Van tyd tot tyd sal hierdie blog ook skrywes bymekaarmaak wat op ander plekke verskyn het. Die oorspronklike plasing sal in sulke gevalle telkens aan die einde verwys word. En soms mag dit lyk dat dit erg anachronisties geplaas word, soos hieronder. Maar oorweeg gerus: Is dit nie dalk ook nou tyd vir 'n roomsnor nie? Die waarhede hieronder is mos tydloos en het deur die genade 'n langdurige nawerking.
Kersfees het nie net een stel
remme nodig nie. Ons is nogal goed bekwaam om die voorremme aan te slaan as dit
kom by die kommersialisering van kersfees. As ons egter nie daarteen waak nie,
kan ons die agterremme verwaarloos wat net so sterk teen iets anders moet rem:
streng en stroewe gesigte in die feestyd. Om met strak gesigte die tongskote te
laat klap teen kommersialisering, kan óók dui op ’n gebrek aan waardering vir
die evangelie.
Kerstyd herinner ons aan die mees dramatiese gebeure in die
geskiedenis van die mensdom – dat die God van die heelal geopenbaar is in die
vlees (1 Tim. 3:16). Dit het die begin van ’n salige wending aangekondig wat
ons lewens van dienskeg-wees na kind-wees, van bedelaars na koningskinders,
verander het. Dit het aan ons bevestig dat die stoflike waarde het en dat God
se verlossing ook atome insluit. In hierdie wêreld van ons wat so gekraak en
gebroke is, en tog nog soveel tekens van skoonheid vertoon, het God deur sy
Seun die grootste moeite denkbaar kom maak. Hy het alle messias-komplekse
beskaam toe Hy aan ons die ware Messias gegee het om op die regte tyd op te
daag.
God het hierdie wêreld van koggelmanders en klippe, van kremetarte en
dolfyne, van atoom-fisika en sondige mense, so liefgehad dat Hy sy eniggebore
Seun gegee het om dit te red. Hierdie oorwinning deur ’n kruisdood en ’n
opstanding uit die dood sou egter net kon gebeur as die Messias ook eers as
mens gebore word. In die geskiedenis van die mensdom is daar nooit so iets gesien
nie. In hul wildste drome kon selfs die Jode nie hierdie wending vooraf met
begrip voorspel nie; dat God ná soveel gesante, uiteindelik sy eie Seun stuur
(vgl. Mk. 12:6) om te verseker dat verlossing nie ’n moontlikheid nie, maar vir
altyd ’n werklikheid is.
Die beste verhale, so het die kenners lankal
aangetoon, vertoon ’n wending wat jy nooit vooraf heeltemal kon sien kom nie.
Nádat die wending plaasgevind het, kyk jy egter met verwondering terug en sê:
dit kon op geen ander manier werklik bevredigend uitwerk nie. Hierdie kenmerk
van die beste verhale is natuurlik geskoei op die grootste en beste verhaal
ooit. Nadat Jesus Christus gekom het, besef ons dat Hy die die verpersoonliking
van salige wendings is. Dit kon inderdaad op geen ander wyse gebeur het nie.
Daar was reeds baie skaduwees en tipes in die Ou Testament, ja, maar sonder die
verrassende ontknoping daarvan in die Nuwe Testament, sou ons nie met
versadiging “a-ha” kon sê nie. En ons wat anderkant die kruis en die leë graf
met ’n nog groter prentjie leef, mag onder leiding van die Gees selfs
“a-ha-leluja” uitroep. “Die grootste en beste verhaal,” so mag elke gelowige
jubel, “het ook mý verhaal geword, want mý verhaal is ingetrek in die wending
wat Jesus Christus gebring het.”