2023/08/31

Kruisvormige Christene in Hom

Lees: Mt. 16:21-28

Gedagte vir kinders: Ons vind ons volle lewe wanneer ons dit weggee vir die Here.

Oorsig: Dit is een ding om te erken dat die Jesus die Christus is. Dit is iets anders om ook te erken hoe Hy die Messias is en wat dit beteken vir elkeen wat Hom volg. In hierdie gedeelte kry ons met twee definitiewe dele te make. Ons hoor eers hoe die Here Jesus vir Petrus bestraf oor sy siening van sukses (v.21-23). Daarna verneem ons van die Here Jesus se roeping tot dissipelskap (v.24-28).

Net nadat Petrus die wonderlike belydenis gemaak het dat Jesus die Christus is, die Seun van die lewende God, het Hy vir hulle gesê dat hulle vir niemand moes sê nie. Mense het Hom  net gesien as ’n aardse koning. Van toe af het die Here duideliker vir hulle begin wys dat Hy in Jerusalem onder die erkende leiers, die ouderlinge , die owerpriesters en die skrifgeleerdes sou ly. Hy sou selfs gedood word en op die derde dag opgewek word (v.21). Petrus het die Here Jesus hieroor eenkant toe geneem en dit selfs gewaag om die Here teen te gaan oor sy woorde: “’Mag God dit keer Here, dit sal U nooit oorkom nie” (v.22). Die Here Jesus het egter omgedraai en vir die dieselfde Petrus wat Hy pas van tevore bemoedig het oor sy belydenis oor die Christus, gesê: “Gaan weg agter my satan! Jy is vir my ’n struikelblok omdat jy nie die dinge van God bedink nie, maar die dinge van die mense.” (v.23)

Die Here het daarna vir sy dissipels sy pad verduidelik en wat dit vir sy navolgers sou beteken. Hy het gesê dat as iemand agter Hom wil aankom, hy (1) homself moet verloën, (2) sy kruis opneem en (3) Hom moet volg (v.24). Die rede is dat elkeen wat sy lewe ten alle koste wou red, dit sal verloor, maar dat elkeen wat bereid is om sy lewe ter wille van Jesus te verloor, dit sal vind (v.25). Die Here het bygevoeg dat dit tog niks baat om die hele wêreld te win as jy aan jou siel skade ly nie (v.26). Hy het ook ’n tweede retoriese vraag gevra: Wat kan tog groot of belangrik genoeg wees om jou siel los te koop? Die antwoord is dat daar niks is wat groot genoeg is nie. Jesus het toe daarop gewys dat Hy, die Seun van die Mens, gereed is om met sy engele in die heerlikheid van sy Vader te kom en dan elkeen sal vergeld volgens sy dade en dit beteken spesifiek of hulle Jesus Christus gevolg het (v.27). Toe het Hy gesê dat sommige onder hulle nie sou doodgaan voordat hulle Hom in sy koninkryk sien kom het nie. Dit het ook gebeur, reeds by die verheerliking op die berg daarna, en later met Hemelvaart en op Pinksterdag (v.28; vgl. Dan. 7:13-14; Hand. 1-2).       

Besprekingsvraag: Kan ons verwagtinge oor die Messias vandag steeds die punt mis?

Insig: Terwyl Petrus in die voorafgaande gedeelte dien tot bemoediging oor die Kerk as kragtige instrumente en ons as deel daarvan, dien hy hier ook as vermaning aan die Kerk om nie instrumente in die hand van die satan te word nie. Die kerkgeskiedenis dui ook op slegte voorbeelde hiervan en ons behoort ook in ons persoonlike lewens op ons hoede daarvoor te wees, veral na ’n geestelike hoogtepunt. Die feit dat jy instrument was beteken nie dat jy nie weer later vermaan moet word nie (vgl. Hand. 2; Gal. 2:11-21).

Hoe gebeur dit? Uit die gedeelte is dit duidelik dat twee dinge nie dig by mekaar gehou word nie. Ons moet enersyds erken dat Jesus Christus wel die Seun van die lewende God is. Ons moet andersyds ook duidelikheid hê oor hoe Hy die Christus is en wat dit vir ons lewens beteken. Want die weg van die Christus loop langs die weg van vernedering en die kruis na die verhoging. Ons praat maklik van die aardse Messias-verwagtinge van destyds wat nie sin kon maak van ’n kruis as deel van die oorwinning nie, maar ons kan steeds so maklik daarin vasval. Dit hang ook by ons steeds saam met ons visie van die suksesvolle lewe. Ons het steeds moeite om dit in verband te bring met die nederige weg waarin ons sekere dinge bewustelik opsê om self ook kruisvormige Christene te word, verbonde aan Hom wat gekom het om die kruisweg te stap en ons te verlos van waan-idees oor die suksesvolle lewe.

Wat beteken dit in praktyk? Ons gelese gedeelte verduidelik dieselfde met drie beskrywings. Die lewende Christus roep jou om (1) jouself te verloën en (2) jou kruis op te neem, en (3) om Jesus Christus te volg. Dit is ’n oproep tot egte dissipelskap en vereis definitiewe keuses. Dit spel in unieke terme uit wat dit beteken om in Jesus te bly (vgl. Joh. 15:5) en in Christus te wees (vgl. Gal. 6:15). In die sentrum daarvan staan die gekruisigde lewe wat net deur verbondenheid aan Christus in ons lewe waar kan word. Dit is ’n lewe waarin daar afgesien word van die self ter wille van Christus, om selfs in die openbaar verguising en onregverdige behandeling te verduur. Dit beteken dat ons teen die kultuur ingaan as dit nodig is en selfs bereid om die uiterste prys van die dood om Christus ontwil te betaal. Tog is dit ook die weg waarop ons nou reeds die lewe vind. Ons vind in elk geval die ware lewe wanneer ons nie so hardnekkig vasklou dat ons nie waag nie (vgl. dapperheid in oorlog), maar dit geld hier in besonder met betrekking tot Jesus Christus wat ook as Regter eenmaal die laaste oordeel sal fel. Die keuse en die vind van LEWE en avontuur in Hom begin egter reeds hier.

Werke geraadpleeg

John Bergsma, The Word of the Lord. Year A.

Frederick D Bruner, Matthew: A Commentary.

2023/08/24

Die Kerk het sleutels

Lees: Mt. 16:13-20

Gedagte vir kinders: Jesus Christus is die waarlik die Messias van die wêreld.

Oorsig: Die Here Jesus se bediening in Galilea in die noorde was naby aan die einde daarvan. Hy kom toe met sy dissipels in die streke van ’n stad daar wat vernoem is na die keiser en na Filippus, die seun van Herodes, wat dit opgebou het: Cesarea-Filippi. Dit was op die grens tussen Israel en die heidenwêreld en in die stad was daar ook bekende afgodsbeelde van Baal (van die Siriërs) en Pan (van die Grieke. Moderne naam: Baniyas) en met die Keiser in die stadsnaam self wat ook as goddelik beskou is. Naby hierdie groot godsdienste vra die Here Jesus toe: Wie sê die mense dat Hy, die Seun van die mens is. Daarmee het Hy eintlik reeds te kenne gegee dat Hy Koning en toekomstige wêreldregter is (v. 13; vgl. Dan 7:13-14).

Die dissipels het geantwoord dat sommige gesê het dat Hy Johannes die Doper was (uit die dood opgestaan of tipe). Ander het gesê dat Hy Elia was. Ander het weer gesê die profeet Jeremia (wat baie hoog onder die profete geag is) of een van die ander groot profete van die Bybel (v.14). En toe het die Here die vraag na hulle toe laat gaan: Maar julle, wie sê julle is ek? Simon Petrus het toe gesê: “U is die Christus, die Seun van die lewende God.” (v.15-16). Hierop het die Here geantwoord: “Salig (geseënd) is jy, Simon Bar-Jona (seun van Jona), aangesien die antwoord (openbaring) nie van gebroke mense (vlees en bloed) gekom het nie, maar van sy Vader (let op die persoonlike beskrywing) wat in die hemele is (v.17).

Hierna het die Here Jesus ’n groot uitspraak gemaak. Hy het vir hom gesê dat sy naam Petrus is (klein rotsie). Sy naam staan vir iets groter: Op hierdie rots, bedoelende, (1) op wie Christus is, en (2) op die belydenis van en geloof in Christus, en (3) vanuit die amp vir Christus, sal Jesus sy gemeente (Kerk: Ekklesia) bou. Dit sal so kragtig wees dat die selfs die poorte van die doderyk (Hades) dit nie sal oorweldig nie (v.18). Dit beteken die poort van dreiging en magte en waar lewe en dood vir altyd plekke verruil, sal nie die Kerk kan oorwin nie. Die Here Jesus het hierna bygevoeg dat Hy die sleutels van die koninkryk van die hemele aan Peterus as verteenwoordiger van die Kerk sal gee. Dit sou beteken dat wat Petrus as deel van die kerklike ampte doen met hulle verkondiging oor Christus, tot in di ehemel sal weerklink: Dit wat die Kerk op die aarde bind, word ook in die hemele gebind, en dit wat op die aarde ontbind word, word ook in die hemel ontbind (v.19).  Hierna het Hy egter vir die sy dissipels bevel gegee dat hulle vir niemand moes se dat Hy die Christus is nie (v.20). Die rede het later duideliker geword. Hulle hulle moes nog leer  dat Hy die Christus sou wees deur sy kruisiging.

Besprekingsvraag: Wat beteken dit dat die Kerk die sleutels van die koninkryk het?

Insig: In ’n pluralistiese wêreld word die uniekheid van Christene tussen ander gelowe voortdurend bevraagteken. Die belangrike vraag bly egter: Wie sê die mense dat Jesus, die Seun van die mens is?

2023/08/18

Here, help my!

Lees: Mat. 15:21-28

Gedagte vir kinders: Ons hoef nooit moedeloos te word om vir die Here se genade te vra nie.

Oorsig: Net voor hierdie gedeelte hoor ons van tradisies (oorlewering van die ou mense) en rituele, bygevoeg by die Ou Testament, wat in die pad van Christus se innerlike reiniging kan staan en die bevrydende Woord (sola scriptura en solus Christus) ontken. In hierdie gedeelte hoor ons hoe geloof in Christus (sola fide) die belangrikste is en hoe ons so gereinig word en genesing mag ken (vgl. Hand. 15:9). Die Here Jesus het vanaf Galilea in die Noorde, saam met sy dissipels nog verder noord gegaan, tot selfs buite die grense van Israel in die heidengebiede naby Tirus en Sidon (v. 1. Vgl. Luk. 4:26). Hulle wou moontlik rus en ook die mense laat nadink oor wat die beteken as Christus weg is (vgl. Mat. 10:14). Daar het 'n Kananese vrou ('n Griekse vrou van Siro-Fenisiese afkoms volgens Mk. 7:26) na Hom geroep met grootse woorde.

Sy het Jesus respekvol as Here en as Messias (Seun van Dawid) aangespreek en gevra dat Hy barmhartig sal wees. Haar dogtertjie was erg van die duiwel besete (v.22). Die Here Jesus het haar nie geantwoord nie. Sy het egter so aangehou dat die dissipels blykbaar ongemaklik geraak het en Hom gevra het om haar (te help en dan) weg te stuur. Die Here Jesus het bloot soos vroeër (vgl. Mt. 10:5-6) geantwoord dat Hy gestuur is na die verlore skape van die volk van Israel. Uit Markus 7 leer ons ons dat Hy daar iewers in 'n huis gegaan  het. Ons kry vanuit Markus die indruk dat sy daarvan gehoor het, op een of ander manier daar ingekom het, en toe voor sy voete neergeval (neergebuig) het en weer gevra het: Here, help my! (v. 23-25).

Die Here het haar toe nogeens in lyn met sy vorige woorde geantwoord en 'n beeld van 'n gesin met kinders en hondjies gebruik. Sy roeping was in Israel en met sy dissipels. Dit was nie reg om nou die sorg wat bedoel was hulle wat kinders was deur God se verbond  met Israel, nou vir hondjies, bedoelende heidene buite die verbond, te gee nie (v.26). Die vrou het egter 'n antwoord van geloof gegee. Sy het in nederigheid erken dat sy nie as kind in die huis erken kon word nie en dat Israel wel eerste moes kom. En tog het sy die beeld gebruik om dit verder te voer: Die hondjies kry darem krummels en sy was selfs bereid vir die krummels wat Israel by die Messias gekry het. Hierop het die Here Jesus haar antwoord van geloof geëer. Hy het vir haar gesê: “O Vrou, groot is jou geloof; laat dit vir jou wees soos jy wil hê." Sommer so op afstand het daardie vrou se dogter toe gesond geword, presies van daardie uur af (v. 27-28).

Besprekingsvraag: Hoe rym ons Mt. 10:5-6 en 15:24 met Mat. 28:18-20?

Insig: Christus herhaal dit in sy bediening dat Hy gestuur is na die verlore skape van Israel (vgl. Mt. 10:5-6; 15:24; Rom. 15:8). Let egter op: 

2023/08/10

Groter as ons kleingeloof

Lees: Mat. 14:22-36

Gedagte vir kinders: Jesus Christus red hulle wat sink en na Hom roep.

Oorsig: Nadat die Here Jesus die skare van duisende (5000 manne met vroue en kinders) gevoed het, het Hy dadelik sy dissipels gedwing om in die skuit op die see van Galilea oor te vaar na die oorkant, terwyl Hy die skare weggestuur het. Hy was nie te besig om dit eers reg af te sluit en te praat met die wat nog wou nie. Daarna het Hy, anders as ons wat so maklik na ’n hoogtepunt vergeet om daaroor te bid,  op die berg geklim om te bid en Hy was daar alleen toe dit aand geword het (v.22-23). Intussen was die skuit van die dissipels in die middel van die see van Galilea, wat eintlik ’n meer was en ook die meer van Genesaret genoem is. Daar kan nogal hewige storms op hierdie meer losbreek as gevolg van winde naby verskillende bergreekse, en hul boot is erg geteister deur die golwe, omdat die wind teen hulle was (v.24).

In die vierde nagwaak (tussen 3:00 en 6:00; vgl. ook Ex. 14:25) het die Here Jesus toe na hulle gekom op ’n manier wat ’n mens se asem wegslaan. Hy het op die see geloop. Toe die dissipels Hom op see in die storm sien loop, was hulle ontsteld en gesê dat hulle ’n spook sien. Hulle het midde hierdie verskriklike storm toe geskreeu van vrees (v. 25-26). Die Here Jesus het egter dadelik (let wel; vgl. Mt. 8:3,7) met hulle gespreek met woorde wat ook ons vandag nog kan bemoedig: Hou goeie moed! Ek is (Dit is Ek)! Moenie vrees nie! (v.27). Petrus het toe gevra dat as dit Hy is, Hy Petrus moet beveel om op die water na Hom te kom. Die Here het toe gesê: Kom! En Petrus het van die skuit afgeklim en sowaar op die water geloop om na Jesus te gaan (v.28-29). Maar toe sien Petrus die sterk wind en word bang en toe begin hy sink. Hy roep toe en sê: Here, red my! Die Here Jesus het dadelik (let wel) sy hand uitgesteek en hom gegryp en daarna vir hom gesê: Kleingelowige, waarom het jy getwyfel? (v.30-31).  

Daarna het hulle in die skuit geklim en die wind het gaan lê. Hulle wat in die boot was, het toe voor die Here Jesus neergeval en gesê: Waarlik, U is die Seun van God! (v.32-33). Toe het hulle verder oorgevaar en in die land van Genesaret gekom. Die mense daar het die Here Jesus herken en toe in die hele omtrek almal wat siek was na Hom toe gebring (v.34-35). En hulle het Hom gesmeek dat hulle net maar die soom van sy kleed mag aanraak; en almal wat dit aangeraak het, het gesond geword (v.36).

Besprekingsvraag: Hoe laat ons aan die letterlike én geestelike betekenis hier reg geskied?

Insig: Daar is ook verhale van loop op water in ander godsdienste en kulture, soos byvoorbeeld by Boeddha en by Homeros se verhaal oor Odysseus. Die saak word dan vinnig net simbolies verstaan en selfs gelowiges wil hierdie gedeelte net psigologiseer. Ons moet egter eers die gedeelte baie letterlik lees. 

2023/08/02

Kom koop verniet

Lees: Jes. 55:1-5

Gedagte vir kinders: Kom eet en drink verniet by Jesus Christus se fees.

Oorsig: Ons verstaan die uitnodiging van Jesaja 55 beter as ons onthou wat vooraf gebeur het. In Jes. 53:11 hoor ons dat die Kneg van die Here, baie regverdig maak en hulle skuld dra. Daarom deel God Hom uit vir baie mense en die Kneg verdeel die buit met baie mense (v.12, letterlik vertaal). Waarom kon dit gebeur? Omdat die Kneg van die Here (1) sy siel tot in die dood uitgegiet het, (2) as oortreder gereken is, (3) die sondes van baie gedra, en (4) vir sy oortreders gebid het. So het Hy, die Kneg en Messias, hoog en verhewe, ja baie hoog geword (vgl. Jes. 52:13). Daarom sal nasies opspring en gedoop word, en daarom betoon konings respek (Jes.49:7; 52:15; vgl. KJV; vgl. Mat. 28:18-20). Ja, so trek die Messias nou almal na Hom toe (vgl. Joh. 12:32). In Jesaja 54 hoor ons dan dat die volk Israel opgeroep word om te jubel, want nou kan Israel, die bruid wat onvrugbaar was, ’n groot nageslag hê. En dan kom die oproep in Jesaja 55 na die hele wêreld om dit te kom neem wat die Messias bewerkstellig het.