2025/06/18

Die vreugde en koste van dissipelskap

Lees: Eksodus 19:1-9

Gedagte vir kinders: Kinders van die Here wys elke dag vir die wêreld aan wie hulle behoort.

Oorsig: Die kinders van Israel het Egipte verlaat tydens Paastyd, dit is die 14de van die eerste maand Nisan/Abib, dit beteken dat toe hulle in die derde maand (Sivan) ná die uittog in die woestyn Sinai aangekom het, dit aan die begin van die maand ongeveer 45 dae ná die uittog was dat hulle by Sinai aangekom het (v. 1). Daarom is baie verklaarders van mening dat Here se verskyning op Sinai en die tien gebooie se afkondiging op die 50ste dag na die Pasga, dit is Pinksterdag, plaasgevind het (vgl. Lev. 23:5,15-16; Num. 28:26). Die volk het daar by Sinai, komende vanaf Rafidim, teenoor die berg laer opgeslaan waar die Here aan hulle sou verskyn (v.2). Daar het Moses opgeklim na God toe en die HERE het hom van die berg af toegeroep. Ons sien reeds hier hoe Moses as ’n tipe middelaar tussen God en die volk optree. Die HERE het vir Moses gesê dat hy die volgende aan die huis van Jakob, die kinders van Israel moet verkondig: Hulle het self gesien wat die HERE aan die Egiptenaars gedoen het en dat Hy Israel na Hom toe gebring het soos wat ’n arend sy kleintjies op sy vlerke dra (v.3-4). Hierin hoor ons die vrye genade van die HERE met Israel.

Maar hiermee saam: As die volk dan nou getrou (terdeë) (1) na die HERE se stem luister en (2) sy verbond hou, sal hulle sy besondere persoonlike eiendom uit al die volke wees, al het die hele aarde aan Hom behoort (v.5). Hulle sou dus uitstaan as lig in die duisternis en vir die wêreld wys hoe dit lyk waar God woon. So sal hulle vir Hom, let wel, ’n koninkryk van priesters en ’n heilige nasie wees. Dit moes Moses aan die kinders van Israel meedeel (v.6). Moses het toe gekom en die oudstes van die volk laat roep en hulle al hierdie woorde voorgehou wat die HERE hom beveel het (v.7). Toe het die volk eenparig almal saamgestem en gesê dat hulle alles wat die Here gespreek het sal doen. So het Moses as middelaar weer die woorde van die volk aan die HERE oorgebring (v.8).

Die Here het toe vir Moses gesê dat Hy in ’n dik wolk na Hom sal kom en dat die volk sal kan hoor as Hy met Moses spreek. Dit sal meewerk dat hulle altyd aan Moses glo, want Moses het die woorde van die volk aan die HERE meegedeel (v.9). Die Here sou dus nog ’n maal deur sy verskyning by Sinai met die afkondiging van die tien gebooie vir die volk bevestig dat Moses sy kneg en middelaar is deur wie Hy met hulle sou praat.     

Besprekingsvraag: Hoe sien ons die vreugde sowel as koste van dissipelskap in hierdie gedeelte?

Insig: Dit was ’n besondere uitspraak dat Israel ’n koninkryk van priesters genoem is, maar beslis nie iets heeltemal nuut nie. Adam was geskape om ’n priester-koning in die tuin van Eden te wees en Israel sou nou hierdie roeping kollektief as besondere volk voortsit. Israel sou ’n koninkryk van priesters vir die wêreld wees wat vir die wêreld oor God leer en vir die wêreld tot God kon bid. Innerlike beteken dit sulke koninklike priesters God deur gereinigde kennis leer ken en in liefde en aanbidding van Hom groei. Uiterlik beteken dit ook dat die nasies in verwondering sou wees oor hulle God se regverdige wette vir hulle samelewing (Deut. 4:7-8). Abraham het reeds die belofte gehad dat in hom al die geslagte van die aarde geseën sou word (Gen. 12:1-3). Hier moes Israel as draer van Abraham se beloftes dit voortsit deur ’n koninklike priesterdom vir die wêreld te wees. Hulle was ook die draers van die beloftes oor die Messias wat in Christus waar geword het. In Christus as verteenwoordiger van Israel, kan al die geslagte van die aarde nou geseën word vir elkeen wat in Hom glo en voor Hom buig. In die Nuwe Testament word hierdie roeping nou verder voortgesit deur die Kerk van Jesus Christus. Die Kerk is nou ’n koninklike priesterdom uit al die nasies om die deugde van God aan die wêreld te verkondig van Hom wat hulle in Christus geroep het tot sy wonderbare lig (vgl. 1 Pet. 2:5,9-10). Die Kerk sit dus nou die roeping van Israel voort en daarom kan ons met waardering luister oor wat God deur hierdie Woord vandag nog steeds vir sy Kerk sê. Dit gaan hier oor die vreugde van dissipelskap sowel as die koste van dissipelskap (Brueggemann).

2025/05/23

Die groot Geneesheer en jy

Lees: Mat. 9:9-13

Gedagte vir kinders: Vir mense wat weet hulle het sonde, is dit goeie nuus dat Jesus Christus die groot Geneesheer is.

Oorsig: Ons lees hier te midde van die wonderwerke van die Here Jesus, hoe dat Hy een van sy apostels geroep het en dat dit ’n strydvraag laat ontstaan het. Hier verwys Mattheus na homself en hoe die Here hom geroep het. In die ander evangeliebeskrywinge word hy met sy ander naam, Levi genoem, maar Mattheus verkies hierdie naam. Wat sy motief was, weet ons nie, maar dit help ons om hom met albei sy name te identifiseer. In daardie tyd het mense dikwels met twee name bekend gestaan.

Mattheus vertel dat die Here hom by die tolhuis sien sit het (v.9). Mattheus was dus ’n tollenaar en hulle het ’n baie slegte naam by die Jode gehad. Die rede is dat hulle Herodes Antipas en die Romeine gehelp het om die belasting by hulle eie volk te hef, en boonop hulself in die proses verryk het. Hulle is daarom deur die volk as verraaiers beskou. En tog, die Here Jesus sien hom en sê: “Volg my.” En dan hoor ons dat Mattheus eenvoudig opgestaan en Hom gevolg het (v.9). Direk daarna hoor ons van ’n huis, Mattheus s’n (Luk. 5:29) waarby Jesus aan tafel was en dat daar baie tollenaars en sondaars saam met Jesus en sy dissipels aan tafel gegaan het (v.10). Dit klink soos ’n fees, maar vir Jode het dit beteken dat jy daar onrein sal word en boonop eet saam met mense met wie jy innige bande het. Die Fariseërs, een van die strengste groepe onder die Jode oor die onderhouding van die wet, het dit so gesien en toe nie vir Christus nie, maar vir die dissipels gevra waarom Hy eet saam met tollenaars en sondaars (v.11).       

Toe die Here dit hoor, het hy vir hulle gesê dat die wat gesond is nie die geneesheer nodig het nie, maar die wat ongesteld is (v.12). Hy het ook verder vir hulle gesê dat hulle moet gaan leer wat die volgende woorde in die Ou Testament in Hosea 6:6 beteken: “Ek wil barmhartigheid hê en nie offerhande nie.” Hy het toe verder gegaan en gesê dat Hy nie gekom het om regverdiges te roep nie, maar sondaars tot bekering (v.13). Daardeur het die Here twee dinge duidelik gemaak: (1) Hy het nie gereken dat alles wel was met die tollenaars en sondaars nie. Sy doel was daarom genesing wat bekering insluit, soos Hy ook vanaf die begin van sy bediening geleer het (vgl. Mat. 4:17). Dit was (2) ook uit sy woorde duidelik dat net mense wat besef hulle is sondaars en nie reg met God nie,  sy oproep sal hoor om hulle in sy Naam te bekeer.      

Besprekingsvraag: Wat is die verband hier tussen genesing en bekering en sonde?

Insig: Mattheus word net soos ander apostels vroeër, geroep by dit wat sy beroep geword het (vgl. Mat. 4:18-22). Dit is asof die woorde van die Here Jesus met kernkrag sy hart oopmaak as Hy ook vir Mattheus soos die ander dissipels sê: ‘’Volg My.” Iewers behoort elke kind van God ook die persoonlik hierdie roepstem van Christus te hoor. Sy roeping hier het implikasies en leer dat dissipels dikwels moet afsien van die sonde, maar ook van die bekende en van gemaksones. Mattheus was as tollenaar ’n welgestelde man met onder meer ’n huis en onthaalfasiliteite wat hy moes prysgee, maar Christus se roeping was ’n bevrydende oproep weg van die tolhuis en van tollenaar en verraaier en swendelaar en om sonder morele kompas by sy eie volk te wees.

Die wonder is dat hierdie verraaier van sy volk  dissipel en apostel word, ja selfs instrument om een van die geliefde Bybelboeke vir ons na te laat. Dit laat ons besef: As God roep, kyk Hy nie na jou prestasies of sondes vir kwalifikasie nie. Hy roep nie die wat kwalifiseer nie, maar gee eerder sy kwalifikasie aan die wat Hy roep. 

2025/05/12

Die Heer sal opstaan tot die stryd

 Lees: Psalm 68

Gedagte vir kinders: Niemand kan standhou wanneer die Here vir sy kinders optree nie.

Oorsig: Psalm 68 gaan oor die oorwinning van die Here in hierdie wêreld en beskryf met poëtiese taal die gang van God se volk in die woestyn met die ark, vanaf Sinai tot dit uiteindelik onder Dawid in Jerusalem geplaas is. Dit is ook profeties van wat later in Christus sou gebeur. Die gedeelte begin met ’n inleiding wat God se dade opsom. In vers 1-7 hoor ons eers ’n stelling/gebed/roep (vgl. KJV) teen God se vyande (v.2-3) en vir die regverdiges (v.4). Wanneer God toetree tot die stryd is die vyande soos rook en soos was voor God se aangesig. Hieroor is die regverdiges bly en juig en is vrolik. Hulle word dan opgeroep om tot eer van God te sing wat soos ’n Koning deur die woestynvlaktes/op die wolke ry (vgl. KJV; NAV en 2020-vertaling) en dat Hy die swakkes versorg – die Vader van wese en die Regter van weduwees. Hy laat eensames woon in ’n huisgesin en lei gevangenes na voorspoed, maar rebelle woon in ’n dor land (v.5-7).  

Dan volg ’n poëtiese belydenis teenoor die Here van die reis van die ark vanaf Sinai tot Sion (v.7-19). Daar word met God gepraat oor hoe hy uitgetrek het voor sy volk in die duisternis en hoe die aarde gebewe het en die hemele reën gedrup het, soos by die verskyning by Sinai. Hy het hulle deur die wildernis gelei (v.8-9) en hulle gevestig het in Kanaän (v.10-11). Hy het hulle oorwinning gegee oor die vyande (v.12-13). En hulle uit die hand van konings en onderdrukkers bevry (v.14-15). Hy woon op ’n besondere wyse onder sy volk wat iets is waaroor aansienlikes soos die aansienlike berg Basan, jaloers kan raak op Sion (v. 16-18). Sy opgang na Sion word beskryf as dat Hy opgeklim het na die hoogte en gevangenes weggevoer het en geskenke onder die mense geneem om daar tuiste te vind. Paulus leer ons dat dit ’n tipe is wat heenwys na Christus en die hemelse Sion, en pas dit toe op die Hemelvaart van Christus (Ef. 4:7-16). Sy Naam word dan weer uitgeroep: O HERE, God!   

Dan verneem ons van die reaksie op en prosessie van die oorwinning (v.20-27). Die Here word geloof vir sy verlossing wat hulle dra/oorlaai met guns (vgl. KJV) en uitkoms teen die dood gee (v.20-21). Die volstrekte oorwinning tot die uiterste en die guns vir God se volk en die optog van al die verteenwoordigers word dan beskrywe. (v.22-28). En dan verneem ons van die verdere roepe tot God om sy krag te openbaar en ’n oproep op die koninkryke van die aarde om te antwoord (v.28-35). Die heidene bring erkenning (v.29-32). Die Psalmis sluit dan af met ’n oproep aan die koninkryke van die aarde om lof te bring aan God en om sy heerlikheid en glorie te erken wat deur Israel gekom het (v.33-35). Dit is ’n wonderlike oorwinningslied waarin daar reeds in die Ou Testament gejuig word en daar ook vooruitgekyk word na die oorwinning wat Jesus Christus sou bring.   

Besprekingsvraag: Waarna wys die oorwinning en die gang van die ark as tipe heen?

Insig: Psalm 68 getuig en juig oor die wonderbare en omvattende oorwinning van God. Dit het heel gepas ook ʼn strydlied geword van die Skotse Covenanters en Franse Hugenote. Ons begryp dit beter wanneer ons raaksien hoe Psalm 68 terugkyk op en vorentoe kyk na die groot dade van God. 

2025/04/12

In die land van die lewendes

Lees: Psalm 116

Gedagte vir kinders: Geniet jou lewe voor die aangesig van God en dank Hom vir Jesus Christus.

Oorsig: Ps. 116 vorm deel van die Hallel-Psalms (Lofpsalms: Ps. 113-118) wat gebruik was en steeds gebruik word by die viering van die jaarlikse Paasfees van Israel. Dit was deel van die laaste lofsange wat die Here Jesus saam met sy dissipels gesing het by die maaltyd waar Hy die Nagmaal ingestel het, net voor hulle na die tuin Getsemane gegaan het (vgl. Mt. 26:30). Die Here Jesus het hierdie lied oor verlossing van die dood dus reeds gesing terwyl Hy geweet het wat op Hom wag. Die Psalm bestaan uit twee basiese dele: vers 1-9 en vers 10-19. In die Spetuaginta (Griekse vertaling: LXX) en Vulgaat (Latynse vertaling) is dit twee afsonderlike Psalms, maar daar is geen rede om dit nie saam met die Hebreeuse Teks as een Psalm te waardeer nie.

In vers 1 stel die Psalmis dat hy liefhet, omdat die HERE sy smekinge gehoor het (vgl. Ps. 18:1). Die HERE het sy oor geneig en daarom sal hy Hom aanroep (v.1-2). Sy krisis was die dood en bande en angste van die doderyk het hom getref (vgl. Ps. 107:3,14). Maar Hy het toe die Naam van die HERE aangeroep: Ag, HERE, red my siel (v.3-4). Dan getuig Hy dat die Here genadig, regverdig en ’n ontfermer is (vgl. Ex 34:6). Ook dat hy die eenvoudiges bewaar. Hy het swak geword, maar die HERE het hom gehelp (v.5-6). Hy praat hierna met homself en gesê dat hy maar kan terugkeer tot rus om dat die HERE goed aan hom gedoen het. Hy praat daarna met die HERE (U) en loof Hom dat Hy sy siel gered het van die dood, sy oog van trane en sy voet van struikeling. Hy doen dan ’n belydenis dat hy sal wandel voor die aangesig van die HERE in die lande van die lewendes  (v.7-9).    

Die Psalmis stel dan dat hy geglo het, ten spyte daarvan dat hy gesê het dat hy diep neergebuig is oor sy omstandighede. Hy het in sy angs gesê dat alle mense leuenaars is (v.10-11). Maar dan gaan hy weer in lof oor en vra wat hy die HERE kan vergeld vir al sy weldade aan hom. Hy antwoord hierop en stel dat hy die beker van verlossing sal opneem en die Naam van die HERE sal aanroep. Hy gaan ook verder en stel dat die geloftes wat Hy aan die HERE gedoen sal betaal in die teenwoordige van sy totale volk (vgl. Num. 30:1-2; Deut. 23:21; 1 Sam. 1:11 ). Hierna stel hy dat die dood van sy gunsgenote kosbaar/duur is in die oë van die HERE. Die bedoeling is dat die HERE juis daarom nie sy kinders daarin oorgee nie (v.12-15). En dan doen hy weer ’n belydenis teenoor sy God: Ag HERE, sekerlik, ek is u kneg, die seun van u dienmeisie. Die rede wat hy gee is omdat die HERE sy bande wat hom aan die dood gebind het, losgemaak het. Hy volg dit dan daarmee op soos in vers 14 dat Hy sy geloftes aan die HERE sal betaal in die teenwoordigheid van sy ganse volk (v.16-18). Hy brei hierop uit en stel dat dit gebeur by die tempel – in die voorhowe van die huis van die HERE, ja binne in Jerusalem wat hy persoonlik aanspreek. En dan kom die groot woord van die Hallel-Psalms weer na vore: Halleluja! Dit beteken “Loof die HERE!” (v.19; vgl. Openb. 19:1,3,4,6).

Besprekingsvraag: Wat is die gepaste reaksie op God se genade?

Insig: Die lewe is ’n gawe van God. Soms is dit ’n naby-dood ervaring wat ons die lewe op ’n nuwe wyse laat smaak en proe en geniet – om weer ekstaties daaroor te mag wees om te lewe en dit nogal voor die aangesig van God. Maar die Psalm gaan nie net gaan oor ’n tydelike pouse in die teenstand teen die meedoënloos-naderende mag van die dood nie. Die Psalm spreek oor lewe op so ’n wyse dat dit net voluit waardeer kan word wanneer lewe altyd groter is as die dood. 

2025/03/14

Meer aan God as aan mense-gebod

Lees: Hand. 5:27-42

Gedagte vir kinders: Gehoorsaamheid aan God is belangriker as enige menslike wet.

Oorsig: In Handelinge 5 lees ons van die voortgaande werk van die apostels in Jerusalem. Die hoëpriester en die Sadduseërs was afgunstig en het hulle in die tronk laat gooi, maar ’n engel van die Here het hulle uitgelei en gesê dat hulle in die tempel aan die volk die woorde oor Jesus Christus moes vertel (5:17-20). Die hoëpriester het hulle toe weer by die tempel laat haal en voor die Joodse Raad, die Sanhedrin, gestel. Die hoëpriester het gevra waarom hulle uitdruklik nie luister nie en steeds in die Naam van Jesus leer. Hulle het, inteendeel, die hele Jerusalem met hulle leer vervul (let wel) en die skuld vir Jesus se dood op die geestelike leiers geplaas (v.27-28).

Petrus en die apostels het toe geantwoord dat hulle aan God meer gehoorsaam moet wees as aan mense (v.29). Hulle het toe weer getuig dat die God van hulle vaders (let wel) Jesus opgewek het, die Een wat hulle (let wel) omgebring en aan ’n kruis(hout) laat hang het. Dit is Hy wat God as Leidsman en Verlosser deur sy regterhand verhoog het om sodoende aan Israel bekering (let wel) en vergifnis van sonde te skenk (ook hierdie leiers, v.30-31). Hulle was getuies van die dinge en ook die Heilige Gees wat God gegee het aan die wat Hom gehoorsaam is. Die lede van die Raad was egter woedend toe hulle dit hoor en wou hulle doodmaak (v.32-33). Toe het ’n Fariseër met die naam van Gamaliël, ’n leraar van die wet, ook van Paulus, en wat by die hele volk in aansien was, in die raad opgestaan  en gevra dat die apostels buitentoe geneem moes word (v.34).

Gamaliël het die Raad toe as “Israeliete” gewaarsku om op te pas wat hulle gaan doen. Hy het gewys op Theudas wat gesê het dat hy iets besonders was en op 400 mense wat by hom aangesluit het. Hy het ook gewys op Judas die Galileër in die dae van die inskrywing wat ’n aansienlike getal afvalllig gemaak het. Hulle het egter altwee omgekom en die wat na hulle geluister het is uit mekaar gejaag en verstrooi (v.35-37). Daarom het Gamaliël vir hulle gesê om die apostels uit te los omdat hulle leier ook mos reeds dood was. As die apostels se voorneme of werk uit mense is, sal dit soos die ander vernietig word (v.38).  As dit egter uit God was, sou hulle dit nie kon vernietig nie. Dan sou dit beteken dat hulle selfs teen God stry (v.39).  Hulle het toe na hom geluister maar tog die apostels ingeroep en hulle probeer afskrik deur hulle (1) te slaan en (2) te beveel om nie in die Naam van Jesus te preek nie en hulle toe laat gaan (v.40). Die apostels het toe weggegaan, (1) bly dat hulle waardig geag is om vir die Naam van Jesus Christus oneer te ly. Hulle het ook (2) nie opgehou om elke dag (2.1) in  die tempel en (2.2) van huis tot huis, (2.1.1 en 2.2.1) te leer nie, en (2.1.2 en 2.2.2) die evangelie te verkondig dat Jesus die Messias (Christus) is (v.41-42).   

Besprekingsvraag: Wat beteken dit vir ons lysies en kategorieë dat die Here onvergelyklik is?

Insig: Ons het hier een van vele gevalle in die Woord waar die Engelse uitdrukking, “speaking truth to power” na vore tree. Die waarheid wat hier gespreek word, gaan egter dieper, omdat dit wentel om die Naam van Hom wat die Weg die Waarheid en die Lewe is (vgl. Joh. 14:6). Dit gaan oor die sentrale punt van reddende waarheid waarin die God van Israel vir Jesus Christus opgewek het nadat Hy gekruisig is en deur sy regterhand verhoog het om aan Israel en aan die nasies bekering en vergifnis van sonde te skenk, en dat die Heilige Gees hierdie waarheid bevestig. Dit gaan dus oor die evangelie van die Drie-enige God wat hier voortbou op dit wat in die Ou Testament geopenbaar is. 

2025/03/08

Die Kerk het rede om te sing

Lees: Ex. 15:1-21 

Gedagte vir kinders: Sing uit jou hart uit tot die Here omdat Hy ons waarlik gevry gemaak het.

Oorsig: In Exodus 14 lees ons die merkwaardige geskiedenis van Israel se deurtog deur die Rooisee en hoe die Egiptenare voor hul oë oorwin is toe hulle in die see verdrink het. In Ex. 15 se begin lees ons hoe hulle wat in doodsangs was, maar verlos is, toe daaroor feesgevier het. Eers moes hulle stil wees omdat die Here vir hulle gestry het. Daarna kon hulle nie meer stilbly nie en Moses en Israel het uit hulle harte vir die HERE gesing. Dit begin met die lus om ’n lied tot eer van die Here te sing, omdat hy so hoog verhewe is en omdat hy die Egiptenare se perd met sy ruiter in die see gegooi het (v.1). Daarna word eers gefokus op wat die HERE vir hulle, is – hulle krag en hulle Psalm. dat Hy hulle persoonlike God is in wie hulle sal roem en wat hulle sal verhef. As die een met mag word Hy ’n Krygsman genoem en bevestig dat sy Naam HERE is (v.2-3).        

Die lied gaan dan aan om te vertel hoe Farao se beste leer en wapentuig, sy leërmag en strydwaens, in die see gewerp is, ja soos ’n klip gesink het (v.4-5).  Dan word daar direk tot die HERE gesing. Sy (u) regterhand is verheerlik deur verplettering van die vyand. Hy (U) het ook in sy hoogheid hulle verpletter wat teen Hom opstaan. Hy (u) verteer in sy toorn die vyand soos ’n stoppel. Daar word dan beeldryk bely dat die waters opgestapel en soos ’n wal bly staan het deur die geblaas van sy (u) neus en dat die watervloed styf geword het in die hart van die see (v.6-8). Dan word vertel wat die vyand se voorneme was wat by hulself gereken het dat hulle sal agtervolg, inhaal , buit verdeel en hulle begeerte sal versadig en die swaard uittrek en uitroei. Maar dan vertel hulle wat die Here daarenteen gedoen het. Hy (u) het met sy asem geblaas en die see het hulle oordek en hulle het soos lood gesink (v.9-10). Dan word die verwondering weer voor die Here uitgespreek dat niemand soos Hy is onder die gode nie (O, Here wie is soos U?), in heiligheid, in roemryk dade en wonders.

Dit word dan herhaal dat hy sy hand uitgestrek het, en die volk verlos en na sy heilige woning, let wel, gevoer het (v.11-13). En so word daar na die toekoms beweeg. Die effekte word nou beskrywe wanneer vorentoe gekyk word. Die volke het gehoor en gesidder (let op verlede tyd), soos Filistea en Edom en Moab en die inwoners van Kanaän. Verskrikking het op hulle geval en hulle was stom terwyl God se volk deurtrek. Dan word daarvan gesing dat hy hulle ook inbring en plant in hulle bergland-erfenis as vaste woonplek en heiligdom (v.14-17). Daar word oorbeleef na die belydenis dat die Here vir altyd en altyd sal regeer, omdat Hy Farao se leer in die see laat verdrink het, maar dat Israel op droë grond deurgetrek het (v.18-19). Ons hoor dan dat Mirjam, die suster van Aaron, ’n profetes was en dat sy ’n tamboeryn in haar hand geneem het en dat al die vroue agter haar uitgegaan het, let wel, met tamboeryn en koordanse. Mirjam het al singende geantwoord het soos die lied begin: “Sing tot eer van die HERE, want Hy is hoog verhewe. Hy het die perd met sy ruiter in die see gewerp.” (v. 20-21).       

Besprekingsvraag: Wat beteken dit vir ons lysies en kategorieë dat die Here onvergelyklik is?

Insig: By die eerste oogopslag mag iemand dalk vra wat hierdie lied met ons te doen het. Ons leef mos in heeltemal ander tye, sê baie vandag. Op. 15:3-4 gee ons ’n belangrik wenk: Eenmaal sal daar in die groot bevrydingslied van God se kinders deur die bloed van die Lam, aangesluit sal word by Moses se lied. Dit leer ons iets baie belangrik oor die eenheid van die Skrif en die gesag van die Skrif. De Woord bevat werklike gebeure met tipes en patrone wat heenwys na die toekoms. Daarom het moet die Woord ook tipologies gelees word sodat die verbande tussen hierdie lied en ons lied van bevryding duidelik kan wees. So help dit ons om ook die patrone ook vir ons eie tyd te onderskei (pattern recognition). 

2025/03/01

Wanneer die Here jou seën

Lees: Num. 6:22-27 

Gedagte vir kinders: Die Here se seën beteken dat Hy by ons is en in alles vir ons sorg.

Oorsig: In Num 6 lees ons van daardie besondere groep mense wat Nasireërs genoem was. Hulle was toegewyde mense vir God se koninkryk in die Ou Testament. Net daarna lees ons van ’n opdrag van die Here aan die priesters. Hulle moes die mense in die kamp in Israel, seën (v.22-23). Dit is ’n baie besondere en digterlike seën. Die seën bevat drie reëls en die Here se Naam word in elke reël een maal genoem. Die is Hy wat sy volk seën deur sy priesters. Elke reël brei uit op die vorige. Die eerste reël bevat in die Hebreeus net drie woorde en 12 lettergrepe: Die Here sal jou seën en jou behoed (v.24). Die volgende seën van die tweede seënbede bevat vyf woorde in die Hebreeus en 14 lettergrepe: Die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees (v.25). Die derde seënbede bevat 7 woorde met 16 lettergrepe in die Hebreeus: Die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou vrede gee (v.26). Elke seënbede brei ’n bietjie meer uit. Die eerste reël bevat 15 medeklinkers, die tweede reël, 20 medeklinkers en die derde reël, 25 medeklinkers in die Hebreeus. As ons die Naam van die Here se naam weglaat is daar ook presies 12 woorde wat oorbly, wat moontlik gewys het op die 12 stamme van Israel. Dit laat ons dink aan drie golwe wat eers opbou en telkens groter word en dan spoel oor die mense om hulle te seën.

In die eerste golf wat opbou hoor ons dat die Here jou (enkelvoud) sal seën en dan breek die golf en ons hoor dat Hy ook sal bewaar (behoed). Israel het in die woestyn die bewaring baie nodig gehad (vgl. Ps. 121). In die tweede groter golf hoor ons dat die golf opbou en dat die Here se aangesig oor jou skyn. Die Here se aangesig word hier beskrywe as lig. Wanneer die lig van sy aangesig oor jou skyn, beteken dit, hoor ons as die golf breek, dat Hy jou genadig is. In die derde en nog groter golf, hoor ons in die opbou dat die Here sy aangesig verhef. Wanneer dit gebeur, en die golf breek, hoor ons dat iemand die Here jou vrede (shalom) gee. Hierdie seënbede word dus omvou deur woorde wat begin met seën en eindig met vrede (omvattende welstand). Die Here voeg hierby iets besonder by. Dit is so wat die priesters die Naam van die Here op die volk sou lê en dat Hyself hulle sou seën (v.27). God se Naam gaan oor wie Hy is. Nou stel die Here dat hulle deur hierdie seënbede sy Naam op die volk sal lê en dat Hyself (beklemtoning) hulle ook sal seën. Dit moes vir Israel in die woestyn ’n besondere bemoediging wees. Dit is steeds ook vir ons ’n bemoediging wanneer die Here deur die ampte in baie gemeentes vandag nog aan die einde van die erediens die gelowiges wat bymekaar gekom het, seën.