2025/01/24

Woordverkondiging en feestelikheid

Lees: Nehemia 8:1-13

 

Gedagte vir kinders: God se Woord vorm ons om heilig en vol vreugde te wees.

Oorsig: Esra en Nehemia vertel ons van die heropbou van Jerusalem se tempel en die mure, die sentrum van Israel se geloof, nadat hulle teruggekeer het uit die ballingskap (458-445 v.C.). Maar ook die mense moes opgebou word (vgl. Esra 7-10; Neh. 7-13). In Nehemia 8 hoor ons van die openbare proklamasie van God se Woord onder leiding van Esra en watter effek dit gehad het.

In die sewende maand (Tishri – Sept/Okt), terwyl die kinders van Israel in hulle dorpe was, het hulle soos een man op die plein voor die Waterpoort bymekaar gekom en aan Esra die skrifgeleerde gevra om die boek van die wet van Moses wat die Here beveel het (let wel), te bring. Esra die priester, het toe die wet voor die vergadering gebring, bestaande uit manne, vroue en almal wat met verstand kon luister. Dit was die eerste dag van die sewende maand, die dag van trompetgskal en die nuwe siviele jaar, en ook die maand waarin die huttefees later gevier is  (v.1-3; , vgl. Lev. 23:24,34). Esra het voorgelees vanaf ligdag tot die middag, in teenwoordigheid van almal wat kon verstaan. Almal het aandagtig geluister (v.4). Esra het op ’n houteverhoog gestaan wat hulle vir die geleentheid gemaak het en langs hom aan sy regterhand was ses manne, en aan sy linkerhand sewe. Toe Esra die boek oopmaak, het die hele volk opgestaan (v.5-6).      

Esra het toe begin met lofprysing en die hele volk het geantwoord, “Amen, amen!”, met opheffing van hul hande en hulle het gebuig en die Here aanbid met die aangesig na die aarde toe. Toe het dertien ander mans wie se name genoem word, saam met die Leviete die volk in die wet onderrig, terwyl die volk op hul plek bly staan het (v.7-8). Hulle het uit die boek, die wet van God (1) duidelik voorgelees en (2) dit verklaar, sodat (3)  die mense verstaan het wat voorgelees is. Nehemia (goewerneur) en Esra (priester en skrifgeleerde) en die Leviete het die volk onderrig. Die volk het gehuil toe hulle die woorde van die wet hoor. Hulle is egter onderrig om nie te huil nie, omdat die dag heilig was aan die Here (v.9-10). Hulle is eerder aangemoedig om lekker spys te eet, soet dranke te drink en porsies te stuur aan hulle vir wie niks berei is nie, omdat die dag heilig was aan hulle (onse) HERE. Hulle moes nie bedroef wees nie omdat die blydskap van die Here hulle beskutting was (v.11). Die Leviete het die hele volk tot bedaring gebring en opgeroep om stil te wees, omdat die dag heilig was en huilende gesigte nie daarby pas nie (v.12).  

Besprekingsvraag: Waarom vind ons dit vreemd om te hoor dat heiligheid en vreugde saamgaan?

Insig: Ons het hier te make met die belangrike plek van proklamasie binne die verbondsvernuwing van die volk van God, asook die belangrike plek van vreugde in die Here daarin.

2025/01/14

Gebed in onmag

Lees: 1 Sam. 1:1-28

Gedagte vir kinders: Om te bid beteken dat ons erken dat net die Here ons kan help.   

Oorsig: Die geskiedenis van Samuel vind plaas aan die einde van die tyd van die Rigters waar die mense net gedoen het wat hulle wil. In daardie tyd was daar 'n Leviet met die naam Elkana (1 Kr. 6:33-38) wat twee vroue gehad: Hanna, kon geen kinders hê nie en word eerste genoem. Peninna word tweede genoem en kon wel seuns en dogters hê. Elkana het jaar vir jaar opgegaan het om die Here te aanbid by Silo. Hofni en Pinehas, die seuns van Eli, was daar, maar hulle was ontrou aan die Here, lees ons later (v.1-3; vgl. 1 Sam. 2:12).

Elkana  het tydens sy jaarlikse offers aan al sy gesinslede offervleis gegee, maar aan Hanna ’n dubbele deel omdat hy haar liefgehad het. Die Here het egter haar moederskoot gesluit. Peninna het haar ook bitterlik geterg om haar woedend in haar magteloosheid te maak, omdat die Here haar moederskoot gesluit het (v.4-5). Dit herinner ons aan Sara en Hagar vroeër (Gen. 16:1-4; 21:9). Dit het vir ’n geruime tyd so aangehou, veral by die jaarlikse offers, en Hanna kon maar net ween en wou soms selfs nie eet nie. Haar man was baie lief vir haar en het haar getroos dat hy baie lief is vir haar en haar daarop gewys dat Hy vir haar beter was as tien seuns (v.7-8).

Toe hulle eenmaal opgetrek het om voor die aangesig van die Here te verskyn, het Hanna gegaan om haar hart voor die Here uit te stort terwyl Eli, die priester, by die deurpos van die tempel (waarskynlik die tabernakel in ’n gebou) gesit het in Silo. Sy het belowe dat as die Here van die leërskare (eerste maal so genoem in die Bybel), aan haar 'n manlike kind sou gee, sy hom aan die Here sou gee volgens die Nasireër-gelofte (vgl. Num. 6). Dit het onder meer beteken dat geen skeermes op sy hoof sou kom nie (v.10-11). Eli het gedink sy is dronk omdat sy lank sag en net met haar mond gebid het, maar Hanna het verduidelik dat sy haar siel voor die Here uitgestort het. Eli het haar toe vrede en gebedsverhoring toegebid en sy het weggegaan en daarna was haar aangesig anders (v. 12-18). Die volgende dag het hulle vertrek nadat hulle aanbid het en by hulle huis in Rama gekom. Die Here het Hanna het Hanna toe verhoor en so is Samuel gebore wat so genoem is omdat sy hom van die Here gebid het. Nadat die kind gespeen is, vermoedelik drie jaar oud, het sy die seuntjie met offers na Eli gebring en vir hom vertel dat haar gebede verhoor is en dat sy die kind afsonder vir God se werk soos wat sy gebid het (v.19-28).  

 

Besprekingsvraag: Gaan dit by Hanna net om persoonlike vervulling of gaan dit oor meer?

Insig: Die verhaal van Hanna vind plaas aan die einde van die Rigtertydperk. Dit was 'n tyd toe die mense elkeen net gedoen het wat reg was in hul eie oë en sommige priesters was korrup (Rigt. 17-19; 21:25). God se Woord en Wet was nie hul maatstaf nie en afvallige priesters soos Hofni en Pinehas het meegehelp dat die volk die offer aan die Here verag (vgl. 1 Sam. 2:12,17). Hulle het dus die teenoorgestelde gedoen as wat hulle veronderstel was om te doen: om die mense te help om heilig en met blydskap te lewe. In hierdie toestand het Elkana se eie gesin ook iets van Israel se toestand uitgestraal