2012/11/16
Die mite: proporsionele ras- en geslagsverteenwoordiging
Soms het sekere mense se uitsprake oor sekere kwessies net meer slaankrag. Hierdie gesprek is reeds in 1981 opgeneem. Vanjaar is Sowell reeds 82 jaar oud, dog steeds verbasend skerp. Sy boeke en opinies bly vars. Ons het meer Sowells nodig.
2012/11/08
Wanneer woordvonke spat
Die woord is vir die digter nie net 'n
klank-kombinasie nie; nie net die draer van begrip nie; nie net die vorm
waardeur hy die strenge tug op sy belewings handhaaf nie. Die woord is 'n
magiese middel, 'n wapen waardeur onsuiwerheid uitgesny kan word,
'n tower-formule waarmee dinge besweer word, 'n beitel waardeur planete
oopgebreek kan word.
Johan J. Degenaar
2012/09/25
Gunste en gawe notas
Oor die klasnotas rakende gunste en gawes: Ek het intussen so 'n bietjie naïwiteit verloor oor die tema. Margaret Visser toon aan in haar gesaghebbende werk, The Gift of Thanks, dat die hele hoe-ha oordenkings oor gawes voortspruit uit 'n reaksie teen die modernisme. Die wereld van die gawe-ekonomie ("gift economy") is verlaat waar individualisme en kapitalisme glo geheers het. Die hele kwessie het begin met 'n boek van Marcel Mauss - The Gift. Mauss was familie van Emile Durkheim en ook sy sterstudent. Mauss het bewustelike gepoog om die individualisme van die dag, utilitarisme, uit te daag. Hierdie beginpunt beteken ongelukkig ook dat 'n mens nie verbaas moet wees as pomo-simpatiekes en lib-sensitiewes vinnig op hierdie appelkar spring nie. Die gedagte van gawe is 'n tipe gonswoord in die postmoderne tydvak om die sosiale sy van ons menswees te beklemtoon. Dit is nie noodwendig sleg nie, maar ons moet fyntrap. Alles hang daarvan af die lewende Woord die regte plek in ons nadenke inneem.
Ek is reeds skuldig aan iets anders. Hierdie naamgewery van my neem reeds deel aan 'n ons-hulle diskoers wat ek behoort te vermy. Ek sal probeer om ordentliker te wees in die toekoms. Maar hoor my asseblief as ek probeer aantoon dat ek dink ek die voetangels raaksien terwyl ek tog wil probeer om die duwwelpaadjie te bewandel. Waarom? Omdat skuld deur assosiasie nie altyd goed is nie. En omdat ons horende doof word vir die Woord as ons nie waardeer dat die Woord juis nuut is wanneer ons dit telkens teen 'n nuwe dekor lees. Was dit C.S. Lewis wat gesê het dat ons nooit dieselfde boek lees ons ons dit weer deurlees nie? Ons kan tog almal getuig hoe die Bybel en selfs ander boeke vir ons nuwe perspektiewe gebring het toe ons dieselfde stuk later weer gelees het. Die rede is eenvoudig: Die Woord is te ryk vir ons om op een slag uit te put. Dit geld ook van enige leesstof wat nooit iets anders as goeie of slegte skadus van die Woord kan wees nie.
2012/08/16
Denke van dankbaarheid
Net so 'n voorloop ietsie om die aptyt aan
te wakker. Dr. Peter Leithart bied hierdie termyn 'n vak genoem "Gift and
Gratitude" aan by die instelling waar ek klasloop. Dit maak deel uit van
'n boek wat DV volgende jaar gaan verskyn. Dink Seneca, dink Mauss en
postmoderne filosowe soos Derrida se gissings wat uiteindelik aan die lewende
Woord gemeet word. Leithart stel dat die basiese probleem met Descartes se cogito
ergo sum (ek dink, daarom is ek) aanval was die hele basis waarvandaan dit
lanseer is - twyfel in plaas van dankbaarheid. 'n Filosofie wat lanseer vanuit
gawe en dankbaarheid, sê Leithart, sal heeltemal anders lyk. Dit het
uiteindelik gevolge in elke uithoek, selfs in ekonomie en politieke filosofie.
'n Mens wonder byvoorbeeld of Heidegger iets, let wel, nie alles nie, beethad
toe hy gestel het: denken ist danken. Sekere dramas van Shakespeare (bv. King
Lear) toon trekke dat hy Seneca gelees het en wys hoe spanning ontketen wanneer
gawe en opgawe nie in gepaste interaksie dans nie. Gehoek? Ja, hoe kan dit anders as ons
die eggo's van genade in hierdie mymeringe hoor. Genade-denke behoort mos te
resoneer met dankbaarheid en nie met dankbarheid nie. Ek hoop om van tyd
tot tyd 'n paar klasnotas hier te deel.
Etikette:
bevrydende ortodoksie,
ekonomie,
evangelie,
Film,
filosofie,
Genade,
postmoderniteit
2012/08/07
Hoor en hoera mag saamloop
Luther het geworstel om die geregtigheid van God te verstaan, bevrydend te verstaan. Ons worstel steeds. As God se Gees ons nie in die spervuur van ontdekking plaas nie, sal ons met teologiese woordeboeke en al met koue harte kwyn. Maar ons is mense met wie God baie simpatie het. Dit is eenvoudig hoe Hy is. Hy is vinnig om ons jammer te kry. Hy hou dit met ons uit. Hy is baie goed vir ons. En Hy gee aan ons 'n atmosfeer waar ons kan asemhaal in sy teenwoordigheid. In die taal van die Bybel, Hy is genadig en barmhartig, lankmoedig en groot van goedertierenheid (Ps. 145:8). Hy is so genadig dat Hy selfs teologiese woordeboeke gebruik om ons te verras. Ook teoloë word gebruik - wonder bo wonder.
Voor ons by hierdie fenomeen uitkom, is dat dalk goed om net gou weer 'n draai by die bekende 1 Jn 1:9 te maak om ons in stemming te bring. Net twee vinnige gedagtes: "As 'n man 'n ring aan die linkerhand se ringvinger dra, is hy getroud." Die "as" in die vorige sin is nie voorwaardelik bedoel nie, maar dui 'n bepaalde stand van sake aan. Dit is beter om 1 Jn. 1:9 se "as" ook so te verstaan. Wanneer 'n Christen sy of haar sonde bely, gebeur daar sekere skreiende dinge. Verder: Waarom staan daar dan dat God regverdig is om ons te vergewe? Die kategismusantwoord is sekerlik tog dat Hy nie sonde aan ons sal straf wat Hy reeds aan sy Seun gestraf het nie.
Hoor ons dit: "regverdig om ons te vergewe"? Ek dink dit is wat Luther gehoor het. Hy het gehoor en gehoera. Ja, ek weet, ek moes eintlik 'n uitroepteken aan die einde van die vorige sin geplaas het. Maar dit sal meer van pas wees wanneer ons saam hoera skreeu. Dit bring ons terug by die wonder dat God selfs teoloë kan gebruik om ons saam hierby uit te bring, selfs toeloë met wie ons nie in alle opsigte saamstem nie. Luther het ontdek en ons het saamgeleer om die geregtigheid van God te waardeer. Dit is 'n oordeel wat nie net oordeel nie, maar vrymaak, 'n eis wat nie net vra nie, maar gee. God eis en gee die geregtigheid waaroor Hy nie 'n kompromie sal aangaan nie. En as jy se dat jy hoor, maar steeds 'n skuinsskoot nodig het, hoor 'n ander Lutheraan, Robert Jenson:
"Wanneer ons sê dat God regverdig is en vra wat dit beteken, dan wys ons na Jesus se vriendskap met sondaars."
Omdat God regverdig is, is die Here Jesus vriendelik met sondaars soos ek en jy. Wat 'n geseënde paradoks! God is regverdig en daarom is ons vry. Net die evanglie maak dit waar. Buite die evangelie, buite Christus, is daar geen vriendelikheid nie. Net oordeel. En dit is waarom ons die oproep moet hoor om in te kom. Dit is baie koud en eensaam buite.
2012/06/20
Ons sonde aan flarde
In 'n vorige aflewering was sprake van die plofkrag van ware bekering. Kom ons kyk na die plofkrag uit 'n ander hoek - die oorsprong van die plofkrag. Ek en jy het meer as kernplofkrag nodig as ons wil hoop om ware bekering te ken. Die goeie nuus is dat dit presies is wat die evangelie van Jesus Christus bied. Lees hier as jy weer 'n behoefte het om te weet dat jou sonde, hoe groot ook al, aan flarde geskiet kan word. Sterker gestel, lees biddend as jy behoefte het aan 'n boodskap wat jou ou mens (weer) voor die evangeliese kernmissiel plaas. Die Bybel praat van uitdelging en ontsondiging van ons sonde (vgl. Ps. 51:3,9). En dit liewe vriend/vriendin, is die rede waarom daar vir jou en vir my hoop is.
2012/06/15
Kuyper-kaping
Iewers het ’n Kuyper-kaping in Suid-Afrika plaasgevind. Die kaping het plaasgevind deur ’n vreemde alliansie. Verrassende lede sluit beide NGK en APK lidmate in.
Die kerkhisorici
van die NG Kerk erken hulle aandeel sommer prontuit. Kuyper is gekaap, op die
ashoop gesit en vervang met met Barth. Lede van die APK het saamgegekaap, maar die
ashoop was natuurlik die laaste plek waaraan Kuyper blootgestel sou word.
Kuyper sou goeie diens doen vir die kerkverband. En as die NGK sou beweer
dat die APK nog in die Kuyper-kopklem is, sou menige APK's hierdie etiket natuurlik met
vreugde dra. Was Kuyper dan nie feitlik die mees aangehaalde teoloog toe die NG kerk apartheid
teologies verdedig het nie? Daar is eintlik min plekke waaroor baie APKaners en NGKaners soveel konsensus het: Die Abraham Kuyper kar is in of hy is uit. As iemand
in koorsoomblikke die APK wil verklaar as die Afrikaanse Protestantse Kuypers,
sou “ingeligtes” in die NGK en APK waarskynlik instemmend die kop – in ’n
kopklem of te not – knik in’n dit-spreek-vanself ritme.
Konserwatiewes sê
Kuyper is in; ander sê hy moet uit. Altans, tot onlangs toe. En wie moet ons
bedank vir die nuwe wending in die waarneming? Niemand minder as ou POMO nie.
Sy lang naam is postmoderniteit, maar niemand noem hom eintlik so nie. Dit klink
te amptelik. Buitendien, gemak, informaliteit en intimiteit is dan juis so eie
aan ou POMO.
Maar een ding
het POMO reggekry. Hy het Kuyper met nuwe waardering op die tafel geplaas. Hoe dit gebeur het was onafwendbaar. Stadigaan besef mense vandag dat hoë oktaan Kuyper
nie die probleem is nie. Die vraag is eerder op watter pad daar met die hoë
oktaan motor gery word. Dit is die nuus wat in Suid-Afrika nog nie die
hoofbulletin gehaal het nie. Meer as een soort Kuyper-kaping het al buite
Suid-Afrika plaasgevind. Die kapers word nogal maklik herken aan die rigting
wat hulle met Kuyper inslaan. Die Kuyper karretjie kan skynbaar op beide konserwatiewe en
liberale bane ry. Gaan kyk maar net waar het die Kanadese al met Kuyper gery
(wenk: moenie die goud tusen-in mis nie). En as die karretjie nie meer verder
op die ingeslane weg kan
ry nie, word hy omgebou. Daar bestaan K-modelle (konserwatief), L-modelle
(liberal) en deesdae selfs P- modelle (postmodern).
Genadiglik is
daar deesdae ook ’n wêreldwye oplewing van NCW modelle. Laasgenoemde staan vir
neo-Calvinisme wêreldwyd. As opvolger op die P-model bied dit bevredigende antwoorde oor waarom Kuyper vandag relevanter as ooit is. Ook die APK en NGK staan met nuwe ore en belangstelling nader.
Teken in op:
Plasings (Atom)