2024/08/17

Na wie toe sal ons gaan?

Lees: Joh. 6:60-71

Gedagte vir kinders: Die Here Jesus het die woorde van die ewige lewe. 

Oorsig: Nadat die Here Jesus vir die mense verduidelik het dat Hy die Brood van die lewe is en dat sy vlees geëet en sy bloed gedrink moet word, het baie van sy volgelinge (dissipels) gesê: “Hierdie woord is hard, wie kan daarna luister?” (v.60). Vroeër wou hulle Hom met geweld Koning maak, maar sy woorde het hulle nou laat wegdraai. Tog het Hy geweet dat hulle hieroor murmureer (let wel) en hulle net gevra oor wat hulle dan sal doen as hulle die Seun van die mens sien opvaar waar Hy tevore was (v.61-62). Hy het ook verder verduidelik dat dit die Gees is wat lewend maak en dat die vlees van geen nut is hiervoor nie. Die woorde wat Hy egter tot hulle gespreek het (en tot ons), is gees en is lewe (v.63).

Hy het hulle ook daarop gewys dat daar sommige is wat nie glo nie. Hy het ook van die begin af geweet wie hulle was wat nie glo nie en wie hy was wat Hom sou verraai (v.64). Hy het toe vir hulle verduidelik dat dit om hierdie rede was dat Hy vir hulle gesê het dat niemand na Hom toe kan kom as dit hom nie deur sy Vader gegee is nie (v.65). Daarna het baie van sy dissipels teruggegaan en nie meer saam met Hom gewandel nie (v.66). Dit is toe dat die Here vir die twaalf apostels wat Hy aangestel het, gevra het of hulle nie ook wil weggaan nie (v.67).

Soos elders (vgl. Mat. 16:15-16) het Petrus ook hier namens die groep geantwoord: “Here, na wie toe sal ons gaan? U het die woorde van die ewige lewe. En ons het geglo en erken dat U die Christus is, die Seun van die lewende God.” (v.68-69). Die Here Jesus se antwoord hier was nie om Petrus op die skouer te klop nie. Hy het eerder daarop gewys dat al het Hy twaalf uitverkies om sy apostels te wees, dat een nogtans ’n duiwel was, met ander woorde, ’n instrument in die hand van die duiwel was. Daarmee het Hy Judas Iskariot bedoel, die seun van Simon. Hy sou die Here Jesus verraai en was een van die twaalf (v. 71).  

Besprekingsvraag: Watter alternatiewe soek mense op wat van Jesus Christus wegdraai? 

Insig: Jesus Christus probeer duidelik nie om sy woorde ter wille van mense aan te pas nie. As dit vir sommige tot aanstoot is en hulle Hom dan wil verlaat, moet dit maar gebeur. Dit is selfs deel van ’n bepaalde reiniging wat moet plaasvind. Hier sien ons ’n suiwering vanaf die skare, na dissipels, na die apostels self, en uiteindelik selfs onder die apostels. Natuurlik was die Here Jesus se woorde oor sy vlees en bloed op daardie tydstip moeilik verstaanbaar vir die oorspronklike hoorders. Maar diegene wat bereid was om nederig by Hom te leer (vgl. Mat    11:29), sou mettertyd beter begryp en verstaan.

2024/08/08

Om Jesus Christus te eet en te drink

Lees: Joh. 6:36-59

Gedagte vir kinders: Die Here Jesus roep ons op om in Hom te glo en by Hom te woon.  

Oorsig: Die Here Jesus het sopas in sy gesprek met die skare die groot uitspraak gemaak dat Hy die brood van die lewe is. Wie na Hom toe kom en in Hom glo, sal nooit honger of dors kry nie. Nou gaan Hy voort om dit te verduidelik. Hy wys hulle daarop dat iemand Hom miskien wel kan sien, mar Hom tog nie glo nie (v.36). Tog sal die Vader diegene aan Hom gee wat wel na Hom sal kom en Hy sal sulke mense wat kom, nooit uitwerp nie (v.37). Die Here Jesus verduidelik dan dat Hy uit die hemel neergedaal het om God se wil te doen wat Hom gestuur het. En God se wil is dat Jesus niemand sal verloor wat aan Hom gegee is nie en dat Hy hulle sal opwek in die laaste dag (v.38-39). Die Here Jesus verduidelik toe verder dat dit die Vader se wil is dat elkeen wat in die Seun glo, die ewige lewe mag hê. So iemand sal eendag in die laaste dag opgewek word (v.40).

Die Jode het toe hieroor gemurmureer omdat Hy Homself die brood genoem het wat uit die hemel neergedaal het. Hulle het mos geweet Josef is sy pa (v. 41-42). Die Here Jesus het egter geantwoord dat niemand na Hom sal kom as die Vader nie iemand trek nie. Sulke mense sal Hy wel opwek in die laaste dag. Hy haal toe uit Jes. 54:13 aan om te wys dat sulke mense deur God self geleer sal wees. Elkeen wat dit by die Vader geleer het, kom na Hom toe, maar net Jesus het die Vader self gesien (v.42-46). Toe verklaar Hy weer plegtig dat elkeen wat in Hom glo, reeds die ewige het en dat Hy die brood van die lewe is (v.47-48).

Hy het toe na hulle vaders, die Israeliete in die woestyn, gewys wat die manna geëet en tog gesterwe het. By Hom is egter die brood waardeur iemand nie sterwe nie (v.49-50).  Hy is die lewende brood wat uit die hemel neergedaal het waardeur iemand lewe tot in ewigheid. Die brood wat Hy gee is sy liggaam (vlees) wat Hy vir die lewe van die wêreld sou gee. Die Jode het toe met mekaar hieroor gestry en nie verstaan nie (v.51-52). Die Here Jesus het toe nog duideliker vir hulle gesê dat as hulle nie die liggaam van die Seun van die mens eet en sy bloed drink nie, hulle geen lewe in hulself het nie. Net sulke mense het die ewige lewe en Hy sal sulkes opwek in die laaste dag. Want net sy vlees is waarlik spys en net sy bloed waarlik drank (v.53-55). Iemand wat dit doen, bly in Hom en lewe in Hom soos wat Hy deur die Vader lewe (v.56-57). Hy is die brood wat anders as die manna  van destyds is, boord waardeur iemand tot in ewigheid lewe. Dit alles het Hy in die sinagoge in Kapernaum geleer (v.58-59) .   

Besprekingsvraag: Van Ou Testament gedeeltes is die brood van die lewe die vervulling?  

Insig: Wanneer die Here Jesus ons leer dat Hy die Brood van die lewe is, moet ons dit teen die agtergrond van die Ou Testament verstaan. Die boom van die lewe in die paradys was bedoel om tot die ewige lewe te voed. Hier openbaar Christus nou dat Hy self die brood van die lewe is. Daarmee sê Hy terselfdertyd ook aan die Israeliete wat reken dat Hy eers moet bewys dat Hy groter as Moses is, dat Hy soveel meer Moses en as manna doen. Die manna het na een dag sleg geword (Ex. 16:19-20), maar Jesus Christus gee lewe tot in ewigheid. Wie deur Hom gevoed word, sal ook opgewek word op die laaste dag. Uiteindelik bly die dood ’n verskrikking vir elke sterfling. Maar hier openbaar ons Here hoe die dood in en deur Hom getroef word. Hy is die voedsel en drank van die ewige lewe (nagmaalsformulier). Hy bied soveel meer as hemelse manna van die Ou Testament.

2024/08/03

Jou diepste honger, jou grootste dors

Lees: Joh. 6:22-35

Gedagte vir kinders: Die Here Jesus kan ons diepste honger vir ewige versadig. 

Oorsig: In Johannes 6 hoor ons van Johannes se weergawe van die vermeerdering van die vyf e brode en twee vissies. Johannes noem die sewe wonders van die Here Jesus in sy evangeliebeskrywing baie spesifiek “tekens”. Almal moet verstaan dat sy wonderwerke tekens is van iets groter en heerliker: Die Koninkryk van God wat deur Jesus Christus deurbreek in hierdie wêreld. Daarom lees ons net na die vermeerdering van die brode, van die storm waar die Here Jesus op die see loop en net daarna van sy gesprek met die skare waarin Hy die teken van die broodvermeerdering se dieper betekenis vir hulle geleidelik uitlê.

Die skare kry Jesus aan die anderkant van die meer nadat hulle oorvaar met skuite vanaf die plek van broodvermeerdering, in die omgewing van Kapernaum. En toe wil hulle weet hoe Hy daar gekom het (v.22-25). Die Here antwoord hulle vrae egter baie ondersoekend. Hy wys hulle daarop dat hulle Hom eintlik net soek omdat hulle mae vol geword het. Hy roep hulle toe op om eerder te fokus op die voedsel (spys) wat bly tot in die ewige lewe. Dit is wat die Seun van God aan hulle sal gee, want Hy is deur die Vader bevestig (verseël) as die Een wat dit sal doen (v.26-27). Hulle vra toe wat hulle moet doen om God se werk deur te voer (volbring) en die Here Jesus het geantwoord dit daarin bestaan dat hulle sal fokus op wat God doen en dat hulle glo in die Een wat God gestuur het (v.28-29).

Hulle vra Hom toe ’n teken sodat hulle in Hom kon glo. Hulle het verwys na Moses se teken van manna in die woestyn (v.30-31). Manna uit die hemel was tog ’n groter werk as brood op aarde wat vermeerder. Die Here antwoord toe dat hulle moet besef dat dit nie Moses was die brood uit die hemel gegee het nie, maar sy Vader en dat Hy die ware brood gee. En die brood van God is hy wat uit die hemel neerdaal en aan die wêreld die lewe gee (v.32-33). Hulle vra toe om altyd aan hulle hierdie brood te gee (v.34). Dit is toe dat die Here antwoord met een van sy sewe “Ek is”-uitsprake in Johannes: “Ek is die brood van die lewe; wie na My toe kom, sal nooit honger kry nie; en wie in My glo, sal nooit dors kry nie” (v.35). Die volk in die woestyn het aanvanklik nie die manna herken toe dit aan hulle gegee is nie en hierdie mense herken nie die Here Jesus nie. Maar Hy verduidelik dat hulle Hom moet leer erken as die ware brood uit die hemel. Die manna en die broodvermeerdering het eintlik na Hom heengewys. Hyself, die brood van die lewe, die Here Jesus, kan ons geestelike honger en dors vir ewig versadig.   

Besprekingsvraag: Hoe leer ken ons die Here Jesus as die brood van die lewe?   

Insig: Hierdie skare doen iets voortreflik. Hulle soek na die Here Jesus. En hulle kry hom uiteindelik. En tog, in die vind van Christus, konfronteer Hy hulle oor hulle eintlike motiewe. Dit gaan meer vir hulle oor hulle versadiging deur die fisiese brood (v.26). Hulle wou hom aanvanklik alreeds by die vermeerdering van die brood met geweld Koning maak (v.15), maar waarom? Om ’n aardse koning te hê wat hulle kan versorg en bevry van Rome? Beide ’n teologie van patriotisme sowel as ’n teologie van bevryding kan verkeerde motiewe hê. Waarom is Christus nou eintlik vir jou belangrik? Wil jy Hom dalk ook eintlik net inspan vir een van jou begeertes of agendas?

2024/07/27

Om te leef deur die Gees

Lees: Gal. 5:16-26

Gedagte vir kinders: Die Here roep ons om die Heilige Gees in ons te laat werk.

Oorsig: Die apostel Paulus is besig om die Galasiërs te praat oor ware vryheid deur Jesus Christus. Hulle moet hierdie vryheid nie so uitlewe dat dit daarop uitloop dat hulle die sondige lewe van die vlees uitlewe en mekaar dan byt en opeet (verslind) nie (v.13-15). Dan spel hy uit wat dit beteken vir Christene: Wandel deur die Heilige Gees se krag; dan sal julle nooit die begeertes van die sondige mens (vlees: sarks) deurvoer (volbring) nie (v.16). Die apostel verduidelik dan dat hulle as nuwe mense in Christus nou in ’n stryd gewikkel is waar die sondige mens (vlees) begeertes het wat teenoor die werk van die Heilige Gees in hulle staan, en die Heilige Gees werk weer goeie begeertes wat teenoor die sondige mens se werke staan. Hierdie begeertes staan teenoor mekaar sodat hulle nie maar kan doen wat ook al by hulle opkom nie (v.17).

Die apostel gaan dan voort om die werke (meervoud) van die vlees uit te spel en op te stel teenoor die vrug (enkelvoud) van die Gees. Die lys van vleeslike werke is nie volledig nie, maar voorbeelde van “dergelike dinge” (v.21). Ons kan dit hier indeel in seksuele sondes (sewende gebod: owerspel hoerery, onreinheid, ongebondenheid), heidense afgodery en bygeloof  (eerste gebod: afgodery en towery), relasionele sondes (onderlinge verhoudinge, d.w.s. tweede tafel van die wet: vyandskap, twis, jaloersheid toornigheid, naywer, tweedrag, partyskap, afguns, moord), en ongebonde oorgawe aan die liggaam (dronkenskap, brassery). Die wat sulke dinge doen sal die koninkryk van God nie beërwe nie (v.19-21).

Hierteenoor stel die apostel die negevoudige vrug van die Gees. Ons kan dit breedweg indeel in drie ankerdeugde wat in God gegrond is (liefde, blydskap, vrede), drie deugde wat  veral met ons naaste te doen het (lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid), en drie deugde wat veral met ons persoonlike verantwoordelikheid te make het (getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing (v.22). Vgl. laasgenoemde met die laaste werke van die vlees. Hierdie vrug is nie teen die wet nie (v. 23) en daarom kan ons daaraan lug en oorgawe gee in ons lewe. Die apostel versterk hulle dan deur daarop te wys dat dit moontlik is omdat hulle aan Christus behoort en daarom deur Hom die vlees en sy hartstogte gekruisig het (v.24). Deur Jesus Christus se kruisiging het hulle deel gekry aan hierdie gekruisigde lewe. Daarom kan hulle dit nou deur die geloof ken dat sy Gees in hulle werk (vgl. Gal. 3:1,5). So moet hulle dit nou ook in die geloof steeds laat geld en daarom deur die Gees wandel (v.25). Daarom kan hulle nie soekers wees van ydele eer wat uit die eie-ek opkom en vanuit daardie punt mekaar uittart en mekaar beny (v.26) nie.

Besprekingsvraag: Kan ons die sondes van die ou mens in ons ooit te bowe kom?

Insig: Die Christen is in hierdie lewe onvermydelik in ’n stryd betrokke. Dit geld op elke lewensterrein en elke ouderdom – ouer, tiener, laerskoolkind, getroud, enkellopend, bestuursposisie, teeskinker of posbode. Die Christen beleef daagliks twee soorte verskillende begeertes wat op hom of haar appel maak: Die werkinge van die Heilige Gees teenoor die begeertes van die sondige natuur. Die vlees (sarks) moenie hier verwar word met die blote liggaamlike en materiële nie, maar beteken eerder die sondige ou mens na die sondeval. Die vuil prent hiervan in sy werkinge word hier teenoor die heerlike kenmerke van die nuwe lewe opgestel. Vergelyk en sien die verskil van die lelike teenoor die lieflike. Laat die groter prent diep op jou inwerk. Daarna kan ons op onderdele dieper ingaan.

2024/07/26

God se Raadsbesluite en ons vrae

Lees: Job 38:1-11

Gedagte vir kinders: Die Here leer ons deur sy wonderlike skepping om Hom te vertrou.

Oorsig: Die boek Job bestaan uit ’n inleiding en slot waar daar oor die lewe van Job vertel word. En dan vind ons drie siklusse van gesprek/dialoog oor Job se lyding. Dit bestaan uit argumente tussen Job en sy drie vriende wat soms eerder soos sy vyande klink (Elifas, Bildad en Sofar). Dan vind ons ’n laaste groot betoog deur Job en ná hom ’n jonger vriend genaamd Elifas. En dit bring ons dan by God se antwoord uit in ’n storm waarin Hy dan vir Job ondervra en leer en by Job wat daarop antwoord. In Job 38 vind ons die gedeelte waar God uiteindelik vir Job begin antwoord. Vanaf hfst. 38:1 tot 40:2 vind ons besondere sketse van sowat 20 geskape dinge wat iets van die reikwydte en kompleksiteit, misterie en skoonheid van God se skepping aantoon. In vers 1 tot 11 word vanaf vers 4 spesifiek gefokus op die aarde (v.4-7) en die see (v.8-11).

Ons lees dat God Job uit ’n storm geantwoord het (v.1). Hy het daarop gewys dat Job God se raadsbesluite tot duister maak deur sy woorde sonder kennis (v.2). En toe het die HERE Job opgeroep om sy heupe te gord soos ’n man wat gereed is vir konfrontasie, maar ook volwasse gsprek. Die HERE sou vir Job begin ondervra en Job moes die HERE dan onderrig (v.3). Die HERE het begin met die aarde en Job gevra waar hy was toe God die aarde gegrond het. Hy moes laat weet of hy daaroor insig het. Wie het byvoorbeeld die afmetings daarvan bepaal of die meetsnoer/maatband gespan. Job weet dit mos (v.5). En dan word die beeld van fondament-klippe gebruik waarop geboue ingesink en gebou word. Waar is die aarde s’n? En as ons die beeld van die hoeksteen moet gebruik waarop geboue opgerig is, wie het die hoeksteen van die aarde gelê? (v.6). Ja, dit het gebeur toe die môresterre saam gejubel het, wat heenwys na die seuns van God, die engele, wat gejuig het oor die aarde as wonderbare skeppingswerk (v.7).

Hierna word daar oorgegaan van die aarde na die see. Wie het die see met deure afgesluit toe dit uitgebreek het, toe die see soos ’n kind uit die moederskoot voortgekom het? (v.8). Ja, toe het die Here die wolk tot ’n bo-kleed/doek van die see gemaak en met donkerheid toegedraai soos ’n baba (v.9; vgl. 2020). Hy beskryf ook digterlik hoe Hy die grens vir die see uitgebreek het en grendel en deure gemaak het waardeur die see nie kan kom nie (v.10). Hy het so eintlik vir die see gesê: Tot op hierdie grens mag jy kom  en nie verder gaan nie; en hier word ’n grens gestel vir jou trotse golwe (v.11).       

Besprekingsvraag: Op watter vlak moet iemand wees om God se besluite te bevraagteken?  

Insig: Job het God se Raadsbesluit tot duisternis gemaak omdat hy nie die groot Raadsman se leiding in sy donker gehad het nie. Tot vandag toe is die sogenaamde teodisee-vraagstuk - God se geregtigheid in hierdie wêreld van lyding – ’n vraagstuk wat baie maklik meer duisternis as lig tog gevolg het as God nie ons Raadsman is nie. 

2024/06/13

So klein en tog so groot

Lees: Mk. 4:26-34

Gedagte vir kinders: Die Woord van die Here is soos saad wat in die grond geplant word.

Oorsig: Die Here Jesus se gelykenisse spreek tot ons op ’n baie praktiese vlak en hier openbaar Hy aan ons hoe saad heenwys na sy Koninkryk. In sy bediening het Hy by geleentheid aan die mense verduidelik dat die Koninkryk van God vergelyk kan word met saad wat ’n mens in die grond gooi (v.26). En dan, na die saaiwerk, gaan slaap iemand dan en wat gebeur? Die saad spruit uit en word groot, stukkie vir stukkie en sonder dat ons verstaan hoe dit gebeur. Daar is iets so vol lewe en krag in die saad self dat dit vanself vrug voortbring. Eers is daar net die halm, maar later die aar, en dan uiteindelik die volle koring in die aar. En dan, wanneer die vrug dit toelaat, is dit tyd om die sekel in te steek en te oes, omdat die oes daar is (v.27-29).

Die Here Jesus het dit ook verder aangevul met ’n bykomende beeld. Hy het weer gevra waarmee die koninkryk van God vergelyk kan word en watter soort gelykenis daarmee kan help (v.30). Toe het hy die beeld van ’n mosterdsaad gebruik wat een van die kleinste bekende sade in daardie tyd was. En tog, wanneer dit gesaai is, kom dit op en het die groter geword as die groentesoorte. Sommige verklaarders verduidelik dat dit ’n manier gehad het om enige stuk grond in te neem. Die Here Jesus brei dan die beeld uit en stel dit voor asof dit groot takke maak vir die voëls (v.31-32). Dit herinner ons aan die beeld van Es. 17:23; 31:6 en Dan. 4:9. Daar is Israel beskryf is as die skynbare klein volkie, maar wat so uitgroei dat die voëls (nasies) by hulle tuiskom, eerder as by die Empaaier. Nou stel die Here die mosterd-struik so voor, dat dit takke uitstoot sodat die voëls van die hemel (nasies) onder sy skaduwee nes kan maak. So sou die koninkryk van God uiteindelik die vervulling wees van dit waarna Israel alreeds heengewys het.

En so het die Here Jesus ook deur ander gelykenisse die Woord tot hulle gespreek volgens wat hulle kon verstaan (v.33). Hy het nie sonder gelykenisse met hulle gespreek nie. Die rede is dat die tyd vir ander maniere voor sy kruisiging en opstanding nog nie gereed was nie. Tog het Hy afsonderlik vir sy dissipels dit alles uitgelê (v.34). En vandag is ons, die wat ore het om te hoor, in die bevoorregte posisie om om te hoor wat Hy vir die dissipels verduidelik, sowel as om in die res van die Bybel te hoor wat hy verder openbaar het aan sy apostels. En tog is die gelykenisse so ryk dat ons nooit daarmee klaarkry nie. Dit bevat beelde wat ons op ons moet laat inwerk om ’n verbeelding te ontwikkel wat gerig is op die Koninkryk van God.   

Besprekingsvraag: Hoe gee hierdie gedeelte hoop in situasies wat verlore lyk?

Insig: Ons word hier opgeroep om diep na te dink oor die wonderbare en misterieuse krag van saad en daarmee van die Woord en die koninkryk van God. Die krag van die koninkryk is bedoel om ons lewensvisie om te dop. Wat is regtig belangrik en wat het regtig mag? As ons besef wie Jesus Christus is, en hoe kragtig die skynbare klein begin is wat in Hom op die wêreld losgebreek het en steeds voortgaan, slaan dit ons asem weg. Ja, die koringkorrel moes eers in die grond val en sterf (Joh. 12:24), maar die oes was en is ontsaglik groot. Dit oortref uiteindelik selfs Empaaiers waarby mense van die aarde dikwels rus en vrede soek in ruil vir magserkenning. In en deur die Kerk van Jesus Christus word die koninkryk van God in tyd en ruimte wêreldwyd sigbaar. Selfs diegene wat daarteen wil optree, kan nie help om dit na te boots deur skole en instellings van sorg en liefdadigheid nie. Ons word daarom geroep om visie te behou vir Kerk en Koninkryk in tye van skynbare swakheid.

2024/06/06

De profundis: Uit die dieptes

Lees: Psalm 130

Gedagte vir kinders: Roep die HERE aan in die donkerste dieptes en wag op sy antwoorde.

Oorsig: Psalm 130 is deel van die bedevaartsliedere. Dit is moontlik gesing wanneer die Israeliete opgetrek het vir hulle jaarlikse feeste in Jerusalem. Ons sing dit steeds op pad na die nuwe Jerusalem. Hierdie Psalm is deel van die sewe Boetepsalms (Ps. 6, 32,38, 51, 102, 130, 143) en is al baie gebruik om sondaars, privaat en gesamentlik, te help met woorde as hulle nederig tot God nader met hulle sonde (vgl. 1 Kon. 8:3-40). Ons hoor hier van aanroeping (v.1-2), skuldbelydenis en toevlug, (v.3-4), stille vertroue (v.5-6), en gesamentlike vetroue en lof (v.7-8).

Hierdie Psalmis is in die dieptes van chaos en dit voel of hy verdrink (vgl. Ps. 69:2,14; Jes. 51:10; Es. 27:34). Hy is in die dieptes, maar laat ons hoor wat hy haar doen waar dit voel of alles vergaan: Hy roep die HERE persoonlik aan (v.1; drievoudig tot by v.3).

Die Psalmis neem sy gebed verder en pleit dat die Here sy stem sal hoor en dat sy ore sal luister na sy smekinge (v.2). Hy is in sy lewenskrisis ook bewus van sy sonde wat in die pad staan dat die Here hom sal hoor. Dit kon dalk selfs die vernaamste oorsaak van sy krisis gewees het. Hy erken sy sonde en pleit biddend (As U, HERE ... ) dat niemand sal bestaan as die HERE werklik die sonde (ongeregtighede) in gedagtenis hou nie (v.3).  En daarom wys Hy ook op dit wat hom hoop gee. Hy stel dit eerstens teenoor die Here self dat daar by Hom vergewing is sodat Hy gevrees (aanbid) sal word (v.4). Let op: God word nie gevrees (vereer) en daarom vergewe Hy nie, maar Hy vergewe en daarom word Hy gevrees (vereer). Dit beteken dat mens in heilige eerbied en verwondering met Hom lewe wat geduldig met ons is en ons vergewe.           

Hierdie Psalmis wat die HERE drie maal persoonlik aangeroep het en dit telkens uitgebrei het, sê  nou ook drie maal dat Hy op die Here wag. Ook hier sê hy dit met sinne wat telkens uitbrei. Eers sê hy net dat hy op die Here wag. Dan brei hy daarop uit dat hy met sy diepste wese, sy siel, op die Here wag en op sy beloftes (woord) hoop (v.5). En hy brei dan verder hierop uit en stel dat sy siel op die Here wag meer as wat die wagters wat op die mure van Jerusalem wag gehou het in die nag, op die nuwe môre wag. Hy herhaal die woorde wagters op die môre om die beeld en verwagting te laat insink (v. 6). En dan roep die Psalmis die hele Israel op om saam met hom te wag op die HERE. Hy dink nie nou nie meer net aan sy eie situasie nie, maar aan alle gelowiges wat in die verbond met God lewe. Die rede waarom daar gewag kan word is om om daar by die HERE die goedertierenheid (let op die bepaalde lidwoord; chesed; verbondstrou) is, sowel as veel (menigvuldige/volkome) verlossing (v. 7; let op die rykdom hiervan. Vgl. Ef. 1:7, 2:4,7; Kol. 1:13,14). En dan voeg die Psalmis nog iets by. Die HERE self sal Israel verlos van al sy ongeregtighede (v.8). Dit is treffend dat hulle nie verlos word van ’n situasie of van vyande nie, maar van hul sonde. Dit het gebeur toe die Here self sy Seun vir ons gegee het om ons te verlos van ons sonde (vgl. Mat. 1:21).              

Besprekingsvraag: Gee voorbeelde van dieptes waarin kinders van die Here kan beland.

Insig: Daar is verskillende maniere waarop ’n mens in ’n lewenskrisis of beproewing kan beland. Dit is goed dat ons nie presies weet wat dit hier was nie, sodat ons elke belewenis van chaosmagte, hier genoem die dieptes, daar waar dit voel of jy verdrink, hierop kan betrek.