2017/01/07

Baie meer as nuwe keuses

In Hand. 5:31 kry ons een van daardie verse wat te min aangehaal word. Oor die Logos van die heelal, Jesus Christus wat mens geword het, word die volgende gesê: "Hom het God as Leidsman en Verlosser deur sy regterhand verhoog om aan Israel bekering en vergifnis van sondes te skenk."

In die eerste plek is dit gepas om iets oor die vertaling te sê. Hoewel nie volmaak nie, is ek van kop tot tone ’n ondersteuner van die 53-vertaling. Dit het te make met grootword, met melodieuse taal, met Langenhoven en met die beeld van hoë definisie televisie. Ander dag dalk meer daaroor. Vir nou is dit genoeg om net kennis te neem dat daar redes is waarom jou ondersteuningsvlakke maar hoog kan wees vir hierdie topverkoper. In tye van hooggety wonder ek selfs of die vervlakking in ons land nie deels te make het met lae definisie Bybelvertaling wat die ontginning van Bybelskatte kortwiek nie. Maar nou-ja, kom ons fokus dan nou op die hoë definisie wat ons hier vind.


Die verhoogde Heiland skenk bekering en vergifnis van sondes aan Israel, en per implikasie ook aan ons. Wat ’n bemoediging! Enigeen wat al erns gemaak het met bekering weet dat dit ’n weerbarstige saak is. Daar is die kwessie van motiewe wat maar moeilik is om te peil; daar is die halfhartigheid, en dan is daar natuurlik ook die onvermoë. Enigeen wat die populêre keuse-retoriek volg en maak asof dit bloot oor keuses gaan, het duidelik nog nie die rol van omgewing en kondisionering en swakheid van wilskrag verreken nie. Laat ons dit daarom maar weer weergalm: Augustinus het in die kerkgeskiedenis nie om dowe neute swaarde met Pelagius gekruis nie. Ons het baie  meer as nuwe keuses nodig. 

Ons teks sê dat ons Jesus Christus nodig het, selfs vir ons bekering. Vir die van ons wat suspisie het oor ons eie vermoë tot bekering is dit goeie nuus.

2016/06/23

Skrywers en die spreek in tale

Skrywers spreek dikwels in tale. Sekerlik nie heeltemal op dieselfde manier as wat sommige as die ware Jakob sal beskou nie, en tog ook nie heeltemal verstoke daarvan nie.

Die verskynsel van glossolalie is, so seg die antropoloë vir jou, 'n algemeen menslike verskynsel. Onder die (in)druk van die regte gemoedsaandoeninge vind 'n katarsis plaas wat eksessiewe taal via die tong loslaat. Strome van lettergrepe stort eenvoudig oor die lippe soos die gemoedsdrif in tong en klank oorspoel.

Skrywers ken iets hiervan. Ook hulle moet soms eers soos befaamde glossolale onder die regte toestande verkeer voordat hulle 'n woordkabaal loslaat. Soms benodig ook hulle eers die inspirerende taal van 'n ander, in hierdie geval die taal van 'n ander skrywer, om hul eie tiktonge los te maak. En wanneer hulle dan in hierdie bui kom, begin hulle om in vervoering te tik, soms met byna net stuurbeheer oor die woordgletsers wat oor die bladsye en skerms stort.

Noem dit muse as jy wil. Noem dit bloot a-ha as jy dit met jou woordstyl mak wil maak, maar die skrywerskworum is nou eenmaal temperamenteel en hulle ken daardie besondere oomblikke van aandoening waar moet-skryf so natuurlik soos buig voor die Koning is. Menige skrywer sal daarom ook in hul eerlike oomblikke bely dat hul al agtergekom het watter blootstelling makliker die sneller in hul woordstorms aftrek. In sulke tye ry jy die golf en die euforie ry vir jou, so bloots, dat jy wonder of seiljag of vryval ooit aandoenliker kan wees as die ervaring van 'n skryfdriftige, in volle vaart voor 'n rekenaarskerm.

En tog is die woordsmit met meer as glossolalie besig. Want die skryfkuns nooi juis uit om die wêreld te interpreteer, en tot stigting van die leser te vertroos, te vermaan en te bemoedig.

2016/05/10

Nee vir links-regs marse

Elke keer, net soos wat dit lyk of die laaste blogskrif gaan verjaar, vind daar 'n terugkeer plaas. Nou-ja, kom ons kyk of opvolgskriffies dalk hierdie keer langer volgehou kan word.

Hierdie inskrywing gaan hopelik nog uitdy. Dit gaan oor die links-regs retoriek. Onlangs meld 'n verlangse vriend dat daar daar 'n verskil is tussen die regse idioom en die konserwatiewe idioom. Vir sommige mag dit dalk nuus wees, maar ek vermoed konserwatiewes voel hierdie verskil lankal aan. Bring 'n mens dit in verband met die groot voorspraakmaker vir die konserwatiewe gedagte, Russell Kirk, besef jy dat hy dit eintlik al lankal gesê het. 

Kirk het graag daarop gewys dat die konserwatiewe gedagte nie 'n ideologie is nie. Onlangs het Bradley Birzer 'n nuwe biografie oor Kirk laat verskyn. Enkele indrukke  daaroor kan hier gevind word. Wat insiggewend is, is dat die skrywer van die artikel, Samuel Gregg van Acton-faam, spesifiek by die links-regs mars aanhaak. Hy wys op bevatlike wyse op drie redes waarom Kirk wars gestaan het oor hierdie manier van dink:

1. Links-regs denke hang vir Kirk nou saam met ideologie, en ideologie - in sy linkse of regse gestalte - is 'n tipe omgekeerde godsdiens. Die hemel word op aarde gesoek en dan word daar, veral aan die linkerkant, maar ook op die regterkant (nasionalisme in onderskeid van patriotisme), mettertyd verval in allerhande dwingende wyses waarop die sogenaamde hemel deurgevoer moet word.

2015/06/19

Bordwell oor Žižek, en dalk ook die Kerk

David Bordwell, die teoretiese filmkenner, het my nommer. Al verskil ons waarskynlik sterk oor geloofsake, wandel ek graag in die gange van sy gedagtes, natuurlik met die volle wapenrusting aan. Ek sou graag wou glo dat dit iets te make het met die grondstrukture van die algemene genade waarby Bordwell dikwels inskakel. Die aanhaling wat hier volg as reaksie op die veelsydige Marxistiese filosoof en kultuurkritikus, Slavoj Žižek, is 'n goeie voorbeeld. Dit bevestig dat enigeen wat nugter die grondslae van sy eie spesialis-gebied opsoek, moontlik iets te sê het vir hulle wat ons voorgaan in meta-analises. Dit lyk vir my of Bordwell nie net vir  Žižek iets te sê het nie, maar sommer ook vir menige kerke en teoloë wat naïef rondswem in die waters van hul erkende en onerkende meesters. Besluit maar self as jy die volgende woorde van Bordwell hoor:

"Most important, although I didn’t have Žižek in mind when I wrote the essay, he himself instantiates all the conceptual commitments and rhetorical habits I criticize. His work is a pastiche of many, widely varying intellectual sources (from Ernest Laclau to Stephen Jay Gould). He is an associationist par excellence. His use of films is purely hermeneutic, with each film playing out allegories of theoretical doctrines. And he never doubts his masters Hegel and Lacan, exemplifying the tendency I characterize this way: “The pronouncements of Lacan, Althusser, Baudrillard, et cie are often simply taken on faith” 

Kom ons haal die soliede punte stelselmatig uitmekaar vir beter besinning oor dit waarteen ons almal moet waak:
  • Daar is konsepsuele verbintenisse en retoriese gewoontes wat ons het wat dalk gekritiseer moet word. Ed De Bono het reeds lankal daarop gewys dat baie van ons verskille te make het met persepsie en nie met logika nie. Dit is op hierdie vlak wat ons so maklik by mekaar verbypraat en so maklik by ons eie konsepsuele verbintenisse verbykyk, gewoon omdat ons nie anders kan as om ook deur hulle te kyk nie.
  • Ons kan soveel intellektuele bronne hê dat ons op eklektiese wyse daarmee omgaan. Die gevolg is dat ons dit nie georden inspan nie, maar op 'n wyse waar ons onsself verskoon dat ons met die model van pastiche werk - 'n handige verweer in die wereld van eklektisisme.
  • Ons kan so verbind wees aan ons eie idees dat ons assosiasie-slawe word (is daar in Afrikaans 'n woord soos assosianis?). Met ander woorde, om die begrippe van C.S. Lewis te gebruik, ons gebruik dit wat voorhande is bloot instrumenteel om ons te herinner aan die reeds bekende, in plaas van om dit te ontvang as iets wat juis ons eie wêreld met sy assosiasies oorstyg. 
  • Ons kan films en narratiewe bloot op hermeneutiese wyse allegories begin lees om ons gunsteling temas te onderskryf en die unieke lyne van die storie met sy narratiewe genot eintlik op die agtergrond skuif.
  • Ons verbintenisse, bewus en onbewus, aan die eintlike meesters wat ons meta-narratief, kan so slaafs wees dat daar eintlik nie meer plek vir bevraagtekening deur die groot Meester is nie. Die sluit ook die groot meesters van Pomoland in. Die oomblik wanneer daar so omgegaan word met die meta-narratief en sy meesters, het ons net 'n onvermydelike nuwe weergawe van "deur die geloof alleen", met ander woorde die implisiete nuwe gesagsbron van onfeilbaarheid. 

2015/05/26

Fundamentalisties, en jy?

Lakmoestoetse is nie vandag baie gewild nie. Die rede is dat dit die manier het om dwaasheid met een veeg van die tafel af te vee. Dit is, kla die beswaardes, so fundamentalisties met die waarheid en te enkelvoudig beredeneerd. Die vinnige reduksie tot die absurde was egter nog altyd 'n handige instrument om kaal keisers uit te ken. Oorweeg gerus die volgende geval waar Douglas Wilson hierdie metode toepas op postmoderne hermeneutici se verswygde fundamentalistiese bedrading. 

"If you want to find out who really runs the joint, find out who you are not allowed to apply a creative hermeneutic to. Nobody gets to read Supreme Court decisions the way they read the Constitution. If, for example, our august justices decide that the right to keep and bear arms means that we don’t really have the right to keep and bear arms at all, after a quick experiment you will
readily ascertain that you don’t get to read their decision taking away your right to keep and bear arms as meaning, actually, that you do get to keep and bear arms. And since you have come crashing up to the place where a simple grammatical/historical hermeneutic is required, and no funny business, you have identified your rulers.

Dit is werklik 'n vraag of sekere slimsotte in die wêreld van interpretasie nie met groter beslistheid aan die kaak gestel moet word nie. Volg gerus die geld, maar ook die eise van interpretasie, as jy aanspraakmakers op die kroon wil identifiseer. En ja, maak dit gerus 'n lakmoestoets. Dit bly een van die beste grappe oor postmoderne meerderwaardiges - dat hulle boeke en boeke oor hoordershermeneutiek kan skryf, en dan verwag dat ons dit met respek vir die outeur moet hanteer. Dit is baie na aan seker dat dit een van die sake gaan wees waaroor ons kinders se kinders hierdie huidige geslag gaan uitlag. Kom ons wees dan maar ons tyd vooruit en giggel nou al so 'n bietjie saam met ons toekomstige kleinkinders. Laat die glinstering in die oog ook glad nie ontbreek nie.

2014/05/28

GeKant teen die waarheid

Hier volg enkele dele uit Reardon se reeds genoemde artikel in Afrikaans. Sy verduideliking is kort, maar baie kragtig. Daar lê wêrelde en geskiedenisse opgesluit in sy woorde. En die bepaalde soort Kantiaanse skaduwee wat hy aantoon moet nie misgekyk word nie. Dit is, dink ek, nie moontlik om die benarde posisie van teologie in Suid-Afrika te begryp sonder hierdie insig van Reardon nie. Die betekenis en invloed van Nominalisme en Voluntarisme moet baie duideliker in ons woordeboeke onderstreep wees. Dit help baie om die storie van teologie in Amerika, maar ook Suid-Afrika, te ontrafel:

"Populêre moraliteit in die huidige Amerikaanse kultuur is diep in die skuld by beide die Nominalisme van die Laat Middeleeue en die Voluntarisme van die Verligting. Aangesien ek hierdie skuld as betreurenswaardig beskou, sal dit dalk goed wees om te begin met 'n kort verduideliking van hierdie terme.

Volgens die Nominalisme van die Laat Middeleeue, word ons konsepte geskep deur ons denke. Na aanleiding van hierdie teorie, neem ons inligting, verkry deur ons sintuie, en ons gebruik hierdie data om samehangende vorm te gee aan daardie abstraksies wat as "idees” bekend staan. Dit beteken dan dat "waarheid" 'n skepping is van ons denkprosesse. Ons deel die gemeenskaplike "name" (nomina) van die dinge, maar nie die eintlike waarheid waarna hierdie name verwys nie.

Hierdie teorie van kennis vorm die basis van die Verligting se Voluntarisme. Volgens hierdie morele skool, skep die menslike wil (voluntas) die morele norme, baie soos wat die menslike verstand abstrakte konsepte skep. Morele redenasie is diensbaar aan 'n verbintenis van die wil, en morele norme word bevestig deur die morele keuses. Die morele wet is gebaseer op 'n morele besluit.

Buite hierdie keuse is daar geen morele wet nie, net soos wat daar geen "waarheid" buitekant menslike opvattings daarvan is nie. Die enigste "morele beginsel" is 'n akte van die keuse. Alle etiek is gekose etiek. Daar is geen blywende morele norme wat werklik - in re - "daar buite" is nie. Daar is niks wat "bestaan​​" wat bevele aan die gewete kan dikteer nie."

Reardon eindig sy betoog met die volgende woorde: "Hier is my eenvoudige tese: Die mens se kapasiteit vir morele persepsie is inheems aan sy geskape wese. Of sy persepsie verlig is deur die Evangelie en verhef deur Goddelike genade, of nie, is irrelevant tot die oorsprong daarvan; daar is wette waardeur alle mense gebind is as gevolg van die geskape orde."

2014/05/27

Deutrek van Kantiaanse liberalisme

Soms is dit goed om vanuit ander oorde te hoor wat aangaan. Hier is ’n artikel afkomstig uit die Ortodokse Kerk, van ene Patrick Henry Reardon.  Hy verwys aan die einde na iemand wat deesdae nogal gereeld op die radar verskyn, maar waarvan die meeste onder ons nog net gehoor het: Maximus die Belydende! 

Kom ons stel die vraag na die belang van Maximus vir ’n oomblik ter syde. Hierdie artikel plaas na my mening kort en kragtig die vinger op die pols van twee basiese sake wat onderliggend voortdurend 'n rol speel in ons (modernisties/postmodernistiese) gesprekke: Nominalisme en Voluntarisme. Die briljantheid van die artikel lê myns insiens in Reardon se vermoë om die eenvoud van die twee geite aan die orde te stel. 

En dit gooi natuurlik olie op my vuur in die vermoede dat ons teologie deurtrek is, nie van Oxi-Vite soos in die kostelike advertensie nie, maar van Kantiaanse liberalisme. In 'n volgende aflewering sal ons die masjiengeweer op Afrikaans stel en dele uit die artikel vertaal.