Gedagte vir kinders: Ons kan net standvastig wees wanneer ons op die Here vertrou.
Oorsig: Psalm 125 is deel van die bedevaartsliedere. Dit is moontlik
gesing wanneer die Israeliete opgetrek het vir hulle jaarlikse feeste in
Jerusalem. Ons sing dit steeds op pad na die nuwe Jerusalem. Hierdie Psalm begin
met twee vergelykings tussen mense wat op die HERE vertrou en Jerusalem (v.1-2).
Daarna hoor ons van die die gevolge hiervan vir die goddelose (v.3). Die Psalm vervolg
dan met ’n gebed wat ingemeng is met ’n vermaning/belydenis (v.4-5). Die Psalm
eindig met ’n seën soos sommige ander Psalms (vgl. Ps. 122:8; 128:6) en ook
Paulus en die priesterlike seën (vgl. Num. 6:26; Gal. 6:16).
Die Psalm begin (v. 1) met ’n eerste vergelyking tussen die
wat op die HERE vertrou en die berg Sion. Sion was die berg waarop die tempel
gebou is. Hierdie berg waarop die tempel van die lewende God gestaan het, was
die simbool van vastigheid en ware aanbidding wat in die HERE self gevestig
was. Die Psalmis stel dan dat mense wat op die HERE vertrou hiermee vergelyk
kan word. In die tweede vers gebruik hy ’n ander beeld van Jerusalem en berge.
Hy wys daarop dat daar rondom Jerusalem berge was. Dit was in die vroeë tyd
baie belangrik vir beskerming en het beteken dat die vyand jou nie sommer
maklik kan inneem nie. Hier vergelyk die Psalmis die berge met God wat rondom
sy volk is vir altyd. Watter gevolg het hierdie twee beloftes oor standvastigheid
en veiligheid? Dit beteken dat die heerskappy (septer) van goddeloosheid nie rusplek
sal vind op die erfdeel van God se kinders (die regverdiges) nie. Die rede
waarom dit nie sal gebeur nie, is hier sodat God se kinders nie hulle hande sal
uitsteek na onreg nie. Met ander woorde dat hulle in die versoeking sal kom om
onreg te doen omdat dit lyk of die goddelose vir altyd suksesvol is.
Die Psalmis gaan dan oor tot ’n gebede waarin Hy die HERE vra
om goed te doen aan die goeies, bedoelende hulle wie se harte deur God verander
is. Hy beskryf sulke mense ook as die wat opreg is hulle harte. Hy vra dus dat
die Here nie sal toelaat dat die goeie ontbreek by hulle wat Hom volg nie (vgl.
Ps. 84:12). Hierdie gebedsversoek word opgevolg deur ’n erkenning en vermaning.
Hulle uit die volk van God wat langs krom paaie wegdraai sal die HERE laat
vergaan saam met die werkers van ongeregtigheid. En dan sluit die Psalmis dit
af met ’n seënbede: Vrede oor Israel. Dit is ’n wens dat wanneer Israel in
hierdie geloof leef en op die HERE vertrou, hulle sy seën (shalom: omvattende
welstand) sal beleef.
Besprekingsvraag: Hoe verkaar ons dit wanneer die bose skynbaar die oorhand het?
Insig: In ’n wêreld waarin soveel dinge verander en vloeiend is, soek ons na bakens van standvastigheid. Kyk maar net na kinders wat die sekerheid van die ouerhuis weer opsoek. In Bybeltye was ’n ommuurde stad, ’n plek van veiligheid en stabiliteit, veral as dit op die berge en tussen berge was. Dit was by uitstek waar van die berg Sion met die tempel daarop binne die stad Jerusalem met berge rondom. Hierdie Godstad is beskou as sterk genoeg om militêre mag en selfs kosmiese magte te weerstaan (vgl. Ps. 46, 48). Waarom? Omdat die lewende God sy Naam daar gevestig het en in hul midde was. Nou gebruik die Psalmis juis beelde van hierdie stad met sy berge om te spreek van standvastigheid, geborgenheid, en beskerming. Diegene wat op die HERE vertrou is soos Sion en Jerusalem self ook nou bakens van standvastigheid en veiligheid. En uitdagende situasies toets ons telkens: Gaan jy nou op die HERE vertrou? Dit gee stabiliteit, maar ook beskerming, want die HERE eer die wat Hom eer.