Lees: Luk. 10:25-37
Gedagte
vir kinders: Christus roep ons om in sy krag graag ander mense
te help.
Oorsig: Die Here Jesus
was op pad na Jerusalem om die offer vir ons sonde te bring en in hierdie tyd hoor
ons baie van dissipelskap. Hier leer ons hoe dissipels van die Here Jesus se
liefde vir die naaste lyk. Op die Here se pad het ’n sekere man wat in die wet
van God geleerd was, gekom en die Here Jesus getoets deur vir Hom te vra wat Hy
moes doen om die ewige lewe te beërwe (v.25-26). Die Here het hom met ’n
teenvraag geantwoord en gevra wat hy in die wet daaroor lees. Die man het toe
geantwoord dat jy God met alles (let op die drie dimensies: hart, siel, krag. Die verstand, gewoonlik ingesluit by die hart, word hier bygevoeg) in jou moet liefhê en jou naaste soos jouself.
Die Here het geantwoord dat hy reg was en dat hy dit moes doen en lewe. Die
Skrifgeleerde wou homself egter regverdig (let wel), en het toe gevra wie sy
naaste is (v.27-29). Die Ou Testament het hieroor alreeds duidelike riglyne gegee (Lev. 19:18,34) en die Here Jesus het toe hierdie riglyne se bedoeling verder gevoer. Hy het hom geantwoord deur ’n
gelykenis te vertel.
Daar was ’n
sekere man wat afgegaan het van Jerusalem na Jerigo. Dit het was ongeveer 25km en het steil na onder geloop en ongeveer 1000m gesak tot by die see. Op die pad
het rowers het hom aangeval, uitgetrek en geslaan en toe weggegaan en hom half dood
daar laat lê. Daar het toe ’n priester met daardie pad afgekom (dus vanaf Jerusalem en die tempel af na Jerigo, en hom gesien,
maar anderkant verbygegaan. Ook ’n Leviet wat nie ’n priester was nie, maar
gehelp het met werk by die tempel, het daar gekom en die man gesien, maar ook
anderkant verbygegaan (v.30-32). En toe het daar iemand anders gekom wat
heeltemal anders opgetree het. Hy was ’n Samaritaan (Samaritane was nie op
goeie voet met die Jode nie). Toe hy op sy reis op die gewonde man afgekom en
die man sien, het hy (1) hom baie jammer gekry, (2) na hom te gegaan, en (3) sy
wonde verbind en (4) olie en wyn daarop gegooi. Hy het hom verder (5) op sy eie
pakdier gehelp en (6) die man na ’n herberg geneem en (7) vir hom daar gesorg.
Asof dit nie
al genoeg was nie, het hy (8) toe hy die volgende more weggaan, twee pennings
uitgehaal (Die waarde van twee dae se werk vir ’n dagloner en wat iemand ’n
hele paar dae kon versorg) en dit aan die eienaar van die herberg gegee om die
versorging te behartig. Meer nog, (9) hy het gesê dat indien daar enige onkoste
meer is, hy dit sal betaal wanneer hy terugkom (v.33-35). Die Here Jesus het
toe die wetgeleerde se vraag omgedraai. Hy het nie gevra wie die Samaritaan se
naaste was nie, maar wie die naaste was van hom wat nood gehad het. Die
Skrifgeleerde het toe nie bloot geantwoord dat dit die Samaritaan was nie, maar
dit beskrywe as “hy wat barmhartigheid aan hom bewys het”. Toe het die Here
Jesus hom geantwoord dat hy moes gaan en net so moes doen (v.36-37).
Besprekingsvraag:
Wat leer ons oor naasteliefde wanneer Christus die man se vraag omkeer?
Insig: Ons kry in die onmiddellike verband te make met allerhande dimensies van
dissipelskap. (Die koste: 9:57-62; die missie:10:1-24; Christus: 10:38-42; God
en gebed: 11:1-13). Hier hoor ons van dissipels se liefde - tot God en (uitgebrei)
tot die naaste. Dit is opvallend dat die Here Jesus se lering hier drie groot
kenmerke het. Hy maak dit (1) baie konkreet deur ’n gelykenis, Hy gebruik (2) ’n
onverwags-ontblotende voorbeeld, en (3) Hy draai die rigting van die vraag oor
wie my naaste is heeltemal om. Ons het nodig om meermale so hanteer te word.