2012/01/17

Ons is maanmense

Wonderkure het gewoonlik 'n voorspelbare reaksie tot gevolg: Aanhangers wil die hele wêreld daarmee regdokter. Die gevolg is dat dooddokter nie 'n denkbeeldige gevaar is nie. Een so 'n kuur vir suur verhoudinge is nie 'n middel nie, maar 'n teorie. Hierdie een is afkomstig van Rene Girard en jy kan maar die naam dophou. Die emergent church beweging het sy teorie met hoek, sinker en al ingesluk. Ongelukkig gaan die verkeerde kant van sy teorie so dalk die meeste blootstelling kry en dit sal jammer wees. Die man het beslis iets beet. Dit is nie 'n wonderkuur wat alles verklaar nie, maar dit bied antwoorde op 'n hele paar verkynsels van ons menslike natuur. Laat my toe om so vinnig die een en ander oor sy teorie te deel. Of nee, laat ons eers 'n paar scenario's hardloop om nuuskierigheid oor Girard se teorie te wek.
  •  Waarom ontstaan daar soms die eienaardigste vetes in gesinne en kerke?
  •  Waarom is massa-histerie aansteeklik, selfs al probeer jy daarteen veg?
  •  Waarom gebeur dit soms dat 'n hele kolfspan in krieket in duie stort?
  •  Waarom fikseer mense in liefdesake so maklik op die skynbaar onbereikbare ster?
  •  Waarom is "keeping up with the Joneses" 'n fenomeen onder elke klas?
  •  Waarom sal kinders in 'n kamer vol speelgoed oor een speelding baklei?
Die eenvoudige antwoord is natuurlik sonde of gebrokenheid, maar soms moet ons meer spesifiek wees. Girard meen dit gaan fundamenteel oor nabootsing van begeertes. Ek dink dat Girard se teorie so raak in baie gevalle is omdat sy teorie die eerste en laaste gebod verreken. Die beteken dat die kwessie oor afgode en begeerte in sy teorie verreken word, tesame met die feit dat die Skrif ons leer dat ons beelddraers is. Ons reflekteer altyd. Ons is nie, soos wat ons graag sou wou dink, 'n onafhanklike sonnige self nie. Nee, ons is eerder maanmense wat lig reflekteer. En as ons nie beeld van die Son van geregtigheid reflekteer nie, reflekteer ons 'n ander beeld en begeerte. Girard stel dat ons nie individue is nie, maar eerder interdividuals. Ons is minder oorspronklik en meer aangewese op mekaar as wat ons dink. Dit in kort, dink ek, is waaroor Girard se teorie gaan as ons die positiewe sy daarvan wil gebruik. 

Wat die Girard omie (hy leef nog en is tans op pad negentig toe) sê, klink eintlik so eenvoudig. Dit begin alles met die feit dat ons nabootsers is van die eerste water - gewillig en onwillig. Soos kindertjies wat almal baklei vir dieselfde speelding, so bly ons in ons begeertes besig met mekaar as rolmodelle vir ons ons begeertes. Jy dink jy wil graag daardie hierdie en daardie ding hê, maar as jy eerlik is, sê Girard, is jou optrede en begeerte dikwels aangevuur deur iemand anders.

2012/01/01

Sms vir 2012

"Jy kan die horlosie nie terugdraai nie, maar jy kan dit vir seker weer opwen."

Die hoe is natuurlik die belangrike saak. Ek dink dit het iets te make daarmee om nie op te wen met 'n klomp voornemens nie, maar wel om opstandingskrag, opwinding en opwen te waardeer as iets en Iemand waarin en in Wie se arms ek en jy telkens weer gewerp word. Onthou: Die lewe word nie gemeet aan hoe vol jou emmertjie is nie, maar aan hoe vol die oseaan van God se genade in Christus is.

2011/12/02

Hoe om jou deuntjie te verander

Reeds hier is verwys na die feit dat dit nie werk om iemand bloot met 'n Psalmbundel oor die kop te slaan nie. Lees dit gerus weer vir agtergrond op hierdie possie. Dit was my voorreg om onlangs aan Michael Lefebvre se eenvoudige, dog diepgrypende boekie te smul: Singing the Songs of Jesus: Revisiting the Psalms. Dit is hier beskikbaar. Wat 'n werwende boekie! So sal jy mense winnend oortuig dat die Psalms inderdaad die ruggraat van ons kerksang behoort uit te maak.

Lefebvre gaan oortuigend te werk om ons vir die standpunt te win dat wanneer jy die Psalms sing, sing jy die liedere van Jesus Christus met Hom - die Koning self - as jou sangleier. Hy toon aan hoe ons in die Psalms moet onderskei tussen die woorde wat die Koning aan God sing, wat die Koning aan ons sing, wat mense tot God sing, wat mense tot die Koning sing, ja ook wat die mense vir mekaar toesing. Anders gestel, die Psalms is verbondsmatige oefeninge - lofprysende gesprekke waarin ons saam met ander gelowiges en die Drie-enige God, alles gesentreer in die Middelaarskap van Christus, verkeer. Ja, sê Lefebvre, selfs die Psalms wat spreek van bekering sing implisiet saam met Hom in wie ons alleen waarlik vind dat bekering ons vind.

Lefebrve toon aan die lofprysing van die Psalms dikwels die einddoel is, maar dat dit nie in alleenstaande sin verstaan kan word nie. Daar is dikwels verwarring, nood en ontnugterende omstandighede waardeur jy eers moet werk voordat jy by lofprysing kan uitkom. Die Psalms is genademiddele om ons te dra tot by die punt van lofprysing, selfs al voel ons nie aanvanklik so nie. Met beelde wat jou lank bybly (soos die een wat nou kom) verduidelik Lefebvre op 'n vars wyse hoe die Psalms ons sterk veiligheidstoue is wat maak dat ons die bergpieke van die lewe kan aandurf tot ons eendag voor die aangesig van God verskyn.

2011/11/27

Die ruggraat van kerksang

Indien jy wil weet waarom Psalms so belangrik is in die lewe van die Kerk, lees hier. Indien jy dalk dink dat Psalmsang dor en dooierig is, kyk na die insetsel hieronder. Psalm 98 is nou nie die bekendste Psalm by baie van ons nie, maar kyk wat word in hierdie insetsel daarmee gemaak. Waarskuwing: As jy hierdie insetsel kyk, mag jy dalk aangesteek word. Maar voor jy nie ag slaan op die waarskuwing nie, vergun my die geleentheid om James Hely Hutchinson se inleiding in 'n artikel oor Psalms en lofprysing te vertaal:

"Soos so baie aktiwiteite, is lofprysing vir ons beide natuurlik en onnatuurlik. CS Lewis het eenmaal opgemerk dat die nederigste en tegelyk mees gebalanseerde en ruim geeste die meeste lofsang openbaar tewyl die murmureerders, misplaastes en onvergenoegdes die minste lofsang openbaar. Lofprysing, het hy gekonkludeer, lyk byna asof dit innerlike gesondheid is wat hoorbaar gemaak word. Dit is die natuurlike oorloop van 'n hart wat verlustiging vind in 'n sekere objek (CS Lewis, Reflections, p.80-81). Aan die ander kant, soos Paul Beauchamp skrywe, is lofprysing nie natuurlik vir ons selfsug nie. Indien die boek van Psalms wel dit is wat in die tradisionele Hebreeuse titel beskryf word, "die boek van lofprysing" par excellence, is dit eenvoudig omdat die Psalmiste hulle gedagtes eindelik wegdraai van hulself en op die onderwerp van opperste verlustiging rig - die Skeppergod, Israel se Verlosser, die HERE self. Die noue verband tussen teologie en doksologie tree na vore by elke draai in die Psalms."

Die woorde (ongeveer) vir ondergenoemde insetsel is hier en hier te vinde. Nou-ja, jy kan nou die genoemde waarskuwing in die wind slaan as jy wil ....

2011/11/22

Konserwatiewe en progressiewe impulse

Die etikette "konserwatief" en "liberaal", "konserveer" en "progressief", "linkses" en "regses", sal nie gou verdwyn nie. Die belangrike vraag is egter hoe ons hierdie beskrywings gebruik en bestuur sodat ons nie net in blote brandmerkery verval nie. Twee riglyne hieroor is belangrik.

Eerstens, ons moet nooit vergeet om die volgende minimum vrae saam te neem nie: Konserwatief of liberaal volgens watter standaard? Met watter motief? Met watter eindddoel? Hierdie vrae klink dalk abstrak, maar wie hulle eerlik aan hulself en ander vra sal gou vind dat dit die hele prentjie verander. Dit gee belangrike konteks sodat ons eie blinde kolle darem so 'n bietjie kleiner kan word.

Tweedens, ons moet nooit vergeet dat die evangelie 'n tweesnydende swaard is wat beide konserveerders en progressiewes uitdaag nie. Hier is 'n onlangse vars en insiggewende bydrae wat dit vir ons in terme van die sabbat en die rus in Christus verduidelik. Dit is 'n insiggewende manier om te verduidelik hoe die evangelie weerbarstig is teenoor ons soms geykte hanterings van konserwatief en liberaal en dit bring ons hele kultuur en sosiale gewoontes in die prentjie. Ek dink nie ons kan sommer wegdoen met bogenoemde beskrywings nie. Maar een ding is seker: Ook ons woordeskat en beskrywings moet geheilig en gesuiwer word deur die lewende Woord en evangelie wat ons oorlegginge en gedagtes van die hart beoordeel (vgl. Hebr. 4:12). Die sin van die genoemde artikel is dat dit ons op 'n praktiese vlak uitdaag en aanmoedig. Dit gee nuwe visie oor waarmee ons reeds besig is en ook besig behoort te wees.

2011/11/19

Wat en hoe loop altyd saam

Hierdie gesprek het vir seker ook 'n ander kant, maar ons gaan hier stilstaan by die hand-in-eie-boesem kant. Dit gaan oor hoe mense diegene onder ons beleef wat sterk oortuiginge het. Daar is vir seker dikwels 'n onregverdige en selfs moedswillige karikatuursketsing waaraan Calviniste in sekere situasies onderwerp word, maar dit is nie nou hier die punt nie.

Die punt is: Hoe beleef mense ons wat in die tradisie van Calvyn verder wil stap en op hierdie glorieryke maat nuut wil improviseer vir ons tyd? Ons kan hierdie saak natuurlik ook baie wyer van toepassing maak as net met betrekking tot Calviniste, maar hier is 'n beskrywing wat Calviniste - en natuurlik ook enigiemand anders met sterk oortuigings en optrede - gerus selfondersoekend kan lees. En as jy dit lees en die eerste wat by jou opkom is "ja, maar ...", is dit 'n bewys dat jy nie regtig die punt snap van waaroor dit hier gaan nie.

As ons eerlik is, moet ons erken dat ons almal geneig is om een deurslaggewende maatstaf te gebruik die oomblik dat ons van stryde hoor waaroor ons self te min weet of bloot oningelig is: Ons kyk hoe die verskillende partye hulle in die proses gedra. Ons kyk ook wie so ver moontlik probeer uitbly uit die kloue van die vleeslike kenmerk van skadelike groepvroming en ons-hulle benaderings binne die kerk van Christus (vgl. 1 Kor 3:1-8). Hoe beleef mense ons wanneer ons verskil? Sien hulle bloot vleeslikheid in al ons tegniese korrektheid? Hoe beleef die teëparty ons wanneer ons verskil?

Daar was volgens oorlewering eenmaal 'n teologiestudent wat 'n leespreek van 'n beroemde prediker vir die gemeente voorgehou het. Om homself waarskynlik ook 'n bietjie te beskerm, het hy in sy eerlikheid erkenning gegee aan die outeur van sy leespreek. Die beroemde prediker was daardie Sondag self in die erediens en het blykbaar na die tyd teleurgesteld na die student gegaan en vir hom gesê: "Broeder, as jy dit op die wyse voordra wat jy dit gedoen het, moet asseblief nie sê dat dit my preek is nie." Ons behoort onsself af te vra of Christus nie dalk ook die volgende vir ons sou sê nie: "Indien dit die wyse is waarop jy/julle My waarheid voorhou, moenie sê dat dit van My afkomstig is nie."