2021/07/12

Watter Weste?

Die literêre denker, Joseph Pearce, skryf gewoonlik meevoerend. Nie te lank gelede nie, het hy in 'n nuusbrief voedsel vir verorbering oor die begrip Weste gegee. Watter Weste? Dit is die tema wat Pearce aan die orde stel. Kategorieë maak saak en Pearce onderskei tussen die ou Weste en dit wat neerkom op die s​o​genaamde nuwe Weste. Laasgenoemde kom neer op post-Verligting. Die ou Weste kom neer op Athene wat vir Jerusalem ontmoet het. Die word ook Christendom genoem. Pearce wys daarop dat hierdie twee visies op die Weste steeds in 'n titaniese stryd gewikkel is. Dit is nie asof nuut bloot vir oud vervang het nie. Hoewel hy dit nie so uitbeeld nie, is dit eerder twyfelagtige water wat vir algemeen ontwyfelbare wyn probeer vervang. Die stryd duur voort en diegene wat oortuig geraak het van die uitgediende aard van die wyn-weergawe, moet weer besin. Dit was nog altyd tipies van dwaalligte om voor te gee dat die permanente dinge nou uitgedien is. En keer op keer het realiteit teruggeskop en voortgalop.

2021/07/07

Gemeenskapsuniversiteite

Ek het by geleentheid 'n toespraak oor die model van gemeenskapsuniversiteite gehad wat later vir Maroela Media verwerk is by hierdie skakel. Die volgorde van die artikels is eintlik, as jy met 'n loopfoon werk, van onder af boontoe. Die goeie gonswoord van ons tyd is gemeenskap. Die herwaardering van gemeenskapsbeveiliging,  gemeenskapsbesighede en selfs gemeenskapskerke is aan die orde van die dag. Dit verteenwoordig die lokalistiese antwoord op die globalisme met sy klem op standaardisering en gelykstelling op die maat van moderne vooroordele. Daarom is dit eintlik voorspelbaar dat ons ook sal herbesin oor die die model van gemeenskapsuniversiteite binne federale omgewings.

Kerke en Godverwysing

In een van my studiegidse het ek die volgende raakgeloop:  

"Ons moet nie die fout maak om die Kerk as bykomstig te sien in die lewe van Christene nie. Mense leef óf selfverwysend óf Godverwysend en die Kerk bied aan ons die konkreet-wonderlike wyse waarop ons Godverwysend en meer nog, in gemeenskap met die Drie-enige God mag leef. Hierdie bediening in die Kerk geskied verder langs die weg van ampte waardeur Christus sy gesag en genade aan mense bedien en ons moet dit alles waardeer as gegee om ons te begelei in ons wandel met God en in die deelhê aan die gemeenskap van die Drie-eenheid." 

Waar dit nie gebeur nie en die kerke leeg word, word die tronke vol, het onse voorouers gesegdegewys gesê. Ons kan dit deftig in ander woorde plooi, maar die insig bly relevant. Dit is dat die samelewing sekulariseer, en allerhande geite verwag kan word om na vore te tree waar God en sy gebod vir mense op die agtergrond staan. Dit bly egter simptome van 'n dieper probleem: Die gebrek aan gemeenskap en wandel met God in en deur Christus en sy liggaam.

2021/07/06

Sondag en metafisika

Die bekende evangeliserende Biskop op sosiale media, Robert Barron, was onlangs in gesprek met die Iranees-Amerikaanse joernalis en opkomende konserwatiewe intellektueel, Sohrab Ahmari. Dit het gehandel oor Ahmari se nuwe publikasie, The Unbroken Thread: Discovering the Wisdom of Tradition in an Age of Chaos. Jared Zimmerer, die Senior Direkteur van die Word on Fire Instituut, het die gesprek gelei.

Daar is by bepaalde temas van Ahmari se boek stilgestaan, maar die tema waaroor dit hier gaan, kan gevind word vanaf die 20ste minuut tot en met ongeveer die 38ste minuut. Dit is die tema  wat Zimmerer beskrywe as 'n kulturele verlies, 'n geestelike verlies, ja selfs 'n metafisiese verlies. Indien iemand nog wonder, dit gaan oor die Sabbat, of die Dag van die Here, of soos hoofstuk drie van Ahmari se publikasie dit stel, "waarom sou God wou hê dat jy 'n dag af moet neem? 

Zimmerer se verband wat hy trek met 'n metafisiese verlies is insiggewend. Dit spruit voort uit Biskop Barron se opmerking net vantevore dat al ons standpunte voortvloei uit ons metafisika, of ons daarvan bewus is of nie. In pronter Afrikaans gestel: Alles vloei voort uit ons visie op die werklikheid, wat ook die werklikheid anderkant ons sintuie insluit. Al ons standpunte spruit met ander woorde voort uit ons wêreldbeskouing, of om dit nog meer deftig uit te druk, uit ons metafisiese aannames. Dit sluit jou beskouing van, benadering tot en deelname aan Sondag in. 

Ahmari verwys na rabbi Abraham Joshua Heschel wat 'n bekende intellektueel uit Pole in die middel van die vorige eeu was. In Pole was die Sabbat volgens Ahmari toe nog gesien as die sentrale hegstuk van die lewe. Heschel het daarop gewys dat dit wat lyk na beperking, inderwaarheid bevryding was. Ja, die Sabbat was die bron van innerlike vryheid. Dit was die wyse waarop die geopolitieke en kommersiële ryk van ruimte verruil is vir die ryksgebied van tyd. Dit was die tydsruimte waar intenser bewuswording van God plaasvind - die God wat nie van enige gebeurlikhede afhanklik is nie, wat ewig is, en waar intieme tyd met Hom spandeer kon word. Dit het daarom ook verder gegaan oor 'n sabbatsvisie waar mense gewaardeer is vir wie hulle is en nie bloot vir wat hulle doen nie. 

Dit is hierdie sabbatsvisie, sê  Ahmari, wat verloor is in die naam van vryheid. Hy staan selfs op die standpunt dat die sogenaamde “blue laws” van Sondagswetgewing herstel moet word. Is dit nie outoritêr nie?  Volgens Ahmari is die antwoord nee en hy wys daarop dat die VSA met sy protestantse DNA maar eers in die laaste drie tot vier geslagte begin het om aan hierdie ou tradisie weg te kalwe en die resultaat daarvan formuleer hy op treffende wyse: Die vryheid van die Sabbat is verruil vir die vryheid van die markte. Ons het dit verloor, se Ahmari en skielik is alles nou oop op Sondag.

2021/06/11

Boekbespreking: Science, Politics and Gnosticism: Two Essays [1960] 2012, deur Eric Voegelin (2)


In die eerste aflewering is die klassieke publikasie van ’n politieke filosoof van die twintigste eeu, Eric Voegelin, bekend gestel. Volgens Voegelin is die Gnostisisme die essensie van modernisme en nuwe dinge is nie so nuut is soos wat ons dink nie. Hy is van mening dat daar duidelike motiewe, simbole en denkpatrone van die gnostiese bewegings tot in ons tyd geëien kan word. In hierdie aflewering kyk ons na sy tweede en laaste essay in sy publikasie met die titel Science, Politics and Gnosticism. 

Surrogaat-godsdiens: Gnostieke massabewegings

In sy tweede referaat, Ersatz Religion: The Gnostic Mass Movements of our Time,  hanteer Voegelin die gnostiese massabewegings en die intellektuele bewegings van sy tyd (en ons tyd) as minderwaardige plaasvervangende godsdienste. Insiggewend genoeg toon hy hiermee aan dat daar nie so ’n groot verskil is tussen massabewegings en intellektuele bewegings as wat sommige dink nie. Voegelin voer aan dat beide hul oorsprong het in bepaalde intellektuele en kleingroepe. Dit laat ’n mens dink aan die kleingroepe waaruit die Kerk ook gegroei het en versterk die vermoede van die nabootsing van godsdiens. Hierdie vermoede word ook verder bevestig wanneer Voegelin opmerk dat ons die woord altruïsme aan Auguste Comte te danke het, en dat dit die sekulêre plaasvervanger vir liefde is wat gebruik om word om die broederskap van mense sonder die Vaderskap van God te erken. Hieronder tel hy die progressiwisme, positivisme, Marxisme, vorme van psigoanalise, kommunisme, fascisme, en nasionale sosialisme.       

Voegelin identifiseer ’n gnostiese lyn vanaf die antieke Mediterreense gebied deur bewegings van die Hoë Middeleeue heen, tot by die Westerse Renaissance en Reformasie. Hy identifiseer ses kenmerke van die gnostiese houding. (1) Ontevredenheid met die eie situasie (nie so vreemd nie); (2) die geloof dat die situasie te wyte is aan swak organisasie van die wêreld (meer vreemd – dit is hiervolgens strukturele probleme eerder as sonde-probleme); (3) redding uit hierdie bose toestande/strukture is moontlik; (4) Die wese van die wêreld moet verander word in ’n geskiedkundige proses; (5) Die verandering moet geskied deur menslike aksie en die mens se eie pogings; (6) die ingeleides met kennis sal vir ons die metode wys hoe dit moet gebeur. Dus: ’n formule vir selfverlossing en wêreldverlossing.  

Tipiese simbole

Hierdie houding vind uitrukking, nie net in bepaalde denkpatrone nie, maar ook tipiese simbole. Die motiewe en simbole sal hier net kortliks genoem word, en dan sal daar veral na twee uitdrukkings daarvan gekyk word wat ligte tot in ons dag laat opgaan.

Boekbespreking: Science, Politics and Gnosticism: Two Essays [1960] 2012, deur Eric Voegelin (1)



Ons is almal nou Gnostieke. Dit is die vangfrase wat onlangs in 'n podsending gebruik is toe die metafisiese uitkyk van ons tyd ter sprake was. Een van die verwysings wat die stelling moes staaf, was hierdie kern-werk van Eric Voegelin wat nagenoeg 100 bladsye beslaan en wat dateer uit 1959-60.

By die herlees van hierdie werk kom die uitlokkend polities korrekte spot by 'n mens op. Dit is dat 'n blonde man drie keer vir 'n grap lag - wanneer hy dit hoor, wanneer hy dit oorvertel, en wanneer hy dit verstaan. Voegelin se werk maak van die meeste van ons, in elk geval van hierdie bekendsteller, blonde mans. Vergun my daarom om oor te vertel, sodat ook ek kan snap. Volgens Voegelin is Gnostisisme die essensie van modernisme. Die stelling behoort aandag te trek, aangesien hierdie bondige werk van Voegelin beskou word as ’n klassieke werk in moderne politieke teorie volgens Ellis Sandoz wat die voorwoord geskryf het. Sandoz wys daarop dat hierdie werk van Voegelin ongeveer agt jaar na sy publikasie, The New Science of Politics (1952), verskyn het en dat hierdie later werk die tweede gedeelte van die genoemde publikasie verdiep.

Moet ook nie die fout maak om te reken dat selfs hierdie stelling in vandag se post-wêreld agterhaald is nie. Ons is mos, so reken baie, darem nou lankal uit die modernisme uit en in die post-postmodernisme in. By die lees van Voegelin word dit egter duidelik dat Voegelin ook vaders van die post-gedagtes  - soos Nietzsche, soos Joachim van Fiore - insluit. Om die waarheid te sê, Voegelin sou vandag waarskynlik sê dat die skadu van Gnostiekeland bloot duideliker en donkerder geword het. En deel van die dilemma is, sê Voegelin oorgeklank, dat ons steeds met gnostiese konsepte probeer om uit te klim uit die gnostiese gat wat ons vir onsself gegrawe het. Wat moet dan gebeur?

2021/06/01

Oor dogma, drama, en diepte

Dorothy Sayers is bekend vir haar woorde oor dogma en drama:

"We are constantly assured that the churches are empty because preachers insist too much upon doctrine—dull dogma as people call it. The fact is the precise opposite. It is the neglect of dogma that makes for dullness. The Christian faith is the most exciting drama that ever staggered the imagination of man—and the dogma is the drama."

Sayers gaan dan voort om daarop te wys dat dit sentraal staan in die vraag na wie Jesus as die Christus in die belydenis van die Kerk is. Sy wys dan ook op die dramatiese Persoon van Jesus Christus wat in die dogma van die Kerk bely word. 

Op my radar het ek 'n aantal jare gelede aan die hand van die  teoloë, Kevin Vanhoozer en Michael Horton, met hierdie dramatiese beklemtoning van Sayers bekend geraak. Die drama-aspek het dan ook 'n goeie, en ek wil byvoeg boeiende effek, in beide Vanhoozer en Horton se teologie tot gevolg. Dit is natuurlik ook kenmerkend van ons tyd om die sosiale aspekte van die werklikheid uit te lig en waar dit reg gedoen word, kan dit definitief help met vrugbare ontsluiting. Dit kan ook help om konstante en dinamiese benaderings met mekaar in spel te hou. Solank die dinamiese net nie die konstante en permanente aard wil versluier of verslind nie, want dit is wat ongelukkig te tiperend van ons tyd geword het. Maar dit kan vir seker help om die vonkel uit te ken, ja ook die vonkel van ouderdom en goeie wyn. So gebruik Horton 'n treffende struktuur van vier dawerende D's om die verskillende loci van die sistematiese teologie te benader: Drama, dogma, dissipelskap, doksologie.    

Vergun my ook 'n verdere D: diepte. Die dogma gee diepte aan die boodskap van die Skrif. Daarsonder is die prediking opsigtelik plat.