2022/06/28

Kerkwees en dissipelskap

Lees: Luk. 10:1-20

Gedagte vir kinders: In die Naam van Jesus Christus hoef ons nie te vrees vir die Bose nie.

Oorsig: Die Here Jesus was bewustelik op pad na Jerusalem om gekruisig te word en op te staan uit die dode (Luk. 9:51). Hy het reeds sy 12 apostels voor Hom uitgestuur, maar hier lees ons ook van 70 ander wat Hy twee-twee voor Hom uitgestuur het na elke plek waar Hy sou kom (v.1). Hy het ook vir hulle gesê dat die oes groot en die arbeiders min is en dat hulle die Here van die oes moes bid vir arbeiders (v.2). Die gestuurdes sou dus later nog meer word.

Hulle moes dan gaan soos lammers tussen wolwe, en hulle moes niks ekstra saamneem soos ’n beursie of reissak of skoene nie. Dit was dringend en hulle moes hulself nie eens ophou met allerhande groetery op die pad nie (v.3-4). Hulle moes vrede oor die huis uitspreek waar hulle ingaan en as dit aanvaar is, sou die vrede daarop rus. Andersins sou dit na hulle terugkeer (v.5-6). Hulle moes in daardie stad dan daar bly en vrymoedig eet en drink wat vir hulle gegee word vanweë hulle werk, en nie kieskeurig in huise rondgaan nie. Hulle moes ook nie huiwer om enige kos (moontlik onrein) van sekere stede te eet wat voorgesit word nie (v.8). Hulle moes daar die siekes gesond maak en daarop wys dat dit in verband staan met die koninkryk van God wat naby hulle gekom het. Indien ’n gemeenskap hulle nie wou ontvang nie, moes hulle uitgaan op die strate en sê dat selfs die stof uit die stad afgevee word, maar dat hulle steeds moes weet dat die Koninkryk naby hulle gekom het. Vir die veroordeelde stad Sodom sou dit dan beter wees in die oordeelsdag as vir daardie stad (v.9-12).

Hierna het die Here Jesus dorpe soos Gorasin en Betsaida verwyt dat heidense stede vol boosheid soos Tirus en Sidon hul lankal hartgrondig sou bekeer het as daar in hulle sulke kragtige dade plaasgevind het. Vir sulkes sou dit in die oordeel verdraagliker wees. Veral Kapernaum moes hoor dat dit tot die doderyk (hades) toe neergestoot sou word. Die Here Jesus het hulle toe daarop gewys dat wie luister of verwerp eintlik na Hom luister of Hom verwerp, sowel as die Een wat Hom gestuur het (v.13-16). Ons hoor dan dat die 70 met blydskap teruggekom het en vir die Here vertel het dat selfs die duiwels hulself onderwerp het in sy Naam. Die Here het toe vir hulle verduidelik dat dit is omdat die Satan soos ’n bliksemstraal uit die hemel geval het deur sy bediening. Hy het hulle ook verseker dat Hy hulle mag gee oor die Bose en al die krag van die vyand en dat niks hulle sal skade doen nie. En tog het Hy hulle daarop gewys dat hulle eerder moes bly wees dat hulle name in die hemel opgeskrywe is (v.17-20).                

Besprekingsvraag: Waarom sal dit vir Sodom verdraagliker sal wees in die oordeel?  

Insig: Dit is insiggewend dat hierdie gedeelte vertel word net nadat ware dissipelskap van Christus aan die orde was. Ons kan die 70 ware dissipels hier sien as verteenwoordigers van gesante aan die 70 nasies van Genesis 10. Hulle kan ook verbind word aan die 70 oudstes van Israel op wie die Gees van die Here gekom het. Moses het gewens dat die hele volk soos hulle profete sou wees (Num. 11:16-29). Dit het op Pinksterdag waar geword toe die Gees op alles soorte gelowiges gekom het. Dit is ook insiggewend dat Christus die 70 oproep om te bid vir verdere arbeid. Ons kan hierdie gebeure daarom sien as ’n inleiding tot die werk van die Kerk van Christus en die missie van die Kerk as koninklike en gestuurde gesante van die Here. Ons kan daarom ook afleidings maak oor dissipelskap en kerkwees. Die Kerk as liggaam van Christus kan eenvoudig nie afsydig staan teenoor haar roeping as koninklike gestuurdes in hierdie wêreld nie.

2022/06/23

Koelte midde die oordeel

Lees: 1 Kon. 19:9b-21

Gedagte vir kinders: God bring sy oordeel op sy eie tyd wanneer mense nie luister nie.

Oorsig: Elia het ’n geweldige hoogtepunt in sy bediening as profeet beleef met vuur wat op die altaar neerdaal op Karmel. En tog, net daarna begin Isebel hom tot die dood vervolg en hy kom agter (“sien”) dat sy nie teengegaan sal word nie (v.1-3). Elia onttrek hom toe van Israel tot anderkant die verste suidelike punt van die land (Berseba) en eindig in die woestyn onder ’n besembos waar hy wens dat hy mag sterwe. Maar God het hom deur sy engel gevoed en versterk om vir veertig dae tot by die berg Horeb te loop.

Dit is daar waar die Here in die spelonk na Elia kom en vra wat hy daar doen. Elia antwoord dat hy baie geywer het vir die HERE, die God van die leërskare en hy kla die kinders van Israel oor drie dinge aan: (1) Hulle het die verbond van die HERE verlaat, (2) hulle het sy altare afgebreek, en (3) die HERE se profete met die swaard doodgemaak sodat Elia alleen oorgebly het en hulle nou ook sy lewe soek (v.9b-10). God het hom toe beveel om uit te gaan en te staan op die berg voor die HERE. Daarop het die HERE verbygegaan terwyl ’n sterk wind die berge skeur, maar die Here was nie in die wind nie. Daarna was daar ’n aardbewing en ook daarin was die Here nie. Na die aardbewing was ’n vuur, maar ook daarin was die HERE nie. Daarna was daar ’n sagte koelte waarin die HERE was. Elia draai toe sy gesig met ’n mantel toe en gaan by die ingang van die spelonk staan. 

2022/06/21

Wanneer die duiwels jou inhaal

Lees: Luk. 8:26-39

Gedagte vir kinders: Jesus Christus is baie sterker as baie duiwels.  

Oorsig: Nadat die Here Jesus die storm op die see van Galilea stilgemaak het, het hulle in die heidene se gebied, die Gadareners aan die Oostekant, oorkant Galilea, aangekom. Toe hulle daar aanland, het daar 'n man uit die stad na Jesus Christus gekom. Hy was al vir 'n hele tyd lank van duiwels besete, het geen klere aangehad nie, en ook nie in 'n huis gewoon nie. Hy het in die grafte gewoon wat in die rotse uitgekap was (v.26-27). Hierdie besete man se reaksie toe hy Jesus sien, was merkwaardig. (1) Hy het uitgeskreeu, (2) voor Jesus neergeval, en (3) met 'n groot stem uitgeroep: “Wat het ons met U te doen, Seun van die Allerhoogste God? Ek bid u om my nie te pynig nie.” Die rede waarom hy dit gesê het, is omdat die Here Jesus die onreine gees beveel het om uit die man te gaan. Lukas verduidelik dan wat hierdie bose gees met die man gedoen het. Hy het hom in besit geneem en saamgesleep  en mense wat hom met kettings en voetboeie wou bind om oor hom wag te hou, moes sien dat hy onder invloed van die bose gees die voetboeie uit mekaar geruk het. Die duiwel het hom dan in die woestyne (meervoud) gedrywe (v.28-29).

Die Here Jesus het hom gevra wat sy naam is en hy het geantwoord dat sy naam Legio is. Legio beteken 6000 soldate in die Romeinse weermag. Die naam dui daarop dat daar sommer baie duiwels in die man ingevaar het. Hierdie duiwels het Jesus toe gesmeek (let wel) om hulle nie te beveel (let wel) om in die onderwêreld (die hel) af te vaar nie (v.30-31). Hulle het hom toe gesmeek om eerder in die trop varke (omtrent 2000 volgens Markus 5:13) van die heidene te vaar wat op die berg gewei het. Die Here Jesus het hulle dit toegelaat (let wel). Die duiwels het toe uit die man gegaan en in die varke ingevaar, en die trop het van die krans af in die see gestorm en verdrink (v.32-33).

2022/06/07

Juigende en profetiese optrede

Lees: Hand. 2:14a, 22-36

Gedagte vir kinders: Omdat Jesus terug was by God, is die Heilige Gees nou by ons.   

Oorsig: Petrus bring hierdie boodskap op Pinksterdag toe die Heilige Gees uitgestort is, en ons fokus in besonder op die tweede deel van sy preek. In die eerste gedeelte verdedig Petrus die gebeure by Pinkster toe die gelowiges in allerhande tale oor die groot dade van God deur Jesus getuig het. Dit was die vervulling van dit waaroor die profeet Joel geprofeteer het – God se Gees op al sy kinders. Daarna verduidelik Petrus wat dit met Jesus te make het (v.22 e.v.).

Petrus wys daarop dat Jesus die Nasarener, ’n man was wat deur God aangewys is deur kragte en wonders en tekens en wat niemand kon ontken nie. Deur God se raad en voorkennis is Jesus toe oorgelewer en deur heidene, goddelose manne, het die Jode hom laat kruisig en ombring (v.22-23). God het Hom egter opgewek, nadat Hy die smarte van die dood ontbind het (let wel, “nadat”), want dit was onmoontlik dat Jesus daardeur vasgehou sou word (v.24). Petrus wys dan op Ps. 16:8-11 waar Dawid reeds profeties hiervan getuig het. Daar getuig Dawid van Christus dat Hy die Here altyddeur voor hom sien en dat God by Hom was dat Hy nie sou wankel nie. Daarom was Jesus Christus se hart bly en sy tong het gejuig en kon sy vlees rus in hoop. Hy het ook geweet dat God sy siel nie aan die doderyk sou oorlaat of sy Heilige oorgee om verderwing te sien nie. Die Here sou eerder aan Hom die paaie van die lewe bekend maak en Hom vervul met vreugde by sy aangesig (v.25-28).             

Petrus wys dan daarop dat die Psalm nie van Dawid waar kon wees nie, aangesien Dawid se graf nog steeds by hulle is. Dawid was egter ’n profeet en het geweet dat God vir hom gesweer het dat die Christus uit hom gebore sou word om op sy troon te sit (vgl. Ps. 132:11; Luk. 1:32). Dawid het dus vooruit gesien en profeties gespreek van die opstanding van Christus en dat sy siel nie in die doderyk verlaat is en sy vlees ook nie verderwing gesien het nie (v.29-31).

Oom Ches en die Boere

“Ek is 'n ProBoer genoem en, anders as sommige Pro-Boere, was ek baie trots op die titel.” – G.K. Chesterton.

Dit is moontlik al voorheen aangetoon, maar ek kon dit nog nie vind in internet-Afrikaans nie. Afrikaners kan mekaar daarmee bemoedig dat die Anglo-Boereoorlog ’n besonder rigtinggewende invloed op die Britse joernalis, G.K. Chesterton (1874-1936), se lewe gehad het. Dit alleen behoort sy leserstal alreeds by ons te laat styg. Ek het Chesterton voorheen vanuit hoorsê ’n ProBoer genoem, min wetende dat hy dit behoorlik was en dat dit inderdaad die standaard-uitdrukking in Engeland was om die Britte te beskryf wat teen die oorlog teen die Boere gekant was.


Volgens oom Ches was daar soms selfs dinees gehou vir ProBoer-gesindes. Dit alles vind ’n mens uit wanneer jy Chesterton se outobiografie lees.[i] Oom Ches se vertelling hieroor is egter vir Afrikaners soveel te meer merkwaardig, aangesien hy die gebeure rondom die besetting van Suid-Afrika verbind aan sy eie ontwaking in identiteit asook ontluiking in die publieke arena van Brittanje. Chesterton verduidelik in sy outobiografie dat hy wel gekwalifiseerde simpatie gehad het met bepaalde doelstellings van die sosialiste en imperialiste, maar dat hy ook ’n bepaalde teësin daarin gehad het:  

“’Maar niks van my hart of my verbeelding het met hierdie wye veralgemenings saamgegaan nie; en iets binne my het altyd onbewus in die teenoorgestelde rigting gegrawe. Ek het in hierdie vae maar nie heeltemal ongesonde gemoedstoestand nie, gebly. Daar het ek gehang ... totdat iets in die uiterlike wêreld gebeur het wat my nie net uit my drome wakker gemaak het soos 'n donderslag nie, maar soos 'n weerlig my aan myself geopenbaar het. In 1895 het die Jameson-inval gekom en 'n jaar of twee daarna die oorlog met die twee Republieke van Suid-Afrika.”[ii]

Oom Ches vertel dan hoe gretig al die Britte was vir die oorlog, selfs gretiger as later vir die Eerste Wêreldoorlog. Chesterton was van mening dat die Eerste Wêreldoorlog baie belangriker en regverdiger was, maar dat dit nie dieselfde applous ontlok het as die Boereoorlog nie: “Menigtes sou ongetwyfeld teen Kruger en Kaiser uitroep; maar die Keiser met sy snorre het nooit so 'n gewilde karikatuur geword soos die President met sy bokbaard nie."[iii] Oom Ches merk ook later op dat dit maar onthou kan word dat daar politici was wat vír die Anglo-Boereoorlog was, maar wat later gedurende die oorlog van 1914 beskuldig is van beskeidenheid  of selfs anti-patriotisme.  

Hierdie sentimente van Chesterton is alreeds insiggewend, maar sy vertelling daarna neem sy verbondenheid aan die Boere se saak destyds, na ’n volgende vlak.

2022/06/04

Bullinger oor geloof en deelname

Hier is sommer iets wat ek by Heinrich Bullinger oor geloof en deelname gekry het in art. 15 van die Tweede Helvetiese Konfessie:
"WE RECEIVE CHRIST BY FAITH. Moreover, the Lord abundantly shows that we receive Christ by faith, in John, ch. 6, where he puts eating for believing, and believing for eating. For as we receive food by eating, so we participate in Christ by believing."

Net 'n verdere opmerking of twee oor die Tweede Helvetiese Konfessie van Bullinger. Ek is in 'n eerste aftasting verras deur Bullinger se terugverwysings na Augustinus. Ook deur die wyse waarop hy die leer van die Uitverkiesing hanteer.

2022/06/03

Bronne oor die Psalms

Hier is ’n paar intree-werke oor die Psalms wat lyk of hulle plofkrag het. Dit behoort tot  gereformeerde katolieke van baie stofasies te spreek. My bietjie ondervinding is dat hierdie werke uit verskillende tradisies help om verskillende dimensies te waardeer. Is ook wel sover verras deur die ooreenstemmende Christologiese aksente. Laat weet gerus van ander verdienstelike publikasies. En die doel is natuurlik eenvoudig: Om so begelei te word in beter aanbidding, doksologie en allerhande ander dimensies van gebede en geestelike liedere:  

O. Palmer Robertson (Presbiteriaan). The Flow of the Psalms: Discovering their Structure and Theology.

David Guzik (Grootdoper en Chilias. In ’n sin ’n uitbreiding van Spurgeon. Gratis beskikbaar op Internet.). Psalms. Verse by Verse Commentary.

Michael Barber (Rooms Katoliek). Singing in the Reign: The Psalms and the Liturgy of God’s Kingdom.

Dietrich Bonhoeffer (Lutheraan). Psalms: The Prayer Book of the Bible.

Jason Bayassee. Praise Seeking Understanding: Reading the Psalms with Augustine.

Patrick Henry Reardon (Oorsters Ortodoks). Christ in the Psalms