2012/09/25

Gunste en gawe notas

Oor die klasnotas rakende gunste en gawes: Ek het intussen so 'n bietjie naïwiteit verloor oor die tema. Margaret Visser toon aan in haar gesaghebbende werk, The Gift of Thanks, dat die hele hoe-ha oordenkings oor gawes voortspruit uit 'n reaksie teen die modernisme. Die wereld van die gawe-ekonomie ("gift economy") is verlaat waar individualisme en kapitalisme glo geheers het. Die hele kwessie het begin met 'n boek van Marcel Mauss - The Gift. Mauss was familie van Emile Durkheim en ook sy sterstudent. Mauss het bewustelike gepoog om die individualisme van die dag, utilitarisme, uit te daag. Hierdie beginpunt beteken ongelukkig ook dat 'n mens nie verbaas moet wees as pomo-simpatiekes en lib-sensitiewes vinnig op hierdie appelkar spring nie. Die gedagte van gawe is 'n tipe gonswoord in die postmoderne tydvak om die sosiale sy van ons menswees te beklemtoon. Dit is nie noodwendig sleg nie, maar ons moet fyntrap. Alles hang daarvan af die lewende Woord die regte plek in ons nadenke inneem.

Ek is reeds skuldig aan iets anders. Hierdie naamgewery van my neem reeds deel aan 'n ons-hulle diskoers wat ek behoort te vermy. Ek sal probeer om ordentliker te wees in die toekoms. Maar hoor my asseblief as ek probeer aantoon dat ek dink ek die voetangels raaksien terwyl ek tog wil probeer om die duwwelpaadjie te bewandel. Waarom? Omdat skuld deur assosiasie nie altyd goed is nie. En omdat ons horende doof word vir die Woord as ons nie waardeer dat die Woord juis nuut is wanneer ons dit telkens teen 'n nuwe dekor lees. Was dit C.S. Lewis wat gesê het dat ons nooit dieselfde boek lees ons ons dit weer deurlees nie? Ons kan tog almal getuig hoe die Bybel en selfs ander boeke vir ons nuwe perspektiewe gebring het toe ons dieselfde stuk later weer gelees het. Die rede is eenvoudig: Die Woord is te ryk vir ons om op een slag uit te put. Dit geld ook van enige leesstof wat nooit iets anders as goeie of slegte skadus van die Woord kan wees nie.

2012/08/16

Denke van dankbaarheid

Net so 'n voorloop ietsie om die aptyt aan te wakker. Dr. Peter Leithart bied hierdie termyn 'n vak genoem "Gift and Gratitude" aan by die instelling waar ek klasloop. Dit maak deel uit van 'n boek wat DV volgende jaar gaan verskyn. Dink Seneca, dink Mauss en postmoderne filosowe soos Derrida se gissings wat uiteindelik aan die lewende Woord gemeet word. Leithart stel dat die basiese probleem met Descartes se cogito ergo sum (ek dink, daarom is ek) aanval was die hele basis waarvandaan dit lanseer is - twyfel in plaas van dankbaarheid. 'n Filosofie wat lanseer vanuit gawe en dankbaarheid, sê Leithart, sal heeltemal anders lyk. Dit het uiteindelik gevolge in elke uithoek, selfs in ekonomie en politieke filosofie. 'n Mens wonder byvoorbeeld of Heidegger iets, let wel, nie alles nie, beethad toe hy gestel het: denken ist danken. Sekere dramas van Shakespeare (bv. King Lear) toon trekke dat hy Seneca gelees het en wys hoe spanning ontketen wanneer gawe en opgawe nie in gepaste interaksie dans nie. Gehoek? Ja, hoe kan dit anders as ons die eggo's van genade in hierdie mymeringe hoor. Genade-denke behoort mos te resoneer met dankbaarheid en nie met dankbarheid nie. Ek hoop om van tyd tot tyd 'n paar klasnotas hier te deel. 

2012/08/07

Hoor en hoera mag saamloop

Luther het geworstel om die geregtigheid van God te verstaan, bevrydend te verstaan. Ons worstel steeds.   As God se Gees ons nie in die spervuur van ontdekking plaas nie, sal ons met teologiese woordeboeke en al met koue harte kwyn. Maar ons is mense met wie God baie simpatie het. Dit is eenvoudig hoe Hy is. Hy is vinnig  om ons jammer te kry. Hy hou dit met ons uit. Hy is baie goed vir ons. En Hy gee aan ons 'n atmosfeer waar ons kan asemhaal in sy teenwoordigheid. In die taal van die Bybel, Hy is genadig en barmhartig, lankmoedig en groot van goedertierenheid (Ps. 145:8). Hy is so genadig dat Hy selfs teologiese woordeboeke gebruik om ons te verras. Ook teoloë word gebruik - wonder bo wonder

Voor ons by hierdie fenomeen uitkom, is dat dalk goed om net gou weer 'n draai by die bekende 1 Jn 1:9 te maak om ons in stemming te bring. Net twee vinnige gedagtes: "As 'n man 'n ring aan die linkerhand se ringvinger dra, is hy getroud." Die "as" in die vorige sin is nie voorwaardelik bedoel nie, maar dui 'n bepaalde stand van sake aan. Dit is beter om 1 Jn. 1:9 se "as" ook so te verstaan. Wanneer 'n Christen sy of haar sonde bely, gebeur daar sekere skreiende dinge. Verder: Waarom staan daar dan dat God regverdig is om ons te vergewe? Die kategismusantwoord is sekerlik tog dat Hy nie sonde aan ons sal straf wat Hy reeds aan sy Seun gestraf het nie. 

Hoor ons dit: "regverdig om ons te vergewe"? Ek dink dit is wat Luther gehoor het. Hy het gehoor en gehoera. Ja, ek weet, ek moes eintlik 'n uitroepteken aan die einde van die vorige sin geplaas het. Maar dit sal meer van pas wees wanneer ons saam hoera skreeu. Dit bring ons terug by die wonder dat God selfs teoloë kan gebruik om ons saam hierby uit te bring, selfs toeloë met wie ons nie in alle opsigte saamstem nie. Luther het ontdek en ons het saamgeleer om die geregtigheid van God te waardeer. Dit is 'n oordeel wat nie net oordeel nie, maar vrymaak, 'n eis wat nie net vra nie, maar gee. God eis en gee die geregtigheid waaroor Hy nie 'n kompromie sal aangaan nie. En as jy se dat jy hoor, maar steeds 'n skuinsskoot nodig het, hoor 'n ander Lutheraan, Robert Jenson:

"Wanneer ons sê dat God regverdig is en vra wat dit beteken, dan wys ons na Jesus se vriendskap met sondaars."

Omdat God regverdig is, is die Here Jesus vriendelik met sondaars soos ek en jy. Wat 'n geseënde paradoks! God is regverdig en daarom is ons vry. Net die evanglie maak dit waar. Buite die evangelie, buite Christus, is daar geen vriendelikheid nie. Net oordeel. En dit is waarom ons die oproep moet hoor om in te kom. Dit is baie koud en eensaam buite.

2012/06/20

Ons sonde aan flarde

In 'n vorige aflewering was sprake van die plofkrag van ware bekering. Kom ons kyk na die plofkrag uit 'n ander hoek - die oorsprong van die plofkrag. Ek en jy het meer as kernplofkrag nodig as ons wil hoop om ware bekering te ken. Die goeie nuus is dat dit presies is wat die evangelie van Jesus Christus bied. Lees hier as jy weer 'n behoefte het om te weet dat jou sonde, hoe groot ook al, aan flarde geskiet kan word. Sterker gestel, lees biddend as jy behoefte het aan 'n boodskap wat jou ou mens (weer) voor die evangeliese kernmissiel plaas. Die Bybel praat van uitdelging en ontsondiging van ons sonde (vgl. Ps. 51:3,9). En dit liewe vriend/vriendin, is die rede waarom daar vir jou en vir my hoop is.

2012/06/15

Kuyper-kaping

Iewers het ’n Kuyper-kaping in Suid-Afrika plaasgevind. Die kaping het plaasgevind deur ’n vreemde alliansie. Verrassende lede sluit beide NGK en APK lidmate in.

Die kerkhisorici van die NG Kerk erken hulle aandeel sommer prontuit. Kuyper is gekaap, op die ashoop gesit en vervang met met Barth. Lede van die APK het saamgegekaap, maar die ashoop was natuurlik die laaste plek waaraan Kuyper blootgestel sou word. Kuyper sou goeie diens doen vir die kerkverband. En as die NGK sou beweer dat die APK nog in die Kuyper-kopklem is, sou menige APK's hierdie etiket natuurlik met vreugde dra. Was Kuyper dan nie feitlik die mees aangehaalde teoloog toe die NG kerk apartheid teologies verdedig het nie? Daar is eintlik min plekke waaroor baie APKaners en NGKaners soveel konsensus het: Die Abraham Kuyper kar is in of hy is uit. As iemand in koorsoomblikke die APK wil verklaar as die Afrikaanse Protestantse Kuypers, sou “ingeligtes” in die NGK en APK waarskynlik instemmend die kop – in ’n kopklem of te not – knik in’n dit-spreek-vanself ritme.

Konserwatiewes sê Kuyper is in; ander sê hy moet uit. Altans, tot onlangs toe. En wie moet ons bedank vir die nuwe wending in die waarneming? Niemand minder as ou POMO nie. Sy lang naam is postmoderniteit, maar niemand noem hom eintlik so nie. Dit klink te amptelik. Buitendien, gemak, informaliteit en intimiteit is dan juis so eie aan ou POMO.

Maar een ding het POMO reggekry. Hy het Kuyper met nuwe waardering op die tafel geplaas. Hoe dit gebeur het was onafwendbaar. Stadigaan besef mense vandag dat hoë oktaan Kuyper nie die probleem is nie. Die vraag is eerder op watter pad daar met die hoë oktaan motor gery word. Dit is die nuus wat in Suid-Afrika nog nie die hoofbulletin gehaal het nie. Meer as een soort Kuyper-kaping het al buite Suid-Afrika plaasgevind. Die kapers word nogal maklik herken aan die rigting wat hulle met Kuyper inslaan. Die Kuyper karretjie kan skynbaar op beide konserwatiewe en liberale bane ry. Gaan kyk maar net waar het die Kanadese al met Kuyper gery (wenk: moenie die goud tusen-in mis nie). En as die karretjie nie meer verder op die ingeslane weg kan ry nie, word hy omgebou. Daar bestaan K-modelle (konserwatief), L-modelle (liberal) en deesdae selfs P- modelle (postmodern).

Genadiglik is daar deesdae ook ’n wêreldwye oplewing van NCW modelle. Laasgenoemde staan vir neo-Calvinisme wêreldwyd. As opvolger op die P-model bied dit bevredigende antwoorde oor waarom Kuyper vandag relevanter as ooit is. Ook die APK en NGK staan met nuwe ore en belangstelling nader.

2012/03/14

Bekeringsdatum of verbondskind?

Die hele kwessie van 'n bekeringsdatum vs. verbondskind is een van daardie debatte wat die inherente krag het om altyd weer op te vlam en dit is miskien goed so. Sommige mense moet uit hulle gemaksones van 'n tipe "makgemaakte" Christenskap geskok word met die realiteit van watter plofkrag daar in ware bekering is. Ander wat moedeloos is moet weer tot jubeling gebring word deur die die heerlik vrymakende boodskap dat "voordat ek kon kies, kon vra, het u Seun my vloek gedra." En natuurlik, daar is ook die van ons wat albei hierdie aksente nodig het. Soos ons groei, waarskynlik almal van ons. Wie lus het vir n vars briesie oor die onderwerp bekeringsdatum vs. verbondskind, lees gerus hierdie artikel.

2012/02/27

Soveel tale jy kan ...

Die spreekwoord lui: "soveel tale jy kan, sovele male 'n man". Wel, dan is hiperpoliglotte seker die opperste mans. Blykbaar is 'n hiperpoliglot iemand wat tien tale of meer kan praat. Alex Rawlings van Oxford in Engeland was onlangs in die nuus nadat hy aangewys is as die mees meertalige student in Brittanje. Wat dit vir ons so interessant maak, is dat Afrikaans een van die tale is. Geniet sommer net hierdie ou se gawes in die volgende insetsel.