2025/02/24

Verlos van gebondenheid en magte

Lees: Jesaja 52:7-12

Gedagte vir kinders: Die goeie nuus oor Jesus is dat Hy die Koning is wat ons red en bewaar.

Oorsig: Die profeet Jesaja het die volk gewaarsku dat hulle in ballingskap sou gaan en ons lees daarvan in die eerste gedeelte van die boek Jesaja in hoofstuk 1-39. Vanaf Hoofstuk 40 begin hy egter ook daarmee saam vertroosting te gee aan hulle wat in ballingskap gegaan het. Die Here sou hulle ook weer uit die ballingskap bevry en daar word onder andere besondere dinge oor Iemand gesê wat die Kneg van die Here genoem word. In hoofstuk 52 praat die profeet baie spesifiek oor die bevryding uit Babel wat sou plaasvind. Hierdie heerlike bevryding het daarmee saam ook gespreek van die grootste bevryding wat sou kom deur Jesus Christus.

In vers 7 roep die profeet uit oor (1) die hoe lieflik die voete is van hom wat die goeie boodskap bring. Hy brei uit en se dat (2) hierdie boodskap vrede laat hoor. Dit is (3) die goeie tyding (letterlik: goeie boodskap van goedheid) wat gebring word en wat (4) verlossing laat hoor. Die wese daarvan gaan daaroor dat aan Sion, die berg in Jerusalem waarop die tempel gebou is, gesê word: Jou God is Koning! Dan roep die profeet op om te let op die wagte (op die mure van Jerusalem). Hy stel dit so: Hoor! Jou wagte! Want die wagte (1) verhef die stem en (2) hulle jubel almal saam. Die rede is dat hulle vlak voor hulle oë sien hoe die HERE terugkeer na Sion (v.8). Dit het waarskynlik in die onmiddellike konteks gedui op die amptelike terugtog met die tempelgereedskap, geborg deur Koning Kores wat later plaasgevind het (vgl. Esra 1:5,7). 

Dan roep die profeet uit dat die vervalle puinhope van Jerusalem moet uitbreek en almal saam moet jubel, aangesien die HERE sy volk getroos en Jerusalem verlos het (v.9). Want die HERE het sy heilige arm ontbloot voor die oë van die nasies en dat al die eindes van die aarde die verlossing (heil) van onse God sal sien (v.10). Jesaja roep daarna die weggevoerde ballinge op met (1.1) die oproep, “Vertrek, vertrek!”’ In die proses moet hulle (2.1) nie aanraak wat onrein is nie. Hulle word weer opgeroep (1.2): “gaan uit hulle midde uit, en (2.2) reinig julle. Die rede is dat hulle draers is van die heilige voorwerpe van die HERE (v.11). Dit het gewys op die tempelgereedskap wat hulle sou terugbring na Jerusalem. Die profeet sê dan dat hulle nie baie haastig sal weggaan soos vlugtelinge (destyds uit Egipte) nie. Nee, die HERE sal voor hulle uittrek en ook hulle agterhoede wees soos vroeër met die wolkkolom en vuurkolom in die woestyn (v.12).         

Besprekingsvraag: Watte geestelike boodskap het die terugkeer uit die ballingskap steeds?

Insig: Dit is belangrik dat ons die letterlike en oorspronklike konteks goed in die oog kry, aangesien dit ons baie help om geloofwaardig die geestelike betekenis na ons toe deur te trek.  Hierdie gedeelte toon aan ons waar die Ou Testament alreeds van die goeie boodskap en goeie tyding praat wat later toegepas word op die evangelie (Rom. 10:15). 

2025/02/15

Verlos van jou grootste verdrukking

Lees: Mattheus 1:18-25 

Gedagte vir kinders: Jesus Christus is waarlik God en waarlik mens.

Oorsig: Mattheus begin sy evangelie met ’n geslagsregister van Jesus wat Christus genoem word (1:1,16). Hy toon aan dat Jesus na sy mensheid aan sy wettige (nie-biologiese) vader op aarde se kant, uit die geslag van Abraham en Dawid is aan wie die groot beloftes oor die Messias gemaak is. Daarna vertel hy ons oor die geboorte van Jesus Christus. Hy wys daarop dat Maria swanger was deur die Heilige Gees toe sy moeder Maria verloof was aan Josef, maar voordat hulle saamgekom het in die huwelik (v.18). In daardie dae was ’n verlowing die eerste wettige stap in die sluiting van ’n huwelik, maar hulle het nog nie saamgebly nie. Dit het eers na die tweede wettige stap gebeur. Ons kan ons daarom indink wat Josef moes gedink het toe Maria swanger reeds was. Daar kon tog net een rede wees: Iemand anders het by haar geslaap.

Josef was ’n regverdige man en volgens die Ou Testament moes hy sulke ontrouheid nie aanvaar het nie en kon hy skei (vgl. Deut. 22: 13-24). Maar hy was regverdig en barmhartig en wou dit nie ’n openbare saak maak nie en wou in die geheim van haar skei (v.19). Hy het so die risiko loop dat mense sou dink dat hy dalk die slegte man was wat nie sy verantwoordelikheid aanvaar nie. Terwyl hy dit in gedagte gehad het, het ’n engel van die Here in ’n droom aan hom verskyn en gesê: “Josef, seun van Dawid, wees nie bevrees om Maria, jou vrou by jou te neem nie, want wat in haar verwek is, is uit die Heilige Gees.” (v.20) Die engel het verder gesê dat sy ’n seun sal hê en dat Josef hom Jesus moes noem. Dit is die Griekse naam vir Josua wat beteken “die Here verlos”. Die Engel het verder verduidelik dat Jesus sy volk van hulle sonde (let wel) sal verlos (v.21). 

Mattheus verduidelik dan dit alles gebeur het sodat die woord uit Jes. 7:14 (uit die Griekse vertaling, die Septuaginta, die LXX) vervul sou word wat die Here deur die profeet gespreek het: Kyk die maagd sal swanger word en ’n seun baar, en hulle sal hom Emmanuel noem. Dit beteken, as dit vertaal word: God met ons (v.22-23). Toe Josef uit die slaap uit wakker geword het, het hy gedoen soos die engel van die Here hom beveel het en sy vrou by hom geneem (v.24). Dit het beteken dat die mense sou skinder oor die mense wat ’n kind gehad het voordat hulle huwelik verseël is. Hy het egter nie by haar geslaap en intiem verkeer totdat sy haar eersgebore Seun gebaar het nie. En hy het Hom Jesus genoem, soos hy beveel is (v.25).    

Besprekingsvraag: Wat leer hierdie gedeelte ons oor wie die Christus van die Skrifte is?

Insig: Hierdie agt verse is gelade met lering oor wie Jesus Christus is en wat Hy kom doen het. Dit gaan oor die vleeswording, ’n wonder wat ons verstand te bowe gaan. Een kommentator (Platt) noem hierdie wonder tereg die grootste wonder in die hele Bybel en die grootste misterie in die heelal. Want wat kan meer verstommend wees as dat God mens geword het in Jesus Christus? Dit is die belangrike basis wat ons help om sin maak van waarom Jesus Christus so belangrik, so onopgeefbaar, so onvervangbaar is. 

2025/02/07

Die grootpad van verlossing

Lees: Jesaja 35:1-10

Gedagte vir kinders: God kan ons woestyne deur sy genade in ’n paradys verander.

Oorsig: In Jesaja 34 kondig die profeet Jesaja oordeel aan oor Edom en daarmee aan almal wat God verlaat het. In hoofstuk 35 kondig hy egter ’n heerlik verfrissende tyd aan vir Israel. Dit vertel van die herstel in koning Hiskia se tweede deel van sy regering, maar daarmee kyk dit ook ver anderkant die oordeel oor die Edomiete, na die koninkryk van God. So word die profesieë oor Edom en Israel, God se Woord aan ontroues en getroues vir alle tye. 

Ons kyk in hoofstuk 35 na die verfrissende beloftes. Die belofte word gemaak dat die woestyn en dor land bly sal wees. Dit sal juig en blom soos ’n tulp/roos (2020 vertaling; KJV). Ja dit sal lustig blom en juig met gejubel. Want die heerlikheid van die Libanon met hulle statige sederbome word nou aan die woestyn gegee. Soos Karmel en Saron bekend was vir die wonderlike prag van hul plantegroei, so sal die skoonheid en heerlikheid van ons God sigbaar word in die dorre plekke (v.1-2; vgl. Ps. 104:16; Hoogl. 2:1). Daarom kom daar ’n oproep om die verswaktes, die met slap hande en struikelende knieë, te versterk. Die wat vreesagtig/angstig is word opgeroep: Wees, sterk, wees nie bevrees nie. Die rede is dat hulle God kom met wraak en met vergelding van Homself af en wat hulle sal verlos (v.3-4).

Dit sal ook onder die mense sigbaar word. Blindes se oë sal geopen word en die ore van dowes sal hoor. Die verlamde sal nie net loop nie, maar spring soos ’n takbok, en die tong van die stomme sal nie net praat nie, maar jubel. Ja, soos destyds na die uittog sal daar waters uitbreek in die woestyn en strome in die wildernis (v.5-6). Die grond wat gloei deur die versengende hitte van die son sal ’n waterplas word, en die dorsland sal fonteine van water wees. Daar waar die jakkalse rus in die dorre en onbewoonde plekke, sal daar gras en biesies wees - die tekens van baie water. Daar sal ook ’n grootpad wees, ’n tipe snelweg, wat die heilige weg genoem sal word. Geen onreine sal op daardie pad verbygaan nie. Dit sal wees vir diegene wat reg lewe en God se pad stap. Selfs die dwase sal nie meer dwaal nie (v.7-8). Daar sal ook geen leeu wees wat soos ’n roofdier optree nie. Ja, geen verskeurende dier sal daarop kom of aangetref word nie. Maar die verlostes sal wel daar loop. Die losgekooptes van die HERE sal teruggaan na Sion, die berg waarop die tempel gebou is. Hulle sal kom met gejubel en ewige vreugde sal op hulle hoof wees. Hulle sal vreugde en blydskap verkry, maar kommer en gesug sal wegvlug (v.9-10).  

Besprekingsvraag: Watter toepassings kan ons alles maak oor woestyntoestande wat omkeer?

Insig: In Jesaja 34 en 35 kry ons teenoorstaande sketse – die een van oordeel (hoofstuk 34) en die een van genade en verlossing (hoofstuk 35). Dit verteenwoordig toestande wat in die geskiedenis reeds voltrek word en eenmaal ten volle geteken sal staan.