament profeteer van Jesus Christus wat sou kom.

Oorsig: Op die dag van die Here Jesus se opstanding, was twee van sy dissipels op pad na ’n dorp met naam van Emmaus wat so 12 kilometer van Jerusalem af was. Hulle het met mekaar gepraat oor alles wat met Jesus Christus in Jerusalem gebeur het (v.13-14). Terwyl hulle praat het Jesus self nader gekom en met hulle saamgeloop. Hulle oë is egter verhinder om Hom te herken (v.15-16). Hy het hulle toe gevra waaroor hulle praat en waarom hulle hartseer was.

Die een wie se naam Kleopas was, het verbaas gevra of Hy dan ’n vreemdeling in Jerusalem was. Die Here Jesus het hulle verder uitgevra en hulle het toe geantwoord dat dit gaan oor wat met Jesus die Nasarener gebeur het wat ’n profeet was en dit gewys het in sy werk en woord voor God en die hele volk (v.18-19). En tog is Hy toe deur die owerpriesters en owerstes oorgelewer tot die doodstraf deur kruisiging. Hulle het bygevoeg dat hulle gehoop het dat Hy die Een sou wees wat Israel sou verlos. Hulle het daarop gewys dat dit toe al die derde dag was vandat die kruisiging plaasgevind het, en dat sommige vroue hulle ontstel het nadat hulle by die graf was. Want hulle het sy liggaam nie gekry nie, en toe ook ’n gesig gesien van engele wat gesê dat Hy lewe. So het ander ook na die graf gegaan en dit soos die vroue gevind, maar Hom het hulle nie gesien nie (v.20-24). 

Die Here Jesus het toe geantwoord dat hulle onverstandiges is met harte wat traag is om alles te glo wat die profete gespreek het. Hy het daarop gewys dat die Christus juis so moes ly en sy heerlikheid ingaan. Toe het Hy van Moses af (die eerste vyf boeke) vir hulle uitgelê in al die Skrifte die dinge wat op Hom betrekking het (v.25-27). So het hulle by Emmaus aangekom en die Here het gemaak of Hy verder wou gaan. Hulle het by Hom aangedring om by hulle te bly omdat dit amper aand was. Hy het toe ingewillig en aan tafel het Hy gedoen wat Hy ook by die vermeerdering van brode en by die eerste nagmaal gedoen het. Hy het die brood geneem, gedank, dit gebreek en aan hulle gegee (v.28-30). Toe het hulle oë oopgegaan en het hulle Hom erken. Daarop het Hy uit hulle gesig verdwyn. Hulle het toe erken hoe brandend hulle harte was toe Hy op die pad die Skrifte vir hulle uitgelê het. Hulle het toe dadelik opgestaan en teruggegaan na Jerusalem. Daar het die dissipels hulle vertel dat die Here aan Simon verskyn het. Hulle het toe ook vertel wat op hulle pad gebeur het en hoe die Here Jesus aan hulle bekend geword het by die breking van die brood (v.31-35).  

Besprekingsvraag: Noem gedeeltes uit die Ou Testament wat duidelik heenwys na Christus.  

Insig: Ons verneem hier van die eerste wandel en die eerste maaltyd in die nuwe skepping wat Christus deur sy opstanding ingelei het. Adam en Eva wandel met God, maar hulle oë gaan oop vir hul sonde toe hulle eiewillig eet. Hierdie dissipels se oë gaan oop vir die Verlosser nadat hulle met Hom wandel, en deur sy Woord en brood gevoed word.

Omvou en uitgestuur

Lees: Joh. 20:19-31

Gedagte vir kinders: Hulle wat in Jesus glo, sonder dat hulle Hom gesien het, is baie gelukkig.

Oorsig: Die Here Jesus het uit die dood opgestaan op die eerste dag van die week. Op daardie dag, in die aand, het die dissipels bymekaar gekom en die deure gesluit uit vrees vir die Jode. Maar Jesus het skielik in hulle midde gestaan en vir hulle gesê: “Vrede vir julle!” Daarna het Hy sy hande en sy gewys om te bevestig dat dit Hy was, en toe was die dissipels verskriklik bly (v. 19-20). Die Here Jesus het toe weer vir ’n tweede keer vir hulle gesê: “Vrede vir julle!” En Hy het hulle toe ’n opdrag gegee: “Soos die Vader My gestuur het, stuur ek julle ook.” Daarna het Hy op hulle geblaas en gesê: “Ontvang die Heilige Gees.” (v.21-22). Hy het vir hulle gesê dat as hulle die mense hulle sondes vergewe, dan sou dit vergewe word, en as hulle die mense se sondes teen hulle hou, sou dit teen hulle gehou word (v.23; vgl. Mt. 16:19).

Thomas, wat een van die 12 apostels was en Didimus (tweeling) genoem is, was nie saam daar toe dit gebeur het nie. Toe die ander hom vertel dat hulle die Here gesien het, het hy in ongeloof geantwoord dat as hy nie die merke van die spykers en die spies sien aan sy hande en sy sien en daaraan raak nie, sal hy nooit glo nie (v.24-25). En toe kom die Here Jesus Thomas se ongeloof sowaar tegemoet. Want agt dae daarna (sewe dae in ons taal, want die Jode het die dag wat dit gebeur het saamgetel), met ander woorde weer op die eerste dag van die week, het dit weer gebeur. Die dissipels was saam met Thomas binne met die deure gesluit. En Jesus het gekom en in hul midde gestaan en weer gesê: “Vrede vir julle!” (v.26).

Daarna het Hy vir Thomas gesê om sy vinger te bring en in sy hande te kyk, en om sy hand in sy sy te steek. En Hy het hom opgeroep om nie ongelowig te wees nie, maar gelowig. Thomas het Hom geantwoord (let wel, nie maar bloot ’n uitroep in die lug gegee nie): My Here en my God! (v.27-28). Daarmee het hy bely dat Jesus God is, soos Johannes reeds in die eerste hoofstuk gesê het (1:1). Hy het daarmee ook bely dat Jesus sy persoonlike (“’my”) Here en God is. Die Here Jesus het toe vir Thomas gesê dat hy geglo het omdat hy gesien het, en toe ’n saligspreking uitgespreek: Salig is elkeen wat Hom nie gesien het nie en tog geglo het (v.29). So het Hy ’n saligspreking uitgespreek oor elkeen, ook ons, wat nog sou glo. Johannes gaan dan voort en vertel dat die Here Jesus nog baie ander wonders (“tekens”) gedoen het wat hy nie vertel het nie. Dit wat hy wel vertel het, se doel is dat die lesers kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God; en dat ons deur te glo, die lewe kan hê in sy Naam (v.30-31).

Besprekingsvraag: Watter waarde het die ongelowige Thomas vir ons?

Insig: Die Here Jesus  verskyn twee keer op die eerste dag van die week aan die dissipels, in hulle midde. So vestig Hy ’n beeld van wanneer, waar en hoe die Here Jesus Homself steeds besonders openbaar:

2023/04/06

Deurboor ter wille van ons

Lees: Jes. 52:13-53:12

Gedagte vir kinders: Jesus Christus het die straf vir ons sondes in ons plek gedra.

Oorsig: Jesaja 52-53 gaan oor die Kneg van die Here, Jesus Christus, wat sy lewe vir ons oorgegee het. Ons kan hierdie gedeelte indeel in vyf dele wat elkeen drie verse bevat. Die eerste gedeelte (52:13-15) en die laaste gedeelte (53:10-12) gaan oor hoe die Kneg van die Here wat so gely het, en tog ook so geweldig groot en hoog geword het. In die middel-dele hoor ons van sy geboorte tot sy dood - hoe Hy verwerp is (53:1-3), wat die diepste rede vir sy lyding was (53:4-6), en hoe dit uitgeloop het op sy onskuldige dood en begrafnis (53:7-9).

Jesaja begin met die verwondering (“Kyk”) oor hoe so ’n groot verhoging (hoog, verhewe, baie hoog) van die Kneg van die Here kan voortkom uit soveel lyding en kan lei tot so ’n groot erkenning daarvan. Ja, Hy laat die nasies opspring (in die Hiphil naamval, besprinkel Hy die nasies. Vgl. KJV en ook Ex. 29:21; Lev. 8:11; 14:7; 16:14-16), en selfs konings hou hulle mond toe (52:13-15). Maar dan hoor ons dat hierdie Kneg smarte ly en misverstaan word (53:1-3). Hy is die arm van die Here wat geopenbaar is (v.1) en voor God se aangesig is, maar ook so ’n gewone mens dat die mense Hom nie ag nie (v.2-3). Hy was die Een wat ons siekte en smarte gedra het, maar sy eie mense het Hom eerder beskou as deur God gestraf. En tog is Hy ter wille van ons oortredinge (uiterlike sonde) en ongeregtighede (innerlike sonde) deurboor en verbrysel. So het daar vir ons vrede en genesing gekom. Ons het gedwaal soos skape en ons eie pad geloop. Maar die Here het ons sonde op Hom laat neerkom (53:4-6).

Hierdie Kneg van die Here het vrywillig sy dood aanvaar (53:7-9). Hy is sonder teenstand mishandel, na die plek van teregstelling gelei,  en onregverdig tereg gestel. Sy begrafnis, wat gelyk het of dit saam met die goddelose sou wees, het uiteindelik by ’n ryke geëindig omdat hy in sy hart en dade onskuldig was. Ons hoor daarna dat hierdie Kneg van die Here tog oorwin (53:10-12). Hy word as die Een wat lewe voorgehou, al word dit nie reguit gesê nie. Hy sal ’n nageslag sien as gevolg van sy offer, en die dae verleng en sy hand bring voorspoed (v.10). Hy sien dit as gevolg van sy lyding waardeur Hy moes gaan en is tevrede. En deur sy kennis van wat nodig is vir verlossing, maak hy baie regverdig en dra hulle skuld (v.11). Daarom deel God Hom uit vir baie en Hy verdeel die buit met baie (v.12, letterlik vertaal). Waarom? Omdat Hy (1) sy siel tot in die dood uitgegiet het, (2) as oortreder gereken is, (3) die sondes van baie gedra, en (4) vir sy oortreders gebid het. So red Hy tot die uiterste toe (vgl. Hebr. 7:25).

Besprekingsvraag: Is dit nie wreed dat ’n onskuldige vir skuldiges moet sterf nie?

Insig: Sommige is krities of skepties oor die gereformeerde waardering van Christus se versoening as plaasvervangende genoegdoening. 

Die magnetiese krag van die kruis

Lees: Joh. 12:12-33

Gedagte vir kinders: Jesus Christus is vir ons gekruisig sodat baie mense gered kan word.

Oorsig: Ons lees in al die evangeliebeskrywinge van die intog in Jerusalem. In Johannes verneem ons van ’n groot menige feesgangers, met baie wat spesifiek kennis geneem het van Lasarus se opwekking uit die dood. Hulle het palmtakke, die simbool van feesviering en oorwinning, opgeneem. Hulle het dit gedoen toe hulle hoor dat Jesus na Jerusalem kom en Hom tegemoet gegaan met woorde uit Ps. 118:25: “Hosanna (Here, red ons) ... Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!” En hulle het bygevoeg: “die Koning van Israel” (v.12-13).

Die Here Jesus het toe ’n jong esel gevind en daarop gaan sit. Dit het Sagaria 9:9 se woorde in vervulling laat gaan oor Jerusalem se Koning wat op die vul van ’n eselin sit. Die dissipels het later eers besef dat hulle so deel was van die Skrif wat vervul is (v. 14-16). Die skare het hiermee saam ook van Lasarus se opwekking uit die dood getuig. Dit het die skare nog groter gemaak. Die Fariseërs het met mekaar hieroor baklei dat hulle niks vorder nie en dat die hele wêreld agter Jesus aan loop (v.17-19). ’n Deel van hierdie hele wêreld was blykbaar Grieke wat Jodegenote (vgl. Hand. 13:43) geword het en op die Paasfees saam met die Jode aanbid het. Hulle het na die apostel, Filippus, gegaan en gevra dat hulle Jesus graag wil sien. Filippus het dit vir Andreas (beide het Griekse name) vertel en hulle weer vir die Here Jesus (v.20-21).

Jesus het geantwoord dat die uur gekom het dat die Seun van mens verheerlik (kruisiging tot hemelvaart) moes word. Hy verduidelik dit toe met die beeld van ’n koringkorrel wat eers in die grond moet sterf voordat die plant daaruit veel vrug kan dra (v.23-24). Hierdie patroon herhaal ook in elke dissipel se lewe wanneer iemand sterwe in Hom aan hulleself met die oog op die ewige lewe. Dit beteken dat Jesus gevolg moet word, en dat waar Hy is, sy dienaar ook sal wees en dat die Vader so iemand sal eer (v.25-26). Hy het toe gesê dat Hy ontsteld is oor dit wat nog moes gebeur. Hy sou die Vader egter nie vra om uitkoms nie, maar eerder dat die Vader sy Naam sal verheerlik. Hierop het ’n stem uit die hemel geantwoord: “Ek het dit verheerlik” (sy aardse bediening), “en sal dit weer verheerlik” (die kruisiging en opstanding - v.27-28)”. Sommige het gemeen dat dit ’n donderslag en ander dat dit ’n Engel was. Jesus het geantwoord dat dit vir hulle gebeur het en dat (1) dit die oordeel van die wêreld was en (2) dat die duiwel (owerste) buitentoe gedryf sou word. En (3) Hy sou  van die aarde af verhoog word en so almal na Hom toe trek. Daardeur het Hy gewys op sy kruisdood (v.29-33).