2023/10/06

Poging tot Godmoord

Lees: Mt. 21:33-46

Gedagte vir kinders: Elkeen wat Jesus nie erken as God se Seun nie, sal verpletter word.

Oorsig: Die Here Jesus het daar by die tempel in die laaste week voordat Hy gekruisig is, ná sy gelykenis oor twee verskillende seuns in ’n wingerd, nog ’n gelykenis oor ’n wingerd vertel. Daar was ’n sekere eienaar (huisheer) wat ’n wingerd geplant het. Hierdie eienaar het baie gedoen om die wingerd te beskerm en op te bou. Hy het ’n heining daarom gesit, en ook ’n parskuip gegrawe waar die wyn gepers kon word, en ook ’n wagtoring sodat dit bewaak kon word. En toe het hy dit aan landbouers verhuur en op reis gegaan (vgl. Jes. 5; Ps. 80:8-20; Hoogl. 8:11-12). En toe kom die oestyd van die vrugte nader en hy het sy diensknegte gestuur na die landbouers om sy deel van die vrugte te ontvang (v.33-34). Die landbouers het egter iets baie vreemd gedoen. Hulle het die een geslaan en ’n ander doodgemaak, en ’n ander gestenig (vgl. 1 Kon. 18:13; 22:27; 2 Kr. 24:20 e.v.; 36:16; Jes. 66:5; Jer. 20:2; 26:11; Op. 16:6). Toe hy meer diensknegte stuur, moontlik om groter gesag daaraan te gee, het hulle steeds so gemaak (v.35-36). Laaste het Hy sy eie seun gestuur en gesê dat hulle hom darem sou uitlos en respekteer. Maar selfs toe het hulle eerder geredeneer dat dit die erfgenaam is en hulle hom net moet doodmaak en so die erfdeel self sal kry. Hulle het toe die seun buite die wingerd gegooi (uitgewerp) en doodgemaak (v.37-39). Hy het hulle toe gevra wat die eienaar sou doen. Hulle het geantwoord dat hy die slegte mense ’n slegte dood sou laat sterwe en die wingerd aan ander sou verhuur wat die vrugte op die regte tyd sal gee (v.40-41).

En toe het die Here Jesus na die Woord van God in Ps. 118:22-23 gewys waar daar staan dat die steen wat die bouers verwerp het, ’n hoeksteen geword het, dat dit van die Here gekom het en wonderbaar was in gelowiges se oë. Toe het Hy vir hulle verduidelik dat die gelykenis en hulle oordeel op hulleself van toepassing is. Die Koninkryk van God sou van Israel se leiers weggeneem en aan ’n volk gegee word wat die vrugte daarvan sou dra (v.42-43). Elke ongelowige wat op hierdie steen van God val, sal verpletter word, maar elke valse leier op wie hierdie steen val, sou vermorsel word. Die owerpriesters en Fariseërs het duidelik verstaan dat Hy van hulle praat. Hulle was egter nie in die hart daardeur tot bekering getref nie. Hulle het eerder gesoek na hoe om Hom in hulle mag te kry. Maar hulle was bang vir wat die skare kon doen omdat die skare die Here Jesus as profeet gesien het (v.44-46).

Besprekingsvraag: Wat leer ons daaruit dat God selfs sy Seun gee ná die profete?

Insig: Hierdie gelykenis toon aan ons God se verstommende liefde en sorg en verdraagsaamheid aan die een kant, en mense se verbasende kwaadwilligheid aan die ander kant. God se sorg kom duidelik na vore in die vyf handelinge in vers 33 wat toon hoeveel moeite Hy met sy werk maak (plant, omhein, verwerk, bewaar en vertrou sy werk toe). Hy stuur ook geduldig weer en weer wanneer mense sy reg en profete verag. Wie is ’n God soos Hy wat vergewe en barmhartig en genadig en lankmoedig en vol troue liefde is? (vgl. Ex. 34:6; Ps. 86:15; Miga 7:18). En tog moes Israel in die Ou Testament reeds weet dat hulle so hul oordeel swaarder kon maak. 

2023/09/28

Gesag teenoor magspel

Lees: Mt. 21:23-32

Gedagte vir kinders: Wees eerlik voor die Here met wat in jou hart aangaan.

Oorsig: Die Here Jesus het kort voor sy kruisiging die verkopers uit die tempel gejaag en die mense geleer dat die tempel volgens die Woord van God ’n huis van gebed genoem moet word en nie ’n rowerspelonk nie (v.12-13). Die volgende dag by die tempel het daar toe owerpriesters en ouderlinge van die Jode na Hom gekom terwyl Hy besig was om die skare te leer. Hulle het Hom toe gevra deur watter gesag Hy sy woorde en dade doen en wie hierdie gesag aan Hom gegee het (v. 23). Die Here het hulle toe met ’n teenvraag geantwoord. Hy het gesê dat Hy hulle sal vertel as hulle een vraag sou beantwoord (v.24): Of die doop van Johannes die Doper van God of net uit mense was. Hulle het toe geredeneer (let wel: nie eerlik probeer antwoord nie)  dat as hulle sê dat dit van God (uit die hemel) was, sou Hy vra waarom hulle dan nie geglo het nie. En as hulle sou sê dat dit net uit mense was (wat hulle eintlik geglo het), moes hulle oppas vir die mense wat Johannes as profeet beskou het (v.25-26). Hulle het toe oneerlik geantwoord dat hulle hulle nie weet nie, en toe het die Here geantwoord dat Hy dan ook aan nie sou sê deur watter gesag Hy sy dade doen nie (v.27).

Hierna het die Here Jesus vir hulle ’n gelykenis vertel om hulle te vermaan. Daar was ’n man wat twee kinders gehad het en hy het na die eerste gegaan en gesê: Kind, gaan werk vandag in my wingerd. Die kind het geantwoord dat hy nie wil nie, maar was later jammer daaroor (hy het berou gekry) en gegaan (v.28-29). Toe het die man ook na die tweede een gegaan en dieselfde gesê. En hierdie kind het geantwoord: Ja, my heer (NAV: Goed Pa), maar hy het nie gegaan nie. Die Here Jesus het toe gevra wie die wil van die vader gedoen het en die leiers het toe geantwoord dat dit die eerste een was. En toe het die Here Jesus vir hulle gesê: Voorwaar Ek sê vir julle, die belastingeisers (tollenaars) en die prostitute (hoere) gaan julle voor in die koninkryk van God (v.30-31). Hy het dit toe verduidelik deur weer na Johannes die Doper te wys wat gekom het in die weg van geregtigheid (NAB: om die regte pad te wys) en dat hulle hom nie geglo het nie. Die tollenaars en hoere het hom egter wel geglo. En tog het die leiers, toe hulle hierdie wonderwerk sien van mense wie se lewens so verander het, tog nie later berou gekry om Johannes wel te glo nie (v.32). Daarmee het die Here Jesus ook duidelik geantwoord dat Johannes se werk wel uit God was, en daardeur het Hy eintlik ook aan hulle gewys dat sy eie gesag en die van Johannes van die selfde plek af, van God self kom.

Besprekingsvraag: Was die leiers hier opregte waarheidsoekers? Verduidelik jou antwoord.

Insig: Die vraag na waarvandaan die gesag van Jesus Christus kom, en daarmee ook van sy liggaam, die Kerk, is steeds baie relevant. Jesus Christus straal onmiskenbaar gesag uit. Ons verneem duidelik van sy leergesag en dissiplinêre gesag, en hier ook naby die gesagvolle tempel (vgl. Mat. 7:29; 9:6; 18:17-20; 28:18). Hy is óf eg óf baie aanmatigend. ’n Pluralistiese wêreld behoort sy liggaam, die Kerk, ook so te beleef.

2023/09/21

Laastes eerste en eerstes laaste

Lees: Mt. 20:1-16

Gedagte vir kinders: Mense wat klein is voor God, verhoog Hy, maar hoogmoediges val.

Oorsig: Die Here Jesus het vir Petrus (in die vorige hoofstuk) geantwoord dat hulle wat anders as die ryk jong man, alles verlaat en Hom gevolg het, honderd maal soveel sal ontvang en die ewige lewe beërwe. Maar toe het Hy iets belangrik bygevoeg en deur ’n gelykenis verduidelik dat ’n mens moet oppas vir ’n verkeerde houding hieroor: Die koninkryk van God is soos ’n eienaar wat vroeg in die more uitgegaan het om arbeiders te huur om in sy wingerd te werk (v.1-2). Hy het met die arbeiders ooreengekom vir ’n penning op ’n dag, wat gelykstaande was aan ’n stewige dagloon vir hul tyd. Toe het hy hulle uitgestuur in sy wingerd. Omtrent die derde uur (9:00) gaan hy toe weer uit en sien ander wat ledig (sonder werk) op die mark staan. Ook vir hulle het hy gesê om in die wingerd te gaan en dat hy aan hulle sou gee wat reg is. Hulle moes hom dus op sy woord neem, en so het hulle gaan werk (v.3-4). Weer het hy omtrent die sesde (12:00) en negende uur (15:00) uitgegaan en dieselfde gedoen. Hy het selfs die elfde uur (17:00) uitgegaan en ander ledig gevind en gevra: Waarom staan julle die hele dag hier ledig? Hulle het geantwoord dat niemand hulle gehuur het nie. Hy het ook vir hulle gesê om in die wingerd te gaan en dat hulle wat reg is (let wel), sal ontvang (v.5-7).       

Toe dit dan aand geword het, sê die eienaar van die wingerd vir die opsigter: Roep al die arbeiders en betaal hulle hul loon (let wel). Hy het ook gesê dat hy moes begin van die laastes af tot by die eerstes. Hulle wat omtrent 17:00 eers begin werk het, het elkeen ’n penning, die volle dagloon, ontvang (v.8-9). Die eerstes dink toe dat hulle meer sal ontvang, maar hulle het ook elkeen die penning vir ’n volle dagloon ontvang. Toe het hulle baie gekla (gemurmureer) by die huisheer en gesê: Hierdie laastes het maar een uur gewerk en u het hulle gelyk behandel met ons wat die moeite van die hele dag en die hitte gedra het (v.10-12). Die huisheer het toe vir een gesê: Vriend (let wel), ek doen jou geen onreg aan nie. Hy vra hom toe of hy nie ooreengekom het vir die volle dagloon van ’n penning nie. Hy het toe ook vir hom gesê dat hy moes neem wat syne is en heengaan. Hy het bloot gesê dat hy aan die laaste een wou geen net soos aan hom. Hy het gevra of hy dan nie vry is om met sy eie goed te maak soos hy wil nie. Hy het ook gevra of sy oog verkeerd is omdat die eienaar goed is. Toe het die Here Jesus weer sy woorde aan die begin herhaal: So sal die wat laaste is, eerste wees, en die wat eerste is, laaste. Hy het bygevoeg dat baie geroep, maar min uitverkies is (v.13-16).     

Besprekingsvraag: Wat beteken dit dat laastes eerste kom en eerstes laaste?

Insig: Die leer van onverdiende genade (sola gratia) is baie kosbaar, maar dit is ’n leerstelling wat ons hare deurmekaar vee (Douglas Wilson), ons kan neervel, en teen ons vleeslike grein ingaan. Die vlees werk met selfsug en eiebelang, met rekordhouding en vergelyking. Maar genade is per definisie nie regverdig nie, want dit beteken altyd dat ons baie, baie meer ontvang as wat ons verdien.

2023/09/14

Om van harte te vergewe

Lees: Mt. 18:21-35

Gedagte vir kinders: Hulle wat die Here se vergifnis leer ken het, kan ander mense vergewe.

Oorsig: Die Here Jesus was besig om sy dissipels te leer van nederigheid, sonde in die gemeente, en van tug en herstel. Petrus het toe gevra hoe dikwels ’n mede-broeder teen jou mag sondig en weer en weer vergewe word. Sal dit selfs sewe maal wees, dubbeld meer as die reël onder hulle - drie keer plus een? (v. 21; vgl. Amos 1:3 e.v.). Die Here Jesus het geantwoord dat dit eerder 70x7 moes wees, met ander woorde sonder perke solank daar geluister word (v. 22; vgl. v. 15-16). Daarna het Hy dit deur ’n gelykenis verduidelik. 

’n Sekere koning wou verslag kry oor sy diensknegte se werk met sy geld (v.23). So het daar een na hom gekom wat 10 000 talente skuldig was. Dit was meer as ’n hele provinsie se skuld, (ongeveer 10 000 x R3,25m = R32,5 miljard. Dalk was hy ’n goewerneur). Omdat hy nie naastenby kon betaal nie, het die koning beveel dat hy en sy vrou en sy kinders as slawe verkoop moes word, saam met alles wat hy gehad het en dat daar so betaal moes word vir sy skuld (v.23-25). Die dienskneg het toe (1) voor die koning neergeval en (2) hom gevra om lankmoedig te wees, en (3) gesê dat hy alles sal betaal (wat hy nie kon nie). Die Koning het hom egter (1) innig jammer gekry, (2) hom losgelaat en (3) die skuld kwytgeskeld (v.26-27). Wat ’n wonderlike vryspraak was dit nie! Maar toe het daar iets baie hartseer gebeur.

Toe daardie vrygespreekte dienaar uitgaan, vind hy een van sy mededienaars wat hom 100 pennings skuld (dagloon x 100: ongeveer R30 000 teenoor sy skuld van R3,25 miljard). Hy het hom aan die keel gegryp en gesê: “Betaal my wat jy skuld.” Sy mededienaar val toe voor sy voete neer en smeek hom toe ook met sy eie liggaamshouding teen die grond en met sy eie woorde van vroeër, om lankmoedig te wees en dat hy alles sou betaal (wat hy kon, v.28-29). Maar hy wou nie en het hom in die gevangenis gewerp totdat hy sy skuld sou betaal. Sy mededienaars was hieroor baie hartseer en het aan die koning alles vertel (v.30-31). Die koning het daardie man toe geroep en vir hom gesê: “Jou slegte dienskneg, al daardie skuld van jou het ek jou kwytgeskeld omdat jy my gesmeek het. Moes jy nie ook so barmhartig wees teenoor jou mededienaar soos ek ook teenoor jou nie?” (v.32-33). Toe het die koning hom in toorn oorgegee aan die pynigers totdat hy alles sou betaal, wat natuurlik nooit sou kon gebeur nie. En toe het die Here Jesus ’n groot waarskuwing gegee: So sal die Vader aan ons doen wat nie elkeen sy broeder (of suster) van harte sy/haar oortredinge vergewe nie (v.34-35).    

Besprekingsvraag: Waarom is dissipline en  vergifnis  nodig in die opbou van die Kerk?

Insig: In Mattheus 10 leer ons oor die Kerk se uitbou-werk na buite en in Mat 18 hoor ons van die Kerk se opbou-werk na binne (Bruner). Beide is belangrik vir ’n lewenskragtige gemeente. Na binne beteken dit dat ’n gemeente sonder dissipline, maar ook vryspraak, ’n gemeente is wat maklik net ’n gedaante van godsaligheid kan hê. 

2023/09/06

Die Magna Carta van konfrontasie

Lees: Mt. 18:21-28

Gedagte vir kinders: Ons moet soos die Here Jesus met mense werk wat sonde doen.

Oorsig: Die dissipels het pas vantevore vir die Here Jesus gevra wie die grootste in die koninkryk van die hemele is. Die Here het die geleentheid toe gebruik om met sy dissipels te praat oor hoe belangrik dit is om nederig, kinderlik en eensgesind te wees (vgl. Mt. 18:1-14). Daarna het Hy voortgegaan en hulle geleer wat om te doen as ’n mede-dissipel die eenheid verbreek deur sonde. Dit gaan hier oor enige sonde wat duidelik teen God se Woord is en wat gebeur tussen persone as broeders en susters en as deel van die dieselfde gemeente. Die Here Jesus het hieroor gewys op drie basiese stappe.

’n Mens moet eerstens die persoon gaan vermaan tussen jou en hom alleen, en as die persoon luister is die saak uitgeklaar en die mede-broeder (of suster) teruggewen vir die Here (v.15). As die persoon egter nie luister nie, moet die volgende stap geneem word. Jy moet een of twee met jou saamneem as getuies sodat dit kan gebeur wat in die Bybel staan – dat in die monde van twee of drie getuies elke woord kan vasstaan (v.16; vgl. Dt. 19:15). As die persoon ook na hulle nie luister nie, word dit aan die hele gemeente gesê en as hy daarna steeds nie luister nie, moet die persoon vir jou wees soos die heiden en die tollenaar (v.17). Dit beteken nie dat alle kontak vir altyd verbreek word nie, maar hulle word nou hanteer as mense wat buite die koninkryk staan en nog tot bekering moet kom.    

Die Here Jesus het toe sy vroeëre woorde aan Petrus (Mt. 16:18-19), nou vir al die dissipels en daarmee vir sy hele Kerk herhaal: Alles wat hulle op die aarde bind (gebind aan hul sonde), sal in die hemel gebonde wees; en alles wat hulle op die aarde ontbind (deur vry te spreek), sal in die hemel ontbonde wees (v.18). Hy het dit toe op ’n ander manier herhaal en ons moet onthou om dit in die eerste plek toe te pas op kerklike tug: As twee dissipels saamstem op die aarde oor enige saak wat hulle mag vra, sal hulle verhoor word deur sy Vader wat in die hemele is (v.19). Die Here het toe die rede vir hierdie kragtige belofte gegee: Daar waar twee of drie in sy Naam vergader, daar is Hy self in hulle midde (v.20). Let daarop dat die Here Jesus nie gesê het dat Hy dan in hulle midde sal wees nie, maar dat Hy reeds daar is waar hulle in sy Naam vergader is. So het Hy ook bevestig dat Hy God is. Daarom mag elke klein groepie wat opreg in sy Naam bymekaar is om Hom te erken, reken op die kragtige teenwoordigheid en verhoring van gelowiges se gebede, veral by egte vermaning in die gemeente.      

Besprekingsvraag: Waarom het ons makliker konflik met die mense wat naby aan ons is?

Insig: Ons luister hier na die klassieke teksgedeelte oor kerklike tug, wat ook genoem word die Magna Carta van konfrontasie (Bruner). Alle instellings het dissiplinêre kodes, maar die Kerk van Christus het besondere opdragte en besondere beloftes wat in die hemel hieroor eggo en behoort die toon aan te gee. Ons Here is baie duidelik oor die wyse, die proses en die doel.

2023/08/31

Kruisvormige Christene in Hom

Lees: Mt. 16:21-28

Gedagte vir kinders: Ons vind ons volle lewe wanneer ons dit weggee vir die Here.

Oorsig: Dit is een ding om te erken dat die Jesus die Christus is. Dit is iets anders om ook te erken hoe Hy die Messias is en wat dit beteken vir elkeen wat Hom volg. In hierdie gedeelte kry ons met twee definitiewe dele te make. Ons hoor eers hoe die Here Jesus vir Petrus bestraf oor sy siening van sukses (v.21-23). Daarna verneem ons van die Here Jesus se roeping tot dissipelskap (v.24-28).

Net nadat Petrus die wonderlike belydenis gemaak het dat Jesus die Christus is, die Seun van die lewende God, het Hy vir hulle gesê dat hulle vir niemand moes sê nie. Mense het Hom  net gesien as ’n aardse koning. Van toe af het die Here duideliker vir hulle begin wys dat Hy in Jerusalem onder die erkende leiers, die ouderlinge , die owerpriesters en die skrifgeleerdes sou ly. Hy sou selfs gedood word en op die derde dag opgewek word (v.21). Petrus het die Here Jesus hieroor eenkant toe geneem en dit selfs gewaag om die Here teen te gaan oor sy woorde: “’Mag God dit keer Here, dit sal U nooit oorkom nie” (v.22). Die Here Jesus het egter omgedraai en vir die dieselfde Petrus wat Hy pas van tevore bemoedig het oor sy belydenis oor die Christus, gesê: “Gaan weg agter my satan! Jy is vir my ’n struikelblok omdat jy nie die dinge van God bedink nie, maar die dinge van die mense.” (v.23)

Die Here het daarna vir sy dissipels sy pad verduidelik en wat dit vir sy navolgers sou beteken. Hy het gesê dat as iemand agter Hom wil aankom, hy (1) homself moet verloën, (2) sy kruis opneem en (3) Hom moet volg (v.24). Die rede is dat elkeen wat sy lewe ten alle koste wou red, dit sal verloor, maar dat elkeen wat bereid is om sy lewe ter wille van Jesus te verloor, dit sal vind (v.25). Die Here het bygevoeg dat dit tog niks baat om die hele wêreld te win as jy aan jou siel skade ly nie (v.26). Hy het ook ’n tweede retoriese vraag gevra: Wat kan tog groot of belangrik genoeg wees om jou siel los te koop? Die antwoord is dat daar niks is wat groot genoeg is nie. Jesus het toe daarop gewys dat Hy, die Seun van die Mens, gereed is om met sy engele in die heerlikheid van sy Vader te kom en dan elkeen sal vergeld volgens sy dade en dit beteken spesifiek of hulle Jesus Christus gevolg het (v.27). Toe het Hy gesê dat sommige onder hulle nie sou doodgaan voordat hulle Hom in sy koninkryk sien kom het nie. Dit het ook gebeur, reeds by die verheerliking op die berg daarna, en later met Hemelvaart en op Pinksterdag (v.28; vgl. Dan. 7:13-14; Hand. 1-2).       

Besprekingsvraag: Kan ons verwagtinge oor die Messias vandag steeds die punt mis?

Insig: Terwyl Petrus in die voorafgaande gedeelte dien tot bemoediging oor die Kerk as kragtige instrumente en ons as deel daarvan, dien hy hier ook as vermaning aan die Kerk om nie instrumente in die hand van die satan te word nie. Die kerkgeskiedenis dui ook op slegte voorbeelde hiervan en ons behoort ook in ons persoonlike lewens op ons hoede daarvoor te wees, veral na ’n geestelike hoogtepunt. Die feit dat jy instrument was beteken nie dat jy nie weer later vermaan moet word nie (vgl. Hand. 2; Gal. 2:11-21).

Hoe gebeur dit? Uit die gedeelte is dit duidelik dat twee dinge nie dig by mekaar gehou word nie. Ons moet enersyds erken dat Jesus Christus wel die Seun van die lewende God is. Ons moet andersyds ook duidelikheid hê oor hoe Hy die Christus is en wat dit vir ons lewens beteken. Want die weg van die Christus loop langs die weg van vernedering en die kruis na die verhoging. Ons praat maklik van die aardse Messias-verwagtinge van destyds wat nie sin kon maak van ’n kruis as deel van die oorwinning nie, maar ons kan steeds so maklik daarin vasval. Dit hang ook by ons steeds saam met ons visie van die suksesvolle lewe. Ons het steeds moeite om dit in verband te bring met die nederige weg waarin ons sekere dinge bewustelik opsê om self ook kruisvormige Christene te word, verbonde aan Hom wat gekom het om die kruisweg te stap en ons te verlos van waan-idees oor die suksesvolle lewe.

Wat beteken dit in praktyk? Ons gelese gedeelte verduidelik dieselfde met drie beskrywings. Die lewende Christus roep jou om (1) jouself te verloën en (2) jou kruis op te neem, en (3) om Jesus Christus te volg. Dit is ’n oproep tot egte dissipelskap en vereis definitiewe keuses. Dit spel in unieke terme uit wat dit beteken om in Jesus te bly (vgl. Joh. 15:5) en in Christus te wees (vgl. Gal. 6:15). In die sentrum daarvan staan die gekruisigde lewe wat net deur verbondenheid aan Christus in ons lewe waar kan word. Dit is ’n lewe waarin daar afgesien word van die self ter wille van Christus, om selfs in die openbaar verguising en onregverdige behandeling te verduur. Dit beteken dat ons teen die kultuur ingaan as dit nodig is en selfs bereid om die uiterste prys van die dood om Christus ontwil te betaal. Tog is dit ook die weg waarop ons nou reeds die lewe vind. Ons vind in elk geval die ware lewe wanneer ons nie so hardnekkig vasklou dat ons nie waag nie (vgl. dapperheid in oorlog), maar dit geld hier in besonder met betrekking tot Jesus Christus wat ook as Regter eenmaal die laaste oordeel sal fel. Die keuse en die vind van LEWE en avontuur in Hom begin egter reeds hier.

Werke geraadpleeg

John Bergsma, The Word of the Lord. Year A.

Frederick D Bruner, Matthew: A Commentary.

2023/08/24

Die Kerk het sleutels

Lees: Mt. 16:13-20

Gedagte vir kinders: Jesus Christus is die waarlik die Messias van die wêreld.

Oorsig: Die Here Jesus se bediening in Galilea in die noorde was naby aan die einde daarvan. Hy kom toe met sy dissipels in die streke van ’n stad daar wat vernoem is na die keiser en na Filippus, die seun van Herodes, wat dit opgebou het: Cesarea-Filippi. Dit was op die grens tussen Israel en die heidenwêreld en in die stad was daar ook bekende afgodsbeelde van Baal (van die Siriërs) en Pan (van die Grieke. Moderne naam: Baniyas) en met die Keiser in die stadsnaam self wat ook as goddelik beskou is. Naby hierdie groot godsdienste vra die Here Jesus toe: Wie sê die mense dat Hy, die Seun van die mens is. Daarmee het Hy eintlik reeds te kenne gegee dat Hy Koning en toekomstige wêreldregter is (v. 13; vgl. Dan 7:13-14).

Die dissipels het geantwoord dat sommige gesê het dat Hy Johannes die Doper was (uit die dood opgestaan of tipe). Ander het gesê dat Hy Elia was. Ander het weer gesê die profeet Jeremia (wat baie hoog onder die profete geag is) of een van die ander groot profete van die Bybel (v.14). En toe het die Here die vraag na hulle toe laat gaan: Maar julle, wie sê julle is ek? Simon Petrus het toe gesê: “U is die Christus, die Seun van die lewende God.” (v.15-16). Hierop het die Here geantwoord: “Salig (geseënd) is jy, Simon Bar-Jona (seun van Jona), aangesien die antwoord (openbaring) nie van gebroke mense (vlees en bloed) gekom het nie, maar van sy Vader (let op die persoonlike beskrywing) wat in die hemele is (v.17).

Hierna het die Here Jesus ’n groot uitspraak gemaak. Hy het vir hom gesê dat sy naam Petrus is (klein rotsie). Sy naam staan vir iets groter: Op hierdie rots, bedoelende, (1) op wie Christus is, en (2) op die belydenis van en geloof in Christus, en (3) vanuit die amp vir Christus, sal Jesus sy gemeente (Kerk: Ekklesia) bou. Dit sal so kragtig wees dat die selfs die poorte van die doderyk (Hades) dit nie sal oorweldig nie (v.18). Dit beteken die poort van dreiging en magte en waar lewe en dood vir altyd plekke verruil, sal nie die Kerk kan oorwin nie. Die Here Jesus het hierna bygevoeg dat Hy die sleutels van die koninkryk van die hemele aan Peterus as verteenwoordiger van die Kerk sal gee. Dit sou beteken dat wat Petrus as deel van die kerklike ampte doen met hulle verkondiging oor Christus, tot in di ehemel sal weerklink: Dit wat die Kerk op die aarde bind, word ook in die hemele gebind, en dit wat op die aarde ontbind word, word ook in die hemel ontbind (v.19).  Hierna het Hy egter vir die sy dissipels bevel gegee dat hulle vir niemand moes se dat Hy die Christus is nie (v.20). Die rede het later duideliker geword. Hulle hulle moes nog leer  dat Hy die Christus sou wees deur sy kruisiging.

Besprekingsvraag: Wat beteken dit dat die Kerk die sleutels van die koninkryk het?

Insig: In ’n pluralistiese wêreld word die uniekheid van Christene tussen ander gelowe voortdurend bevraagteken. Die belangrike vraag bly egter: Wie sê die mense dat Jesus, die Seun van die mens is?