2022/10/26

Blydskap en herstel

Lees: Luk. 19:1-10

Gedagte vir kinders: Jesus Christus het gekom om mense wat verlore is te soek en te red.

Oorsig: Die Here Jesus was op pad na Jerusalem en het al hoe nader daaraan gekom. Hy het op hierdie reis, nie ver van Jerusalem af nie, ook deur die stad Jerigo gegaan (v.1). Dit was ’n stad wat by ’n oase gebou is en die bome het mooi daar gegroei. In daardie stad was daar ’n man met die naam van Saggéüs. Hy was nie alleen ’n tollenaar nie, maar ’n hoof van die tollenaars en ’n ryk man (v.2). Die tollenaars het by hulle eie mense baie belasting vir die Romeinse oorheersers geneem en as vergoeding van die Romeine kon hulle dan ’n goeie deel van die geld in hul eie sak steek. Hulle eie mense het hulle daarom verag en as verraaiers van die volk beskou. Die feit dat Saggéüs ryk was en boonop  ook nog hoof van die tollenaars was, het m daarom nog meer ongewild by sy eie mense gemaak.

Maar Saggéüs het probeer om Jesus te sien, wie Hy was, maar kon dit nie regkry vanweë die skare nie en hy was self ook kort (OV: klein van persoon - v.3). Maar Saggéüs het ’n plan gemaak. Hy het vooruit gehardloop en in ’n wildevyeboom geklim. ’n Wildevyeboom kan so hoog as 20 meter word en met gerieflike laer takke. Vandaar kon Saggéüs dan vir Jesus sien, want Hy sou langs daardie pad verbygaan (v.4). En toe gebeur iets besonders. Toe die Here Jesus by die plek kom, het Hy opgekyk en hom gesien en hom sommer op sy naam genoem: “Saggéüs, maak gou en klim af, want ek moet vandag in jou huis bly.” (v.5). Ons lees dat Saggéüs toe (1) gou gemaak het en afgeklim het en (2) Hom met blydskap ontvang het (v.6). Die mense wat dit gesien het, was egter nie bly nie, maar het gemurmureer soos die Israeliete in die woestyn. Hulle het gesê dat die Here Jesus by ’n sondige man tuisgegaan het (v.7).          

Iets het egter met Saggéüs gebeur in sy kontak met Christus. Hy het gaan staan en ernstig vir die Here gesê dat hy van daardie oomblik af (Letterlik: “Kyk, ek gee...”) die helfte van sy goed vir die armes gee. En waar hy iets van iemand afgepers het (met hulp van die Romeine), sou hy met sy geld (wat oorbly) dit vierdubbel (400%) teruggee (v.8). 

Wanneer Christus jou regverdig

Lees: Luk. 18:9-14

Gedagte vir kinders: Elkeen wat homself voor God verhoog, sal verneder word.

Oorsig: Die Here Jesus het op pad na Jerusalem, waar Hy vir ons sondes sou sterf, mense oor die koninkryk geleer. Hy het mense dikwels deur gelykenisse geleer en hierdie gelykenis oor die Fariseër en die tollenaar het Hy spesifiek vertel met die oog op sommige wat op hulself vertrou het dat hulle regverdig is en ander verag het (v.9). Hulle het dus op hulleself en hulle prestasies staatgemaak om daardeur voor God en ander mense regverdig te wees. Hy vertel hulle toe van twee manne wat na die tempel gegaan het om te bid. Die een was ’n Fariseër. Die Fariseërs was belangrike mense in die volk. Hulle was baie godsdienstig en het streng geleef volgens sekere godsdienstige reëls. Die ander een was ’n tollenaar. Tollenaars was die teenoorgestelde van die Fariseërs. Die mense het nie vir hulle respek gehad nie, omdat hulle in diens van die Romeine, hulle  oorheersers, gaan staan het. Hulle het dan belastinggeld (tolgeld) vir die Romeine afgedwing by hul eie mense en so ook self geld gemaak (v.10).

Die Fariseër het gaan staan en by homself gebid. Dit klink uit die Here Jesus se woorde of hy nie regtig tot God gebid het nie, maar meer met homself besig was. Tog hoor ons dat hy soos die tollenaar later begin met “O God”. Maar ons hoor vyf keer daarna, selfs wanneer hy dankie sê, dat hy van “ek” praat: Ek is nie soos ander sondaarmense nie – rowers, onregverdiges, egbrekers, of soos hierdie tollenaar nie. Ek vas twee maal in ’n week (net tweemaal ’n jaar was nodig), ek gee tiendes van alles wat ek verkry (v.11-12). Die Fariseërs het die tiendes tot in die kleinste dinge toegepas en selfs tiendes van saadjies soos anys en koljander afgetel. Vgl. Mat. 23:23). Die Fariseër dank dus God dat hy so wonderlik is. Die tollenaar het heeltemal anders gebid. Hy (1) het ver weg gestaan omdat hy onwaardig gevoel het. Hy wou (2) selfs nie sy oë ophef na God nie omdat hy sy sonde besef het. Hy het (3) op sy bors geslaan as teken van sy berou en gesê: “O God, wees my wat ’n sondaar is, genadig!” (v.13).

Die Here Jesus het toe vir die mense gesê dat die tollenaar na sy huis gegaan het as iemand wie se saak met God reg is (geregverdig), eerder as die Fariseër. Hy het dit toe vir hulle verduidelik dat elkeen wat homself verhoog, verneder sal word, en dat hy wat homself verneder, verhoog sal word (14).

Besprekingsvraag: Watter twee soorte godsdiens sien ons in hierdie gedeelte raak?

Insig: Twee mense het dieselfde ding gaan doen by tempel, maar met twee totaal verskillende harte en twee soorte godsdienste. Dit herinner ons reeds aan Kain en Abel wat lank gelede ook met twee verskillende harte tot God genader het. 

2022/10/12

Om met moed te bid

Lees: Luk. 18:1-8

Gedagte vir kinders: Die Here Jesus leer ons om met geloof en hoop tot God te bid.

Oorsig: Op sy pad na Jerusalem waar Hy vir ons sondes sou sterf, het die Here Jesus die mense deur gelykenisse oor die Koninkryk van God geleer. By een geleentheid het Hy spesifiek aan die mense ’n gelykenis vertel met die doel dat hulle moes besef dat hulle aanhoudend moet bid en nie moedeloos moet word en God se antwoord nie dadelik kom nie (v.1). Hy het hulle vertel van ’n regter in ’n stad. Hy was nie ’n goeie regter nie en het God nie gevrees nie. Dit beteken dat hy goddeloos was. Hy het ook vir geen mens respek gehad nie (v.2).

En toe het daar ’n interessante ding gebeur tussen hierdie goddelose regter en ’n sekere weduwee in daardie stad. Die weduwees (vrouens wie se mans oorlede is) het in daardie dae baie min ondersteuning en geld gehad en was maklik die prooi van kansvatters. So het dit gebeur dat iemand haar onregverdig behandel het en niemand het haar gehelp nie. Sy het toe oor en oor aan die goddelose regter gevra dat hy as regter sy werk sal doen en seker maak dat die een wat verkeerd teenoor haar opgetree het (die teeparty), tot orde geroep word. Dit het ook beteken dat dinge reggestel moes word wat verkeerd gedoen is (v.3). Hierdie regter wou vir ’n hele tyd lank nie hoor nie, maar sy het nie opgehou om te hom te vra nie. Na ’n ruk het Hy egter vir homself gesê: Al is dit ook so dat ek geen eerbied het vir God nie en my ook aan geen mens steur nie, sal ek tog, omdat hierdie weduwee my nou moeite gee, aan haar reg doen. Anders kom sy dalk en slaan my uiteindelik in die gesig (v.4-5).

En toe het die Here Jesus vir hulle ’n toepassing gemaak. Hy het gesê dat hulle moes hoor wat die onregverdige regter sê. As selfs ’n onregverdige regter reg sal optree as iemand aanhoudend vra, dan moes hulle mos besef dat God, wat regverdig is, soveel te meer dit sal doen. God sal reg doen aan sy mense wat uitverkies is om sy Naam te dra (uitverkorenes) en wat dag en nag tot Hom roep, al is dit ook so dat God eers wag met die antwoord (v.6-7). Die Here Jesus het hulle toe verseker dat God gou sal reg doen aan hulle wat onreg beleef. En hierop het Hy ’n vraag gevra wat te doen gehad het met sy woorde pas vantevore toe Hy gepraat het oor sy wederkoms (17:26-37). Hy het gevra of Hy, wanneer Hy weer sou kom, wel die geloof op aarde sou vind. Met ander woorde, sal mense nog aanhoudend tot God bid en uitkyk vir sy antwoorde? Sou hulle veral nog wagtend wees op Hom wat alles finaal sou regstel? Die Here se vraag is bedoel om ons te roep tot ’n antwoord van geloof en gebed.

Geloof en dankbaarheid in Christus

Lees: Luk. 17:11-19

Gedagte vir kinders: Jesus bring deur sy redding geloof en dankbaarheid in ons lewe.

Oorsig: Vanaf Lukas 9 tot 19 lees ons van die Here Jesus se pad na Jerusalem – daar waar Hy vir ons sonde sou sterf. Hier verneem ons van die vierde van vyf wonderwerke wat hy gedoen het op daardie pad (vgl. 11:14; 13:10-13; 14:1-4; 18:35-43). Dit het gebeur toe Hy op die grens tussen Galilea en Samaria was (v.11. vgl. NAB). Toe Hy in ’n sekere dorp ingegaan het, het 10 melaatse manne Hom tegemoet gekom wat op ’n afstand bly staan het (v.12). Melaatse mense se siekte was aansteeklik en kon wissel van permanente skurfte tot erge swere, en self  tot ledemate wat septies word en afval. God se wet het bepaal dat sulke mense vanweë die siekte nie by hulle geliefdes en tussen ander nie, maar eenkant moes leef (Lev. 13:45-46; Num. 5:2-3). As hulle ’n wonder beleef en wel gesond word, moes die priester dit eers bevestig en dan kon hulle na bepaalde offers weer vry saam met ander leef (Lev. 13:18-28; 14:1-11).

Hierdie 10 melaatse manne het hard geroep en Jesus Meester genoem en gevra dat Hy hulle genadig sal wees. Toe die Here Jesus hulle sien, het Hy vir hulle gesê om hulle aan die priesters te gaan vertoon. Dit kon hulle net doen as hulle moontlik gesond was. Hulle moes Hom dus op sy Woord neem dat Hy hulle op afstand gesond kon maak en solank begin loop na die priesters wat die genesing kon bevestig.

Dimensies van dissipelskap

Lees: Luk. 17:1-10

Gedagte vir kinders: Jesus Christus roep ons om as sy dissipels met geloof te lewe.

Oorsig: Op sy pad na Jerusalem waar die Here Jesus vir ons sondes sou sterf, het die Here Jesus vir sy dissipels geleer waaroor dit in die koninkryk van God gaan en wat dit beteken om ’n dissipel van Hom te wees. In hierdie gedeelte sien ons dat die Here vier dinge met hulle behandel. Ons hoor eerstens ’n waarskuwing (v.1-3). Die Here het gesê dat daar wel dinge gebeur waardeur mense struikel (struikelblokke) en val, maar dat God se oordeel kom oor die een wat die oorsaak daarvan is. Dit sou vir so iemand beter wees as die swaar steen waarmee hulle koring gemaal het, om iemand se nek gehang word en in die see gegooi word om so te verdrink, as wat iemand een van die Here se kinders (hier genoem met die intieme woord, “kleintjies”. Vgl. Luk. 10:21;   Mat. 18:6-14) laat struikel. Hy het hulle toe vermaan om op hulle hoede te wees en vir hulleself te pasop (vgl. Ps. 18:24).

Hierna het die Here Jesus hulle geleer wat om te doen as iemand teen jou sondig (v.3-4). Jy moet so een wys op die verkeerde optrede en wanneer daar berou was, moes die persoon vergewe word. Selfs as dit sewe maal (’n getal wat dui op hoeveel keer ook al) op een dag gebeur en daar berou was, moes daar vergifnis wees. Hierna hoor ons van bemoediging (v.5-6). Die dissipels het toe vir die Here Jesus gevra om vir hulle meer geloof te gee om die lewe van ’n dissipel te leef. Hy het hulle bemoedig deur hulle daarop te wys dat dit nie gaan oor meer geloof nie, maar om die belangrike teenwoordigheid van geloof, hoe klein ook al. Selfs al sou dit min en klein wees, so klein soos ’n klein mosterdsaadjie, sou dit moontlik wees om sulke groot dinge te doen as om vir  moerbeiboom met sy sterk wortels te sê om met die wortel en al uitgetrek te word en in die see geplant te word en hy sou die woord gehoorsaam.

En dan leer die Here Jesus oor diens aan God deur die gelykenis van ’n dienskneg en sy baas. (v.7-10). Hy het hulle daarop gewys dat geen baas vir die slaaf (of dienskneg), as hy inkom van sy werk buite, dadelik nooi om aan tafel te kom sit nie. Nee, die eienaar sal eerder vir hom sê om die aandete klaar te maak, om reg aan te trek (omgord), en te bedien totdat die heer geëet en gedrink het. Daarna kon die dienskneg eet en drink. Die Here het toe daarop gewys dat ons ook, wanneer ons alles gedoen het wat ons beveel is, moet sê: “Ons is diensknegte wat niks verdien nie, want ons het net maar gedoen wat ons verplig was om te doen.”                        

Besprekingsvraag: Is ons bemoedig of beskaamd oor die beeld van die mosterdsaadjie?

Sonde en die gevolge daarvan kan nie vermy word nie en ons kan baie swaar en seer kry as gevolg daarvan. Die troos is dat Christus die sonde op Hom geneem het en dat ons dit daarom in Hom kan hanteer. Ons moet ook baie op ons hoede wees om nie die oorsaak te wees van sonde wat ontstaan en wat iemand anders laat struikel nie. Dit gaan nie oor miskien-situasies nie, maar oor duidelike sake soos byvoorbeeld molestering in enige vorm. Dit gaan ook slegte lering of enige saak wat ’n struktuur van makmaak, besondiging, verleiding en afdwaling vertoon. Ons behoort ook op ons hoede te wees vir enige ongeregtigheid of suggesties en innuendo’s waar ons die oorsaak is dat ander mense struikel en afvallig raak. Christus gebruik die beeld van erger as gedwonge verdrinking om God se oordeel aan te toon.

Ons hoor egter ook dat ons (bv. in gesinne en gemeentes en werksituasies) nie maar net stil hoef te bly wanneer ons werklik te na gekom word nie. Ons word dan opgeroep om te bestraf. In die lig van ander Skrifgedeeltes kan ander gelowiges betrek word, indien nodig (vgl. Mat. 18). Sonde is soos ’n kanker en ’n virus wat erger word wanneer dit nie hanteer word nie. Juis daarom het Christus gekom. En daarom kan ons ook net so sterk staan vir vergifnis wanneer ware berou duidelik is, tot sewe maal, wat beteken dat dit onbegrensd is. Christus koppel dit hier telkens aan berou. Dit is die gewone gang. Wanneer daar dan nie berou is nie, moet ons vir wysheid vra of dit verder gevoer moet word en of dit net vir God gegee moet word. Sonde en die hantering daarvan tussen dissipels behoort egter die norm te wees.

Ewige gevolge

Lees: Luk. 16:19-31

Gedagte vir kinders: Eerder swaar kry en die Here ken, as om ryk maar verlore te wees.

Oorsig: Die Here Jesus het ’n besondere gelykenis aan die mense vertel waarvan ons net in die evangelie volgens Lukas lees. Dit gaan oor die ryk man en Lasarus. Daar was ’n ryk man wat klere gedra het wat gelyk het soos die van ’n koning – pers stowwe (purper) en fyn linne. Hy was ook elke dag vrolik en het soos ’n ryk man gelewe (v.19). Maar daar was ook ’n baie arm man met die naam van Lasarus (die Griekse weergawe van die naam Elieser). Hy was vol swere en het voor die ryk man se poort gelê. Lasarus het verlang om maar net vol te word van die krummels van die ryk man se tafel maar net die honde (wat waarskynlik wel die krummels geëet het), het gekom om sy swere te lek (v.20-21). Ons lei dus af dat die ryk man hom moes gesien het maar nooit werklik aandag aan hom gegee het nie.

Maar toe die bedelaar, Lasarus sterf, het die ware lewe wonderlik vir hom begin. Hy is deur die engele weggedra na die bors van Abraham (v.22. NAB: die ereplek langs Abraham). Die ryk man het ook gesterwe en is begrawe. Van Hom lees ons net dat hy sy oë in die doderyk opgehef het en in smarte was. Hy het Abraham van ver gesien met Lasarus aan sy bors (v.23). Die man roep toe Abraham aan as vader, soos die Jode vir Abraham genoem het, en vra dat hy barmhartig sal wees en Lasarus sal stuur (hy het hom dus herken) om die punt van sy vinger in water te steek en sy tong te kom verkoel, want hy het baie swaargekry in die vlam (v.24). 

Abraham het toe geantwoord dat hy reeds sy goeie dinge in sy lewe ontvang het en Lasarus die slegte. Nou was alles omgekeer en Lasarus is getroos, maar die ander man het smarte gely. Meer nog, dit kon nie omkeer nie, want Abraham het gewys op ’n groot kloof sodat niemand in staat was om van die een kant oor te gaan na die ander kant nie (v.25-26). Die man het toe gevra dat Lasarus dan wel na sy vader se huis toe moes gaan om sy vyf broers dringend te waarsku, sodat hulle nie saam met hom in daardie plek van pyniging sou beland nie (v.27). Abraham het toe geantwoord dat hulle die Ou Testament het (Moses en die Profete). Die man antwoord toe dat as iemand uit die dode na hulle gaan, hulle hul wel sal bekeer (v.28-29). Abraham het egter geantwoord dat as hulle nie na Moses en die profete luister nie, hulle ook nie oortuig sou word nie, al sou iemand ook uit die dode opstaan (v.31). 

Strategiese planne vir die koninkryk

Lees: Luk. 16:1-13

Gedagte vir kinders: Jesus Christus roep ons op om ons geld te gebruik vir sy Koninkryk.

Oorsig: Net na die Here Jesus se gelykenis van die verlore seun wat sy pa se goed verkwis het, vertel die Hy ons van ’n onregverdige bestuurder wat sy ryk meester se besittings ook verkwis het en toe aangekla is (v.1). Die ryk man het dikwels in vertroue maar min van sy bestuurder se werksaamhede geweet (vgl. Josef en Potifar), maar nou is gevra dat hy verslag moes gee van sy bestuur en hy het reeds kennis gekry dat hy daarna nie meer bestuurder sou wees nie (v.2). Die bestuurder het toe in homself gedink wat hy sou doen. Hy kon nie regtig hande-arbeid soos spit doen nie, en was te skaam om sommer net te bedel (v.3). Hy het toe sy plan so gemaak dat die mense wat by sy heer in die skuld was, hom in hulle huise sou ontvang (v.4).

Hy roep toe die skuldenaars en vra wat hulle skuld. Die een het 100 vate olie geskuld (+/_drie jaar dagloner-salaris). Die man het toe die helfte van die skuld (50%) afgeskryf. ’n Ander een het 100 mud koring (+/_ nege jaar dagloner-salaris) geskuld en hier het hy dit met 20% verminder na 80 toe (v.5-7). Sommige verklaarders wonder of dit die deel was wat hy of die eienaar telkens in hul eie sak gesteek het. Die ryk heer het interessant genoeg die onregverdige bestuurder hieroor geprys omdat hy so verstandig opgetree het. Sommige reken dit was omdat hy dit nie toe van sy skuldenaars kon terugeis sonder ongewildheid nie en enige optrede teen die bestuurder sou met simpatie beskou word. Dit was daarom ’n baie vernuftige plan. Ander is van mening dat die ryk man hom geprys het omdat hy sy eie wins laat vaar het met die oog op die toekoms. Hoe ook al, in beide gevalle wys dit iets van iemand wat op ’n slim manier verlies aanvaar met die oog op die toekoms.

Die Here Jesus wys dan daarop dat sulke mense eintlik verstandiger optree as die kinders van die lig (v.8). Hy het ons daarom opgeroep om slim te werk met die onregverdige geldgod, Mammon, sodat ons ook vriende het wat ons kan ontvang wanneer ons hierdie lewe verlaat (na die “ewige tente” - v.9). Hy het ook daarop gewys dat as jy in klein dinge hieroor getrou en regverdig is, jy ook in groot dinge getrou en regverdig sal wees, en omgekeerd. Hy het ook daarop gewys dat as ons nie eens getrou kan wees met wat nie ons s’n is nie, hoe ons dan met die ware goed van die koninkryk getrou sal wees wat bestem is as ons eie (v. 10-12). Hy het ook daarop gewys dat geen huiskneg twee here terselfdertyd kan dien nie. Daarom moet ons ook weet dat ons nie God en die geldgod, Mammon, saam kan dien nie (v.13).              

Besprekingsvraag: Bespreek die verskil tussen skelm en verstandig te wees in die Koninkryk.

Ons word hier opgeroep om slim en strategies te werk met die oog op die toekoms, die toekoms van die ewige tente anderkant die dood. Ons weet hoe verstandig aardlinge te werk kan gaan om ’n goeie toekoms te verseker, so asof die mylpaal hierdie kant van die graf is. Die vraag is hoe ons strategiese toekomsplanne hierdie kant van die graf vergelyk met planne vir die ewigheid.