2024/12/17

Die Messias en sy Kerk se missie

Lees: Luk. 4:14-32

Gedagte vir kinders: Die Here Jesus het gekom om sondige mense soos ons vry te maak.   

Oorsig: Na die Here Jesus se doop en salwing deur die Heilige Gees, en na sy versoeking in die woestyn, het Hy in die krag van die Gees na die noorde van die land, na Galilea. Teruggekeer. Die gerug oor Hom het begin rondgaan in die hele omtrek en Hy het in lyn met hulle geloof, in hulle sinagoges geleer en is deur almal geprys (v.14-15). Toe kom Hy ook in Nasaret waar Hy opgevoed was. Soos Hy gewoond was (let wel), gaan Hy op die Sabbatdag in die sinagoge en staan op om te lees. Die boekrol van Jesaja is aan Hom oorhandig, en toe kry Hy die gedeelte (Jes.  61:1-2 en klein stukkie van 58:6) waar geskrywe is oor die Here se Gees wat op iemand is omdat Hy gesalf is om die goeie nuus aan die armes te bring. Die wat verbryseld is van hart sal genees word en aan gevangenes vrylating verkondig word. Aan blindes sou daar herstel van gesig wees en die wat gebroke is sou in vryheid weggestuur word. So sou die aangename jaar van die Here aangekondig word en wat in terme van die Bybel ’n jubeljaar beteken het (v.16-19; vgl. Lev. 25:8-17).

Nadat die Here die boekrol toegemaak het en aan die dienaar teruggegee het, het Hy gaan sit, soos wat die gewoonte van die rabbi’s was. Die oë van almal was op Hom met verwagting gevestig. Toe begin Hy vir hulle sê: Vandag is hierdie Skrif in julle ore vervul. Almal het ook goeie dinge oor Hom gesê en was verwonderd oor sy aangename woorde. Maar hulle het ook getwyfel oor Hom, want was Hy dan nie die seun van Josef wat hulle geken het nie? (v.20-22). Hy het hulle toe geantwoord dat hulle Homongetwyfeld die spreekwoord sal toevoeg oor geneeshere wat eers hulle eie mense moet genees. Hy moes dit wat Hy in Kapernaum gedoen het, ook in sy vaderstad doen. Toe gee die Here egter vir hulle voorbeelde van Elia en Elisa wat wonders eerder onder heidene gedoen het. Toe dit in Elia se tyd drie jaar en ses maande nie gereën het nie en daar hongersnood was, is Elia eerder na ’n weduwee in Sarfat in Sidon gestuur. En Elisa het nie een melaatse gereinig nie, behalwe Naaman die Siriër (v.23-27).

Almal in die sinagoge is met woede vervul toe hulle dit hoor. Hulle het opgestaan en Hom uit die stad uitgedryf en Hom gebring tot op die rand van die berg waarop hulle stad gebou was om Hom daar af te gooi. Maar Hy het tussen hulle deur geloop en weggegaan omdat dit nog nie sy tyd was nie. So het Hy na Kapernaum gegaan en hulle daar ook op die Sabbat geleer. En die mense was verslae oor sy leer omdat sy woord met gesag was (v.28-32).

Besprekingsvraag: Hoe verstaan ons vrylating hier anders as die bevrydingsteologie?

Insig: Sommige gedeeltes in die Here Jesus se bediening fokus op die etiese gevolge van sy boodskap. In Lukas leer ons dat ons dit eers beter verstaan wanneer ons die missie van Jesus Christus beter verstaan en daarmee ook van sy liggaam, die Kerk. Hier in Nasaret spreek Hy die goeie nuus van sy missie uit vanuit Jesaja 61 en dit is duidelik dat die agtergrond van die jubeljaar (Lev. 25) in die Ou Testament in die agtergrond daarvan lê. Dit gee vir ons ’n bevrydende bloudruk oor die koms en doel van die ware Messias en daarmee ook oor ware Kerke. Valse messiaskomplekse kan ook hieraan gemeet word.

2024/12/11

Hou rekening met die boodskap van jou doop

Lees: Rom. 6:1-11

Gedagte vir kinders: Die  doop getuig daarvan dat ons nuutgemaak is deur Jesus Christus.  

Oorsig: Die boek Handelinge eindig met die evangelie wat in die hoofsentrum van die wêreld van daardie tyd verkondig word. Net daarna vind ons die boek Romeine wat Paulus reeds geskryf het toe hy nog op pad was na Rome. Hierin kry ons een van die mees geordende uiteensettings van die evangelie in die Bybel. Dit het meermale al gelei tot vernuwing en reformasie in die Kerk van Jesus Christus.  Paulus begin sy brief deur eerstens daarop te wys dat die hele wêreld, die heidene (Rom.1), maar ook Israeliete van die ou verbond (Rom. 2 en 3), skuldig en verdoem staan voor God. Maar dan verkondig hy die evangelie van Jesus Christus wat sonder enige aandeel van ons die verlossing vir ons gebring het (Rom.3). Hy verduidelik waarom hierdie evangelie  en die genade daarvan reeds by Abraham en die ou verbond gegeld het (Rom. 4) en gaan dan verder om te verduidelik waarom die genade en die geloof ons laat deel aan Jesus Christus se redding eerder as aan Adam se sondeval. (Rom. 5).

In hoofstuk 6 begin hy om te verduidelik dat die oorweldigende genade van Christus oor elke sonde sedert Adam nie beteken dat ons nou kan doen wat ons wil sodat die genade so eintlik net meer kan word nie. Dit is beslis nie so nie en die rede is dat jy dan nie verstaan waarin jy deel kry deur jou doop nie. In en deur die doop word jy ingelyf in Jesus Christus se kruisiging en sterwe en begrafnis. Dit beteken dat jy in en deur Hom ook die sonde afgesterf het. Dit is een van die basiese betekenisse van die doop (v.1-3). Ons moet verstaan dat die doop bevestig dat ons daarom dood is en dat ons saam begrawe is met Christus. Saam met Hom is ons egter ook opgewek deur die heerlikheid van die Vader om in ’n nuwe lewe te wandel. Ons is dus ingeplant in Hom om saam te groei in sy dood en verwag ook so om saam met Hom te deel in sy opstanding (v.4-5).

Ons oue mens is dus saam met Christus gekruisig sodat ons dood is vir ons ou lewe en die sonde nie meer dien nie. Net mense wat gesterf het kan klaar wees met die sonde-probleem.  As ons dan saam met Christus gesterf het, glo ons dat ons ook saam met Hom sal lewe (v. 6-8). Ons weet dit omdat Jesus Christus na sy opwekking uit die dode, nooit weer kan sterf nie. Die dood heers eenvoudig nie meer oor Hom nie. Sy dood op aarde was eens en vir altyd, maar sy lewe nou is vir God. Daarom moet ons nou goeie rekenkunde doen wat op die feite gegrond is. Ons is dood vir die sonde en lewend vir God in Christus Jesus onse Here (v.9-11).

Besprekingsvraag: Watter dele uit die Ou Testament bevat reeds die boodskap van die doop?

Insig: Die ontsaglike en onverdienstelike genade wat God in Jesus Christus aan ons bewys, is so groot dat dit gerus meer as ons asem kan wegslaan. Iewers dring die vraag egter na vore wat so ’n groot genade wat altyd groter is as ons sonde, dan beteken vir ons moraliteit en ons etiek. Deur die eeue was daar diegene wat sulke genade goedkoop en ’n vrypas vir die sonde wou maak. Reeds in Martin Luther se tyd was daar reeds radikale hervormers wat die boodskap verkondig het dat jy eintlik nou kan maak wat jy wil, en in ons dag is daar die liberale Protestantisme wat ook duidelik hierdie weg opgaan en die toekoms van die Weste wat hierdeur in gedrang is. Die antinominanisme in die Kerk van elke eeu gebruik dan ook telkens een of ander vorm van die argument: Ons is mos nou vry van die wet. Dink egter aan die Israeliete wat bevry is en deur die Rooi See gegaan het. Was hulle vry om te doen wat hulle wou? Dink aan die verlore seun wat teruggekeer het. Kon hy na ’n ruk maar begin somme maak om dieselfde optrede van vroeër nogeens te beproef sonder dat enigiemand gewonder het dat hy al werklik gesnap het wat gebeur het?