2023/05/25

Pinkster en Kerk in die nuwe verbond

Lees: Hand. 2:1-21

Gedagte vir kinders: Pinksterdag herinner ons dat die Heilige Gees gegee is vir God se kinders.

Oorsig: Op die dag van Pinksterfees in Jerusalem, tien dae nadat die Here Jesus opgevaar het na die hemel, was die dissipels eendragtig bymekaar. Skielik het uit die hemel ’n geluid gekom soos ’n geweldige rukwind en dit het die hele huis gevul waar hulle was. Toe het hulle tonge van vuur gesien wat verdeel en op elkeen gaan sit. (v.1-3). Hulle is toe almal vervul met die Heilige Gees en het in ander tale begin spreek soos wat die Gees dit aan hulle gegee het om uit te spreek. Dit het in Jerusalem gebeur waar Jode gewoon het wat afkomstig was uit elke nasie waarheen hulle sedert die ballingskap verstrooi is (v.4-5).

En toe hierdie geluid van die rukwind kom, het baie mense saamgestroom en was verward, omdat hulle elkeen gehoor het hoe hulle in die taal spreek van die plekke waar hulle gebore is. Dit het hulle baie verbaas en verwonderd gemaak en hulle het vir mekaar daarop gewys dat dit dan Galileërs uit die Noorde was wat toe so gepraat het in die tale waarin hulle gebore is (v.6-8). Die tale word dan gegee soos wat dit van wes na oos rondom Jerusalem gevind is: Parthers en Meders en Elamiete, en die inwoners van Mesopotamië, Judea en Kappadocië, Pontus en Asië, Frigië en Pamfilië, Egipte en die streke van Libië by Cirene. Dit was die tale van Romeine wat in Jerusalem vertoef het, en ook tale waarin sommige Jode grootgeword het asook heidene wat die Jode en hulle God goedgesind was (Jodegenote), tesame met Kretense en Arabiere. Hulle het elkeen in hul eie taal gehoor hoe daar oor die groot dade van God gespreek word (v. 9-11). Dit het hulle verbaas en radeloos gemaak omdat hulle nie geweet het wat om daarvan te maak nie. Ander weer, het gespot en gesê dat die mense vol soetwyn is (v.12-13).

Petrus het toe opgestaan en hulle met ’n groot stem toegespreek. Hy het eerste daarop gewys dat die mense nie dronk was nie, aangesien dit nie sommer om 9:00 (die derde uur) moontlik was nie (v.14-15). Hy het dit toe verklaar deur te wys op die woorde van Joel 2:28-32 (v.16-21). Dit is dat die Here in die laaste dae sy Gees sal uitstort op alle vlees - seuns en dogters (profeteer), jongmense (gesigte) en oumense (drome droom), en selfs die laagste stande, diensknegte en diensmaagde, sal profeteer. Die Here sou ook wonders in die hemel en op aarde gee voordat die Here se groot dag kom. En elkeen wat in sulke toestande die Naam van die lewende God, die HERE, aanroep, sal gered word. En dan gaan Petrus aan om vir hulle uit die Skrifte te wys dat die Naam van hierdie HERE, die gekruisigde en opgestane en gekroonde Jesus Christus is.

Besprekingsvraag: Watter verbande is daar oor Pinkster tussen die Ou en Nuwe Testament?

Insig: Pinksterdag kan net waardeer word as ons die agtergrondmusiek van die Ou Testament onthou. Dink aan Babel, aan Sinai, aan die oes-eerstelinge en aan die Israeliete se verstrooiing in die ballingskap. 

2023/05/24

Geloofwaardige getuies in sy diens

Lees: Hand. 1:12-26

Gedagte vir kinders: Daar is niks wat die Here se werk kan keer nie.

Oorsig: Na die Here Jesus se Hemelvaart, het sy dissipels vanaf die Olyfberg omgedraai na Jerusalem wat omtrent ’n sabbatsreis (ongeveer 1 km) ver was (v.12). Daar het hulle na die bovertrek gegaan waar hulle gewoonlik gebly het. Hierdie 11 apostels (sonder Judas Iskariot) se name was Petrus en Jakobus en Johannes, en Andreas, Filippus en Thomas, en Bartholomeüs (Natanael) en Mattheus, en Jakobus, die seun van Alfeus, en Simon die Yweraar (Seloot), en Judas, die seun van Jakobus. (v.12-13). Hulle het almal in dieselfde gesindheid (eendragtig) aangehou met bid en smeking, saam met hulle ’n aantal vroue asook Maria die moeder van Jesus en sy broers (v.14).

In daardie tyd het Petrus in hulle midde opgestaan toe hulle omtrent 120 was. Hy het toe vir hulle gesê dat die Skrif vervul moes word wat die Heilige Gees alreeds deur die mond van Dawid gesê het aangaande Judas wat die leier was van die wat Jesus gevange geneem het (v.15-16). Daarom het Judas die lot van hierdie bediening van verraad verkry en ’n stuk grond gekoop met sy loon van onreg en vooroor geval en oopgebars sodat al sy ingewande uitgestort het. Dit het bekend geword aan al die mense van Jerusalem en die grond is in hul eie taal Akeldama genoem wat Bloedgrond beteken (v.17-19). So staan deur reeds in Ps. 69:25 dat sy woonplek woes moet word en daar geen inwoner sal wees nie (vgl. ook Joh. 2:17 wat Ps. 69:4 aanhaal). Ook dat ’n ander een sy opsienersamp moet neem (v. 20; vgl. ook Ps. 109:8).

Petrus het toe gesê dat daar onder die manne iemand gekies moet word wat saam met hulle rondgegaan het vanaf die tyd wat die Here Jesus sy openbare bediening begin het – vanaf die doop van Johannes die Doper af tot en met die Hemelvaart. So een moes dan saam met hulle getuie wees van die Here Jesus se opstanding (v.21-22). Daar is toe twee voorgestel: Josef wat Barsabas genoem is en die bynaam Justus (betekenis: geregtigheid) gehad het, en Matthias (v. 23). Saam met sommige kerkvaders kry ons die indruk uit die name dat Matthias met net een naam wat tweede genoem word, moontlik ’n bietjie minder in aansien was. Hulle het toe gebid en gevra dat die Here wat die harte van almal ken, moes wys wie Hy uitverkies het om die dienswerk (bediening) van apostel te verkry waarvan Judas afgewyk het en na sy eie plek gegaan het. Daarna het hulle die lot gewerp en die lot het op Matthias geval. En hy is toe gekies en aangewys om saam met die elf apostels te wees (v.24-26).      

Besprekingsvraag: Is die vertelling oor Judas hier in stryd met Mat. 27:3-10?

Insig: Hoe presies is Judas Iskariot dood? Verskil dit nie met Mat. 27:3-10 nie? Die eenvoudigste verklaring is dat die Skrifgedeeltes mekaar aanvul en ons so ’n voller prentjie kry. Ons hoor so eggo’s van ’n verraderlike Absalom wat hang (Mattheus), sowel as van ’n trouelose Agab met bloedbevlekte grond (Handelinge); van selfpynigende wroeging (Mattheus; vgl. Joh. 17:12) en verbondswraak (Handelinge; vgl. Ps. 69;109). 

2023/05/11

Vry van drogbeelde oor God

Lees: Hand. 17:16-34

Gedagte vir kinders: Jesus het die dood oorwin en sal die wêreld eendag oordeel.

Oorsig: Paulus het op sy tweede sendingreis vir Silas en Timotheüs in Berea agtergelaat en solank na Athene gegaan. Terwyl Paulus vir hulle wag in Athene, het sy gees opstandig geword oor die stad vol afgodsbeelde was (v.16). Hy het toe in die sinagoge met die Jode en godsdienstige mense gespreek en ook elke dag op die mark met die mense wat hom teëgekom het. Onder hulle was Epikuriese en Stoïsynse filosowe. Die Epikureërs het geglo die lewe gaan oor genot en materialisme en net hier en nou en toevalligheid. Die Stoïsyne was het geglo aan plig en ’n lewe van vasbyt en nooit te bly of te hartseer te wees nie. Hulle wou probeer om die goddelike beginsel (logos) van die wêreld te verstaan. Al hierdie mense het met Paulus gestry en gesê dat hy ’n praatjiesmaker en verkondiger van vreemde gode is. Dit was in reaksie op Paulus se boodskap van die evangelie van Jesus en die opstanding (v.17-18).

2023/05/04

Prioriteite, strukture en wysheid

Lees: Hand. 6:1-7

Gedagte vir kinders: Die Heilige Gees bring wysheid en omgee in ons harte in.

Oorsig: Ons lees in Handelinge 4-5 dat die eerste gemeente se harte oop was vir mekaar se behoeftes. Die satan het egter selfs dit gebruik om sommige mense (Annanias en Saffira) skynheilig te laat en die Here het sterk hierteen opgetree deur sy apostels. Soos wat die gemeente in Jerusalem gegroei het, het daar ook nuwe probleme ontstaan. Daar was Aramees-Hebreeussprekende Jode in Jerusalem, maar ook Griekssprekende Jode wat ver buite Jerusalem grootgeword het. Hulle het hul Joodse geloof behou en hul later tot Jesus Christus bekeer en in Jerusalem gewoon. Soos wat die gemeente uitgebrei het, het sommige Griekssprekende weduwees egter nie aandag gekry soos die ander nie en dit het spanning veroorsaak (v.1).

Die 12 apostels het die mense bymekaar geroep en hulle daarop gewys dat hulle ’n bepaalde prioriteit moet behou, anders gaan die bediening van die Woord van God en gebed skade ly as hulle aandag ingesluk word deur die kos-behoeftes op tafel vir al die mense (v.2). Hulle oplossing was om vir sewe manne uit te kyk wat (1) goeie getuienis by mense gehad het oor die algemeen, en (2) vol was van die Heilige Gees en wysheid en wat spesifiek aangestel kon word om aan die probleem aandag te gee (v.3). Die apostels het onderneem om by hulle grootste prioriteit te hou: (1) Volharding in die gebed en (2) die bediening van die Woord (v.4).

Die menigte het hierdie werkswyse goed gevind en die volgende mense gekies wat insiggewend genoeg almal Griekse name gehad het: Stefanus, wat spesifiek beskryf word as vol van geloof en die Heilige Gees (vgl. Hand. 6 en 7), en Filippus (vgl. Hand 8). Dan was daar ook Prochorus en Nikanor en Timon en Parmenas en Nikolaus (v.5). Nikolaus, word beskryf as ’n Jodegenoot uit Antiochië (vgl. Hand. 2:10 en 13). Dit beteken dat hy ’n Griekssprekende heiden was wat die God van Israel aanvaar het (Jodegenoot) en later ook tot geloof in Jesus Christus gekom het. Hierdie sewe manne is voor die apostels gestel en die apostels het toe gebid en hulle die hande opgelê en so is hulle aangestel (v. 6; vgl. Num. 8:10; Dt. 34:9; 1 Tim. 4:14). Later lees ons dat Stefanus saam met die tafeldiens ook die Woord kragtig verkondig en verdedig het. Die Woord van God het deur hierdie aksie net verder toegeneem en die getal dissipels in Jerusalem het baie vermeerder. Selfs baie priesters van die Jode het gehoorsaam geword aan die geloof (v.7).    

Besprekingsvraag: Het die werk van die Heilige Gees ook te make met administrasie? 

Insig: Die Kerk van Jesus Christus het altyd nuwe seëninge, maar ook uitdagings.