2023/12/13

’n Ware getuie van die koms van Christus

Lees: Joh. 1:6-8, 19-28

Gedagte vir kinders: Gestuurdes van die Here wys nie na hulleself nie, maar na Jesus Christus.

Oorsig: Johannes begin sy Evangelie deur te vertel van die Woord, Jesus Christus, wat in die begin by God was en self ook God was (v.1-4). Hy vertel dan dat daar in Hom die lig van die lewe was. En dan slaan die evangelieskrywer oor om te wys op ’n man wat deur God gestuur was en wie se naam Johannes (die Doper) was. Johannes was self nie die lig nie, maar moes kom om van die lig, Jesus Christus, te getuig (v.6-8). Johannes het begin deur die wêreld in opskudding te bring deur mense tot bekering te roep en hulle te doop in die Jordaan, ver weg van Jerusalem waar die tempel was. Dit het herinner aan Esegiël (36:25) se belofte dat die Here eendag skoon water op hulle sou giet dat hulle rein kan word. Johannes was boonop aangetrek soos Elia (vgl. 2 Kon. 1:8) en die mense het gewonder of hy die Elia is wat die Here belowe het deur Maleagi (Mal. 3:1; 4:5) en wat voor Hom sou uitgaan.

Die Jode het toe uit Jerusalem priesters en Leviete gestuur om hom te vra: Wie is u? (v.19). Johannes het dit toe baie duidelik erken dat hyself nie die Messias (die Christus) is nie (v.20). Hulle vra hom toe of Hy Elia is (vgl. Mal. 4:5) en of Hy die profeet is (vgl. Dt. 18:15-22). Telkens het hy nee geantwoord (v.21). Dit is dus duidelik dat Johannes oor drie sake pertinent nee geantwoord het: Hy is nie die Christus, of Elia self wat weer opgestaan het, of die Profeet wat Moses belowe het nie. En toe vra hulle hom wie hy dan wel is sodat hulle antwoord kan gee aan die wat hulle gestuur het (v.22).       

Johannes het toe geantwoord dat hy die stem is van een wat roep in die woestyn soos die profeet Jesaja (40:3) het: Maak die pad van die Here reguit. Dit beteken dat hulle gereed moes maak om die Here te ontvang (v.23). Die wat gestuur was, was uit die Fariseërs. Dit was ’n beweging wat die toewyding aan God onder die mense wou vernuwe, maar hulle het dit gedoen deur allerhande bykomstige dinge uit hulle tradisie by die Here se Woord te voeg. Hulle vra hom toe waarom hy die mense doop as hy dan nie die Christus of Elia of die profeet was nie (v.24-25). Johannes het hulle toe geantwoord dat hy wel met water doop, maar dat onder hulle Iemand staan wat hulle nie ken nie. Hierdie een het na hom gekom, maar het voor Hom geword en hy is nie eens waardig om sy skoenriem los te maak nie (v.26-27). Dit alles het gebeur in Betábara aan die oostekant van die Jordaan waar Johannes besig was om te doop (v.28). Dit is waar die volk aanvanklik in die land Kanaän ingekom het.

Besprekingsvraag: Watter redes was daar om Johannes die Doper as eg te beskou?

Insig: Jerusalem, met hul Sanhedrin en die gestuurde priesters en Leviete en Fariseërs in die agtergrond, neem kennis dat daar ver by die Jordaan iets aan die gang is. As geestelike leiers was hulle veronderstel om die tekens te onderskei. Hulle moes tog voorgeloop het om na te speur oor die koms van die Messias en sy boodskapper met optrede wat daarmee in lyn is. Mag en posisie en eie tradisies en gebruike wat die Woord ontkrag, lei egter tot geestelike blindheid en kollektiewe illusies. 

2023/12/07

Wanneer die hemel skeur

Lees: Mk. 1:1-13

Gedagte vir kinders: Die Here Jesus se koms is goeie nuus vir die hele wêreld.

Oorsig: Die evangelie volgens Markus word soms die haastige of dringende evangelie genoem. Markus val ook sommer met die deur in die huis: Die begin van die evangelie van Jesus Christus, die Seun van God (v.1). Dit is alreeds ’n mondvol. Die woord “begin” laat dink ons aan die begin van die skepping. Markus dui aan dat hy nou van ’n nuwe begin gaan praat wat moontlik geword het deur die evangelie (blye nuus) oor die ware Seun van God. In daardie tyd is ’n keiser beskou as ’n gode-seun en dat sy regering goeie nuus vir die wêreld was. Markus dui nou aan dat hy van die ware goeie nuus gaan vertel oor die ware Koning.

Markus wys dan daarop dat daar in die profete (Jesaja 40:3) geskrywe is dat die Here sy boodskapper sou stuur wat sou uitroep dat die weg van die Here dringend gereed gemaak moet word in die woestyn (v.2-3). Uiteindelik het Johannes die Doper toe gekom en was besig om in die woestyn te doop en die doop van bekering tot vergifnis van sonde te verkondig (v.4). In daardie tyd is mense uit ander nasies wat hulle tot die God van Israel bekeer het, so gedoop, maar hier word mense uit die hele Israel en Jerusalem deur hom gedoop in die Jordaanrivier terwyl hulle hul sonde bely (v.5). Deur die Jordaan het Israel destyds in die beloofde land ingekom het en hier het mense deur Johannes ’n nuwe begin met God gemaak.   

Johannes die Doper was gekleed met kameelhare en ’n leergordel om sy heupe en het sprinkane en wilde heuning geëet (v.6). Hy het so herinner aan die klere van die profeet Elia oor wie daar groot beloftes was dat iemand soos Hy weer sou optree (vgl. 2 Kon. 1:8; Mal. 4:5-6). Johannes het vir die mense gesê dat Een wat sterker is ná Hom kom en dat hy nie eens waardig is om soos ’n slaaf sy skoenriem los te maak nie. Hy sou nie soos Johannes die mense met water doop nie, maar eerder met die Heilige Gees (v.7-8). In daardie dae het Jesus van Nasaret in Galilea gekom en is deur Johannes in die Jordaan gedoop. En dadelik het daar toe iets baie groot gebeur. Toe Jesus opklim uit die water, het die hemel geskeur (vgl. Jes. 64:1) en die Heilige Gees het soos ’n duif op Hom neergedaal (v. 9-10). Daar het ook ’n stem uit die hemel gekom: U is my geliefde Seun in wie ek ’n welbehae het (v. 11; vgl. Ps. 2:7; Jes. 42:1). Die Heilige Gees het toe vir Christus uitgedryf in die woestyn. Jesus Christus het vir veertig dae in die woestyn die satan trotseer en is versoek. So het Hy vir ons verlossing van die begin af gestry. Hy was daar saam met die wilde diere en die engele het Hom gedien (v.12-13).

Besprekingsvraag: Hoe sien ons die Drie-enige God raak in die doop van Jesus Christus?

Insig: Johannes die Doper staan met sy een voet in die Ou Testament en die ander in die Nuwe Testament. Hy verteenwoordig die oorgang tussen die ou en nuwe verbond. Dit gaan hier oor ’n aardskuddende gebeurtenis en dit word bevestig deur die hemel wat skeur (v.10; vgl. Jes. 64:1). Keiser Oktavius se geboorte is in 9 v.C. besing as blye nuus (evangelie) wat die gelaat van die wêreld vir altyd sou verander. Maar hier word die ware Verlosser bekend gestel wat die ware vervulling van God se beloftes is. Die rabbi’s het iets van die nood van die wêreld besef deur die mense te leer dat jy nog nie gebid het as jy nie gebid het vir die koms van die Messias nie. Steeds laat die Here ons vandag in situasies kom om ons te laat besef hoe nodig ons die Messias het. Markus vertel ons van die goeie nuus van die ware Messias en die radikale nuwe ding wat God in die wêreld kom doen het deur sy Gesalfde.