Gedagte vir kinders: Alle eer aan Jesus Christus, die Lam,
wat ook die Leeu is.
Oorsig: Openbaring 5 brei uit op die gesig
wat Johannes in Openbaring 4 sien. Dit gaan oor ’n gesig van die hemelse tempel
en wat daar gebeur. In Openbaring 5 verneem ons van ’n boek(rol) in die
regterhand van Hom wat op die troon sit. Dit was aan die binnekant en buitekant
beskrywe en met sewe seëls verseël (v.1). ’n Sterk engel het toe met ’n groot
stem geroep en gevra wie waardig is om die boek se seëls te breek die die boek
oop te maak, maar daar was niemand in die hemel of op die aarde nie. Johannes
het toe baie gehuil omdat niemand waardig was om die boek oop te maak of daarin
te kyk nie (v.2-4).
Een van die 24 ouderlinge (verteenwoordigers van alle gelowiges – van die 12 stamme in die OT en die 12 apostels in die NT. Vgl. Op. 4:4-6) het toe vir hom gesê om nie te huil nie. Hy moes eerder kyk na (1) die Leeu, (2) Een uit die stam van Juda, Hy wat (3) die wortel van Dawid is. Hý het oorwin om die boek oop te maak en die seëls te breek (v.5). Johannes sien toe in die middel van die troon en die vier lewende wesens (gérubs, vgl. Ex. 25:18, Es. 1:5 e.v.) en die ouderlinge, ’n Lam asof Hy geslag is, met sewe horings en sewe oë. Dit dui op die kragtige werking van die Heilige Gees oor die hele aarde. Die Lam het toe gekom en die boek geneem uit die regterhand van God. (v.6-7). Toe Hy dit neem, val die vier lewende wesens en die 24 ouderlinge voor die Lam neer met siters en goue skale vol reukwerk, wat dui op die liedere en gebede van die heiliges (gelowiges). Hulle sing toe ’n nuwe lied en sê dat die Lam waardig is om die boek te neem en die seëls oop te maak. Die rede is dat Hy geslag is en die gelowiges (“ons”) vir God met sy bloed gekoop het uit elke stam en taal en volk en nasie en hulle (ons) konings en priesters vir onse God gemaak wat as konings op die aarde sal heers (v.8-10).