2012/12/01

Patriotnotas (1)

Hier is 'n toets om jou verstaan van die woord Patriot aan die van Chesterton te meet. Kom ons maak dit bietjie eerliker en verdiep die spanningslyn deur vir nou slegs waar of vals op die volgende stellings te antwoord:

1. 'n Patriot glo dat alle goeie mense internasionaal is.

2. 'n Patriot glo dat nasies mekaar moet liefhê.

3. 'n Patriot kan die siel van van 'n ander volk admireer en waardeer.

In 'n volgende aflewering sal Chesterton in Afrikaans met ons praat.

2012/11/16

Die mite: proporsionele ras- en geslagsverteenwoordiging

Soms het sekere mense se uitsprake oor sekere kwessies net meer slaankrag. Hierdie gesprek is reeds in 1981 opgeneem. Vanjaar is Sowell reeds 82 jaar oud, dog steeds verbasend skerp. Sy boeke en opinies bly vars. Ons het meer Sowells nodig.


2012/11/08

Wanneer woordvonke spat

Die woord is vir die digter nie net 'n klank-kombinasie nie; nie net die draer van begrip nie; nie net die vorm waardeur hy die strenge tug op sy belewings handhaaf nie. Die woord is 'n magiese middel, 'n wapen waardeur onsuiwerheid uitgesny kan word, 'n tower-formule waarmee dinge besweer word, 'n beitel waardeur planete oopgebreek kan word.

Johan J. Degenaar

2012/09/25

Gunste en gawe notas

Oor die klasnotas rakende gunste en gawes: Ek het intussen so 'n bietjie naïwiteit verloor oor die tema. Margaret Visser toon aan in haar gesaghebbende werk, The Gift of Thanks, dat die hele hoe-ha oordenkings oor gawes voortspruit uit 'n reaksie teen die modernisme. Die wereld van die gawe-ekonomie ("gift economy") is verlaat waar individualisme en kapitalisme glo geheers het. Die hele kwessie het begin met 'n boek van Marcel Mauss - The Gift. Mauss was familie van Emile Durkheim en ook sy sterstudent. Mauss het bewustelike gepoog om die individualisme van die dag, utilitarisme, uit te daag. Hierdie beginpunt beteken ongelukkig ook dat 'n mens nie verbaas moet wees as pomo-simpatiekes en lib-sensitiewes vinnig op hierdie appelkar spring nie. Die gedagte van gawe is 'n tipe gonswoord in die postmoderne tydvak om die sosiale sy van ons menswees te beklemtoon. Dit is nie noodwendig sleg nie, maar ons moet fyntrap. Alles hang daarvan af die lewende Woord die regte plek in ons nadenke inneem.

Ek is reeds skuldig aan iets anders. Hierdie naamgewery van my neem reeds deel aan 'n ons-hulle diskoers wat ek behoort te vermy. Ek sal probeer om ordentliker te wees in die toekoms. Maar hoor my asseblief as ek probeer aantoon dat ek dink ek die voetangels raaksien terwyl ek tog wil probeer om die duwwelpaadjie te bewandel. Waarom? Omdat skuld deur assosiasie nie altyd goed is nie. En omdat ons horende doof word vir die Woord as ons nie waardeer dat die Woord juis nuut is wanneer ons dit telkens teen 'n nuwe dekor lees. Was dit C.S. Lewis wat gesê het dat ons nooit dieselfde boek lees ons ons dit weer deurlees nie? Ons kan tog almal getuig hoe die Bybel en selfs ander boeke vir ons nuwe perspektiewe gebring het toe ons dieselfde stuk later weer gelees het. Die rede is eenvoudig: Die Woord is te ryk vir ons om op een slag uit te put. Dit geld ook van enige leesstof wat nooit iets anders as goeie of slegte skadus van die Woord kan wees nie.

2012/08/16

Denke van dankbaarheid

Net so 'n voorloop ietsie om die aptyt aan te wakker. Dr. Peter Leithart bied hierdie termyn 'n vak genoem "Gift and Gratitude" aan by die instelling waar ek klasloop. Dit maak deel uit van 'n boek wat DV volgende jaar gaan verskyn. Dink Seneca, dink Mauss en postmoderne filosowe soos Derrida se gissings wat uiteindelik aan die lewende Woord gemeet word. Leithart stel dat die basiese probleem met Descartes se cogito ergo sum (ek dink, daarom is ek) aanval was die hele basis waarvandaan dit lanseer is - twyfel in plaas van dankbaarheid. 'n Filosofie wat lanseer vanuit gawe en dankbaarheid, sê Leithart, sal heeltemal anders lyk. Dit het uiteindelik gevolge in elke uithoek, selfs in ekonomie en politieke filosofie. 'n Mens wonder byvoorbeeld of Heidegger iets, let wel, nie alles nie, beethad toe hy gestel het: denken ist danken. Sekere dramas van Shakespeare (bv. King Lear) toon trekke dat hy Seneca gelees het en wys hoe spanning ontketen wanneer gawe en opgawe nie in gepaste interaksie dans nie. Gehoek? Ja, hoe kan dit anders as ons die eggo's van genade in hierdie mymeringe hoor. Genade-denke behoort mos te resoneer met dankbaarheid en nie met dankbarheid nie. Ek hoop om van tyd tot tyd 'n paar klasnotas hier te deel. 

2012/08/07

Hoor en hoera mag saamloop

Luther het geworstel om die geregtigheid van God te verstaan, bevrydend te verstaan. Ons worstel steeds.   As God se Gees ons nie in die spervuur van ontdekking plaas nie, sal ons met teologiese woordeboeke en al met koue harte kwyn. Maar ons is mense met wie God baie simpatie het. Dit is eenvoudig hoe Hy is. Hy is vinnig  om ons jammer te kry. Hy hou dit met ons uit. Hy is baie goed vir ons. En Hy gee aan ons 'n atmosfeer waar ons kan asemhaal in sy teenwoordigheid. In die taal van die Bybel, Hy is genadig en barmhartig, lankmoedig en groot van goedertierenheid (Ps. 145:8). Hy is so genadig dat Hy selfs teologiese woordeboeke gebruik om ons te verras. Ook teoloë word gebruik - wonder bo wonder

Voor ons by hierdie fenomeen uitkom, is dat dalk goed om net gou weer 'n draai by die bekende 1 Jn 1:9 te maak om ons in stemming te bring. Net twee vinnige gedagtes: "As 'n man 'n ring aan die linkerhand se ringvinger dra, is hy getroud." Die "as" in die vorige sin is nie voorwaardelik bedoel nie, maar dui 'n bepaalde stand van sake aan. Dit is beter om 1 Jn. 1:9 se "as" ook so te verstaan. Wanneer 'n Christen sy of haar sonde bely, gebeur daar sekere skreiende dinge. Verder: Waarom staan daar dan dat God regverdig is om ons te vergewe? Die kategismusantwoord is sekerlik tog dat Hy nie sonde aan ons sal straf wat Hy reeds aan sy Seun gestraf het nie. 

Hoor ons dit: "regverdig om ons te vergewe"? Ek dink dit is wat Luther gehoor het. Hy het gehoor en gehoera. Ja, ek weet, ek moes eintlik 'n uitroepteken aan die einde van die vorige sin geplaas het. Maar dit sal meer van pas wees wanneer ons saam hoera skreeu. Dit bring ons terug by die wonder dat God selfs teoloë kan gebruik om ons saam hierby uit te bring, selfs toeloë met wie ons nie in alle opsigte saamstem nie. Luther het ontdek en ons het saamgeleer om die geregtigheid van God te waardeer. Dit is 'n oordeel wat nie net oordeel nie, maar vrymaak, 'n eis wat nie net vra nie, maar gee. God eis en gee die geregtigheid waaroor Hy nie 'n kompromie sal aangaan nie. En as jy se dat jy hoor, maar steeds 'n skuinsskoot nodig het, hoor 'n ander Lutheraan, Robert Jenson:

"Wanneer ons sê dat God regverdig is en vra wat dit beteken, dan wys ons na Jesus se vriendskap met sondaars."

Omdat God regverdig is, is die Here Jesus vriendelik met sondaars soos ek en jy. Wat 'n geseënde paradoks! God is regverdig en daarom is ons vry. Net die evanglie maak dit waar. Buite die evangelie, buite Christus, is daar geen vriendelikheid nie. Net oordeel. En dit is waarom ons die oproep moet hoor om in te kom. Dit is baie koud en eensaam buite.

2012/06/20

Ons sonde aan flarde

In 'n vorige aflewering was sprake van die plofkrag van ware bekering. Kom ons kyk na die plofkrag uit 'n ander hoek - die oorsprong van die plofkrag. Ek en jy het meer as kernplofkrag nodig as ons wil hoop om ware bekering te ken. Die goeie nuus is dat dit presies is wat die evangelie van Jesus Christus bied. Lees hier as jy weer 'n behoefte het om te weet dat jou sonde, hoe groot ook al, aan flarde geskiet kan word. Sterker gestel, lees biddend as jy behoefte het aan 'n boodskap wat jou ou mens (weer) voor die evangeliese kernmissiel plaas. Die Bybel praat van uitdelging en ontsondiging van ons sonde (vgl. Ps. 51:3,9). En dit liewe vriend/vriendin, is die rede waarom daar vir jou en vir my hoop is.