2013/07/31

Die dors van jaloesie

Hier is nou 'n verklaring wat meer dinge verduidelik as wat ons dalk wil hoor. Dit help jou om 'n enigma te ontrafel. Dit is 'n raaiselagtige fenomeen wat nie net in SA manifesteer nie. Kyk egter dieper as net die voor die hand liggende toepassings in Suid-Afrika. Niemand van ons wil graag hoor dat jaloesie nader aan ons beginsels en stryde is as wat ons dink nie: "Thus it was precisely in those parts of France where there had been most improvement that popular discontent ran highest."

'n Boer in die Bothaville distrik het my vertel van sy ontnugtering toe hy opheffingswerk begin doen het op sy plaas, veral nadat hy 'n boer-van-die-jaar toekenning ontvang het. Die vakbond het skielik op hom toegesak en hy het meer probleme met sy werkers gehad as ooit tevore. Waarom? Bogenoemde artikel verduidelik die psigo-politiek ten grondslag van sulke tipe aksies.

Moet egter nie die drie vingers verbygaan wat terugwys nie. Die artikel toon aan hoe dieselfde saak ook in Frankryk plaasgevind het. Ook in Afrikaners se binnegevegte kan ons dieselfde motiewe vinnig ruik indien ons neuse oop is. Hoe meer mense dieselfde is, hoe meer begeer hulle dieselfde dinge en hoe makliker bots hulle ambisies. Enige volkstaat behoort hierdie feite deeglik te verreken. Die volgende vertaling uit die genoemde stuk moet dalk iewers gegraveer word:

2013/07/29

Langenhoven skryf postmodernisties

Die manier waarop Langenhoven skryf, is basies postmodernisties. Hy doen dit anders – op die teenoorgestelde manier eerder as die konvensionele manier – en dit wys dat hy by die gewone kon verbykyk en die onverwagte kon sien. Langenhoven het baie oor kwantumteorie van daardie era gelees en dat dit ook bewyse is van sy moderne uitkyk op die lewe. Ek sou graag wou gehad het dat hy saam met Steven Spielberg gewerk het. Dit sou baie interessante dinge opgelewer het."   -  André P. Brink

2013/07/26

Oor aardbewings en troebadoere

God is nie gaaf nie; God is nie Oom nie; God is 'n aardbewing - Gillian Rose

Jesus, die Seun van God, dryf duiwels uit met niks meer nie as die melodie van sy stem. Jesus die Heilige Kryger is Jesus die Troebadoer - Peter Leithart

2013/07/22

Kultuurplan vir protestantse krygers


Om te protesteer sit in die bloed van Protestante. Juis daarom reken sommige dat dekonstruksioniste dalk beweeg kan word om Protestante te word. Protestante behoort egter volwasse dekonstruksioniste te wees. Hulle trek nie net uitmekaar nie. Hulle betwyfel nie net die voorveronderstellings van die status quo nie. Hulle ruk nie net uit nie. Hulle plant en bou en konstrueer ook aan die hand van 'n Woordstandaard. 

Protestante kan onderskei. Hulle begryp die onderskeid tussen struktuur en rigting en ook tussen strategie en taktiek. Hulle kan bevraagteken , maar ook bevestig. Hulle protesteer in die naam van reformasie en nie van revolusie nie. Protestante aanvaar Godgegewe strukture, maar nie noodwendig die windskeef rigtings nie. Protestante wys ook nie net die leegheid uit sonder om dit te vul nie.

En so kan ons aangaan sonder om om noodwendig die harte van voetsoldate te raak wat dikwels uitroep: Maar wat beteken dit prakties in die wêreld van brood, grond en loopneuse? Wel, Douglas Wilson bied aan ons 'n konkrete 21 punt voorstel oor die hoe van Protestantwees vandag. Hy noem  dit die grondvlak-taktiek van Christelike weerstand. Hier is nou iets waaroor ons kan praat terwyl ons doen.

2013/07/21

Hoog in die kerktakke

Ek het dit geweet, maar dit nie besef nie. My vorige possie kan deur 'n sekere mens maklik in 'n sekere rigting verstaan word; 'n rigting wat my eie bedoeling skeeftrek. Steven Wedgeworth van Calvinist International faam gee hier 'n baie belangrike kwalifikasie op die ou ou kerke gedagte. In wese kom dit daarop neer dat jongmense nie so hoog in die takke moet raak dat die lewende stem van die Woord, die Protestantse viva vox engelii, in die skadu's gehou word nie. Ek stem.

2013/07/18

Bring my die ou-ou kerke

Ek het dit geweet. Daar is meer mense wat reken jeugkerke kan uit die mode raak. Wat dan? 'n Dame genaamd Andrea gee hier rekenskap van haar terugtog na outentieke tradisie in die kerk. En sy kan boonop met woorde wiggel. Lees haar laaste paragrawe met jou fynproewer leestong. Haar artikel herinner my ook aan die woorde van James K. A. Smith. Hy reken dat postmodernes nie behoefte het aan kerke wat te byderwets is nie. Hulle soek iets uit 'n ander wêreld, meen Smith. Toegegee, nie almal nie, maar soos Andrea dit in haar artikel stel, almal is ook nie vervuld deur die nuutste neigings nie. Kerke met 'n soliede tradisie kan dalk juis die gevoel van 'n ander wêreld beter onthul.

2013/07/17

Nietzsche die anti-held

Rene Girard: The Girard Reader"Nietzsche is 'n wonderlike teenmiddel teen alle fundamenteel anti-Bybelse pogings om mitologie tot 'n tipe Bybel te maak, wat die besigheid is van al die Jungiane van die wêreld. Dit is ook 'n teenmiddel teen al die pogings wat die Bybel tot mitologie wil maak en dit is die besigheid van ongeveer enigiemand anders as die Jungiane."

Rene Girard, p. 251

Glad nie gekompliseerd nie

As jy so nou en dan nodig het om 'n vars aandoening van genade te hê, is Toby Sumpter altyd 'n goeie opsie om te oorweeg. Lees, drink in, en verwonder jou.

2013/07/12

As die Vierperdewa jou storm

Quadriga

Peter Leithart maak hier 'n groot aanspraak. Hy stel dat dat die Middeleeuse Quadriga, 'n metode van Bybelverstaan, baie peste en plae in die kerk kan uitroei. Voordat sy aanspraak verder aan die bod kom, is dit nodig om voor hierdie vierperdewa te staan terwyl dit op jou afstorm.

Tydens die Middeleeue kristalliseer ’n uitlegmetode vanaf die vyfde eeu wat uiteindelik as die "Vierperdewa" (Quadriga - kyk na die foto. HT:romancoins), bekendstaan. Die Quadriga word die klassieke formulering van die Middeleeuse uitlegmetode, maar dit span ook die allegoriese uitlegmetode in. Juis daarom is dit later met groot teenstand afgewys. Dit blyk egter dat min geleerdes allegorie verstaan en daarom ook nie tussen goeie en slegte allegorie kan onderskei nie. Op 'n ander keer meer daaroor. Maar luister en kyk vir nou eers na die groter prentjie van die vierperdewa. Gee dit 'n kans om jou te bestorm, en kyk of jy nie dalk simpatie ontwikkel nie.

2013/07/09

Egte soeke

Daar is ouens in die opkomende geslag wat jou hoop gee vir die toekoms. Matthew Lee Anderson van Mere Orthodoxy is een van hulle. Hy het onlangs 'n boekie die lig laat sien met die titel: The End of Our Exploring: A Book about Questioning and the Confidence of Faith. Matt is daaroor besorg dat ons wêreld 'n verwronge verstaan het van wat dit beteken om te bevraagteken. Daar is 'n manier om ondersoek in te stel en na te vors, veral oor die geloof, as jy werklik wil weet. Sy boek poog om die uitnemende "hoe" van egte leer en soeke aan te toon. En hiermee skakel ons oor na die jongman self. Matt, die vloer is nou joune:



2013/07/08

Subversiewe revolusie


Douglas Wilson gee hier 'n resensie van Iain Murray se The Undercover Revolution. Ek som sy hoofpunte kortliks op:

1. Diegene wat dit hul missie geag het in die verlede om die skynheiligheid van Christene aan die kaak te stel, was self gewoonlik, soos Wilson dit stel, veertien karaat hipokriete. Ek het al self gewonder oor die vlak van skynheiligheid van menige joernalis/skrywer wat so gloeiend kan skryf oor die val van helde, veral Christene.

2. Moenie die mag van stories/verhale/narratiewe onderskat nie. Ook nie die mag van ongeloof in 'n skrywer wat, hoe langer hoe meer, uiting daaraan sal gee in hul stories nie. Die mag van 'n ongelowige verbeelding met storievlerke is beslis iets om mee rekening te hou in enige kultuur.

3. Ongelowigheid en afvalligheid is net aanvanklik vars. Soos  Wilson dit stel, die eerste drie partytjies van die verlore seun was waarskynlik die aangenaamste. Realiteit het mos 'n manier om terug te skop. Dit dring my om weereens te wys op Danie Goosen se onlangse artikel oor swaargewig vernuwing. Egte vernuwing kan net plaasvind vanuit 'n outentieke tradisie. Dit maak die tyd waarin ons leef so opwindend. Wanneer die muwwe reuk begin toesak op die "bevrydes," sal die lewende geloof van die dooies hulle inhaal om die romanse van ortodoksie in stereo te laat herleef.

2013/07/06

Linkse heksejag

Ek is nie bekend met die hele smeerveldtog teen Paula Deen in die VSA nie, maar ek dink ek kan, saam met my leser, 'n gelykenis herken as ek dit sien. In hierdie bydrae van Rod Dreher, senior redakteur van die American Conservative, haal hy woorde van Walker Percy aan wat jou laat wonder of daar werklik 'n oseaan of twee is wat ons van mekaar skei: "Ek glo ernstig dat die ergste lot wat die stryd teen segregasie kan tref, die oorname daarvan deur die ortodoksie van die linkses sou wees." 
Linkses se heksejag kan dalk wêreldwyd die teendeel by mense begin bewerk. Dit sou nie heeltemal verbaas as die pendulum hieroor iewers in die toekoms heeltemal gaan terugswaai nie. Supermoralisme se reuk het nog nooit groot simpatie gevind nie.

2013/07/05

Mistasting oor gelykheid

Kom ons voltooi die mistasting trilogie met 'n derde aflewering wat ook wyer strek as ekonomie. Dit gaan oor die gebruiksfrekwensie van die woord gelyheid, meer bekend as "equality." Dit gebeur dikwels dat mense die woord in ons land gebruik om apartheid mee te demoniseer. Nou, ek dink nie dit is wys om enige tydperk uit die verlede te verheerlik as sonder sondesmet nie. Maar ek dink ook nie dit is goed om sonder nuansering en definisie die verlede te demoniseer nie. Die woord gelykheid word darem alte breedkwastig gebruik. Ilana Mercer herinner ons in haar onlangse besinning oor die Amerikaners se Independance Day aan iets wat baie meer gedebatteer behoort te word: Gelykheid voor die wet en gelykheid van regte was die oorspronklike bedoeling van die Amerikaners se onafhanklikheidsverklaring. Hulle wou dieselfde regte as die Engelse hê. Maar dit het nie terselfdertyd ook sosiale en ekonomiese gelykheid beteken nie. Dit vind geen ondersteuning in die politieke tradisie wat uit die Declaration of Independance voortgevloei het nie. Daar is wel 'n beweging wat hierdie saak verder wou laat strek, sê Mercer. Dit word die Franse Revolusie genoem. Hierdie onderskeid lyk vir my baie belangrik indien ons sinvoller wil gesels oor die verlede en hede van ons eie land.

2013/07/03

Mistasting oor zero-som denke

Indien jy die verduideliking wat volg aanvaar, kan jy nie meer op die ongekwalifiseerde beskrywing inkoop dat die rykes ryker en die armes armer word nie. Meer nog, dit is een van die beste maniere om vir mense soos ek en jy te help om van jaloesie op enige vlak vry te kom. Dat iemand anders met baie geseënd is, beteken nie dat ander nou net tevrede moet wees met wat oorbly nie. Nee, God se seën brei altyd uit en kan ook vir jou en my vul tot ons bekers oorloop. Dit sluit natuurlik baie, baie meer as ekonomiese voorspoed in. Ons behoort wel tevrede te wees met wat ons het (Heb. 13:5) en behoort ook moed te skep dat die Here diegene verhoog wat hulself onder sy kragtige hand verneder (1 Pt. 5:6). In my kerk sing ons 'n gesang met die volgende grootse woorde:

God neem die persoon die aan nie
Onderskeid, volk of tyd
God sien dit nie aan nie
Hy is ryk oor alle mense
wat Hom roep, wat hom soek
Sonder perk of grense

Ky nou met hierdie gesindheid na die denkfout wat in die insetsel aangetoon word:

Misgissing oor die gebreekte venster



2013/07/02

Wetenskap en verbeelding

'n Nuwe lansie ten gunste van die geesteswetenskappe is nodig. Hier is iets wat aantoon waarom BA-briljantjies die wis- en die onwiskundiges se verbeeldings kan rig.

2013/07/01

Top tien fiksieboeke vir dominees

Hier is die lysie van iemand wat nogal met Kuyperiane uithang. Ouens wat geneig is om die kognitiewe sy van ons menswees te oorspan, kan dalk baat vind by hierdie lys. Miskien, net miskien, is hierdie possie van meer waarde as baie ander inskrywings.

Sekularisasie en bypassende offers

Gil Bailie is nog nie klaar met ons nie. Die ou is gewoon 'n prik-prins en terg jou met idees sover hy praat. Dit moet jou laat nadink as jy hoor dat ook hy reken dat René Girard jou kop oopskop met sy mimetiese teorie. Maar wag, blootstel is hier die beste medisyne. 

Bailie reken dat die evangelie 'n desakraliserende krag in ons midde is. Toe die voorhangsel in twee geskeur en die offers afgeskaf is in Christus, kon godsdienstigheid nooit weer dieselfde wees nie. Vir Bailie het dit op voetspoor van Girard daarmee te doen dat Christus as sondebok die skuldverplasingsmeganisme eens en vir altyd aan die kaak gestel het as niksseggend buite Hom. Ek het nie volle vrede met hul verengde siening van die betekenis van Christus se kruisdood nie, maar dit is nou nie ter sprake nie. Die vars invalshoek wat Bailie bring is dat dit die unieke roeping van Christus is om die desakralisering van godsdiens te bemiddel op so 'n wyse dat dit gepaard gaan met 'n verhoging van godsdienstige sensitiwiteit. Dit klink soos 'n kontradiksie, maar dit is juis wat dit so uniek maak! Net Christus kan dit doen dat jou offerdrang afgeskaf word terwyl jou godsdienstige sensitiwiteit verhoog. En hier kom nou Bailie se witblits opmerking: As Christenskap nie nie sy regmatige plek inneem nie, vind daar eenvoudig 'n desakralisering in die wereld plaas wat inplof in sekularisering. Desakralisering word dus verwring tot sekularisering. En as jy nog nie regop sit nie, maak gereed vir die tydbom-uitspraak: Sekularisasie sal een of ander tyd herkonstitueer in een of ander offersisteem. Gewaarborg. 

Sekularisasie lyk aanvanklik na 'n algehele breuk met godsdiens, maar dit begin altyd van voor af om dieselfde patroon te herhaal. Waarom? Indien jy bekend is met mense en verder erken dat René Girard iets beethad oor jaloesie en spanning wat oplaai tot by die punt van sondebokontlading, behoort jy nie verbaas te wees nie. Bailie roep ons op om uit te kyk vir die sogenaamd algehele breuke in die geskiedenis. Uiteindelik doen die "nuwe begin" presies dieselfde as wat godsdiens nog altyd gedoen het: Die bloed vloei vir een of ander saak soos wat die nuwe weergawe van offers gebring word. Vra maar vir die Franse revolusie. En verligte sekulêre mense is te blind om te besef dat hulle nie werklik vry is van die offermotief nie.