Gedagte vir kinders: Vir mense wat weet hulle het sonde, is dit goeie
nuus dat Jesus Christus die groot Geneesheer is.
Oorsig: Ons lees hier te midde van die wonderwerke van
die Here Jesus, hoe dat Hy een van sy apostels geroep het en dat dit ’n
strydvraag laat ontstaan het. Hier verwys Mattheus na homself en hoe die Here
hom geroep het. In die ander evangeliebeskrywinge word hy met sy ander naam,
Levi genoem, maar Mattheus verkies hierdie naam. Wat sy motief was, weet ons
nie, maar dit help ons om hom met albei sy name te identifiseer. In daardie tyd
het mense dikwels met twee name bekend gestaan.
Mattheus vertel dat die Here hom by die tolhuis
sien sit het (v.9). Mattheus was dus ’n tollenaar en hulle het ’n baie slegte
naam by die Jode gehad. Die rede is dat hulle Herodes Antipas en die Romeine
gehelp het om die belasting by hulle eie volk te hef, en boonop hulself in die
proses verryk het. Hulle is daarom deur die volk as verraaiers beskou. En tog,
die Here Jesus sien hom en sê: “Volg my.” En dan hoor ons dat Mattheus
eenvoudig opgestaan en Hom gevolg het (v.9). Direk daarna hoor ons van ’n huis,
Mattheus s’n (Luk. 5:29) waarby Jesus aan tafel was en dat daar baie tollenaars
en sondaars saam met Jesus en sy dissipels aan tafel gegaan het (v.10). Dit
klink soos ’n fees, maar vir Jode het dit beteken dat jy daar onrein sal word
en boonop eet saam met mense met wie jy innige bande het. Die Fariseërs, een
van die strengste groepe onder die Jode oor die onderhouding van die wet, het
dit so gesien en toe nie vir Christus nie, maar vir die dissipels gevra waarom
Hy eet saam met tollenaars en sondaars (v.11).
Toe die Here dit hoor, het hy vir hulle gesê dat
die wat gesond is nie die geneesheer nodig het nie, maar die wat ongesteld is
(v.12). Hy het ook verder vir hulle gesê dat hulle moet gaan leer wat die
volgende woorde in die Ou Testament in Hosea 6:6 beteken: “Ek wil barmhartigheid
hê en nie offerhande nie.” Hy het toe verder gegaan en gesê dat Hy nie gekom
het om regverdiges te roep nie, maar sondaars tot bekering (v.13). Daardeur het
die Here twee dinge duidelik gemaak: (1) Hy het nie gereken dat alles wel was
met die tollenaars en sondaars nie. Sy doel was daarom genesing wat bekering
insluit, soos Hy ook vanaf die begin van sy bediening geleer het (vgl. Mat.
4:17). Dit was (2) ook uit sy woorde duidelik dat net mense wat besef hulle is
sondaars en nie reg met God nie, sy
oproep sal hoor om hulle in sy Naam te bekeer.
Besprekingsvraag: Wat is die verband hier tussen genesing en
bekering en sonde?
Insig: Mattheus word net soos ander apostels vroeër, geroep by
dit wat sy beroep geword het (vgl. Mat. 4:18-22). Dit is asof die woorde van
die Here Jesus met kernkrag sy hart oopmaak as Hy ook vir Mattheus soos die
ander dissipels sê: ‘’Volg My.” Iewers behoort elke kind van God ook die
persoonlik hierdie roepstem van Christus te hoor. Sy roeping hier het
implikasies en leer dat dissipels dikwels moet afsien van die sonde, maar ook
van die bekende en van gemaksones. Mattheus was as tollenaar ’n welgestelde man
met onder meer ’n huis en onthaalfasiliteite wat hy moes prysgee, maar Christus
se roeping was ’n bevrydende oproep weg van die tolhuis en van tollenaar en
verraaier en swendelaar en om sonder morele kompas by sy eie volk te wees.
Die wonder is dat hierdie verraaier van sy volk dissipel en apostel word, ja selfs instrument om een van die geliefde Bybelboeke vir ons na te laat. Dit laat ons besef: As God roep, kyk Hy nie na jou prestasies of sondes vir kwalifikasie nie. Hy roep nie die wat kwalifiseer nie, maar gee eerder sy kwalifikasie aan die wat Hy roep.